Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21828

Trump-handelsoorlog van 2025 (10 April 2025)

$
0
0

Met die ontwrigtende tariewe en heffings wat Donald Trump op 2 April 2025 ingestel het, het hy geweldige ontwrigting in internasionale handelsgebruike en aanvaarde globale reëls veroorsaak, maar ook finansiële markte laat bokspring. Wat hierdie ontwrigting nog groter maak, is dat dit ’n week later, op 9 April afgeskaal en vir drie maande uitgestel is. Die tariewe op China is egter verhoog na 125%, en alle ander lande sal nou aan ’n 10%-heffing onderhewig wees. Trump het hierdeur die onsekerheid verleng en die ontwrigting net uitgestel. Die wêreld het sonder twyfel ’n era betree wat in die geskiedenis ’n naam gaan kry, soos wat die Groot Depressie van 1933, die Asiatiese finansiële krisis van 1997, die Globale Finansiële Krisis van 2008 en die COVID-19-pandemie gekry het. Terwyl daar aan ’n unieke historiese beskrywing gedink word oor die handelskrisis waarin ons ons tans bevind, is die volgende beskrywing deur die bekende John Maynard Keynes ’n treffende beskrywing van Donald Trump:

Practical men who believe themselves to be quite exempt from any intellectual influence, are usually the slaves of some defunct economist. Madmen in authority, who hear voices in the air, are distilling their frenzy from some academic scribbler of a few years back.

Met die tydelike uitstel van die invoerheffings deur die Trump-administrasie moet onthou word dat die vorige heffings op staal- en aluminiumprodukte, asook die invoerheffings op motors en motoronderdele, veral gemik op Kanada, Meksiko en die Europese Unie, steeds van toepassing bly. Selfs die 10%-heffing wat nou as toegewing deur die bank toegepas gaan word, is egter reeds vier maal hoër as die bestaande algemene heffing van 2,5%. Die impak op Suid-Afrika is moeilik bepaalbaar, en die vraag of Agoa nou geskrap is en met ’n 10%-heffing in plaas van 31% vervang word, hang in die lug.

Dit is veral belangrik om die impak van in- en uitvoer as ’n persentasie van ’n land se bruto nasionale produk (BNP) in konteks te plaas. Vir die VSA is daardie syfer ongeveer 27%, maar vir China is dit minstens 38% volgens die Wêreldbank, maar dit kan meer as 40% wees. Vir China is ’n stabiele handelsomgewing van kritieke belang, baie meer as vir die VSA. Net om Suid-Afrika se kwesbaarheid ook uit te lig: Daardie persentasie van ons in- en uitvoerhandel is 66% van ons BNP. ’n Land soos Suid-Afrika is aan die ontvangkant van enige globale handelsoorlog, omdat ons ekonomie so oop is. Hierdie ontwrigting plaas ons in die klassieke omgewing van wat as VUCA afgekort word (van volatility, uncertainty, complexity, ambiguity) – daar is groot volatiliteit in geldeenhede en markte, onsekerheid wat eksponensieel toeneem, en daarmee saam die gekompliseerdheid van die omgewing. Laastens bring VUCA as die nuwe normaal ook dubbelsinnigheid in die spel. Hierdie faktore maak die soeke na duidelikheid en voorspelbaarheid luukses wat op enige stadium kan verander. Dit word gedemonstreer deur onsekerheid op die markte.

Dit is duidelik dat daar ’n herskikking sal moet kom in veral hoe die VSA en China hulle interafhanklikheid ten opsigte van in- en uitvoer gaan ontlont. Intussen daal die olieprys in antisipasie van ’n wêreldekonomie wat in ’n negatiewe groeifase ingaan. Met hierdie handelsoorlog het die rol van die G20-beraad, wat vanjaar in Suid-Afrika moet plaasvind, heeltemal in die agtergrond verdwyn en sien mens net die duur plakkate van die beplande gebeure as jy deur die lughawens beweeg.

Waarom het Donald Trump ’n week na die aankondiging van drakoniese invoerheffings teruggekrabbel? Die chaos op Amerikaanse markte was een faktor, maar die verskillende land en blokke se terugdrukaksies moes ook ’n rol gespeel het. China word uiteindelik uitgesonder vir die hoogste heffing, maar globaal het daar ’n anti-Trump sentiment ontwikkel wat oplossings van ekonomiese en politieke probleme gaan kompliseer. Kom ons hou Kanada op 28 April tydens hulle verkiesing dop, met Donald Trump as die gemeenskaplike vyand.

The post Trump-handelsoorlog van 2025 (10 April 2025) first appeared on LitNet.

The post Trump-handelsoorlog van 2025 (10 April 2025) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21828


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>