
Gys Visser (hoof van kontrakte en regte), ek, Tarien Lombard (kontrakte en regte) en Elizma van Staden (kinderboekuitgewer van veral ko-produksies) voor NB se stand by die Frankfurtse Boekebeurs, Oktober 2024. (Foto: verskaf)
Marga Stoffer verlaat haar posisie as uitgewersbestuurder by NB-Uitgewers. Sy praat met Naomi Meyer oor haar loopbaan, en die boeke waarmee sy te doen gekry het.
Marga, jy verlaat jou posisie as uitgewersbestuurder by NB-Uitgewers na 25 jaar. Jy is reeds 36 jaar in die uitgewersbedryf. Kom ons begin by die 11 jaar wat hierdie 25 jaar voorafgegaan het, of dalk die tydperk vóór daardie 11 jaar. Boeke en liefde vir lees is een ding, maar enige uitgewersbedryf is ’n besigheid. Daar is die ongelooflikste skeppings wat skrywers lewer, maar daar moet geld gemaak word – om die skrywers te vergoed en nuwe werk te stimuleer, en om die mense wat die boeke uitgee, te vergoed vir hulle werk. Dit is dus nie net so enkelvoudig soos “mens moet van lees hou om ’n uitgewer te wil wees” nie. Daar is sakebesluite om te neem. Begin asseblief by hoe die uitgewersbedryf jou pad gekruis het? Of jy die uitgewersbedryf s’n?
Vir my het alles begin by dit waarvoor ek lief was en wat vir my lekker was, en by wat ek kón doen en wat ek nié kon doen nie. Dit het dus inderdaad begin by my liefde vir boeke en lees; dan was daar keuses en geleenthede wat op my pad gekom het; en ook mense wat my ’n kans gegee het.
Die eerste keuse wat uiteindelik gelei het tot ’n loopbaan in die uitgewersbedryf, was dié van studierigting. Ek moes kies tussen BMus en BA. Ek het besluit om ’n BA met Afrikaans en Nederlands en Engels as hoofvakke te neem, en dan ’n onderwysdiploma te doen. Soos vir soveel van my tydgenote het ’n onderwysbeurs dit vir my moontlik gemaak om universiteit toe te gaan.
Ek het oorgehel na die letterkunde toe in my keuse van modules vir Afrikaans en Nederlands. Dit het my weer blootstelling aan skrywers gegee (ek het onder meer deelgeneem aan Opperman se Letterkundige Laboratorium). In my HOD-jaar was Hennie Aucamp een van my dosente, en sy klas was beslis die hoogtepunt van daardie jaar.
As student het ek geen langtermynplan gehad nie, en geen spesifieke ambisie mbt ’n loopbaan nie. Ek sou hoor van ’n geleentheid en daarvoor aansoek doen omdat dit vir my lekker gelyk het. So het dit gebeur dat ek besluit het om ná my HOD-jaar honneurs in Afrikaans en Nederlandse letterkunde te doen. Ek het die kursus geniet, en goed gevaar, en so het die gedagte posgevat om ’n meestersgraad te doen. Daar was die geleentheid om in my honneurs- en meestersjare assistent in die departement te wees, ek het daarvoor aansoek gedoen en is aanvaar.
........
Die eerste keuse wat uiteindelik gelei het tot ’n loopbaan in die uitgewersbedryf, was dié van studierigting.
........
Na afloop van my MA-jaar het ek ’n paar jaar lank skoolgehou. Ek is intussen getroud en toe ek en my man na Johannesburg moes verhuis vir sy werk, het ek besluit om nie vir ’n onderwyspos aansoek te doen nie. Ek het advertensies vir twee poste in die koerant gesien wat vir my interessant gelyk het en waarvoor ek aansoek gedoen het: ’n pos as dosent by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU, nou UJ), en ’n pos as redaksielid/reklamebeampte by Tafelberg-Uitgewers se kantoor in Randburg. Vir die Tafelberg-pos het ek ’n onderhoud gekry met die destydse besturende direkteur, Danie van Niekerk, en die noordelike kantoorhoof, Frans Fourie.
Danie van Niekerk het die pos vir my aangebied en ek het drie onvergeetlike jare by Tafelberg deurgebring. As my aansoek vir die akademiese pos suksesvol was, het my lewe moontlik ’n heel ander rigting ingeslaan – wie weet.
Ek het wonderlike herinneringe aan daardie drie jaar. Maar dit het my mettertyd gefrustreer dat ek feitlik geen terugvoer oor my redaksionele werk gekry het nie. Ek wou kritiek kry sodat ek kon leer en verbeter, maar my lynhoof, Charles Fryer, en al die redaksionele kollegas was in Kaapstad. Ek wou ook graag redaksionele ondervinding in Engels opdoen.
Ek kry toe ’n pos by M-Net, as deel van Rina Koen se span wat aan die TV-gidse gewerk het. Ek moes teks skryf en was ook sub van die res van die TV-gids sowel as M-Netter, die personeelblad, en het met Engelse en Afrikaanse teks gewerk. Dit was ’n geval van “be careful what you wish for”, want ek het gesteier onder die baie terugvoer! Maar ek het baie geleer. En nie net oor algemene teksversorging in beide tale nie – as die sub by die publikasieafdeling is ek ook ingeroep om finansiële dokumente en die jaarverslag te help proeflees. Dit was uitstekende ondervinding wat my baie gehelp het in my volgende pos.
Na twee jaar by M-Net wou ek sielsgraag teruggaan na die uitgewersbedryf toe. Maar poste in die uitgewersbedryf is skaars. My vriendin Debbie (nou bekend as die skrywer Debbie Loots) bring toe vir my ’n advertensie: Struik Book Distributors (SBD) is op soek na ’n redakteur van sakeboeke. Ek doen aansoek, word uitgenooi vir ’n onderhoud met Nick Pryke, die besturende direkteur, en ten spyte daarvan dat ek tydens die onderhoud soos ’n riet gebewe het en nie veel van sake geweet het nie, bied hy die pos vir my aan. Teen dieselfde salaris as wat ek by M-Net verdien het.
SBD was deel van die destydse Struik-uitgewersgroep en was die Suid-Afrikaanse verspreider/agent van ’n aantal buitelandse uitgewerye. Nick het Struik-Uitgewers se sukkelende sakeboeklys oorgeneem. Ek moes dié klein sakeboekfondslys uitbrei en ook algemene teksgebaseerde boeke, hoofsaaklik niefiksie, uitgee. Ek was die enigste uitgewer in SBD en moes die hele produksieproses, waarvan ek niks geweet het nie, hanteer. Lois O’Brien, destyds Struik-Uitgewers se produksiehoof in Kaapstad, vlieg toe vir ’n dag Johannesburg toe om my touwys te maak. Sy is soos ’n warrelwind deur die proses en leer my van kosteberekenings, drukkerskwotasies, publikasieskedules edm, en stel my voor aan drukkers, repromense, setters en ontwerpers. My kop het gedraai, maar dit was opwindend. En toe is ek op my eie – darem met Lois aan die ander kant van die telefoon.
Baie gou het Nick besluit ons herdoop die sakeboekafdeling na Zebra Press en moes ek ook sommer die logo laat ontwerp.
In my drie jaar by Zebra Press het ek ongelooflik baie geleer en uitstekende ondervinding opgedoen. Ek het alles gedoen, van opdraggewing en kontrakonderhandelings met skrywers tot kosteramings, die persklaarmaak van boeke, en die boekproduksieproses tot by lewering van die drukkers. Ek het die sakemedia dopgehou, agtergekom wie kundiges is oor sake en wie prominent is in die sakewêreld. En ek het natuurlik ook baie oor sake geleer uit die boeke wat ons by Zebra uitgegee het.
En dan het ek ook geleer hoe om koproduksies te doen in die tyd by SBD. Koproduksies is tipies volkleurboeke wat deur een uitgewer ontwikkel word en in verskillende tale vir verskillende uitgewers gedruk word, met elke uitgewer wat dus baat by die gedeelde koste van die basiese uitleg en ontwikkeling van die volkleurmateriaal. Ons het Afrikaanse vertalings van ’n hele reeks Disney-boeke en ’n reeks Australiese kookboekies as deel van die koproduksies vir Leserskring uitgegee. Dit was nóg ’n stywe leerkurwe waartydens ek maar self moes leer, want daar was niemand wat my kon touwys maak nie.
Aangesien ek met sakeboeke gewerk het en geen sakeopleiding gehad het nie, wou ek my kennis verbreed. Nick het ingestem dat ek ’n kursus by Wits se Sakeskool kon doen wat as ’n soort mini-MBA aangebied is. Hier het ek ’n begrip van sakebeginsels begin ontwikkel, geleer om finansiële state te lees en verstaan, en ’n sekere mate van selfvertroue ontwikkel.
........
Dit was belangstelling en keuses; daar was geleenthede waarvoor ek my hoed in die ring kon gooi; ek het kans gesien vir uitdagings en was nie bang om te leer en hard te werk nie; en daar was mense wat vertroue in my gehad het en my geleenthede gegee het, selfs al het ek meermale nie die geskikte agtergrond of ondervinding gehad nie.
........
Ek het egter onmenslik hard gewerk – dikwels deurnag as daar ’n sperdatum was wat gehaal moes word. Dit was nie volhoubaar nie. Teen jaar drie was daar drie van ons by Zebra, wat ’n publikasielys wat elke jaar verdubbel het, gehanteer het (eie titels sowel as koproduksies), sowel as alle produksie en administrasie. Ek het ’n baba tuis gehad, te min hande, en het die meeste nagte nie meer as vier tot ses uur geslaap nie. Toe ek nie toestemming kry om nog iemand aan te stel nie, het ek ’n pos by Caxton Tydskrifte aanvaar en bedank. Kort nadat my opvolger aangestel is, is daar ’n ekstra pos geskep ...
My Caxton-pos het nie lank gehou nie. Ek was in baie diep water; ek het nie die regte ondervinding of mentaliteit vir tydskrifte gehad nie. En ek het weer eens besef dat ek ’n boekemens is. Toe besluit ek om vryskut te werk. Ek het bedank, my eie klein kantoor begin en my CV gefaks aan almal wat ek ken. Twee jaar lank het ek as vryskut alles gedoen waarvoor ek werk kon kry: vertaling, die koördinering van boekprojekte, redigering, proeflees. Ek het ook allerlei werk vir maatskappye soos MultiChoice, Alexander Forbes, Edcon en Sun International gedoen.
Een van die mense aan wie ek my CV gestuur het, was Dick Wilkins, voormalige besturende direkteur van Struik-Uitgewers en in daardie dae die stigter en hoof van Sunbird Press, wat toe deel was van die Tafelberg-groep. Hy het my CV met Hannes van Zyl, hoofbestuurder van die Tafelberg-groep, gedeel. En Hannes nader my toe om aan boeke vir die uitgewery te werk. Ek het vir hom gewerk aan boeke soos Africa: The time has come (Thabo Mbeki), Afrikaner Afrikaan (Frederik Van Zyl Slabbert) en African Renaissance (Malegapuru William Makgoba). Mettertyd het Hannes my die pos van verkoops- en bemarkingsbestuurder aangebied – iets waarin ek hoegenaamd geen ondervinding gehad het nie, maar Hannes het vertroue in my gehad en ek het kans gesien vir die uitdaging.
Ek was van 1 Augustus 2000 in daardie pos, tot einde Maart 2009 – aanvanklik by die Tafelberg-uitgewersgroep; en van 1 April 2001, toe Tafelberg met Human & Rousseau saamgesmelt het om NB-Uitgewers te vorm, word ek die verkoops- en bemarkingsbestuurder vir NB. Met Kerneels Breytenbach se aftrede wou ek baie graag terugkeer na my eerste liefde, die redaksionele sy van die besigheid. Eloise Wessels het my die geleentheid gegee om Kerneels op te volg, en ná 16 jaar in dié pos het ek op 31 Maart vanjaar afgetree.
Dus: Dit was belangstelling en keuses; daar was geleenthede waarvoor ek my hoed in die ring kon gooi; ek het kans gesien vir uitdagings en was nie bang om te leer en hard te werk nie; en daar was mense wat vertroue in my gehad het en my geleenthede gegee het, selfs al het ek meermale nie die geskikte agtergrond of ondervinding gehad nie. Daarvoor is ek hulle baie dankbaar.
Kom ons kyk na die jare by NB. Sou mens poolshoogte kon neem oor die tyd wat verby is? Vyf-en-twintig jaar gelede was dit die begin van ’n nuwe eeu. In vele opsigte nog ’n nuwe pad vir die demokratiese Suid-Afrika en die soort boeke wat in daardie jare uitgegee is. Daar was sekerlik nog iets van die euforie van die Reënboognasie, en reeds uitdagings daarby. Wat onthou jy van jou beginjare by NB-Uitgewers? Watter soort omgewing was die uitgewerswêreld?
Dit was ’n opwindende tyd. Groot titels is in die vroeë 2000’s uitgegee en daar was baie boekgeleenthede en -byeenkomste waar skrywers opgetree het. Vir my was dit natuurlik ’n ongelooflike voorreg om groot Afrikaanse skrywers te ontmoet: Elsa Joubert, André P Brink, Abraham de Vries, Marlene van Niekerk, Dalene Matthee. Skrywers soos Etienne van Heerden, Dolf van Niekerk, PG du Plessis, Engela van Rooyen, Petra Müller, Johann de Lange, Chris Barnard het ek reeds geken uit my vorige drie jaar by Tafelberg in die noorde, maar dit was lekker om weer met hulle kontak te hê. En daar was ook ’n nuwe generasie skrywers.
Dit was die beginjare van die kunstefeeste, met Aardklop wat in 1998 begin het en die Woordfees in 2000. Teen daardie tyd was die KKNK reeds groot, en die fees is in daardie jare deur baie van die uitgewerspersoneel bygewoon. My span was verantwoordelik vir ons boekprogram. Kerneels Breytenbach het my aan Breyten Breytenbach voorgestel toe hy my en ’n paar kollegas genooi het om saam met hulle iets by Die Hoenderkoppie te geniet. Ek was in die wolke, maar het skaars ’n woord gesê. Daar was ook etes met van die skrywers by Jemima’s op die dorp – ek onthou dat ek een aand langs Jeanne Goosen gesit het.
........
Maar die beginjare van NB was nie noodwendig ’n idilliese tyd nie. Dit was ’n periode van omwenteling.
........
Maar die beginjare van NB was nie noodwendig ’n idilliese tyd nie. Dit was ’n periode van omwenteling. Die samevoeging van die Tafelberg-groep en Human & Rousseau om NB-Uitgewers te skep was moeilik vir die personeel én die skrywers. Tafelberg en Human & Rousseau was altyd mededingers, en skielik moes hulle onder een dak sit.
In daardie tyd is die tantièmestelsel ook verander. Die uitgewerye kon nie meer tantième op die verkoopprys van boeke betaal nie – dit was net nie ’n haalbare sakemodel nie – en die ooreenkoms met skrywers is verander sodat ’n persentasie van die werklike inkomste wat die uitgewery verdien het (dws ná die korting aan boekwinkels), aan skrywers oorbetaal is. Skrywers was ongelukkig oor die verandering en het die uitgewery wantrou.
Afrikaanse skrywers was bekommerd oor die toekoms van Afrikaans in die nuwe politieke bedeling. Hierdie onsekerhede, dink ek, is ook in ’n mate op die uitgewery geprojekteer. Terselfdertyd het die Afrikaanse media van destyds die uitgewery nie noodwendig ondersteun nie. Daar was baie kritiek, baie wantroue.
Wat in ’n groot mate dieselfde gebly het, was dat ons Afrikaanse boeke moes verkoop aan boekwinkels wat in wese Engels was. Ek onthou hoe ek die CNA-aankopers probeer oortuig het dat daar Afrikaanse mense is in plekke soos Krugersdorp, en dat die takke daar Afrikaanse boeke moet aanhou. Ek en Hannes het destyds vir Fred Withers, hoof van Exclusive Books, probeer oorreed om ’n jaarlikse Afrikaanse promosie te doen. Wat hulle toe inderdaad later gedoen het.
Die boekhandel het destyds baie anders daar uitgesien. In die vroeë 2000’s was ons top klant Leserskring, met CNA in die tweede plek en Exclusive Books derde. Ons publikasielys was daarom in ’n groot mate gefokus op watter boeke vir Leserskring en CNA sou werk. ’n Belangrike deel van die uitgewery se jaarlikse besoek aan die Frankfurter Buchmesse was dus ook om geïllustreerde niefiksietitels en kinderboeke te vind wat in Afrikaans vertaal sou kon word en as deel van ’n internasionale koproduksie gedruk kon word (en sodoende bekostigbaar sou kon wees vir die plaaslike mark). Ons sou destyds ook afsprake met Leserskring se mense maak om saam na internasionale uitgewers se boeke te kyk wat moontlik geskik sou kon wees vir Leserskring.
’n Kunstydperk word beïnvloed deur die wêreldgeskiedenis waarbinne die kuns geskep word, as ek nou kan vereenvoudig. Watter boeke staan vir jou uit as bakens van die tydsgees van sekere jare, in die tyd wat jy by NB was? Noem tog name van sekere van die boeke en sekere van die land- of wêreldgebeure wat dalk op hierdie maniere vir jou uitstaan?
Ek noem net sekere titels. Daar is soveel meer wat ek sou kon noem, en ek is seker ek vergeet belangrike titels. Maar hier is wat nou in my gedagtes kom, in chronologiese volgorde:
- Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie (1992, in my eerste drie jaar by Tafelberg) was beslis ’n boek wat tekenend was van die tydsgees. Dit was bevrydend. Dit het Afrikaanse vroue ’n “stem” gegee, toestemming om oor seks te praat, met ’n ligte tred. Maar dit was oor veel meer as seks. Dit was ’n heerlike, goeie boek waarmee vroue kon identifiseer en wat vir Marita ’n groot aanhang gewen het. Destyds was daar ’n besprekingsprogram na die Afrikaanse aandnuus op TV, waartydens aktuele sake bespreek is. Nie net het die boek die nuus self gehaal nie, dit was ook die enigste keer dat ’n boek op daardie aktualiteitsprogram bespreek is.
- Africa: The time has come deur Thabo Mbeki (1998). Dit was vir my ’n voorreg om aan daardie boek te werk voordat ek by NB aangestel is. Thabo Mbeki het meestal sy eie toesprake geskryf, en hulle was werklik uitstekend. Hierdie publikasie het verskyn toe hy adjunkpresident was en het 42 van sy toesprake bevat. Ek het groot bewondering gehad vir sy logika en die temas van die toesprake. Die boek was vir my ook tekenend van ’n tydperk van hoop, van ’n vars nuwe Suid-Afrika.
- Pieternella van die Kaap deur Dalene Matthee (2000). Ek het by NB begin net nadat dié boek verskyn het. Dalene se boeke was topverkopers; sy was ’n egte storieverteller. Dit was die verhaal van Pieternella, die dogter van Pieter van Meerhoff en Krotoa-Eva.
- Eilande deur Dan Sleigh het in 2002 verskyn, en hoewel dit ’n heeltemal ander soort boek was, is dit tog interessant dat daar in hierdie tyd teruggekyk is na die 17de-eeuse Kaapse geskiedenis en historiese karakters uit daardie tyd. Daardie belangstelling was nie net plaaslik nie; in die buiteland – spesifiek die VK, VSA en Nederland – was daar ook belangstellig in die tema. André P Brink het Eilande in Engels vertaal vir sy uitgewer, Secker & Warburg, en dit het ook in Nederlands verskyn onder die titel Stemmen uit zee, uitgegee deur Querido.
- Madiba magic: Nelson Mandela’s favourite children’s stories het ook in 2002 verskyn. Dit was ’n versameling kinderverhale uit Afrika, namens Mandela saamgestel deur Jakes Gerwel, en geïllustreer deur ’n verskeidenheid kunstenaars. Dit was gebaseer op ’n konsep wat ek met Hannes van Zyl gedeel het voordat ek by die Tafelberg-groep begin werk het. Louise Steyn, destydse hoof van die kinder- en jeugafdeling, het die boek pragtig uitgegee en ek het in 2002 in Frankfurt regte van die boek verkoop. ’n Mens het ’n bietjie chutzpah nodig gehad om by die groot uitgewerye (soos die Amerikaanse WW Norton en die Duitse CH Beck) se stalletjies in te stap. Maar Nelson Mandela se naam het deure oopgemaak, en uitgewers het mekaar van die boek vertel en ons beskeie stalletjie in Halle 8 opgesoek om meer te wete te kom. Ons het die regte vir die boek aan ’n groot aantal lande gelisensieer. Dit is nou nog in druk in verskeie lande, onder meer die VSA en Duitsland.
- The Afrikaners deur Hermann Giliomee het in 2003 verskyn, en terselfdertyd ook by die University of Virginia Press in die VSA. Dit is in die VK uitgegee deur Hurst Press. Dit is interessant hoeveel belangstelling daar steeds in Suid-Afrika was. En natuurlik is Giliomee internasionaal hoog aangeslaan as akademikus. JM Coetzee het die volgende oor The Afrikaners gesê: “A book to welcome ... [I]t includes an account of the origins and demise of apartheid that must rank as the most sober, objective and comprehensive we have.” En The Economist het die boek soos volg beskryf: “Magisterial ... The strength of the book lies in [Giliomee’s] distillation of a lifetime’s research and reflection into a single prodigious volume.” Die boek is steeds in druk.
- Marlene van Niekerk se Agaat (2004) is een van Suid-Afrika se groot romans, wat ook internasionaal vertaal en uitgegee en bekroon is. Die verhaal van die twee hoofkarakters verteenwoordig ook ’n fase in die geskiedenis van Afrikaners, en die einde van ’n politieke bestel.
- Sifiso Mzobe se debuutroman, Young blood (2010), het ’n aantal pryse gewen, onder meer die 2012 Wole Soyinka Prize for Literature in Africa, en ons het vertaalregte daarvan verkoop.
- Jacques Pauw se The President’s keepers het in 2017 verskyn. Hierdie boek, oor korrupsie in die regering van die voormalige staatspresident Jacob Zuma, het op presies die regte oomblik in Suid-Afrika se geskiedenis verskyn. Die eerste oplaag van 20 000 boeke is binne ’n dag uitverkoop en ons het uiteindelik meer as 200 000 eksemplare verkoop. In 2019 het die Association of American Publishers hulle International Freedom to Publish Award aan NB-Uitgewers toegeken vir die publikasie van dié boek. NB is die enigste Suid-Afrikaanse uitgewery wat nog ooit hierdie toekenning ontvang het.
- Die dao van Daan van der Walt deur Lodewyk G du Plessis, skuilnaam van oudregter Andries Buys, het in 2018 verskyn. Dit is ’n pragtig geskrewe boek wat uitstekend verkoop het. Ek glo dat dit veral is weens die temas van manlikheid, identiteit en seksualiteit wat in hierdie era ’n besprekingspunt is en iets waaroor meer gepraat word as in die verlede.
- Die onsigbare deur PJO Jonker (2024). Hierdie komplekse debuutroman wyk af van die tradisionele plaasroman. Vandag se kwessies oor sake soos grondbesit staan sentraal.
Die terugkyk na die geskiedenis – veral die 17de-eeuse leefwêreld aan die Kaap en die Anglo-Boereoorlog – in die fiksie en niefiksie van die afgelope kwarteeu is vir my opvallend. Ek glo dit dui op ’n terugkyk en besinning oor hoe ons tot op die punt gekom het waar ons vandag is. Veral in die Afrikaanse literêre roman. Die titels wat ek hier bo noem, maar ook titels soos Kamphoer, Niggie, Fees van die ongenooides.

Boekomslae: The President’s keepers deur Jacques Pauw; Agaat deur Marlene van Niekerk; Young blood deur Sifiso Mzobe; Die onsigbare deur PJO Jonker
Sonder dat alles aan die tyd of era gekoppel hoef te word, was daar enige skrywers of enige boeke wat werklik vir jou uitgestaan het, op ’n manier wat besonders was of jou geraak het?
Hier is ’n klompie los notas oor boeke wat ek geniet het of wat vir my uitstaan:
- Etienne van Heerden se werk, veral Toorberg, Die swye van Mario Salviati, 30 Nagte in Amsterdam.
- PG du Plessis se Fees van die ongenooides. Ek het toe ek nog in Johannesburg gewoon het, dikwels saam met PG koffie gedrink. Ons het ook saam ’n boek humoristiese stories saamgestel. Ek beskou Fees van die ongenooides as een van ons groot boeke. Elsa Joubert het in ’n e-pos-boodskap aan PG wat haar destydse uitgewer Riana Barnard namens haar gestuur het, vir PG gesê dat hy vir ons die “Groot Afrikaanse Roman” geskryf het.
- Verskeie van Ingrid Winterbach se boeke. Karolina Ferreira. Niggie. Die aanspraak van lewende wesens. Die troebel tyd. Onrus op Steynshoop.
- Breyten Breytenbach se werk. En Antjie Krog s’n. En Danie Marais s’n. En Lynthia Julius en Bibi Slippers s’n.
- Ronelda Kamfer se Kompoun.
- Francois Smith se Kamphoer.
- Ek is lief vir ’n goeie spanningsroman. Deon Meyer se werk is fenomenaal en hy is ongelooflik professioneel. En ons het nog ander uitstekende skrywers van krimi’s. My persoonlike gunstelinge is Irma Venter, Chris Karsten en Rudie van Rensburg.
- Ons kinderboeke en storiebundels – lieflike boeke soos In die nimmer-immerbos, die Tjoppie-boeke, die Speurhond Willem-reeks, Liewe Heksie ...

Boekomslae: Toorberg deur Etienne van Heerden; Mede-wete deur Antjie Krog; Kinderlê deur Lynthia Julius; Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach
Terwyl jy by NB gewerk het, het daar nog ander dinge verander wat nie net met landspolitiek te doen het nie. Die wêreld het verander. Sosiale media het die landskap betree. Bemarking het verander. ’n Maatskappy moes aanpas by dinge wat vinniger gebeur. Mense se aandag en fokus het vinniger begin flits. Hoe mense lees, wat mense lees ... Ek noem ’n paar dinge waaraan ek kan dink. Wat het in die wêreld verander waaraan jy kan dink terwyl jy by NB was wat mense se manier van lees beïnvloed, verander en gevorm het?
Eerstens het die koms van e-boeke mense se opsies vermeerder: Jy kan nou besluit of jy die gedrukte boek wil koop of die digitale een. Interessant genoeg wil die meerderheid mense steeds ’n gedrukte boek koop, hoewel liefdesverhale en spanningsverhale (wat mense “verbruik” en nie noodwendig op hulle rakke wil hou nie) effens meer gewildheid in e-formaat het as ander boeke.
Saam met e-boeke het die verspreiding van digitale roofkopieë gekom. Dit is, net soos met boeke wat gefotostateer word, iets wat uitgewers sover moontlik probeer bekamp.
........
So lank as wat ek in die bedryf is, was daar nog altyd duistere voorspellings oor die einde van die boek. Daar was al destyds, met die koms eers van die radio en toe televisie, sulke voorspellings. En die e-boek (wat tog ook ’n boek is) sou die gedrukte boek vervang – wat ook nie gebeur het nie.
........
Sosiale media het ’n groot invloed – ten goede en ten kwade. Dit is ’n nuttige en effektiewe bemarkingsmiddel. Dink byvoorbeeld aan boeke wat weens TikTok groot treffers geword het. Aan die ander kant is daar meer “geraas”, meer platforms en vermaaklikheidsmiddele wat om die aandag van die leser meeding. En mense se aandagspan raak korter.
Maar: So lank as wat ek in die bedryf is, was daar nog altyd duistere voorspellings oor die einde van die boek. Daar was al destyds, met die koms eers van die radio en toe televisie, sulke voorspellings. En die e-boek (wat tog ook ’n boek is) sou die gedrukte boek vervang – wat ook nie gebeur het nie.
Afrikaans. Die Afrikaanse boek. Praat met my oor die Afrikaanse boek by NB – in al die jare wat jy daar was.
Die Afrikaanse boek en Afrikaanse skrywers is na aan my hart. Dit bly vir my al die jare verstommend dat daar uit so ’n klein taal so ’n wonderlike letterkunde kan kom. Soveel van ons skrywers se werk is van internasionale gehalte – dink aan SJ Naudé, Willem Anker, Marlene van Niekerk, Deon Meyer, Breyten Breytenbach, Ronelda Kamfer, Antjie Krog. En nog baie meer. Dit is hoekom vertaling ook vir my so belangrik is – die wêreld moet toegang kry tot ons skrywers se werk, en ons skrywers verdien dit om wyer as net in Afrikaans gelees te word.
........
Een ding wat vir my opvallend is, is die aandag wat in Afrikaans aan poësie gegee word, hoeveel goeie poësie uitgegee word, en hoeveel agting die Afrikaanse publiek vir ons groot digters het.
........
Een ding wat vir my opvallend is, is die aandag wat in Afrikaans aan poësie gegee word, hoeveel goeie poësie uitgegee word, en hoeveel agting die Afrikaanse publiek vir ons groot digters het. Hoewel die drukoplae van digbundels klein is, vergelyk die oplae van Afrikaanse bundels baie goed met die oplae van buitelandse uitgewers in groter markte.
Dit was vir my ’n vreugde en ’n voorreg om deur my werk – deur deel te wees van die uitgee van Afrikaanse boeke en deelname aan allerlei ander inisiatiewe om Afrikaanse boek en skrywers te bevorder – ’n positiewe bydrae tot Afrikaans te kon maak. Min mense kry so ’n geleentheid, en ons was al die jare by NB in die unieke posisie dat daar geleenthede vir ons geskep is om ’n sinvolle bydrae te kan lewer.
Watter stasies was daar vir jou langs die pad? Boekpryse, gesprekke met skrywers, die Frankfurtse Boekebeurs, groot benoemings vir NB, dinge wat jou bybly?
Ek was bevoorreg om die Frankfurtse Boekebeurs die meeste jare terwyl ek in die pos was te kon bywoon. Ek het goeie bande met internasionale uitgewers gesmee en baie geleer. Wat dit betref, staan die sukses van Madiba magic vir my natuurlik uit, ook aangesien dit my konsep was en ek die boek ook aan internasionale uitgewers voorgelê het.
In 2010 is ek uitgenooi om deel te neem aan die Nederlandse Letterenfonds se Amsterdam Fellowship. Dit was ’n wonderlike ervaring, en vir my ekstra spesiaal omdat my ouers Nederlandse immigrante was en ek Nederlands praat. Ek het uitstekende kontakte tydens daardie besoek opgebou – nie net onder Nederlandse uitgewers nie maar ook die ander deelnemers aan die Fellowship.
........
In hierdie tyd het ons die PEN Afrikaans Vertaalfonds begin. Dit voel vir my na een van my belangrikste bydraes tot die bedryf en tot skrywers, omdat dit so belangrik vir ’n skrywer is om internasionale blootstelling te kry.
.......
Ek was, saam met mense soos Louis Esterhuizen, Kerneels Breytenbach, Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Amanda Lourens, Andries Visagie en Desmond Painter, op die loodskomitee van ’n Afrikaanse skrywersorganisasie wat gestig is toe Media24 die verskillende boekeblaaie onder een nasionale boekeredakteur saamgevoeg het. Daardie organisasie het uiteindelik eers die Afrikaanse Skrywersunie geword en het toe, danksy Fanie Olivier se goeie voorstel en motivering en verskeie mense op die nuwe bestuur se harde werk, gelei tot die stigting van PEN Afrikaans.
Ek was vir ’n aantal jare op die bestuur van PEN Afrikaans – een termyn as ondervoorsitter en twee as voorsitter. In hierdie tyd het ons die PEN Afrikaans Vertaalfonds begin. Dit voel vir my na een van my belangrikste bydraes tot die bedryf en tot skrywers, omdat dit so belangrik vir ’n skrywer is om internasionale blootstelling te kry. Jy het reeds destyds ’n onderhoud met my hieroor gedoen, dus gaan ek nie verder daaroor uitwei nie.
........
Die publikasie van The President’s keepers was beslis een van die groot hoogtepunte van my loopbaan.
........
Die publikasie van The President’s keepers was beslis een van die groot hoogtepunte van my loopbaan. Ons het van die begin af besef dat ons alles reg moes doen en het regsadvies bekom oor die inhoud van die boek en verseker dat die inhoud geheim gehou is. My kollega Nicky Stubbs en haar span se verhouding met ons klante was so goed dat hulle groot bestellings geplaas het sonder dat hulle veel van die boek geweet het. Die boek is bekendgestel met voorbladberigte in die Sondagkoerante. En toe ons eise kry om die boek te onttrek, het ons dit in die media aangekondig in plaas van om voor intimidasie te swig.
Verder is my bydrae tot die protesoptrede teen die Wysigingswetsontwerp op Outeursreg iets wat vir my belangrik is. Toe ek in 2018 voorsitter van PEN Afrikaans was, het ons die eerste, hoogs suksesvolle petisie van stapel gestuur. Ons het wyd vir ondersteuning gevra, en my kollegas by NB het ook baie moeite gedoen deurdat hulle die petisie onder die aandag van hulle skrywers gebring het en gevra het dat hulle dit nie net onderteken nie, maar ook kommentaar lewer. Dit het verstommende ondersteuning geniet. In slegs een week het meer as 3 000 individue (insluitend baie plaaslike en internasionale bekendes) en 125 organisasies die petisie onderteken. Hier is die skakel na die petisie.
In 2024 was daar steeds groot kommer oor die algemene gebrek aan belangstelling in die verwikkelinge mbt die kopieregwetgewing. Ek dink die algemene publiek en mense in die kreatiewe bedrywe self was al só moeg vir die gesprekke oor die wetgewing, en vir die kompleksiteit daarvan – hulle was gewoon vuisvoos. Teen dié tyd was ek nie meer op die bestuur van PEN Afrikaans nie, maar die huidige voorsitter, Bernard Odendaal, en Catrina Wessels van PEN Afrikaans het weer ’n petisie aan die gang gekry, met die samewerking van Anfasa, PEN South Africa en Pasa. Media24 en NB het gehelp sover as wat ons kan, en ook hierdie petisie het baie aandag getrek en is binne enkele dae deur meer as 4 200 mense onderteken. Dit het egter helaas nie die uitkoms van die sitting oor die wetsontwerp verander nie. Die ANC se meerderheidstem het die saak beklink en die wetsontwerp is opnuut aanvaar. (Intussen het die President dit steeds nie onderteken nie en het hy dit na die Konstitusionele Hof verwys om oor die moontlik ongrondwetlike bepalings wat dit bevat, te beslis.)
Persoonlike herinneringe wat jy het, wat jy bereid is om te deel? Mens raak tog ook bevriend met mense wat saam met jou werk, en mens se eie persoonlike lewe gaan ook voort wat nie met mens se werkslewe te doen het nie. Wat onthou jy van jou jare by NB, op persoonlike vlak?
Daar is te veel herinneringe om hier te begin opnoem. Oorsigtelik egter: Ek is baie lief vir die mense saam met wie ek gewerk het. Daar is uitsonderlike mense in die uitgewersbedryf en, so glo ek, veral by NB.
Ek het ’n baie goeie verhouding gehad met Eloise Wessels, NB se uitvoerende hoof. Ons verstaan mekaar goed en respekteer mekaar, en oor die jare het ons baie saam kon lag, huil, planne maak en suksesse vier. Ek het baie agting vir die grasie, wysheid, medemenslikheid en sakegerigtheid waarmee sy die komplekse besigheid wat NB is, bestuur het.
Ek het ook baie waardering vir my ander kollegas in NB se bestuurspan, wat op 1 April ontbind is: Neville Bowman, ons finansiële bestuurder, Nicky Stubbs, verkoops- en bemarkingsbestuurder, en Judy Magson, bestuurder van menslike hulpbronne.
Ek het die redaksie se bestuurspan my “dream team” genoem: Etienne Bloemhof (fiksiehoof), Michelle Cooper (hoof van kinder- en jeugboeke), Erika Oosthuysen (niefiksiehoof), Annemie Stoman (hoof van Pharos, ons woordeboekafdeling), Ilse Volschenk (produksiehoof), Gys Visser (hoof van kontrakte en regte). Hulle is slim, toegewyd, talentvol ... So ook die uitgewers en ander kollegas in hulle afdelings, en in ons ander afdelings.

Michelle Cooper (hoof van die kinder- en jeugboekafdeling), ek en Ilse Volschenk (produksiebestuurder) by CTP-drukkers in Maart vanjaar. Ons het die kleurdrukwerk van Pippa Skotnes se boek When the world was, wat in Mei verskyn, nagegaan. (Foto: verskaf)

Eloise Wessels (uitvoerende hoof van NB), Nicky Stubbs (verkope- en bemarkingsbestuurder), Eben Pienaar (reklamebestuurder) en ek by NB se jaarlikse skrywerspartytjie op die Nasdak in Februarie vanjaar. (Foto: verskaf)
En nou? Hoe lyk die toekoms by NB en die tyd wat voorlê? Hoe lyk jou eie toekoms?
Oor NB: Dis ’n nuwe fase. NB is nou deel van Jonathan Ball Publishers. Ek is nie ’n waarsêer nie – kom ons kyk wat die toekoms bring! Dis wel vir my ironies dat ’n besigheid wat betreklik onlangs deur die destydse Nasboek aangekoop is, nou die ouer besighede “insluk”, maar dit is hoe hierdie goed werk. Lux Verbi, een van die heel oudste drukname in Suid-Afrika, is ook ’n aantal jare gelede by NB geïnkorporeer. Wat ek wel weet, is dat ons bedryf besonder veerkragtig is.
Vir my persoonlik voel dit ook asof ’n siklus voltooi is: Ek het by NB begin in die tyd van die samesmelting van Tafelberg en Human & Rousseau, en ek verlaat NB wanneer dit deel word van Jonathan Ball Publishers.
........
Wat ek wel weet, is dat ons bedryf besonder veerkragtig is.
........
Maar alles draai uiteindelik om die skrywers en hulle werk. Dit wat die skrywers produseer, is wat die uitgewersbedryf moontlik maak. En ek is optimisties: Solank as wat mense van stories hou, sal daar boeke wees – fiksie en niefiksie, vir kinders en grootmense. En solank as wat daar mense is wat Afrikaans praat, sal boeke in Afrikaans geskryf en uitgegee word.
Oor my eie toekoms: Ek hou van werk, en hoop dat ek nog aan interessante projekte kan werk. Op ’n persoonlike vlak is daar mense vir wie ek lief is saam met wie ek meer tyd wil deurbring – vriende en familie. Ek sien daarna uit om meer tyd te hê om te kan ontspan met ’n boek, en om klavier te speel, naaldwerk te doen en tuin te maak. Ek hardloop in Mei my eerste halfmarathon. Ek wil fliek, road trips doen en gereeld ’n paar dae Bainskloof toe gaan om weg te kom van die stad en sonder konnektiwiteit te wees. En dan wil ek natuurlik reis, soveel as wat my pensioen toelaat!
Lees ook:
Persverklaring: NB-Uitgewers sien toe dat rekordtal vertalings die lig sien
Waarom by ’n uitgewer aanklop eerder as om self te publiseer?
The post "Dit het begin by my liefde vir boeke en lees": ’n onderhoud met Marga Stoffer first appeared on LitNet.
The post "Dit het begin by my liefde vir boeke en lees": ’n onderhoud met Marga Stoffer appeared first on LitNet.