
Johny Klein, Luan Jacobs, Tobie Cronje en Rika Sennet
Die vrywording van Egbertus Lodewikus Appel deur Manie Groenewald, is die merietewenner van die 2024 RSG Radiodramaskryfkompetisie in samewerking met die ATKV.
Dit is Stella se vier-en-sestigste verjaardag in ’n aftreeoord. In ’n toestand van neerslagtigheid het sy niemand vir die geleentheid genooi nie en wil ook nie vir enige besoeker regstaan nie. Haar buurman daag op en slaag daarin om haar uit haar depressie te kry. Maar dan daag ’n tweede gas op, wat al die goeie pogings van die buurman tot niet maak en Stella dwing om met die familiegeraamtes in haar kas na vore te kom.
Die vrywording van Egbertus Lodewikus Appel deur Manie Groenewald met Johny Klein as die regisseur en Rika Sennet, Tobie Cronje en Luan Jacobs in die rolverdeling.
Skakel in op Donderdagaand 10 April om 20:00 op RSG of rsg.co.za, ook beskikbaar as potgooi en op Spotify.
Die skrywer, Manie Groenewald, vertel:
Ek was sestien in 1957 toe daar vir die eerste keer ’n radio in ons huis was. Sedertdien laat ek nie ’n kans verbygaan om na radiodramas te luister nie.
Met die draai van die eeu poog ek om self radiodramas te skryf. Aanvanklik was ek nie suksesvol nie, maar in 2003 kom daar ietwat van ’n deurbraak toe Robert Young my as finalis van RSG se radiodrama skryfkompetisie nooi om ’n mentorsessie by die uitsaaisentrum by te woon. ’n Derde plek in die beginnerskategorie vir my drama Die koms van Xololo word daardie jaar toe toegeken.
’n Paar jaar later was ek weer ’n finalis met Anderkant die reënblom en in 2015 neem ek leiding in die skryf van Nagmaal vir twee, wat aan die Gebruikerskomitee ’n derde plek in die kompetisie besorg. ’n Jaar later is ek toe weer ’n finalis met Besoek van die grensbreker.
Na die sukses van Nagmaal vir twee, neul die lede van die Gebruikerskomitee dat ons weer ’n radiodrama skryf. Om iets rondom ’n lotto-kaartjie te skryf, word as storie-idee aanvaar. Ons val dadelik weg, maar ek kom gou agter die entoesiasme is nie meer daar nie en uiteindelik is ek alleen aan’t skryf.
Aanvanklik het ek die storielyn ontwikkel rondom ’n ouer in ’n aftreeoord wat afgeskeep voel omdat haar kinders haar nie besoek nie. Sy bedink toe iets rondom ’n lotto-kaartjie om hulle te lok. Met herskryf en herskryf val die lotto-kaartjie weg en bly daar net Stella en die aftreeoord oor.
The post Persverklaring: RSG Radioteater se Die vrywording van Egbertus Lodewikus Appel op Donderdagaand 10 April om 20:00 first appeared on LitNet.
The post Persverklaring: RSG Radioteater se <i>Die vrywording van Egbertus Lodewikus Appel</i> op Donderdagaand 10 April om 20:00 appeared first on LitNet.