Titel: Pater Meus
Skrywer: Mario Relandini, uit Italiaans vertaal deur Rina Cascione
Uitgewer: Naledi (2024)
ISBN: 9781067234300
Enige vertaling uit ’n vreemde taal in Afrikaans is goeie nuus vir die vertaal- en literêre kanon, des te meer wanneer dit ’n direkte vertaling is (eerder as indirek, byvoorbeeld via die Engelse vertaling). ’n Vinnige internetsoektog1 bevestig dat die lys vertalings uit Italiaans in Afrikaans opvallend kort is, en dat daar voorkeur gegee is aan klassieke outeurs soos Dante Alighieri en Machiavelli. Daar is slegs enkele voorbeelde van meer onlangse Italiaanse titels. Tussen die vertaling van Sergio Donati se Il Sepolcro di Carta in 1960 en Mario Relandini se Pater Meus in 2024 het 64 jaar verloop. Op 91 is Rina Cascione besig om die lys vertalings uit te brei met titels in sowel prosa as poësie: in kronologiese volgorde, die bundel Kliniek van verlatenheid deur Alda Merini (Naledi, 2022; dit moet nog by bogenoemde lys op die webwerf gevoeg word) en die memoires Pater Meus deur Mario Relandini.
Pater Meus is dus ’n publikasie wat gevier moet word, asook ’n boek wat Suid-Afrikaans geworde, Afrikaanssprekende Italianers vir hul kinders kan gee om te lees, want vertaling verbind die land van die brontaal en dié van die teikentaal onlosmaaklik aan mekaar. In hierdie sin is dit insiggewend om te kyk na die betekenis van die woord translation, soos verwoord deur Salman Rushdie in sy essay Imaginary homelands:2
The word “translation” comes, etymologically, from the Latin for “bearing across”. Having been borne across the world, we are translated men. It is normally supposed that something always gets lost in translation; I cling, obstinately, to the notion that something can also be gained.
.......
Benewens die literêre en vertaalkundige verryking van hierdie publikasie het dit ook historiese en sosiologiese waarde vir Suid-Afrikaners van Italiaanse oorsprong en vir Afrikaanse lesers wat meer te wete wil kom van nog ’n minderheid in die fassinerende Suid-Afrikaanse kaleidoskoop van kulture, die Italiaanse gemeenskap.
.......
Benewens die literêre en vertaalkundige verryking van hierdie publikasie het dit ook historiese en sosiologiese waarde vir Suid-Afrikaners van Italiaanse oorsprong en vir Afrikaanse lesers wat meer te wete wil kom van nog ’n minderheid in die fassinerende Suid-Afrikaanse kaleidoskoop van kulture, die Italiaanse gemeenskap. Ons kennis van die Italiaanse oorlogsgeskiedenis uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt het onlangs ’n hupstoot gekry met die 2024-publikasie van Karin Horn se Prisoners of Jan Smuts.3 ’n Mens sou kon redeneer dat die twee titels as ’n soort (onbedoelde) tweeluik gelees kan word, omdat Pater Meus die Italië van die oorlogsjare beskryf waarna Smuts se Italiaanse gevangenes verlang het en waarna hulle met alle geweld wou terugkeer.
Wat Pater Meus ’n buitengewone leeservaring maak, is enersyds die vertellersperspektief (grotendeels dié van ’n jong seun, wie se naam na Marco4 in die teks verander), en andersyds die onderwerp. Dit is ’n roerende huldeblyk aan ’n vroeg gestorwe ouer. Relandini is in 1935 gebore, en sy vader sterf in 1949. Hierdie verlies op 14-jarige ouderdom word nooit te bowe gekom nie, soos blyk uit Marco se beskrywing van homself as ’n lewende dooie in ’n gesprek met God: “Waarom het U ’n lewende hier gelaat wat niks anders is as dood nie? En hierdie lewendige dooie ondervind alreeds dat U nie vrede wil skenk of waarborg nie, het ek gedink”5 (109).
Die Franse ekwivalent van die effek van so ’n vroeë verlies op ’n kind sou Marcel Pagnol se Le château de ma mère6 wees. Sy moeder sterf onverwags wanneer hy 15 jaar oud is; soos Relandini, sou hy eers veel later in sy lewe en loopbaan, op 62-jarige ouderdom, die trauma tot ’n publikasie verwerk. In ’n land en wêreld waar daar daagliks honderde sterftes aangemeld word, is dit miskien nodig om daaraan herinner te word dat ’n kind se rouproses soms ’n leeftyd lank duur en sy lewe, keuse van loopbaan, tematiek as skrywer en les bes sy geloofsoortuigings beïnvloed. Kinders hoop op en glo in wonderwerke en is dikwels minder vergewensgesind wanneer hul gebede nie verhoor word nie.
........
Die genre waarin die memoires geskryf is, herinner baie aan die 2022-Nobelpryswenner Annie Ernaux se definisie van outososiobiografie. Die teks kan beskou word as ’n outobiografiese beskrywing van Mario se verhouding met sy vader, ’n sosiologiese studie van die uitdagings wat Italiaanse Sosialiste soos Gerardo Relandini onder Mussolini se Fascistiese regering te bowe moes kom, en as ’n (noodwendig onvolledige) biografie van laasgenoemde.
........
Die genre waarin die memoires geskryf is, herinner baie aan die 2022-Nobelpryswenner Annie Ernaux se definisie van outososiobiografie. Die teks kan beskou word as ’n outobiografiese beskrywing van Mario se verhouding met sy vader, ’n sosiologiese studie van die uitdagings wat Italiaanse Sosialiste soos Gerardo Relandini onder Mussolini se Fascistiese regering te bowe moes kom, en as ’n (noodwendig onvolledige) biografie van laasgenoemde. Voor die hand liggende vrae is byvoorbeeld waarom sy vader, wat die seun trots as “jonk, lank, aansienlik en sterk”7 (19) beskryf, nie die verpligte krygsdiens gedoen het nie, siende dat hy binne die 18–54-ouderdomsgroep geval het, en wat die oorsaak van sy vroeë dood was.
Gerardo was ’n joernalis; dit maak poëties sin dat die seun Areadne sy toutjie by sy vader sou kry om uit die labirint van ontroosbaarheid en uitsigloosheid te kom. In sy desperate soeke na iets tasbaars van sy vader, word selfs die eerste aanraak van ’n tikmasjien se toetse ’n gewyde oomblik: “Toe ek jou beroep as joernalis soos ’n eienaardige noodlotskoord omarm en aan die toetse raak van ’n tikmasjien en later ’n rekenaar, was dit asof ek tóé eers werklik by jou was ...]”8 (109).
Mario Relandini sou skryf, en bekend word vir sy gereelde webdagboek of blog. Die voortsetting van sy vader se beroep was miskien ook ’n manier om hom met woorde aan die lewe te hou. Pater Meus kan beskou word as die kern van Relandini se skryfwerk. In die 99 bladsye van die 2005-bronteks,9 wat 11 jaar voor die skrywer se dood in Italiaans verskyn het, redigeer hy sy literêre testament, waarin die belangrikste temas van sy oeuvre afgesluit word: die rol wat sy pa in sy lewe gespeel het, sy ervaring van die oorlogsjare in Italië, en sy beskrywings van die veranderende Italiaanse, en veral Romeinse, landskap. Tussen die reëls sê hy ook veel oor die Italiaanse klassesisteem en sy verhouding met sy moeder.
Cascione verskaf ter inleiding (1–7) ’n kort lewenskets van Relandini, wat nuttige konteks vir die Afrikaanse leser bied. Selfs belangriker, in elk geval vir lesers wat ook in die vertaalproses belangstel, is haar opmerkings oor die vertaalpraktyk wat sy gevolg het. Vertalers in internasionale taalpare het naamlik ’n hele arsenaal van tweetalige, sinoniem- en idioomwoordeboeke, wat nie beskikbaar is wanneer daar uit ’n internasionale taal soos Italiaans in ’n klein taal soos Afrikaans (vanjaar amptelik net 100 jaar oud) vertaal word nie. Later meer hieroor.
In ’n kort teks soos hierdie het elke skrywerskeuse betekenis, en dit begin met die titel, waaroor daar reeds in ander resensies geskryf is.10 Dit sou geïnterpreteer kon word as die begin van ’n baie persoonlike gebed (nie “Onse Vader” nie, maar “My Vader”). Die belangrikste aspek van die titel is egter dat dit in Latyn is, nie ’n taal wat die jong Marco teenoor sy vader sou gebruik het nie. Die titel (en Relandini se persoonlike variasie op die Onse Vader-gebed waarmee die teks afsluit) kan suggereer dat die geloof wat die kind in God verloor, uiteindelik na sy vader oorgedra word. Dit is ’n belydenis wat baie moed moes geverg het, veral vir ’n gebore Romein wat in die katedraalkoor gesing en in die skadu van die Vatikaan grootgeword het.
........
Die manier waarop Relandini se persoonlikste herinneringe na die oppervlak van die bladsy gebring word, is ook noemenswaardig: Dit lees byna soos ’n moderne, tegnologie-geïnspireerde variasie op die oorlewering dat ons lewens by ons verbyflits wanneer ons sterf. Hier word ’n gewone kamermuur skielik ’n “panoramiese skerm” (18) waarop sy herinneringe kronologies afspeel.
........
Die manier waarop Relandini se persoonlikste herinneringe na die oppervlak van die bladsy gebring word, is ook noemenswaardig: Dit lees byna soos ’n moderne, tegnologie-geïnspireerde variasie op die oorlewering dat ons lewens by ons verbyflits wanneer ons sterf. Hier word ’n gewone kamermuur skielik ’n “panoramiese skerm”11 (18) waarop sy herinneringe kronologies afspeel. Hy beskryf dit asof die beelde hulself aan hom opdring, asof hy as skrywer nie beheer daaroor het nie. Die beroemdste voorbeeld in wêreldletterkunde van spontane herinneringe is sekerlik Marcel Proust se beskrywing van hoe die doop in tee van ’n stukkie gebak, ’n Franse madeleine, hom nie net terugvoer na ’n toneel uit sy kindertyd nie, maar hom dit laat beleef met die ouderdom en insig wat hy toe gehad het. Die sneller van Relandini se herinneringe is nie soos in Proust se geval ’n sintuiglike ervaring (’n smaak, ’n reuk) nie; hy gebruik ’n vergelyking wat veral ouer lesers sal verstaan: die projeksie van familiefilms op ’n skerm of muur in die huis, met vernietigende gevolge wanneer die rolfilm vashaak en skroei. Dit is die beeld wat hy gebruik wanneer die film, die vertelling, die stroom van herinneringe, skielik opdroog of onderdruk word omdat hy dit nie weer wil beleef nie, soos in hoofstuk XI, wanneer die kronologie onderbreek word en daar ’n “verwydering”12 (83) plaasvind, tesame met die terugkeer van die derdepersoonsverteller.
Dit is natuurlik iets wat aan die kern van outobiografiese skryfwerk lê: Wat onthou ons, en is ons herinnering getrou aan die werklikheid? Wat sê dít wat ons onthou, van onsself? En dan die belangrike vraag – ’n skrywersvraag, maar ook die vraag wat die kind van ’n te vroeg gestorwe vader vra: “die rede waarom jou lewe juis só en nie op ’n ander wyse verloop het nie”13 (18). Hierdie passasie verskyn as deel van ’n lang epigraaf wat in die daaropvolgende hoofstuk herhaal word, as ’n soort skyn-anonieme aanhaling (epigrawe is gewoonlik aanhalings uit ander skrywers se werk wat as invalshoeke vir die nuwe teks gebruik kan word).
Die heel eerste beeld op hierdie privaat rolprentskerm van sy eie geheue is ’n beeld van Marco die kleuter op pad na die badkamer, bang dat hy sy slapende pa sal wakker maak. Dit word gevolg deur ander beelde, onsigbaar vir ander. In hierdie familiefilms op die skerm van sy skrywersverbeelding sien die 70-jarige Relandini die gelykenis van sy vader, iewers in die 1940’s, en kom hy in opstand teen die lot van so ’n goeie man. Pater Meus is die portret van ’n anti-Fascis wie se politieke oortuigings nie strook met dié van die regering van die dag nie. Omdat diktature altyd persvryheid inkort, het die joernalis-pa, wat vir ses mense kos op die tafel moet sit, gou nie meer ’n betrekking nie en moet hy handearbeid ver van die huis af verrig. Relandini se bitterheid lê daarin dat dit die tyd wat hy saam met sy vader kon deurbring, nog meer verkort is.
........
Relandini onthou nie net ’n verlore jeug nie, maar ook ’n verlore landskap. Van sy mooiste beskrywings is van die veldkos wat toe nog buite Rome geoes kon word: “sampioene, aspersies, swartbessies, aarbeie, gegeurde kruie, wilde blomme” (20) wat sou verdwyn met die aankoms van die oorlogsvlugtelinge en die demografiese ontploffing na die Tweede Wêreldoorlog.
........
Soos die kreatiewe vader in La vita è bella,14 wat ander, meer positiewe betekenisse probeer gee aan die nagmerrie van die Nazi-bedreiging vir hulle as Joodse gesin, maak Gerardo tyd om saam met klein Marco na spesiale plekke te gaan (die Villa Borghese, Villa Sciara, Villa Gloria en Monte Marino, waar hulle kon perdry) en sommer terselfdertyd te soek vir iets om te eet. Relandini onthou nie net ’n verlore jeug nie, maar ook ’n verlore landskap. Van sy mooiste beskrywings is van die veldkos wat toe nog buite Rome geoes kon word: “sampioene, aspersies, swartbessies, aarbeie, gegeurde kruie, wilde blomme”15 (20) wat sou verdwyn met die aankoms van die oorlogsvlugtelinge en die demografiese ontploffing na die Tweede Wêreldoorlog.
Een van die interessante vertelprosedures is hoe dieselfde verteller soms die eerste en soms die derde persoon gebruik. Lesers kan self inskat hoe hierdie afwisseling aan Relandini se herinneringe betekenis gee. Hoofstuk 1, waarin die skerm van herinneringe op die muur verskyn, word byvoorbeeld grootliks in die derde persoon vertel, terwyl die vertelling in hoofstuk 2, waarin Marco beskryf hoedat ideologie byna ’n wig tussen hom en sy vader indryf, meesal in die eerste persoon geskryf is. Klein Marco is, soos alle Italiaanse skoolkinders, deel van ’n Fascistiese opvoedingsprogram en moet as deel van sy plig teenoor die vaderland papier, karton en metaal bymekaar maak en skool toe neem. Sy ywer besorg aan hom twee kaartjies vir ’n dokumentêr in ’n Planetarium, maar hoe sal sy vader op so ’n prys reageer? Vir hierdie konfrontasie tussen die gekose anti-Fascisme van die vader en die gedwonge Fascisme van die jong seun kies Relandini die eerste persoon om die begrip en wysheid van die vader te illustreer.
Die vader veg teen ’n oormag, nie net wat die politiek betref nie, maar ook binne sy eie familie: Een van die sekondêre temas is die rol wat klasseverskille toe nog gespeel het, veral binne Gerardo se huwelik. Hy is lid van die middelklas, sy vrou van ’n laer adelstand. Die ryk skoonfamilie boikot hul troue; later sou die ontydige dood van die ongewenste skoonseun die adellike skoonmoeder koud laat. Haar enigste woorde aan haar dogter is: “Ek het jou gesê jy moenie met hom trou nie”16 (97). Hy het nie rykdom nie, net beginsels, waaroor sy vrou hom verwyt in eindelose rusies wat die jong Marco moet aanhoor. Marco identifiseer met sy vader (die teks is ’n ode aan Pater Meus, nie aan Mater Mea nie); dit wat hy van sy moeder onthou, oftewel die herinneringe aan haar wat op die skerm verbyflits, is grotendeels negatief. Sy word uitgebeeld as iemand wat vinnig haar humeur verloor (sy “tier” (bl 91); die werkwoord investire (2005:80) beteken letterlik iets soos “verpletter”). Sy praat ongeskik en ongeduldig met Gerardo. Wanneer Gerardo se pensioen vir die vooroorlogse jare van sy loopbaan nie na sy dood uitbetaal word nie omdat die Franse nuusagentskap van naam verander het (van Havas na die Agence France Presse, wat ons steeds ken), is haar eerste besluit om geld te bespaar deur haar skoonouers, wat by hulle ingewoon het, weg te stuur België toe. Dit ten spyte van die twee bejaardes se pogings om ’n geldjie met die kweek van malvas te verdien om sodoende tot die huishouding by te dra. Die oupa oorleef nie die uitsetting nie, en vir Marco is dit die laaste band met sy pa wat verbreek word (105). Die moeder is die enigste lid van die familie in die teks wat nie ’n naam het nie.
........
Pater Meus bevat elemente van die bildungsroman, hoewel ’n mens sou kon sê dat Marco se grootwordproses gekondenseer word om saam te val met die vader se kortgeknipte lewe. Wat Marco leer, leer hy by sy vader.
........
Pater Meus bevat elemente van die bildungsroman, hoewel ’n mens sou kon sê dat Marco se grootwordproses gekondenseer word om saam te val met die vader se kortgeknipte lewe. Wat Marco leer, leer hy by sy vader. Hy is byvoorbeeld vroeg reeds getuie dat, anders as wat ouers en die kerk sê, jy nie altyd beloon word wanneer jy die regte ding doen nie. ’n Fascistiese informant en sy seun seil deur die oorlog en vind selfs goeie betrekkings daarna. Hy kom ook tot die gevolgtrekking dat sy oom Tonio se vrylating uit ’n Duitse tronk, na hulpverlening aan Britse troepe, waarskynlik te danke is aan die akkommodasie wat die Duitse offisiere in die Cortona-villa aangebied word.
Dit sê veel van Marco se oordeelsvermoë en intelligensie dat hy onder sy pa se invloed geleidelik al hoe minder meegevoer word deur die militêre parades en opruiende liedere wat deel uitgemaak het van die Italiaanse jeugweerbaarheidsklasse. Hy is dus beter voorbereid wanneer die gety vir die Italiaanse troepe draai, ook op die Afrika-kontinent, iets wat ons as Suid-Afrikaanse lesers van hierdie teks, in ’n land waar die grootste getal Italiaanse krygsgevangenes gedurende die oorlog aangehou is, behoort te interesseer. Horn (2024:xxiii) noem dat die Italianers nie as goeie soldate beskou is nie,17 maar die vader se insig in die gebrek aan voorbereiding van hierdie troepe en die gevoelloosheid van ’n Mussolini en sy generaals wat hulle na hul dood gestuur het, blyk uit ’n passasie soos die volgende:
Maar hoe op aarde dink hulle gaan hulle iets vermag met hierdie soort voorbereiding? Waar dink hulle gaan hulle kom sonder moderne wapentoerusting, met net ’n gepantserde bliktenk en kartonskoene? En dit boonop sonder bekwame generaals?18 (26)
So kry die vader nog ’n byna goddelike kwaliteit by: Hy is nie ’n vals profeet soos die Fascistiese joernaliste wat skryf wat Mussolini wil hoor nie. Uit sy mond kom die waarheid, anders as in die liedere wat Mussolini se lof besing, waarna daar in die teks verwys word: https://youtu.be/aPLEranAMPg.
Met die bombarderings deur die Duitsers en later die Amerikaners word dit noodsaaklik om met die kinders na die platteland te vlug. Die moeder se konneksies verseker hulle van verblyf in Cortona, terwyl die vader in Terni werk kry, die eerste van ’n hele paar skeidings tussen Gerardo en sy gesin. Die Sosialistiese vader hou by sy beginsels, maar dis aanvanklik die moeder se ryk familie wat skuiling bied soos wat die bombarderings toeneem, en haar handvaardighede, meer spesifiek haar breiwerk, wat die familie laat oorleef.
Relandini, by monde van jong Marco, word getraumatiseer deur ’n herhalende droom waarin sy moeder die minnares van ’n Duitse offisier is. Die Duitser in die droom is iemand wat aan hom bekend is, wat hy in Cortona en Nerni gesien het. Dit is nie duidelik of die droom deur ware gebeure geïnspireer is en of dit sy kinderverbeelding is wat die konsessies wat sy ma maak om te oorleef, op hierdie wyse interpreteer nie. Marco is selfs nie in staat om sy ma om verskoning te vra vir ’n onvanpaste opmerking nie, want “daardie droom van haar ontrouheid was iets onoorkomelik, iets soos ’n muur tussen ons”19 (54). Dit plaas haar in ieder geval in sy oë aan die teenoorgestelde kant van die morele spektrum: Sy vader is bo verraad en ontrou verhewe, sy moeder nie. Wanneer sy vader sterf, is Marco dus eintlik ’n weeskind; die enigste persoon na wie hy opgesien het, is weg. Sy ma word uitgebeeld as ’n bedorwe brok, iemand wat nooit dankbaar is nie en soms lyk asof sy moeg en in ’n dwaal is20 (28).
Benewens die klas- en ideologiese verskille tussen sy ouers was daar ook (soos in die geval van Marcel Pagnol se ouers) geloofsverskille. Die pa betree die kerkgebou alleenlik om sy seun se eerste kommunie en kooroptrede by te woon; hy is nie ’n praktiserende Katoliek nie (48). Sy vrou laat nooit na om hom hieroor te verwyt nie; dit is byna asof sy beter met die Duitse besetters klaarkom, veral die offisiere wat in die verskillende villas saam met die gesin woon en hulle baie galant, byna “adellik” gedra. Marco se goeie nuus dat hy drie lire gaan verdien deur tydens die laatoggendmis in die katedraal te sing, word begroet met: “Bravo, Marco ... uiteindelik sal ons jou pa dan ook sover kry om kerk toe te gaan”21 (49). Die moeder beskou Gerardo se kalmte en objektiwiteit eerder as ’n swakheid, en sou wou hê dat hy nou en dan vir Marco tugtig: “ A]s jy hom nie vasvat nie, wat gaan van hom word?”22 (67).
Wanneer die bombarderings ook die lewe in Cortona bedreig, begin sy moeder te “mor”23 (35) en na ’n nuwe skuilplek te soek. Relandini gee haar die dialoog van ’n verwende prinses wat ’n ertjie deur ’n matras kan voel: “Ons kan na Narni gaan, ... na die woonplek wat aan my adellike familie behoort”24 (36). Die Duitsers, wat as huisgenote uiters tegemoetkomend uitgebeeld word, bied selfs aan om hulle daarheen te neem.
Sy vader, wat ’n laerskoolonderwyser in Frankryk was voordat sy joernalistieke loopbaan in Italië begin het, is duidelik die enigste pedagoog wat hy nodig het. Die latere wete dat Gerardo vroeg sou sterf, beïnvloed waarskynlik, soos in die geval Marcel Pagnol, sy herinneringe aan sy pa: Dit is vir hom dat hy die Maagd Maria om hulp vra, oor hom wat hy bekommerd is wanneer Duitse soldate kom soek na Britse soldate aan wie die huiseienaars kos uitgedeel het: “Ek smeek jou, Pappa, moenie dat hulle jou wegneem nie!”25 (31). Die gemis word egter herstel met die vertrek na Narni. Met sy pa weer deel van die familie, begin die Italiaanse weerstandsbeweging of “Partigiani” ’n meer prominente rol in die kind se speletjies speel, en registreer hy sy pa se politieke uitsprake wat dekades later in hierdie ode aan sy vader neergepen sal word:
Dis die Fasciste en hul Duitse vriende wat besig is om honderde duisende sterftes in die hele Europa te veroorsaak. Hulle wat demokrasie wil doodmaak, wat ons van ons eerlike en rustige lewe in Rome ontneem het en Italië in hierdie nag van gewete, idees, moed en onmenslikheid gedompel het.”26 (41)
Op die skerm van herinnering onthou hy ook dat hy as agtjarige seuntjie die gesin se steenkoolrantsoen moes gaan haal en daarna uitgesien het om sy pa te vertel hoe hy die onmoontlike reggekry en die loodswaar sak tot by die huis gesleep het, maar dit word oorskadu deur die bekommernis oor sy pa se laat tuiskoms. Dit word nooit vertel nie. Daardie behoefte aan Gerardo se goedkeuring het hom op 70-jarige ouderdom nog nie verlaat nie. Nog iets wat hy nie tyd gehad het om met sy pa te bespreek nie, was sy seksuele ontwaking. Die refrein in Marco se kop is dat sy pa dit en soveel ander dinge eendag vir hom moet verduidelik. Hy besef nie dat daar nie meer baie tyd is vir die lys onderwerpe om met sy vader te bespreek nie. Die skerm herinner Relandini ook aan onopgeloste traumas wat vir oulaas na die oppervlak kom.
Een van die moeilikste dinge in ’n oorlogsituasie is om nie verbitterd en haatdraend teenoor die vyand te word nie: Marco se vader gee vir hom ’n waardevolle verduideliking, geïllustreer deur ’n uittreksel uit ’n lied van die Partigiani: “Barmhartigheid is dood” (57), “Pietà l’è morta”27 (wat vandag nog in Italië gesing word): https://youtu.be/HYLNTzmaXHU.
Vir die belangrikste verduideliking vir waarom Marco se vader so vroeg van hom weggeneem is, was Gerardo egter nie meer daar nie. Die seun het self nooit die antwoord gevind nie, selfs nie eers na die skryf van Pater Meus nie.
........
In hierdie herdenkingsjaar van Afrikaans se amptelike 100-jaar-status is dit miskien nuttig om ter afsluiting van die bespreking van ’n nuwe vertaling uit ’n vreemde taal kortliks te kyk na die proses wat vertalers in Afrikaans volg wanneer daar nie ’n wye verskeidenheid woordeboeke of ander vertaalinstrumente beskikbaar is om die proses te vergemaklik nie.
........
In hierdie herdenkingsjaar van Afrikaans se amptelike 100-jaar-status is dit miskien nuttig om ter afsluiting van die bespreking van ’n nuwe vertaling uit ’n vreemde taal kortliks te kyk na die proses wat vertalers in Afrikaans volg wanneer daar nie ’n wye verskeidenheid woordeboeke of ander vertaalinstrumente beskikbaar is om die proses te vergemaklik nie. Daar is geen Italiaans-Afrikaanse woordeboek nie. Vrae in hierdie verband, asook ander vrae, is aan Cascione gestel; haar antwoorde word hier opgesom of aangehaal. Sy het Italiaans deur haar man aangeleer en geoefen deur met haar skoonfamilie in Italië gesprekke te voer en veral deur te lees. Sy beskryf haar vertaalproses as grotendeels sonder hulpmiddels: “Ek het vertaal soos ek lees en het slegs ’n woordeboek geraadpleeg as ek by ’n woord vasgehaak het.”28 Sy dink dat die min vertalings in Italiaans daaraan te wyte is dat Italiaans nie ’n skoolvak was soos Frans en Duits nie (en, sou ’n mens kon byvoeg, nie ’n stamlandtaal was nie). Cascione het bekendheid as vertaler van Italiaanse gedigte verwerf. (Daar word dikwels gesê dat jy ’n digter moet wees om gedigte te kan vertaal; indien dit waar is, voldoen sy aan die beskrywing.) In Suid-Afrika, anders as in Europa, het vertalers dikwels die vrymoedigheid om ’n vertaalteks voor te stel, iets wat Cascione gedoen het nadat sy begin het om Pater Meus te vertaal.29
Vertalers het die keuse om voetnotas of ’n glossarium by te voeg om sekere terme of kontekste te verduidelik. Volgens Cascione was daar egter min inligting oor Relandini beskikbaar (hy was ’n joernalis eerder as ’n skrywer). Sy het sekere passasies (soos die droomsekwensie, die skuiling teen die bomaanvalle) “gekompakteer” om te verhoed dat dit lomp voorkom (dus nog ’n voorbeeld van domestikering). Daar was talle uitdagings: Cascione sonder die beskrywing van aspersies naby Narni uit as haar grootste uitdaging as vertaler van hierdie teks (sy het “dit vereenvoudig na die verskillende kleure van die aspersies wat hulle gevind het”). Cascione se studierigting was musiek, en sy voel dat “musiek en taal nou verwant is, veral wat die emosionele of ekspressiewe aspekte van die twee dissiplines betref. Ek glo dat dit my wel baie help met vertaling.”
Dit is reeds hier bo genoem dat Cascione ’n waardevolle paar bladsye (11–14) wy aan die vertaalkeuses wat sy in Pater Meus gemaak het. Hierdie keuses is belangrik om ’n vertaalproses sonder die gewone hulpmiddels te beskryf en sodoende die roete van vertalers uit ander tale wat nie ’n woordeboek met Afrikaans deel nie, te verkort of te vergemaklik. Dit gee aan die teikentaalteks sy styl en ritme en beïnvloed die keuse van leksikon. Slegs ’n paar pertinente voorbeelde word uit die kort bespreking aangehaal, wat vertalers en lesers met vrug kan lees.
.......
Cascione vertel hoedat sy toenemend van “die verskil in die manier van uitdrukking tussen Afrikaans en die Romaanse tale bewus geword het” (11), wat groter eenvoud van die Afrikaanse vertaler vereis het.
.......
Die grootste uitdaging is waarskynlik die sintaksis, “in Italiaans en Afrikaans totaal verskillend” (11), soos in die meeste taalpare. Die verskille is ’n gegewe; die ontdekkingsreis vir die leser is die oplossings wat die vertaler gevind het. Die taalpaar hier kombineer twee taalgroepe (anders as in die geval van Afrikaans-Engels, albei Germaanse tale). Cascione vertel hoedat sy toenemend van “die verskil in die manier van uitdrukking tussen Afrikaans en die Romaanse tale bewus geword het” (11), wat groter eenvoud van die Afrikaanse vertaler vereis het. ’n Praktiese voorbeeld is Relandini se lang sinne wat Cascione gekies het om soms in drie dele op te breek (12). In vertaalkundige terme beteken dit dat Cascione gekies het om te domestikeer eerder as om te vervreem; anders gestel, om haar Afrikaanse leserspubliek te akkommodeer (lang sinne is waarskynlik ook deel van Relandini se styl, soos wat dit die kenmerk was van Proust s’n). Albei opsies is geldig, en dit is die vertaler se keuse, behalwe indien die opdrag is om die styl van die brontaal na te boots. Die keuse is gewoonlik ook nie “suiwer” nie, hetsy in hierdie of in ander gevalle. ’n Voorbeeld is die woord “bravo” wat net so in Afrikaans gebruik kan word, soos wat Cascione op bl 80 doen (“Bravo, Marco”), hoewel dit ook gedomestikeer sou kon gewees het tot “Mooi so” of “Goed so”. Dit gee hier ’n Italiaanse toon aan die teikenteks. Hierdie manlike vorm van die woord word nege keer30 in die bronteks gebruik, alleenlik vir Marco en Gerardo, veral tydens die begrafnisprosessie, waar Relandini dit vermenigvuldig: “Mio padre, per tutti e due, era stato una grande uomo, un bravo professionista, un bravo marito, un bravo padre” (2005:87). Cascione vertaal dit as volg: “My pa was vir hulle ’n wonderlike mens, uitstekend in sy werk, ’n goeie eggenoot en ’n goeie pa” (99).
Omdat “bravo” soveel sinonieme betekenisse het, kan die vertaler kies om sinonieme te gebruik (“wonderlik”, “uitstekend”, “goed”), of om ’n sangerige praatkwaliteit aan die herhaling van dieselfde woord te gee, soos in die bronteks. Literêre vertalers is stiplesers, teksanaliste wat die teks vertaal soos hulle dit verstaan en aanvoel. Die herhaling kan as byna sarkasties gelees word, dat die vader se goeie kwaliteite sy vroeë dood nog meer onverstaanbaar maak (want dis hier op aarde waar die goeie werker, eggenoot en vader nodig was); die variasies van “bravo” in die teks lees soos ’n goed geformuleerde begrafnisbrief. Daar is nie reg en verkeerd nie; van sekere bekende tekste is daar dikwels in een taal ses of sewe vertalings, wat dan die onderwerp van internasionale konferensies word.
Cascione noem ook spesifiek die vertaling van idiomatiese uitdrukkings wat nie altyd ’n ekwivalent in die teikentaal het nie. Daar is sedert die bloeitydperk van vertaalstudies in die 1970’s begin het, baie hieroor geskryf. Die voorbeeld op bl 12, “Marzo pazarella, esci il sole e prendi l’umbrella”, beteken dat Maart-weer onvoorspelbaar is en dat jy jou sambreel moet neem al skyn die son. (Dis ’n uitdrukking wat vir die Noordelike Halfrond geld – die lente is op pad.) In Frans is daar ’n soortgelyke uitdrukking (“En avril, ne te découvre pas d’un fil”) vir dieselfde seisoen: “In April moet jy nie ’n draad van jou klere uittrek nie.” Soms, as gevolg van ’n verskillende klimaat of kultuur, bestaan daar gewoon nie ’n soortgelyke idiomatiese uitdrukking in die teikentaal nie, en maak die vertaler vrede met die verlies (waarna Rushdie hier bo verwys). Vertalings verryk dikwels ons Afrikaanse woordeskat, soos in die verwysing na die “vlierboom” (13).
Alle lesers het ’n gunstelingpassasie in ’n boek, ’n reël of paragraaf wat later miskien die enigste uittreksel is wat onthou sal word. Vir my is die heel roerendste deel in hierdie teks die (miskien vir sommige lesers makabere) beskrywing van hoe die volwasse Marco in Februarie 1991 (hy is dus 56 jaar oud) weer langs sy pa se graf staan, daar waar hy as tiener stokkies gedraai het in plaas daarvan om skool by te woon, sodat die gesprek met sy pa ten spyte van die dood kon voortgaan. Daar het hy vertel hoe sy dag verloop het, ’n monoloog in die skadu van ’n grafsteen, benadruk deur die sinnetjie “Weet jy, Pappa ...”31 Hierdie keer word sy wens van byna 50 jaar tevore, toe hy vir oulaas sy pa wou sien, bewaarheid. Omdat sy ma daarop aandring om in dieselfde graf begrawe te word, word die kis opgegrawe en oopgemaak om dit wat oorbly van haar eggenoot, in ’n kleiner kissie te plaas. Hier is die passasie wat my sal bybly: “Tussen daardie vrot hout was ’n klein hopie mens wat eens my pa was. Daarmee saam was sy lieflike kastaiingkleur hare wat intussen effens rooi geword het”32 (111).
Groter liefde vir ’n ouer het geen kind nie, wanneer so ’n nederige oorblyfsel steeds soveel liefde inspireer. En dit is asof die 56-jarige, wat vir ’n oomblik weer ’n 14-jarige is wat met sy “Pappa” praat, uiteindelik kans kry om te groet. Die wolke trek ’n oomblik lank oop vir ’n stuk blou lug om uit te kom. Dit inspireer Relandini se variasie op die Onse Vader waarmee die teks afsluit; die emosie wat daarin vervat is, is rede genoeg is om die teks aan te skaf. Hierdie laaste reëls het onwillekeurig die slotparagraaf van daardie ander eerbetoon aan ’n ouer by my opgeroep: Marcel Pagnol se Le château de ma mère: “Dis hoe mense se lewens verloop: ’n paar oomblikke se vreugde, wat kort daarna deur onvergeetlike smart uitgewis word. Dis nie nodig om dit vir die kinders te sê nie.”33
- Naòmi Morgan is ’n navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat.
Eindnotas
1 https://af.wikipedia.org/wiki/Lys_van_vertalings_in_Afrikaans (23 Maart 2025)
2 https://www.terrain.org/wp-content/uploads/2015/11/Rushdie1992ImaginaryHomelands.pdf, bl 17 (14 Maart 2025)
3 https://www.jonathanball.co.za/product/prisoners-of-jan-smuts (21 Maart 2025)
4 Die naamsverandering kan as ’n outofiksionele element beskou word. “Marco” word in die resensie gebruik om na die verteller te verwys, en “Relandini” wanneer daar van die skrywer gepraat word.
5 “Dovrei chiedertelo io che, oltretutto, hai lasciato qui vivo, ma come un morto? E che, come un morto vivente, sta già provando che una condizione di pace Tu non vuoi o non puoi garantire?” (2005:96)
6 In Engels vertaal as My mother’s castle; daar bestaan geen Afrikaanse vertaling nie. https://www.marcel-pagnol.com/en/the-manuscript-of-my-mothers-castle (14 Maart 25)
7 Relandini, Mario, Pater Meus (uit die Italiaans vertaal deur Rina Cascione), Naledi, 2024. Alle aanhalings is afkomstig uit hierdie uitgawe.
8 “ O]ppure, abbracciando la tua stessa professione di giornalista come per uno strano filo del destino, ogni volta che ho pigiato sui tasti della macchina da scrivere prima e del computer poi. Ed è stato allora che mi è sembrato di essere veramente accanto a te …]” (2005:97)
9 Relandini, Mario, Pater Meus, Edizione Il Filo, Roma, 2005. My dank aan Rina Cascione vir die Italiaanse bronteks wat die basis van enige resensie oor ’n vertaling is. Alle Italiaanse aanhalings is hieruit afkomstig.
10 https://www.litnet.co.za/heil-die-leser-vertaalkuns-as-tweespraak-mario-relandini-en-rina-cascione (24 Maart 2025)
11 “ U]na specie di schermo superpanoramico …]” (2005:10)
12 “ R]imozione” (2005:73)
13 “ I]l motivo per cui si è impostata la propria vita in un modo anziché in un altro.” (2005:10)
14 Roberto Benigni, 1997
15 D]i funghi, di asparagi, di more, di corbezzoli, di pinoli, di lattughella, di erbe aromatiche, di fiori selvaggi …]” (2005:11–2). Daar is ook slaai en dennepitte op hierdie lys.
16 “Te l’avevo detto di non sposarlo.” (2005:85)
17 “The popular thinking at the time was that the Italians were ‘docile’ and their habit of surrendering in large numbers did nothing to contradict this belief.”
18 “Ma come pensano di ottenere qualcosa con quella preparazione approssimativa, anche se appariscente in tutta la sua retorica? Dove pensano di arrivare senza armi moderne, con carri armati di latta, perfino con scarponi di cartone? E, oltretutto, senza generali capaci?” (2005:17). Die voorbereiding was halfwas; die bliktenks en kartonstewels word deur ander bronne bevestig. Die “vertonerige retorika” waarna Relandini verwys, was ’n kenmerk van Mussolini se toesprake.
19 “ Q]uella mano nella mano del sogno notturno aveva innalzato, inesorabilmente, come un muro tra lei e me” (2005:45). Die vertaalster maak hier ’n kreatiewe keuse om die beeld van die moeder en die Duitser wat in Marco se droom handjies vashou te vervang met wat dit inderwaarheid beteken.
20 “ E]ra stanca e frastornata.” (2005:20)
21 “Bravo Marco” era intervenuta mia madre “riuscirai a portare, finalmente, tuo padre in chiesa!” (2005:40)
22 “Però” aveva protestato mia madre “se tu non gli muovi neppure un rimprovero, che cosa arriverà a fare?” (2005:57)
23 “ A]veva cominciato a preoccuparsi mia madre …]” (2005:35) Haar angstigheid sou ook as ’n moederlike en vroulike reaksie gesien kon word.
24 “Potrei andare a Narni” se ne era uscita un giorno mia madre “nel palazzo della famiglia nobile dei miei.” (2005:27)
25 “Ti prego, pa’, non ti far portare via!” (2005:23)
26 “I fascisti, Marco, i fascisti e i loro amici Tedeschi” mi aveva risposto mio padre, ma, questa volta, non aveva potuto trattenere il suo sfogo “quelli che stanno causando centinaia di migliaia di morti in tutta Europa, quelli che vorrebbero fucilare anche la democrazia, quelli che ci hanno privato della nostra onesta e serena vita a Roma, quelli che stanno costringendo l’Italia a questo buio anche delle coscienze, delle idee, del coraggio,
della civiltà.” (2005:33)
27 2005:47.
28 Hierdie en ander aanhalings is afkomstig uit die elektroniese korrespondensie tussen die resensent en Rina Cascione, 13 Maart 2025.
29 Die proefvertaling is aan Johan Coetzee van Naledi-uitgewers voorgelê.
30 Die vroulike “brava” word drie maal gebruik, om die Katolieke Kerk, ’n onderwyseres en tante Vittoria te beskryf.
31 “Sai, pa’” vleg soos ’n leitmotief deur die teks.
32 “ F]ra quei legni marci, un mucchietto di qualcosa che era stato mio padre. Insieme, però, con tutti i suoi bellissimi capelli castani divenuti, nel frattempo, leggermente rossicci.” (2005:98)
33 “Telle est la vie des hommes. Quelques joies, très vite effacées par d'inoubliables chagrins. Il n'est pas nécessaire de le dire aux enfants.” https://www.babelio.com/auteur/Marcel-Pagnol/3564/citations (1 April 2025)
Lees ook:
Heil die Leser!: Vertaalkuns as tweespraak – Mario Relandini en Rina Cascione
Tien vrae: Naòmi Morgan oor die vertaling van Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran
Van doekvoet na eendvoet: Die vertaling van Afrikaanse romans in Frans
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: ’n onderhoud met Pierre-Marie Finkelstein
Afrikaners is nostalgierig: Afri-Frans as vertaling van identiteit
The post Pater Meus deur Mario Relandini, uit Italiaans vertaal deur Rina Cascione: ’n resensie first appeared on LitNet.
The post <em>Pater Meus</em> deur Mario Relandini, uit Italiaans vertaal deur Rina Cascione: ’n resensie appeared first on LitNet.