In Dian Weys se LitNet Akademies-artikel Die voorstelling van plaasmoorde in Darrell Roodt se Treurgrond vra hy: "Dwing die vervaardigers hulle eie mening op die kyker af of bied hulle die kyker die geleentheid om 'n onafhanklike mening te vorm?" Hy kom tot die volgende gevolgtrekking: "Die teenwoordigheid van AfriForum, TLU en Steve Hofmeyr, tesame met die aanwending van die spanningsrillergenre, die skouspelagtigheid, die klassieke Hollywoodstruktuur en die voorsiening van 'n slotsom in die finale tonele, manipuleer die gehoor tot 'n oorvereenvoudigde persepsie van plaasmoorde."
Carien Smith het hom uitgevra oor sy navorsing.
Eerstens word Treurgrond in die genre van spanningsriller geplaas. Jy verwys in jou artikel daarna dat “[d]ie kwessie van plaasmoorde in Suid-Afrika […] dus nie deur die gehoor se werklike lewenservaringe geïnterpreteer [word] nie, maar eerder deur die spanningsrillers wat hulle al vantevore gekyk het”. Hoekom is dit problematies?
Gehore herken ’n genre aan die ooreenkomste wat die film deel met films wat hulle vantevore gesien het. As ek Cape fear gaan kyk en ek het al The hand that rocks the cradle en Fatal attraction gesien, dan gaan ek die ooreenkomste herken: die onheilspellende musiek, onskuldige slagoffers, die gesin wat bedreig word deur ’n indringer (’n tronkvoël, ’n weduwee, ’n minnares). Faktore soos hierdie gaan my oriënteer en maak dat ek Cape fear as ’n spanningsriller interpreteer en ervaar. Ek verwag nie twee verliefdes wat mekaar in die reën ontmoet of enige ongeluksvoëls wat op piesangskille gly nie, maar eerder tonele van spanning en vrees. Al verskil die storielyne, bly die konstruksie, verloop, klimaks en vermaaklikheidsmeganismes van genre-films dieselfde. Sodra mens egter die genre-meganismes toepas op ’n storie wat op die werklikheid gebaseer is, soos plaasmoorde, is dit duidelik dat so ’n komplekse onderwerp vereenvoudig word, omdat dit gegiet word in die vorm wat die genre vereis. Al weet ek dat plaasmoorde ’n werklikheid is, gaan die genre subtiel voorstel dat dit maar tog net nóg ’n konflik is wat voorspelbaar, verstaanbaar en oplosbaar is soos in die geval van die vele spanningsrillers wat ek voorheen gesien het.
Watter genre sou dus beter gewees het vir die aanbieding van Treurgrond?
Dit is ’n moeilike vraag, want sodra die tradisionele en eenvoudige vorm van genre toegepas word op ’n ware en komplekse onderwerp, word die komplekse realiteit daarrondom vereenvoudig. Waarom voel ons verplig om dadelik ’n storie te lees in terme van genre? Ek dink regisseurs wat Suid-Afrika se komplekse situasies wil uitbeeld moet óf wegbeweeg van genre óf ’n modernistiese gebruik van genre toepas. Dit beteken dat jy die gehoor bewus maak van die genre wat jy gebruik en die ontoereikendheid of gebrek daarvan om sulke ontstellende realiteite uit te beeld. Brechtiaanse en counter-cinema tegnieke van die 1970’s byvoorbeeld kan hiermee help. Treurgrond sou meer eties en verantwoordelik gewees het as dit meer modernisties was, met ander woorde, gereflekteer het op die tegnieke van die spanningsriller en die onvermoë daarvan om plaasmoorde ten volle uit te beeld.
Jy verwys na die “‘verskouspelagtiging’ van plaasmoorde”. Wat is die probleem met die skouspel?
Ons herken geweld net as dit skouspelagtig en oordonderend is. Maar stadige geweld, soos aardverwarming en strukturele rassisme, is moelik om te herken, omdat dit nie eenmalig en skouspelagtig is nie. Stadige geweld lei eerder na uitbarstings van sigbare geweld, soos wat ons gesien het met die onlangse studentebetogings. Ek dink die rede hiervoor is dat die media ons leer wat geweld is: dit is bloedig, dit is oombliklik, dit is sigbaar. Maar na regte is baie geweld onsigbaar – en ek dink dis een van die redes waarom skouspelagtige geweld problematies is, omdat dit nie onsigbare en stadige geweld in ag neem nie. Skouspelagtige geweld vervang ook die traumatiese en ontstellende elemente van geweld met ’n vermaaklike weergawe daarvan. Geweld is verskriklik in die regte lewe – ek is seker iemand wat al ’n regte moord met hulle eie oë gesien het, voel nie hulle het springmielies gekort nie.
Daar is egter ’n aantal ander redes waarom die skouspel problematies is. Omdat ons iets kan herken net as dit skouspelagtig en oordonderend is, poog die skouspel om geweld só voor te stel dat dit ons aandag vasvang en hou. ’n Jaagtog na ’n plaas met helikopters, polisievoertuie en ’n angsbevange man en vrou is baie meer opwindend as ’n plaaswerker wat op die toneel afkom en ure lank vir die polisie sit en wag. Die realiteit is egter nie altyd so opwinded soos wat films voorstel nie. As ’n mens met ’n plaasmoord te doen kry is dit allesbehalwe opwindend en vermaaklik. Plaasmoorde is ’n werklike en gruwelike werklikheid, maar as dit met vinnige redigering, stadige aksie, oombliklike geweld en oorweldigende klankbane uitgebeeld word, met ander woorde, skouspelagtig, neem dit ons al hoe verder weg van die werklikheid daarvan.
Jy sê die skouspel gee die gehoor die geleentheid om iets te ervaar wat hulle nie andersins sou kon ervaar nie – die volledige waarheid, of werklikheid, wat weer eens problematies is. Hoe so?
Elkeen van ons sien en ervaar die lewe vanuit ons eie subjektiwiteit. Niemand het al ’n plaasaanval ten volle beleef nie – werklike slagoffers het die aanval net van hul eie subjektiewe oogpunt gesien. ’n Skouspel verteenwoordig egter geweld in sy totaliteit en plaas die toeskouer alomteenwoordig. Wat maak die gehoor so spesiaal dat hulle híerdie voorreg mag kry? Niemand word in die werklikheid in so ’n bevoorregte posisie geplaas nie. Ek wonder altyd hoe sal ’n ware slagoffer van ’n plaasaanval voel as hulle ’n filmiese reproduksie daarvan sien. Sal hulle voel dat die film daarin geslaag het om hulle traumatiese ervaringe vas te vang, of eerder dat die voorstelling die onverhaalbaarheid van hulle ervaringe vereenvoudig het?
Wat is die alternatief tot ’n skouspelagtige voorstelling?
Die skouspel ontneem die gehoor van hul verbeelding. Ons almal weet dat ’n krakende vloer en ’n skaduwee onder die deur meer vreesaanjaend is as die oomblik wat die monster te voorskyn kom. Dit is omdat die gehoor se verbeelding baie sterker is as enige beeld wat die filmregisseur kan optower. Ek dink as Treurgrond eerder die gehoor se verbeelding ingespan het, sou dit ’n sterker effek op die gehoor gehad het. Ons verbeelding gee ons die geleentheid om deel te neem aan die skeppingsproses van die fliek. Omdat ons ervaring met die film meer persoonlik is, dink ek sal ons meer bewus raak van plaasmoorde.
In die geval van ’n uitbeelding van die werklikheid, byvoorbeeld plaasmoorde, wil ons nie juis die “werklikheid” sien in plaas van om toe te laat dat ons verbeelding ons op die verkeerde pad lei nie?
Voor ek die vraag beantwoord, dink ek ons moet versigtig wees om ’n fiktiewe voorstelling te sien as die “werklikheid”. ’n Filmiese reproduksie is nóóitdie werklikheid nie. Jean-Luc Godard het gesê: “Cinema is truth at twenty-four frames a second”, maar Michael Haneke het Godard se stelling aangepas deur te sê: “Cinema is twenty-four lies a second at the service of truth.” Volgens Haneke kan die werklikheid dus nooit vasgevang word nie, omdat dit te kompleks is. Wat is die werklikheid of waarheid van iemand anders se swaarkry? Ander mense se werklike pyn en lyding is onverhaalbaar. Ek kan dit nooit ten volle ken of verstaan nie. Judith Butler meen ook dat ons ander mense etiese geweld aandoen sodra ons beweer ons begryp hulle pyn en lyding ten volle. Só ’n bewering vereenvoudig die persoon se werklike ervaring. Alain Resnais se stemopname erken in Night & fog byvoorbeeld dat dit nie moontlik is om die volle werklikheid van die Joodse konsentrasiekampe vas te vang nie, omdat dit selfs vir diegene wat dit werklik verduur het, onpeilbaar was. Hy voel eerder dat regisseurs net die buitenste dop mag wys, sodat die gehoor self kan besluit hoe hulle daaroor voel. Die voorstelling van iemand anders se pyn en lyding plaas dus ’n enorme verantwoordelikheid op die filmmaker om te verseker dat die onverhaalbaarheid daarvan aan die gehoor oorgedra word. Dít is wat ek bedoel: dat die gehoor self die onverhaalbaarheid probeer invul met hul verbeelding. Daarom dink ek nie dat ’n gehoor se verbeelding hul op die verkeerde pad sal lei nie, omdat die “buitenste dop”, raamwerk en aanwysings die gehoor se verbeelding regdeur die film sal lei, sonder om hulle te manipuleer of om eenvoudige antwoorde te bied. Met dit gesê, of die gehoor se afleidings dan reg of verkeerd is, is nie vir my om te sê nie.
Hoekom is propaganda veral ’n probleem in Treurgrond?
Die vervaardigers het gesê dat die film gemik is op stedelinge as ’n bewusmakingsveldtog van plaasmoorde. Ek dink nie dit is ’n verkeerde voorneme nie, omdat film ’n ongelooflike invloed en uitwerking op die samelewing kan hê. (Krzysztof Kieślowski se A short film about killing het byvoorbeeld ’n groot bydrae gelewer tot die afskaffing van die doodstraf in Pole.) Elke land het wel sy eie konteks, en Suid-Afrika s’n is baie kompleks. In die geval van Treurgrond: as ek nog nooit ’n voet op ’n plaas gesit het nie, in liberale en bevoorregte kringe beweeg, en ek sien ’n plakkaat van die film met Steve Hofmeyr op die voorgrond, gaan ek reeds ’n vooropgestelde idee van die film hê. As die karakters se dialoog boonop hul gevoelens uitspel, die verhoudings tussen wit en swart oorvereenvoudig en soetsappig is en AfriForum- en TLU-gehore opsweep in ’n stadsaal, dan gaan dit al my kortsigtige opinies oor die boeregemeenskap nie net bevestig nie, maar ook versterk. ’n Kwessie soos plaasmoorde wat, ongelukkig, baie verpolitiseer is, moet ver wegbly van enige tegniek wat as manipulasie gesien kan word: AfriForum en TLU se teenwoordigheid belaai die film met politiese betekenis. Iets soos kykNET se Megaboere is interessant in hierdie opsig, omdat dit baie stereotipes van die boeregemeenskap uitdaag. Daar is ’n verskil tussen bewusmaking en aan die gehoor voorskryf – ek dink Treurgrond doen die laasgenoemde.
Hoe kan ’n film gehore bewus maak van plaasmoorde, eerder as om hulle voor te skryf?
Ek dink die geheim is om ’n storie te skep wat gapings bevat, sodat die gehoor dit self kan vul. Weer eens word die gehoor gedwing om hulle verbeelding te gebruik en dit bevorder aktiewe deelname. Laat die gehoor self besluit wat byvoorbeeld die verhouding tussen Lukas en Daniel in Treurgrond is; laat ruimte toe vir dubbelsinnigheid, teenstrydigheid en onsekerheid. Die somtotaal van ’n karakter se aksies mag nooit genoeg wees om vir die gehoor te verduidelik waarom hy of sy so optree nie. Dis tog hoe ons in die werklikheid optree. Die karakters se aksies moet eerder leidrade wees wat die gehoor self aanmekaar kan weef. Omdat die film vereis dat ons self die teenstrydighede en uiteindes oplos, sal ons elkeen ’n persoonlike ervaring van die film hê. ’n Persoonlike ervaring met die afskuwelikheid en onverhaalbaarheid van ’n plaasmoord sal ons meer bewus maak van die probleem.
Sou dit nie dalk beter gewees het om heeltemal weg te bly van die fiksie-genre en die aanbieding eerder as ’n tipe dokumentêr te gedoen het nie?
Dokumentêre bring ’n nuwe stel uitdagings, omdat dokumentêre met die luidspreker van waarheid praat: alles is “feite”. Die kernvraag bly dieselfde, naamlik, hoe verhoed ek dat die gehoor gemanipuleer word? Hoe kan ’n dokumentêr die gehoor aanspoor om hulle eie mening te vorm? Die kwessie van plaasmoorde sal definitief kan werk as ’n dokumentêr, maar dan sal die flimmakers hulself daarvan moet weerhou om hulle eie oortuigings op die gehoor af te dwing.
Is dit werklik moontlik om karakters te skep wat oortuigend sal wees in die konteks van ’n film wat so ’n ontstellende kwessie onder die loep neem en ook polities sensitief is?
Ek wonder wat ons soms bedoel met karakters wat “oortuigend” is. Baie draaiboekhandleidings stel voor dat skrywers ’n agtergrondverhaal moet skep vir hulle karakters, met ’n fokus op ’n traumatiese ervaring wat hulle lewe definieer. Sodoende word die karakter se dryfkrag vir die film bepaal en word hulle “oortuigend”. Dit is natuurlik onnosel; niemand in die werklike lewe het net één ervaring wat hulle dryf nie. Ons is die somtotaal van ontelbare en onbewustelike ervaringe wat ons vorm en beïnvloed. Dus, in plaas daarvan om sielkundig-gedefinieerde karakters te skep, gebruik filmregisseurs soos Robert Bresson ondeursigtige karakters, individue wie se keuses en aksies nie vir die gehoor uitgespel word nie. Hy verwerp enige sielkundige verduideliking, asook enige agtergrondverhale, omdat sulke tegnieke karakters vereenvoudig. Verder vertolk sy akteurs nie hulle rolle met vurige passie of dramatiese oortuiging nie, maar eerder met teruggetrokkenheid en gevoelloosheid. Sodoende word hulle gesigte ’n projeksieskerm, ’n skoon vel papier waarop gehore hulle eie gedagtes, gevoelens en lewenservaringe kan projekteer. Sonder ’n karakter se agtergrondverhaal kan die gehoor self besluit waarom ’n karakter op ’n bepaalde manier optree. Aangesien ons as gehoor dikwels met ’n karakter in lyn gebring word wat vir ons vertel wat om te dink en wat om te voel, gee Bresson se aanslag die gehoor die geleentheid om self te besluit wat hulle voel terwyl hulle na die film kyk. So ’n aanslag skep oortuigende karakters, omdat die gehoor deelneem aan die skeppingsproses daarvan.
Ten slotte: Sou ’n mens kon sê dat plaasmoorde deur Treurgrond idealiseer word?
Ja, ek dink plaasmoorde word geïdealiseer in die sin dat die aanbieding daarvan die emosies van die gehoor in ’n bepaalde rigting dwing. Aangesien die plaasmoord uitgebeeld word in ’n spesifieke genre met ’n klankbaan, sekere beligting, stadige aksie ens, raak die geweld verbruikbaar (“consumable”) vir die gehoor, met ander woorde, ’n verbuikersproduk wat mik om ’n sentimentele reaksie uit te lok. Die probleem daarmee is dat emosionele reaksies ’n vorm van katarsis is. Films wat my tot trane dryf, laat my gewoonlik beter voel. Sentimentaliteit het egter geen plek wanneer dit kom by ware lyding en gruweldade nie. Die onlangse Son of Saul deur László Nemes, wat oor die Joodse volksmoord handel, is ’n goeie voorbeeld van ’n film wat nie sentiment probeer wek nie, maar eerder poog om die onverhaalbaarheid van die gaskamers weer te gee. Dit is ’n ontstellende film en daarom word die Jode se swaarkry juis nie geïdealiseer nie.
The post Plaasmoorde in Treurgrond: Carien Smith gesels met Dian Weys appeared first on LitNet.