Hedwig and the Angry Inch ... Wanneer die 7-voet Cathy Specific, Suid-Afrika se “bekendste lugwaardin”, jou hand neem by die ingang van Gate69, Kaapstad se nuwe teater in Breëstraat, en diep in jou oë kyk met die uitnodiging om jou met ’n glas vonkelwyn tuis te maak, weet jy dat die vertoning reeds minute gelede begin het – toe jy jou voet op die rooi tapyt buite in die straat gesit het.
Cathy Specific is die alter ego van die bekroonde Brendan van Rhyn (The Rocky Horror Show en Madame Zingara).
Wat binne die teater agter die fluweelgordyne op jou wag, is die ikoniese rockmusiekblyspel wat al deur vele as grensverskuiwend beskryf is. Dit het nie verniet destyds vier Tony-toekennings onder regie van Michael Mayer op Broadway ingepalm nie.
Die storie word aangebied deur dieselfde span – VRG Theatrical – wat vir die skreeusnaakse I love you, you’re perfect, now change met sy uitverkoopte vertonings by Theatre on the Bay verantwoordelik was.
Dis die storie van ’n fiktiewe rock band met ’n Oos-Duitse transgender voorsanger, Hedwig, wat voorheen Hansel geheet het en wie se geslagsverandering-operasie skeefgeloop het. Die operasie is genoodsaak sodat Hansel kon trou en as die vrou van ’n Amerikaanse soldaat na Amerika kon ontsnap uit die kommunistiese Oos-Duitsland.
Die musiekblyspel ontgin haar lewe en die kompleksiteit van geslagsidentiteit.
Stephen Trask se musiek is kenmerkend van die androgiene 1970’s glamrockstyl van David Bowie (wat die mederegisseur was van die Los Angeles-produksie van die vertoning), John Lennon en Iggy Pop.
Die intieme teater met sy tafels vir twee, vier of ses is skemer verlig. Die eetgoed staan swierig uitgestal, die donkerhoutpanele, fluweel en luukse plakpapier laat jou gou vergeet van die spitsverkeer buite, skaars drie meter weg.
Daar is goue blinkers op jou swart lapservet, en die kelnerinne – blond en lank – in hul lugwaardin-uniforms is mooi meisies met groot glimlagte. Die verhoog staan vol van ’n retrokaravaan wat in die helfte deurgesny is.
Dis openingsaand en gasvrou Cathy verwelkom ons by “die huis van Suid-Afrika se gunstelinglugwaardin” en vertel hoe ’n 9-jaar-droom uiteindelik waar geword het met die opening van Gate69. “Breëstraat sal nooit weer dieselfde wees nie, veral nie as mens in gedagte hou dat ‘Breë’ die Afrikaans vir ‘Broad’ is nie,” knipoog Cathy.
Die vertoning begin: Paul du Toit (The Rocky Horror Show, Same time next year, Binnelanders en Backstage) staan in sy volle glorie daar, maar met ’n lang, blonde pruik, hoë hakke, sykouse en sy gesig soos ’n vrou s’n gegrimeer, met groot engelvlerke aan waarop “Yankee go home with me” gespuitverf is.
Genna Galloway (Grease, Showboat en Noah of Cape Town) neffens Hedwig is ‘n kort, amper gesette man met ’n aaneenlopende wenkbrou en stompgesnyde swart hare.
Die storie begin by Hansel Schmidt se grootwordjare saam met sy ma. Hul woonstel in die voormalige Oos-Berlyn is só klein dat hy die radio van die Amerikaanse magte luister met sy kop in die oond. Hoe hy grootword en sy pad kruis met dié van sersant Luther Robinson, wat hom vra om te trou; die uitnodiging om Amerika toe te ontsnap, mits hy die operasie ondergaan en vrou word. “Om waarlik vry te wees, moet jy ’n stukkie van jouself agter laat,” mymer hy.
Die mislukte operasie laat Hansel met ’n stomp stukkie vleis tussen sy bene – nie regtig man nie, maar beslis ook nie vrou nie – vandaar die “Angry Inch”-benaming.
Die storie volg Hedwig se lewe in Junction City, Kansas, Amerika; die skeiding van Luther en Hedwig se paaie. Hoe die Berlynse muur ’n jaar later val en Hedwig se opofferinge heeltemal verniet was.
Hedwig se pad kruis met dié van Tommy Speck en sy leer hom alles van musiek, rockgeskiedenis en liedjieskryf. Weer kom die teleurstellings as Tommy sy rug op Hedwig draai en bekendheid verwerf – met al die liedjies wat Hedwig alleen en hulle twee saam geskryf het.
Hedwig en haar band, Angry Inch, speel in klein restaurante, terwyl sy haar een oog op Tommy se rocktoer hou en wag op die uitslag van ’n kopiereg-hofsaak. Tussen die liedjies wat Hedwig sing, kyk sy terug op haar lewe en verwys gereeld na die mite dat mense eens ronde, tweegesig-, vierbeen-, vierarm-mense was. Kwaai gode het hulle middeldeur gesny sodat die “halwes” vir die res van hul lewens na hul ander helfte moet soek.
Die goue draad vleg deur die vertellinge oor verpletterde drome van die “ander helfte” wat haar volledig sal maak, maar haar bly ontwyk.
Aanvanklik kyk jy na Paul du Toit in drag. Ná ’n paar minute sien jy net vir Hedwig. Haar pleidooie en verlange na aanvaarding en liefde oorheers die verhoog. Dis só eg dat jy vergeet jy sit in ’n skemerteater.
Die beteuterde figuurtjie van haar man, Yitzhak, wat ook drome van sy eie gekoester het oor sy glorie as vrouevermaaklikheidskunstenaar, wil-wil jou hart breek.
Die toneelspel is aangrypend, hartverskeurend en eerlik. Die akteurs is gestroop van alles aan die einde van die blyspel. Van blydskap is daar geen teken nie. Maar daar kom aanvaarding en vrede by Hedwig en Yitzhak. Hedwig besef haar “ander helfte” wat haar heel maak, kom uit haarself.
Hedwig gun ook vir Yitzhak sy plekkie in die son.
Die tema is ’n moeilike een: gesprekke oor transgender is nooit sonder struikelblokke en hartseer nie. Dis stof-tot-nadenke-materiaal hierdie.
Maar dat dit een van die lekkerste teater-eet-ervaringe hierdie jaar is, is gewis.
Hedwig and the Angry Inch
Met: Paul du Toit en Genna Galloway
Deur: John Cameron Mitchell
Regie: Elizma Badenhorst
Lirieke: Stephen Trask
Ontwerp: Niall Griffin
Gate69-teater, Breëstraat 87, Kaapstad
Geen onder 16’s
15 September tot 27 November 2016
Kaartjies deur kaartjiekantoor by 021 035627 en 0715892915 of www.gate69.co.za.
The post Teaterresensie: Hedwig and the Angry Inch by Gate69-teater, Kaapstad appeared first on LitNet.