Hierdie bydrae het oorspronklik op LitNet verskyn op 16 September 2005
JOHANNES KERKORREL ...
Ek het gedroom jy’t opgestaan uit jou dood
en aan my deur kom klop soos altyd
met blomme, wyn en brood.
Jy sê: "Ek moes net vinnig wegkom."
En jy maak die bottel oop -
"Ek is jammer oor die drama, maar dis die pad wat ek moes loop."
Jy gaan sit op die rusbank en glimlag verleë
My mond is droog, my hande beef as ek die glase vir jou gee
"Het jy enige idee hoe ons gevoel het met jou dood?
Jy was selfsugtig, jy was wreed."
Jy sê: "Miss Mandy,sny die brood."
En so hard soos ek probeer
kan ek nie uit die droom ontsnap
en ek sê vir God: "Meester, hierdie droom is ’n siek grap."
Maar hier sit ons op my rusbank, jy kyk my in die oë
en jy sê ek moet vir altyd in die liefde bly glo.
Jy sê ek moet vir altyd in die liefde bly glo.
Ek sny die brood, skink die wyn, sit die blomme in ’n pot
terwyl jy giggel oor die knipsels uit die Beeld en die Rapport
"Daar’s meer," sê ek, "lees Marie Claire en die Huisgenoot
en LitNet het ontplof met huldeblyke ná jou dood.
Van Amsterdam tot Sydney is daar oor jou gerou.
En RSG speel sedertdien elke week ’n lied van jou.
By ’n uitstalling in Oudtshoorn, oor jou lewe en jou werk
het die mense kom kyk en huil -
dit was heilig, soos ’n kerk."
En so hard soos ek probeer
kan ek nie uit die droom ontsnap
en ek sê vir God: "Meester, hierdie droom is ’n siek grap."
Maar hier sit ons op my rusbank, jy kyk my in die oë
en jy sê ek moet vir altyd in die liefde bly glo.
Jy sê ek moet vir altyd in die liefde bly glo.
Dan sit jy jou bord neer, lê jou kop op my skoot.
Jy sê: "Moenie hartseer wees nie, ek is nie regtig dood -
Solank jy my onthou, sal ek lewe in jou kop
en net jy kan besluit om die herinnerings te stop.
Miss Mandy, onthou jy hoe’t ons Saterdae geloop
deur Hillbrow se strate - ons was jonk en so vol hoop.
Onthou jy die pub lunch in die Chelsea Hotel?
Ons het die slegste bord vis en tjips op aarde bestel."
En jou gesig begin verdoof in die strale van die son
en waar jy op my skoot gerus het, lê ’n blou ballon.
En ek weet dat jy moes terugkeer na die ander kant
waar jy altyd jonk en vry sal wees
en die lewe jou nie brand
waar jy altyd jonk en vry sal wees
en die lewe jou nie brand.
Kopiereg: Amanda Strydom. Musiek: Amanda Strydom & Juan Oosthuizen
Van die album "Verspreide Donderbuie"
Amanda Strydom
The post Amanda Strydom se lied aan Johannes Kerkorrel appeared first on LitNet.