"Dit sal eendag weer beter gaan, maar eers gaan dit baie slegter gaan. Ons moet ons daarvoor staal. Dit gaan nie ’n maklike reis wees nie." Dit was Michael le Cordeur se boodskap oor die situasie by universiteite tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Erfenisdagviering.
Le Cordeur het vanjaar die Neville Alexander Gedenklesing by dié geleentheid gelewer.
"Neville het homself geïdentifiseer as ’n revolusionêre sosialis wat kon identifiseer met die teorie van die Russiese Marxis Leon Trotski. Hy sou byvoorbeeld die heersende studente-onrus bloot verklaar het in terme van Trotski se teorie van ewigdurende revolusie."
Die lesing het gefokus op Kaaps, met erkenning aan Adam Small. Alexander en Small was tydgenote en beide sou vanjaar 80 geword het. "Die een, Neville Alexander, ’n sosialis; die ander een, Adam Small, ’n liberalis." Volgens Le Cordeur het beide Alexander en Small besef dat jy nie ’n land se toekoms op een taal kan bou nie, maar wel op veeltaligheid. Alexander het na 1994 bekendheid verwerf as voorstander van veeltaligheid en veral moedertaalonderrig, waarin hy pionierswerk op die gebied van taalbeleidontwikkeling gedoen het.
Le Cordeur het ’n pleidooi gelewer dat Kaaps, die huistaal van 3,4 miljoen mense op die Kaapse Vlakte, ook in die onderwys erkenning moet kry. "As ons sê – en dit word wêreldwyd erken – dat jou moedertaal die mees effektiewe manier van leer is; en as ons sê dit geld vir Engels en vir Afrikaans en vir Duits en ... en ... dan geld dit ook vir Kaaps." Wanneer Kaapssprekende kinders op skool kom, kom hulle agter dat daar ’n ander taal – Standaardafrikaans – gepraat word. ’n Taal wat hulle nie ken nie. Hulle moet ’n ander taal aanleer om in skool te gaan. Ook die storieboeke is tekste waarmee die Kaapssprekendes nie kan identifiseer nie. Daar is nou versoeke dat Kaaps deel gemaak moet word van die skoolkurrikulum, en in hierdie erkenning van Kaaps sien Le Cordeur ’n toekoms vir Afrikaans. Volgens Le Cordeur sal die insluiting van Kaaps in ooreenstemming wees met die riglyne van die CAPS-kurrikulum, aangesien dit sal bydra tot ’n waardering van inheemse-kennis-sisteme. "Skoolhandboeke moet ’n meer verteenwoordigende beeld uitstraal na buite, en die Kaapse variëteit kan nie langer ignoreer word nie. Ons kan nie langer sê 'jou taal is onbeskaaf' nie."
Volgens Le Cordeur het Adam Small van Kaaps ’n literêre taal gemaak, "maar in dieselfde asem was dit ook die taal gewees waarin hy die pyn van sy mense kon verwoord". In die woorde van Adam Small: “Kaaps is ’n taal, ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, uitleef.” Die wiel het reeds begin draai en vandag is Adam Small se werke in die skool; dit word opgevoer in teaters. Skrywers soos Peter Snyders, Marius Titus, Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer se werk word in skole behandel, danksy die baanbrekerswerk van Adam Small.
Small het in sy jare by UWK van Afrikaans ’n taal van die struggle gemaak. Hy kon maklik sy rug op Afrikaans gedraai het, maar hy het nie. Adam Small het egter ook van Afrikaans die taal van versoening gemaak. "As Nelson Mandela, Neville Alexander en Adam Small kon vergewe, wie is die kleinlike mense onder ons wat nie wil vergewe nie?"
Le Cordeur het sy lesing afgesluit met Adam Small se versoek, “Kô laat ons sing.”
“Sing vir Adam Small, sing vir Neville Alexander en Nelson Mandela, sing ook vir Kaaps, maar sing veral vir Afrikaans.”
Kyk na die volledige lesing op video:
The post Neville Alexander Gedenklesing: Gee erkenning aan Kaaps as moedertaal appeared first on LitNet.