Die piepklein ruimte binne Apollo 13 se bevelmodule en die ouwêreldse sjarme van die Merwida Country Lodge, net buite Rawsonville, het skynbaar niks gemeen nie. Krap jy egter dieper, besef jy: die missies wat hier uitgevoer moet word, is op papier onmoontlik.
Op 23 September 2016 het 21 skoolhoofde byeengekom om Missie 2017 te bespreek. Juan Benjamin, direkteur van onderwys in die Wynland-streek, was die eerste spreker. Hy het dit duidelik gestel dat skoolhoofde in 2017 nie ’n sent ekstra gaan kry nie, maar dat hulle meer kinders sal moet inneem én inflasie die hoof sal moet bied.
Benjamin was blatant eerlik oor die departement se gebrek aan fondse. Reeds in 2016 was daar nie genoeg geld nie ...
Missiestatus: kritiek
Die probleem waarmee Apollo 13 se ruimtevaarders op 13 April 1970 gesit het, was taamlik eenvoudig: hulle het nie genoeg suurstof gehad om drie mense lank genoeg aan die lewe te hou tot hulle kon terugkeer aarde toe nie.
Die departement erken daar is nie genoeg geld vir Missie 2017 nie.
Ouers is ook in die knyp. Benjamin vertel van ’n groep skoolmeisies wat betrap is dat hulle seks ruil vir geld. Toe die departement ingryp, het een meisie se ma gevra: “Gaan jy dalk brood op ons tafel sit?”
#FeesMustFall, hare en dissipline, personeeltekorte, bendes, afwesige ouers ... Daar is baie uitdagings wat in 2017 lê en wag.
Gelukkig het die skoolhoofde en die ruimtevaarders het twee goed gemeen: ondervinding en toewyding.
Wat meer is, NASA se wetenskaplikes en die ATKV se onderwysspan het ook iets gemeen: kundigheid op die gebied van bystand.
Missiedoelwitte: deel julle kennis
“Kyk om julle,” het Seymour Bothman, senior bestuurder: ATKV-Onderwys, aan die skoolhoofde gesê: “Hier is ’n ongelooflike klomp kennis in hierdie vertrek.”
Jeannie Harker, Worcester se kringbestuurder, het hierby aangesluit. Sy het brandpunte, soos dissipline, toelatingsvereistes en personeeltekorte, genoem wat gereeld opduik in haar vergaderings by skole. Toe het sy gevra dat die hoofde in kleiner groepe moet saamwerk om te deel wat hulle reeds doen om dié probleme die hoof te bied.
Uit hierdie gesprekke het drie goed duidelik geword:
- Ryk en arm skole sukkel met dieselfde probleme.
- Daar is maniere om die skynbaar onmoontlike take aan te pak.
- Deur gesels kan die gedeelde kennis mekaar se las ligter maak.
Missiemoontlikhede: gebruik wat beskikbaar is
Al drie lede van die Apollo 13-missie het lewend na die aarde teruggekeer. NASA het die beste breinkrag byeengeroep om die suurstofprobleem op te los – skaalmodelle is gebou en getoets en die spesifikasies is na die ruimtetuig toe deurgestuur. Die ruimtevaarders is toe, stap vir stap, gehelp om die operasionele module se filters aan te pas om meer suurstof te genereer.
Hierdie houding sal ook vir die volgende aantal jaar op onderwysvlak moet geld. Skoolhoofde is reeds besig om die onmoontlike te vermag en in die toekoms sal dit nodig wees dat hulpbronne, selfs onderwysposte, al hoe meer gedeel sal moet word.
Die ATKV staan reg om te help.
Melvina Mason Hearne, die projekorganiseerder van ATKV-onderwys in die Wes- en Noord-Kaap, het aan die groep vertel van die talle suksesse wat reeds behaal is in die oplei van ouers, skoolbeheerliggame, skoolbestuurspanne en selfs leerders. “Ons, die ATKV, is hier; ons bied ons eie vaardighede én dié van kundiges wat met saamwerk,” was die boodskap.
Missiehulp: die ATKV en talle kenners
Die ATKV het vir Beverley Fanella genooi om die hoofde te kom toespreek. Fanella het baie jare se ondervinding in die bestuur van transformasie en die integrasie van leerders in situasies wat kulturele uitdagings bied.
Danny Titus, uitvoerende direkteur kultuursake by die ATKV, het verduidelik hoe die kommersiële suksesse wat die ATKV met die goeie bestuur van hulle oorde behaal, uiteindelik gebruik word om taal, kultuur, die gemeenskap en die onderwys te bevorder.
“Onderwys, my verantwoordelikheid” is ’n motto wat die ATKV onder alle takke en alle lede versprei, want omdat die ATKV ‘n burgerlike organisasie is, is die las op elke ATKV-lid om iets te probeer doen om onderwys aan te help.
Die ATKV gebruik kundiges van, onder andere, die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut en die Federation of Governing Bodies for South African Schools (Fedsas).
Missiestelling: Kopskuif
Die byeenkoms is onder die vaandel Kopskuif gehou.
Ek het aan Seymour Bothman gevra wat hy presies daarmee bedoel het. Sy antwoord was eenvoudig: hierdie hoofde het soveel kennis tussen hulle; as hulle begin saamspan, kan hulle baie meer doen, maar dan moet hulpbronne ook gedeel word. Ten tweede: die ATKV kan help slegs as hulle gevra word; dit is nodig om te besef wat die ATKV aan skole kan bied.
LitNet het al tevore oor ATKV-hulp aan die onderwys berig:
- ATKV-Handevat in Vergenoeg, net buite Kimberley
- ATKV-Handevat, Kuilsrivier, in die Wes-Kaap
- ATKV-Sterskool in Mosselbaai
- ATKV-Leerderopleiding.
The post Kopskuif: die ATKV as “ground control” appeared first on LitNet.