“Krisjan se meisies” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Krisjan se meisies
My vriend Krisjan woon dertig kilometer buite Pretoria in ’n houthuis op ’n plot wat hy tydens ’n veiling gekoop het. Hy het dit as sy nuwe groot opknappingsprojek beskryf – hy was nog nooit iemand wat weggeskram het van harde handewerk af nie. Ek het die grondafdraaipad vanaf die hoofweg twee keer misgery, so teen die tyd dat ek my silwer 2003 Hyundai Elantra voor Krisjan se huis geparkeer het, het die maan reeds ’n dowwe gloed oor die erf gegooi.
Drie dae gelede het Krisjan vir my ’n boodskap gestuur met die enkele woorde: “Dit het gewerk!”
Ek moes mooi dink om te probeer uitpluis wat hy bedoel het. Die laaste keer dat ons gepraat het was ses maande gelede oor ’n paar biere by die Perdestal Kantien. Ek onthou nie veel van daardie aand nie, want ek het waarskynlik te veel gedrink. Ek kan net vaagweg onthou dat hy iets genoem het van ’n veiling wat hy gewen het en nogal opgewonde oor was. Iets oor meubels en winkeltoebehore van die Sy en Skarlaken Boetiek in Randburg. Hy het nog altyd daarvan gehou om stukkende ou goed te koop en reg te maak.
Gister het hy weer vir my ’n boodskap gestuur – ’n uitnodiging na ’n partytjie by sy huis. Hy het nie ander vriende sover ek weet nie. Maar gebaseer op die geluide wat vanuit sy huis kom, was ek duidelik nie die enigste persoon wat hy genooi het nie.
Deur die gordyne kan ek die vae silhoeëtte van mense sien. Hulle lyk soos ... vroue? My hart maak ’n bokspring.
Jislaaik, Krisjan. Jy kon my darem gewaarsku het dat jy vroue gaan oornooi.
Ek stoot my tweehonderd kilogram lyf versigtig uit die kar uit en die Elantra kreun in protes. Ek steek my hand in my baadjiesak, op soek na ’n vinnige sigaret om te rook voor ek ingaan, toe –
Hallo daar,” roep die stem van ’n jong vrou iewers naby die motorhuis.
Jare van lewe met ’n gesplete verhemelte wat nooit behoorlik reggestel is nie, het my geleer om vreemdelinge, veral vroue, te vermy. Die gat in my bolip maak mense ongemaklik. Maar miskien in die donkerte ...
“Wat is jou naam?” vra die sagte vroulike stem. ’n Figuur verskyn agter ’n boom langs die motorhuis.
“Danie,” antwoord ek huiwerig.
“Hallo, Danie. My naam is Daisy,” sê die vrou terwyl sy na my toe stap. Soos wat sy in die bleek maanlig instap, besef ek sy is beeldskoon. Sy stap stadig, asof sy bang is om haar balans te verloor, en sit versigtig een voet voor die ander. Sy is fyn gebou, met lang arms wat grasieus heen en weer swaai met elke tree wat sy neem.
Haar lang blonde hare is met rooi lintjies in twee poniesterte agter haar ore vasgemaak. Sy dra wit satynhandskoene wat tot by haar elmboë strek en ’n rooi paillet-minirok wat selfs in die dowwe lig glinster.
Sy stap reg tot by my, met minder as ’n handbreedte tussen ons, en kyk op na my.
“Welkom by die partytjie,” sê Daisy. Daar is geen teken van skok of afsku op haar gesig nie. Inteendeel, sy glimlag breed. Haar tande blink in die maanlig. Sy beduie na die huis.
Ek is sprakeloos. Dit is die meeste aandag wat ek in jare van ’n meisie gekry het. Krisjan en ek is nou nie juis die tipe ouens wat die meisies een na die ander inkatrol nie. Nie eens die lelike of oorgewig meisies stel baie in ons belang nie. Krisjan is kort, met ’n haarlyn wat by die dag verder terugtrek. Ek is oorgewig, het ’n misvormde gesig, woon in my tannie se tuinwoonstel en het ’n geneigdheid om elke naweek stormdronk te raak.
Ek laat my sigaret op die gruisoprit val en volg haar soos wat sy versigtig by die stoeptrappe opstap. Sy lei my deur die voorportaal na die raserige sitkamer sonder om weer terug te kyk na my.
Wanneer ek en Daisy die sitkamer binnestap, is daar ’n kort stilte, gevolg deur ’n uitbarsting van opgewonde stemme.
“Almal,” Daisy steek haar regterarm reguit in die lug in op om almal se aandag te kry en roep dan uit: “Ontmoet asseblief vir Danie!”
Van orals in die sitkamer kom daar kort grepies van groetes.
“Hallo, Danie.”
“Wat ’n plesier om jou te ontmoet.”
’n Tingerige, jong blondine in ’n blospienk chiffonrok gryp lomp na my arm en stel haarself voor met ’n effense lisp: “Hallo, my naam is Alice.” So vinnig soos wat sy dit sê, ruk sy haar hand weer terug, giggel en waggel ’n paar treë van my af weg.
Nog een, ’n lang meisie met ’n vol bos rooibruin krulhare en ’n smaraggroen sonrok, stoot Alice sagkens eenkant en steek ’n stywe hand na my uit. “Aangename kennis, Danie. My naam is Cassandra.”
Voor ek haar hand kan vat, tik nog ’n wulpse vrou in ’n styfpassende donkerblou stippelrok my op my skouer en sê: “Hallo Danie, my naam is Lucy.”
“Wel, hallo, Alice, Cassandra, Lucy. Hallo, almal,” sê ek terwyl ek ongemaklik my hand na almal in die vertrek waai.
Wow! Waar het Krisjan hierdie meisies gekry? En hulle is so vriendelik – glad nie soos die meisies in die stad nie.
Ek kyk deur die kamer en tel ses jong vroue. Elkeen van hulle is slank, sprankelend en pragtig.
Behalwe een.
Sy sit op ’n leunstoel in die hoek van die kamer. Haar kop is kaalgeskeer en ’n groot stuk silwer maskeerband is om die boonste deel van haar kop gedraai. Sy staar na die vloer terwyl haar lippe en lang swart wimpers onwillekeurig wikkel en beef, asof sy vasgevang is in ’n innerlike stryd met haar gedagtes.
Hoe langer ek na haar kyk, hoe meer besef ek iets.
Ek strompel agteruit.
Nou, in die helder lig van die sitkamer se kandelaar, kyk ek met nuwe oë na Daisy. Sy glimlag en knip haar oë – eers sak haar regterooglid stadig, dan die linkerooglid – dan spring albei ooglede skielik gelyktydig oop. Ek is amper seker dat ek sagte klikgeluide gehoor het toe sy haar oë knip ... maar ek kan nie heeltemal seker wees nie.
Cassandra steek haar arms na my toe uit asof sy my wil omhels.
“Wat is fout, my skat?” vra sy. Haar stem klink besorgd, maar haar gesig bly vasgevang in ’n diep verleidelike staar.
Ek deins van haar af weg, maar struikel in die proses teen Lucy vas. Lucy se liggaam is nie naastenby so sag soos die wulpse kurwes van haar lyf gesuggereer het nie. Haar liggaam is kliphard.
Soos iets wat van harde plastiek of veselglas gemaak is.
Soos ’n mannekyn.
Soos die winkelpoppe wat altyd in Sy en Skarlaken se Boetiek se vensters gestaan het?
Ek gee ’n onwillekeurige gil en neem ’n paar tree terug.
“Danie, sal jy asseblief, groot asseblief, ons vir ’n rit in jou kar vat? Ons wil só graag die stadsliggies sien,” sê Daisy met ’n soet stem.
Geluide van instemming kom van al die ander meisies.
“Waar is Krisjan?” vra ek terwyl ek nog ’n versigtige tree terugneem.
“Krisjan het gesê ons mag nie buitentoe gaan nie. Dit het ons baie teleurgestel,” antwoord Alice in ’n kinderlike stem vanuit ’n hoek van die sitkamer.
Daisy steek ’n gebuigde arm na my uit. “Danie, moenie bang wees nie. Ons sal jou nie seermaak nie.”
“O, nee, hel,” stamel ek en beweeg verder terug uit die sitkamer uit. Toe ek omdraai en in die gang begin afloop, hoor ek een van die meisies vra: “Waar gaan hy heen?” ’n Gewemel van gesprekke bars los agter my.
Die vloerplanke kraak onder my gewig terwyl ek deur die huis stap-draf. Die kombuis is ’n gemors – vuil skottelgoed is opgehoop, wegneemetepakkies lê orals rond.
Geen teken van Krisjan nie.
Die meeste van die kamers is verlate en bedek onder ’n dig mantel van stof en rommel.
Behalwe een slaapkamer. Vroueklere lê verspreid oor die vloer – rokke, bloese, almal met pryskaartjies nog aan hulle. ’n Skootrekenaar gloei op die bedkassie, lyne rekenaarkodes rol eindeloos oor die skerm.
Maar steeds geen teken van Krisjan nie.
Ek keer terug na die ingangsportaal en stap uit na die motorhuis. Krisjan se bakkie staan buite en langsaan stroom geel lig vanuit ’n oop werkswinkeldeur.
Die soet geur van smeermiddels gemeng met die skerp reuk van gesmelte plastiek slaan my dwars tussen die oë toe ek by die houtdeur van die werkswinkel instap. Die werkswinkel se binnekant lyk soos ’n kruising tussen ’n skrynwerkersateljee, ’n rekenaarlaboratorium en ’n klerewinkel se stoorkamer. Aan my regterkant is klerehangers van vlekvrye staal op ’n ry gegroepeer. Aan my linkerkant is ’n swart rekenaarboks gekoppel aan ’n platskerm, ’n stapel stroombaanborde en ander elektriese toerusting wat ek nie herken nie. Kabels kronkel oor die vloer na die middel van die kamer.
Op ’n groot vinielbedekte werkstafel in die middel van die werkswinkel lê die kop en bolyf van ’n winkelpop wat op haar rug lê. Een van haar oë kyk op na die plafon terwyl die ander in my rigting staar.
Krisjan lê met sy rug teenaan een van die werkstafel se bene. ’n Groot bloedvlek bedek sy babablou gholfhemp. Hy kreun.
“Ek het dit reggekry,” Krisjan se stem is krakerig. “Maar om hulle gelukkig te hou, is ’n voltydse werk.” Krisjan se lag slaan oor in ’n hoesbui.
“Wat de hel het gebeur?” vra ek verstom.
“Daar’s ’n paar lyne code wat ek moet regmaak,” sê Krisjan en wys na die rekenaar. Hy probeer homself opstoot, maar sak weer terug op die vloer. “Hulle is nie heeltemal so ... gehoorsaam ... soos ek dit sou wou hê nie.”
Die werkswinkeldeur swaai oop met ’n lang kraakgeluid. Daisy staan voor, met die ander meisies agter haar saamgedrom.
“Daar’s jy,” sê Daisy opgewek. “Sal jy ons nou vat?”
’n Skerp weerkaatsing van lig in haar hand trek my aandag.
Dis ’n bebloede slagtersmes.
’n Sagte meganiese geluid kom uit die uitmekaargehaalde winkelpop agter my.
“Ons wil net die stadsliggies sien, dis al,” sê Daisy.
Ek kyk na haar en dan terug na Krisjan. Sy ooglede fladder. Hy lyk selfs bleker as ’n oomblik tevore.
’n Ry gereedskap hang van ’n penbord aan die muur langs my. Ek kyk na die hamer en oorweeg my opsies.
Daisy neem twee lomp skêragtige treë in my rigting en kantel haar kop teen ’n vreemde hoek, asof sy probeer om my gedagtes te lees.
Ek reik met my regterhand uit na die werkstafel terwyl ek my linkerhand in ’n verdedigende gebaar ophou. “Kom ons neem Krisjan se bakkie,” sê ek. “Dis groter as my Elantra. Ons sal almal mooi daarin pas.”
Die meisies begin juig. Daisy steek haar droë tong effens uit terwyl sy glimlag, maar sy kyk stip na my terwyl ek die sleutels van Krisjan se bakkie optel.
“Maar ons moet Krisjan saamneem,” sê ek, “hy is in ’n slegte toestand; hy het ’n dokter nodig.”
“Solank jy ons vat om die stadsliggies te sien,” sê Daisy en volg die ander meisies wat reeds begin stap het na Krisjan se bakkie in die oprit.
“Natuurlik,” sê ek en buk af om Krisjan op te help. Hy kreun toe ek hom half oplig, half sleep na die kar.
Die meisies stap stadig voor ons uit. Ek hoor hoe hulle gesels oor die stadsligte terwyl hulle in die bakkie klim. Intussen hoop ek stilweg dat ons betyds die hospitaal sal kan haal.
Daisy neem die voorste passasiersplek en begin dadelik haarself in die truspieël bewonder. Alice, Cassandra en Lucy klim onhandig by die agterste sitplek in. Die kaalkop meisie en ’n blondine in ’n blommepatroon-rok gooi hulself met moeite oor die rand van die agterkant van die bakkie en land met twee harde slae op die bakkie. Alice waai na my en gil van opgewondenheid wanneer ek die agterste passasiersdeur oopmaak.
“Kan julle meisies asseblief plek maak vir Krisjan?” vra ek terwyl ek Krisjan van die grond af oplig.
Cassandra en Lucy maak plek en antwoord tegelykertyd: “Natuurlik, Danie.” “Wat jy ook al sê, Danie.”
“Ek is lief vir jou, Danie,” gil Alice voordat sy haar hand oor haar mond klap en giggel.
“Alice! Gedra jou!” sis Daisy. Terwyl Daisy se lyf steeds na die voorkant van die kar gedraai is, draai sy haar kop stadig om om vir Alice aan te gluur.
“Jammer,” fluister Alice en krimp dieper in die hoek van die agtersitplek in.
Ek plaas Krisjan so versigtig as wat ek kan op die agtersitplek langs Cassandra. Sy kop rol leweloos van regs na links. Hy kreun en dit klink amper asof hy iets vir my wil sê, toe Daisy roep: “Komaan, Danie. Ons het nie die hele nag tyd nie.” Sy glimlag vir my deur die truspieël en klop met haar regterhand op die oop bestuurderstoel langs haar. Gedwee maak ek die agterpassasiersdeur toe en klim in die bestuurderskant in.
Die oomblik dat ek die bakkie aanskakel, juig die meisies. Daisy glip haar satynhand op my bobeen en druk dit liggies. Ek probeer my bes om die bebloede slagtersmes op haar skoot te ignoreer en fokus op die pad. Ek probeer besluit waarheen om hulle te neem – op ’n roete wat ’n hospitaal insluit sodat ek ten minste vir Krisjan daar kan aflaai. Maar dit is moeilik om te konsentreer, want die meisies het begin sing. Nie een van hulle kan regtig ’n noot hou nie, maar dit keer hulle nie om so hard as wat hulle kan te sing nie.
Intussen hou Daisy aan om my bobeen te druk en stadigaan te masseer. Die snelweg is stil en meestal leeg. Ons ry verby eindelose stukke donker bosse en ’n beligte kruis wat iemand op ’n heuwel langs die pad opgerig het. Krisjan kreun agter my, maar ek kan nie hoor wat hy sê bo die meisies se gesing nie.
Sowat twaalf kilometer van Krisjan se huis af sien ek flikkerende blou ligte agter my. ’n Golf van verligting spoel oor my. Dankie tog. Die polisie sal my help.
Ek trek die bakkie van die snelweg af en bring dit versigtig tot stilstand op die gruisskouer van die pad. Ek draai my venster af.
Die polisievoertuig stop reg agter ons. Deur my kantspieëltjie kan ek sien hoe ’n polisieman uit die voertuig klim met ’n flitslig in sy hand.
Op ’n stadium moes die meisies opgehou sing het. Nou is die enigste geluid wat ek hoor die voetstappe van die polisieman soos wat hy oor die growwe gruis stap.
“Lisensie,” vra hy kortaf terwyl hy die binnekant van die kar inspekteer met sy flitslig deur my oop venster.
“Ja, konstabel,” sê ek en reik na die paneelkassie, net om skielik te besef dat ek my lisensiekaart in my Elantra gelos het. “Uhm, my lisensie is nie ...”
Maar ek kry nie kans om my sin klaar te maak nie.
“Klim uit die kar. Stadig.” Die polisieman se flitslig skiet heen en weer tussen die agtersitplek en die voorkant van my hemp. Ek kyk af en sien dat van Krisjan se bloed op my hemp beland het terwyl ek hom gedra het en intussen ’n donker vlek oor my bors gevorm het.
“Konstabel, ek kan verduidelik. My vriend ... hy is aangeval deur hierdie ... hierdie vroue. Ek het hom so in sy werkswinkel gekry. Hy het dringend ’n hospitaal nodig.” Ek probeer my stem kalm hou terwyl ek die deur oopmaak en uitklim.
“Hande in die lug waar ek hulle kan sien!” Die polisieman ruk my weg van die bakkie en slaan my teen die enjinkap vas. Die koue metaal sny in my wang.
Terwyl hy my boei, draai ek my kop na die voorruit. Daisy sit doodstil, haar kop effens afwaarts gedraai. Agter haar sit Cassandra en Lucy kiertsregop en staar bot voor hulle uit. Alice lê doodstil half bo-oor Lucy se skoot.
Hoekom is hulle skielik so ... stil?
“Bly presies waar jy is,” sê die polisieman en stap na die agterkant van die kar. Hy maak die passasiersdeur oop en deur die flou ligstraal van die flitslig kan ek sien hoe hy Krisjan se pols probeer neem.
“Hy’s dood,” sê die polisieman, meer vir homself as vir my. Hy gryp sy radio, maak ’n versoek vir hulp en stap dan weer terug na die voorkant van die kar.
“Die meisies,” stamel ek, “h ... hulle het dit gedoen.”
Die polisieman ignoreer my.
“Hulle is lewendig!” Ek skree nou, my krete eggo oor die stil snelweg. “Die poppe ... hulle het Krisjan aangeval! Hulle wou die stadsliggies sien! Hulle het gesing! Hulle het ...”
Die polisieman leun oor die bestuurderstoel en tel versigtig die slagtersmes van Daisy se skoot af op. Daisy sit leweloos in die passasiersitplek, maar toe die polisieman verby haar beweeg, knipoog een van haar oë luiweg vir my, en vir ’n oomblik vorm daar ’n effense glimlag oor haar rigiede mond.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie
The post Krisjan se meisies first appeared on LitNet.
The post Krisjan se meisies appeared first on LitNet.