
Foto: Canva
Skaduwees
ek loop versigtig
tussen skaduwees deur
verwonder my
aan hoe onskuld
in skuld gedompel is
deur voorvaders
kerkvaders en verlorenes
om skaduwees te laat lewe
wat die son wegvat
wat glimlagte steel
dit verdeel tussen duiwels
wat dit as banvloek vat
om met gesteelde skatte
te spog by die huis
skadu’s wat dood bring
saam met ellende
vir hulle wat agterbly
verstrengel in verwyt
hoe hou hulle dit uit
om tussen skadu’s te lewe
met die wete daar is ’n God
wat liefhet en vergewe
wat gee sonder om terug te vra
wat seën al is dit net reën
en die son wat warm skyn
tog is daar skaduwees
wat altyd sal pla
wat ’n mens saam met jou dra
in jou hart en op jou gesig
om te wens die son kom terug
sodat lewe weer mooi kan wees
vry van verwyt en vrees
vry van skaduwees