Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21877

Om my kastele in Spanje te sloop deur Jaco Barnard-Naudé: Foto’s en video’s vir almal wat nie daar was nie

$
0
0

Jaco Barnard-Naudé se digbundel Om my kastele in Spanje te sloop is op 29 Januarie 2025 tydens ’n intieme geleentheid by die Welgevallen-gemeenskapskliniek op Stellenbosch bekendgestel.

Naomi Meyer, senior inhoudsbestuurder van LitNet, het die geleentheid bygewoon en berig in die teks daaromtrent. Ansurette Pretorius het die foto’s en video’s namens LitNet geneem.

Jaco Barnard-Naudé

SJ Naudé, Lou-Marié Kruger en Jaco Barnard-Naudé word afgeneem.

Lou-Marié Kruger

Lou-Marié Kruger heet die gehoor welkom.

“Hierdie bekendstelling word aangebied in ’n kliniek waar daagliks geworstel word met menslike hoop en distress, iets wat nie net in konvensionele sielkundige taal verwoord kan word nie. Dis waarom dit ’n voorreg is om die gesprek hier te voer … ons is hier in ’n vry-assosiatiewe wêreld van die onbewuste.

Jaco het my gevra dat ek iets sê oor Freud. En ek hou daarvan om oor Freud te praat! ’I have had to demolish all my castles in the air’, het Freud gesê. Hieraan is die bundel se titel te danke: Ek moes al my kastele in Spanje sloop. Oor die bundel wil ek sê: ek lees unconsciousness is not nothingness. Die gedigte is bewustelike stories wat beskryf om ’n menslike wese te wees, is almagtig. In die bundel reis ons reise deur die kinderdae (die ou culprits, Ma en Pa, is teenwoordig) en ons reis deur dorpies en stede en word ingelaat in the cabin of dreams. Dis ’n bundel waar drome wense is.

Om my kastele in Spanje te sloop, kos veel meer as wat mens kan droom.

Vanaand is ook te sien kunswerke deur Lydelle Moe en Ernst van der Wal wat hier ten toon gestel sal word. Emma Kotzé en Jacques Bessenger gaan ook ’n voordrag lewer. Ek stel nou aan die woord die digter Jaco Barnard-Naudé, Charl-Pierre Naudé wat ’n lang pad saam met Jaco en sy digkuns stap, en een van die land se voorste resensente, Jonathan Amid.”

Jonathan Amid, Charl-Pierre Naudé en Jaco Barnard-Naudé

Jonathan Amid, fasiliteerder van die gesprek, wens Jaco geluk met sy verjaardag. “Ek is verheug om die gesprek te fasiliteer. Hierdie bundel lewer kommentaar op menslikheid en kuns. Dis vir my opvallend … ek kan sien dat die een wat die bundel geskryf het, baie lees ook. Wydbelese is … baie kennis het. Jaco, vertel ons: van jou reise en oor die digbundel: hoekom nou?”

Jaco Barnard-Naudé: “Ek dig vanaf my tienerjare. Ek het baie gelees, maar digkuns het altyd uitgestaan … Die bundel se storie begin tydens my MA in kreatiewe skryfwerk in 2009 … dis voltooi, maar ek het eers nog 13 jaar lank daaraan gewerk. Digkuns is nie voltyds my beroep nie, tyd om te dig is relatief min.

Jonathan, jy vra hoekom nou? Ek dink dit hang af waar mens jou bevind. Iets van die leeservaring van Herman Lategan se Hoerkind het iets in my losgemaak. Dit was ’n katalisator om my eie bundel klaar te maak. Binne ’n jaar daarna … nadat ek weer daaraan begin werk het …. my gepush het om dit af te handel … is die bundel vir publikasie aanvaar.

Charl-Pierre Naudé: “Ek was betrokke by die bundel … ek was op meer as een manier met Jaco se digkuns ’deurmekaar’ (op ’n goeie manier – lag!).  Dit kom van ’n misterieuse interaksie tussen digter, digkuns en die aard van taal. Jy maak aanbevelings sonder om te weet waarheen die gedig gaan gaan. Dit gaan oor die misterieuse spel tussen die eindige individu en wat taal kan doen. Ek beleef dit soms met studente en die digkuns. Soms is hulle kwaad, soms bedank hul jou (bedank inderwaarheid hulself). Dis ’n interessante proses. Ek wil praat oor die konstruksie van die bundel. Daar is verhale van kunstenaars, denkers, kleinverhale in die mense se lewens, baie persoonlik. Daarmee sinjaleer die digter dat dit gaan oor daardie persoon se persoonlike end us ook sy eie … die digter se persoonlike.

Ek het die bundel beskou en gedink hoe maak alles sin? Die mitologiese verhale, die kuns wat in die bundel beskryf word, die eie verhale?

Wat is die netto effek van alles saam? My antwoord het met ’n bang uitgekristalliseer.

Soms kan ongemotiveerde stories baie beteken. Mitewerkende stories, waarmee ons ons as mense se bestaan konstrueer … Die digter hou God en godsdiens uit die prentjie, en tog is daar ’n intense soeke … heeltyd. Daar is nie antwoorde nie, die vrae word uitgewerk sodat die leser voel of daar’n antwoord mag wees.

Die gesprek handel hieroor: “Daar is opvallend baie gesprekke met die dooies … Marilyn Monroe, Ted Hughes, die gay soener is ook dood. Interessante spel met tyd, lewe en dood.”

Jaco Barnard-Naudé praat oor die mitewerkende kompulsie. Die oop eindes. “Op primêre vlak is daar bestekopname, betekenis soek, betreffende wie is ek, wat is ek. Die noodwendige trauma wat almal gaan ondervind, die trauma van die lewe. Die rol wat trauma in die betekenisgewing gespeel het … Die idee van woordvindery, ’n besegging vir dit wat vir buite besegging gelê het vir so ’n lang tyd … In die bewuste en onderbewuste.

In die agtergrond vertoon deurlopend skilderye Velazquez, Vermeer, Warhol … interteks met die gesprek.

Charl-Pierre Naudé: “Ons het embleme, dooie mense het ’n sekere gesag, dit lyk soos iets om te respekteer. Hulle het iets gedoen wat ons nog nie gedoen het nie.

Die bundel is om betekenis te maak uit ons stories uit. Mite … nie net ligtelike stories of leuens nie. Sinmaking wat nie te doen het met empiriese bewysmaking nie.

“Baie van jou stories,” vertel Charl-Pierre vir Jaco Barnard-Naudé: “Jy praat van trauma, maar baie van jou stories is tragiek. In die bundel is daar eggo’s van klassieke tragiese verhale - Orpheus, Gluck. Jy werk intiem met die mensekennis wat kom met hierdie stories … Sonder antwoorde, sonder sluiting. Jy wyk af van die gewone verwagtingshorison van gedigte. Daar is net die vaagste indikasie van ’n sluiting, maar eintlik is dit net ’n draai, dis ongewoon.

Charl-Pierre lees "Soos ek dit onthou" voor.

Jonathan praat ook van die trauma wat hy raaklees. “’n Trauma. Jou trauma, ’n wêreldwye trauma, Afrika, maar hoofsaaklik die trauma van die self. Dan ook: oomblikke van vervoerende skoonheid. Hoe sien jy die spel tussen trauma en skoonheid?”

Jaco Barnard-Naudé sê: “Mens kan sê daar is trauma en dit lê aan die begin van geweld en dan gee geweld aanleiding tot trauma en die bose kringloop gaan voort. Dan wil mens sê aan die teenpool is skoonheid. Die bundel kan so gelees word – momente van teenstelling. Ons kan in kuns ’n sekere teenvoeter vind vir trauma, geweld, ontredderings. Tog belangrik om te werk met iets anders as die gemaklike teenstelling: Geweld teenoor skoonheid.”

Jaco praat ook oor die skilderye en die kuns in die bundel: “Die rede waarom die skilderye by mens spook, is die vashou van ’n traumatiese oomblik. ’n Ver-beelding van geweld, meer as fisiese geweld waarmee ons geweld maklik verklein/beperk. Ons moet, as mense wat met taal werk, bewus wees van die geweld van taal. Partykeer is ’n kunswerk net ’n oomblik van vasgevangde geweld, niks meer of niks minder nie.

Charl-Pierre sê Jaco se bundel handel met die klassieke beelde. Jy kan herinterpreteer Jaco haal aan: “Antiquity is my youth.”

Charl-Pierre praat ook oor die vaste vorm van gedig, terwyl jy terselfdertyd speels is. “Daar is rymskema, formele aanslag is duidelik en tog is dit oop en vars.” Charl-Pierre praat van alles wat interessant is van die bundel. Die tema’s maar ook die meta-temas. “Die psigo-analitiese paradigma – ewigdurende wederkeer.”

Jaco Barnard-Naudé: “Vir die mens is die menslikheid ’n tragedie, ’n tragiese gebeurtenis. Dit wil nie sê dat daar nie baie gelag word in die verloop van die tragedies is nie, en daar is oomblikke van blydskap, gelukkigheid, hoop … Voortdurend baie nuwe dinge en terselfdertyd is daar niks nuuts onder die son nie.”

Uiteindelik wens Charl-Pierre Naudé vir Jaco Barnard-Naudé geluk met “die wonderlike skepping, raar en mooi”.

Jonathan Amid sê die gesprek moet stop, maar dis nie klaar nie. Charl-Pierre spot dat dit volgende Woensdag in die filosofiekafee voortgesit sal word.

Emma Kotzé en Jacques Bessenger lees ten slotte ’n gedig voor.

Emma Kotzé en Jacques Bessenger

Die gesprekke is nie klaar nie. Die gehoor spoel uit na buite.

Lede van die gehoor verkeer gesellig in die tuin na afloop van die geleentheid.

Feestelike feestafels

Tom Gouws

Lydelle Moe en Charl-Pierre Naudé

SJ Naudé, Pierre Brugman, Andries Visagie

Pierre Brugman en Michiel Heyns

Gedagtes oor die aand se gesprekke duur voort.

Lees ook:

Plekspesifieke poësie in Jaco Barnard-Naudé se Om my kastele in Spanje te sloop

The post Om my kastele in Spanje te sloop deur Jaco Barnard-Naudé: Foto’s en video’s vir almal wat nie daar was nie first appeared on LitNet.

The post <em>Om my kastele in Spanje te sloop</em> deur Jaco Barnard-Naudé: Foto’s en video’s vir almal wat nie daar was nie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21877