1. Inleiding
Afrikalande se doelwit in 2025 is om hulle strategiese vennootskappe met China te heroriënteer. Die bevordering van wedersydse belange en agentskap in Chinees-beheerde organisasies in Afrika is hoofprioriteite. China se beleid ten opsigte van Afrika behels die bou van verhoudinge en die skep van ekonomiese bande wat wedersydse ondersteuning tussen China en Afrikalande bevorder. Sedert 2000 is dit ’n formele instelling dat China se minister van buitelandse sake sy eerste oorsese besoek elke jaar aan Afrika bring. Dié hoflikheidsbesoek het weer in 2025 plaasgevind toe die huidige minister van buitelandse sake, Wang-Yi, verskeie Afrikalande van 5 tot 11 Januarie besoek het. Die besoek was Wang-Yi se 57ste aan Afrika sedert 2013.
Wang het Tsjaad, die Republiek van die Kongo, Namibië en Nigerië besoek. Tsjaad is strategies belangrik vir China, omrede die land minerale in die tegnologie- en skoon-energie-sektore voorsien. Kongo-Brazzaville, die hoofstad van die Republiek van die Kongo, is die gasheer van die volgende Forum vir China-Afrika-samewerking (Focac) in 2027. Namibië is ’n belangrike maritieme vennoot aan die Atlantiese kus van Afrika. China beheer reeds verskeie hawens aan die Weskus van Afrika. Nigerië verteenwoordig China se groeiende rol in die Ekonomiese Gemeenskap van Wes-Afrika-state (Ecowas). Die nuwe hoofkantoor van Ecowas is deur China gebou en open sy deure in Februarie 2025. Die kantoor is in die Nigeriese stad Abuja geleë en staan bekend as die Oog van Afrika (Eye of Africa).
Wang-Yi se toer volg op die suksesvolle Focac-konferensie wat in September 2024 gehou is. Die programme van dié konferensie is reeds in Junie 2024 in ’n geslote-deur-vergadering (plenum) in die Chinese hoofstad, Beijing, geformuleer. Die plenum word nagenoeg elke vyf jaar gehou en formuleer die doelwitte en algemene rigting van die Chinese Kommunistiese Party (CKP) vir die volgende vyf jaar. Die bevordering van die land se diplomasie en internasionale status was die hoofbesprekingspunt tydens die plenum. Een van China se hoofprioriteite is om teen 2029 supermoondheidstatus te bereik. Diplomasie is die middel wat daarvoor aangewend word. Die inwerkingstelling van internasionale voorsieningskettings en die modernisering van die weermag is van die ander prioriteite. Afrikalande staan sentraal in die bereiking van hierdie doelwitte.
2. Van die hoofkwessies om dop te hou in 2025
2.1 Chinese doelwitte
2.1.1 Die implementering van die Focac-Beijing-aksieplan (2025–2027)
Focac is China se oudste, grootste en mees gevestigde streeksforum en dien as een van die primêre platforms waardeur China probeer om sy wêreldwye invloed uit te brei. Die jongste Focac-plan behels 10 programme, insluitend inisiatiewe in industrialisering, die uitbreiding van die Chinese vryhandelsone, en samewerking in polisie- en militêre sake. Na afloop van die Focac-vergaderings in September het senior Chinese amptenare Kenia, Malawi, die Seychelle, Tanzanië, Suid-Afrika en Zambië besoek. Die president van China, Xi Jinping, het Marokko in November 2024 besoek. Die doel van die besoek was om Focac se programme bekend te stel.
Na afloop van die Focac-konferensie in September is amptenare van sekuriteitsektore in Oos-Afrika na Beijing genooi vir die China-Oos-Afrika- ministeriële dialoog oor wetstoepassing en sekuriteitsamewerking (China-East African ministerial dialogue on law enforcement and security cooperation). In November 2024 het Uganda die Sesde China-Afrika-forum vir dekane van regskole (Sixth China-Africa Forum of Law School Deans), aangebied. Tsjaad het ook ’n bydrae gelewer en die China-Afrika-dinkskrum vir energie (China-Africa Think Tank on Energy) in Desember aangebied. En teen die einde van 2024 het die vloot van die Chinese Volksbevrydingsweermag (People’s Liberation Army, PLA), hoofde van weermagte in Wes-Afrika uitgenooi vir die tweede simposium oor sekuriteit in die Golf van Guinee. Sekuriteit in die Golf van Guinee is ’n area van kritieke belang vir die CKP.
In Uganda het regslui van China en Afrika na maniere gekyk om wetlike vereistes ten opsigte van die bevordering van die Gordel-en-Pad-inisiatief (GPI) te harmoniseer. Die GPI is in 2017 in die Chinese grondwet geïnkorporeer en is ’n verlengstuk van China se buitelandse beleid. Dit is belangrik vir die Chinese regering dat enige struikelblokke wat die inwerkingstelling van GPI-handelsroetes beperk, opgelos word. In Tsjaad is ’n forum aangebied wat die inwerkingstelling van hernubare produksie en voorsieningskettings in die koolwaterstofbedryf, ondersoek. Die forum is deur China National Petroleum Corporation (CNPC), ’n staatsbeheerde maatskappy, aangebied en is deur ingenieurs van China en Afrika in die bedryf bygewoon. CNPC neem die voortou in die konsolidering van China se internasionale energievoorsieningskettings.
Die Focac-Beijing-aksieplan (2025–2027) bevestig die verbintenis van China en Afrikalande daartoe om hulle standpunte binne multilaterale organisasies te belyn. Die aksieplan het ten doel om Afrika se deelname in die internasionale organisatoriese struktuur wat China oor die afgelope twee dekades geskep het, te mobiliseer. Verder sal diplomate van lande in Afrika voortgaan om China se posisie by die Verenigde Nasies (VN) en ander internasionale liggame te versterk. Die aksieplan prioritiseer ook die implementering van die Globale Sekuriteitsinisiatief (GSI), Globale Ontwikkelingsinisiatief (GDI) en Globale Beskawingsinisiatief (GCI). Die inisiatiewe staan sentraal in China se poging om ’n nuwe wêreldorde daar te stel.
Terwyl Afrikalande oor die algemeen daarna streef om gesonde verhoudinge met China te handhaaf, poog hulle ook om strategiese vennootskappe te diversifiseer. Dit sal verhoed dat hulle in mededingende vennootskappe ingetrek te word.
2.1.2 Die beveiliging van internasionale voorsieningskettings
China se rol as voorsiener van skoon energie word wêreldwyd al hoe belangriker. Teen die einde van 2023 het Chinese maatskappye ’n aandeel van slegs 8% in Afrika se mynboubedryf gehad. Dit is aansienlik minder as dié van Westerse maatskappye soos Anglo American wat meer as dubbeld die aandeel uitmaak. China se eienaarskap van myne in Afrika het sedert 2019 egter met rasse skrede vooruitgegaan. ’n Groei van 21% is teen die einde van 2023 aangemeld. In 2024 het Chinese firmas groot aandele in die kopermyne van Botswana en Zambië, kobaltmyne in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) en litiummyne in Zimbabwe en Mali gehad.
China se betrokkenheid by die bou of opknapping van hawens in Afrika is belangrik vir die land se status as ontwikkelaar van voorsieningskettings. Teen die einde van 2023 was Chinese maatskappye betrokke by 62 haweprojekte in Afrika: 33 in Wes-Afrika, 17 in Oos-Afrika, 9 in Noord-Afrika, en 3 in Suid-Afrika. Bekende inisiatiewe deur Chinese staatsondernemings in 2025 sluit in:
- die opknapping van die 1860 km-Tanzanië-Zambië- (Tazra-) spoorlyn wat by Dar es Salaam-hawe eindig
- die bestuur van ’n nuwe terminaal by Egipte se El Dekheila-hawe
- die bestuur van Nigerië se Lekki Diepsee-hawe
- Die bestuur van ’n terminaal by Egipte se Abu Qir-hawe in samewerking met die Egiptiese vloot.
2.1.3 Die konsolidering van bande met politieke partye en regerings in Afrika
Afrika is China se derde belangrikste streek vir party-tot-party-uitruilbesoeke tussen regeringsamptenare. Dit is naas Asië en Europa, wat die eerste en tweede plekke beklee. Die CKP se Internasionale Departement handhaaf bande met 130 politieke en opposisiepartye in Afrika. Dié partye word opgelei in die ideologie van die CKP. Die verspreiding van CKP-gefinansierde opleidingsprogramme is ’n ontwikkeling om in 2025 dop te hou. Hier word spesifiek melding gemaak van die Mwalimu Julius Nyerere-leierskapskool in Tanzanië, Herbert Chitepo Skool van Ideologie in Zimbabwe, die CKP se Sentrale Partyskool in Beijing, die China-Afrika Instituut (CAI), die Chinese Akademie vir Wetenskappe (CAS) en provinsiale CKP-skole. Die skole en organisasies is almal aktief besig om opleiding aan te bied en denkrigtings van Afrika-leiers en -amptenare te belyn met dié van die CKP. Sommige regerende partye in Afrika bewonder die CKP se streng outoritêre leierskapstyle en maniere van regeer, terwyl demokratiese regerings hoogs krities teenoor die programme is as gevolg van die bedreiging wat outoritarisme vir die bevordering en handhawing van demokrasie inhou.
Die Focac-plan vir 2025–2027 het ten doel om 1 000 amptenare van politieke partye in Afrika op te lei. Meer uitruilbesoeke tussen hoëvlakstaatsamptenare word vir 2025 beplan. Sedert die Focac-konferensie in 2024 is party-tot-party-besoeke tussen regeringsamptenare van Algerië, die Republiek van die Kongo, Egipte, Ethiopië, Kenia, Marokko, Rwanda, die Seychelle, Suid-Afrika, Togo, Tunisië, Zambië en Zimbabwe georganiseer. Verder het amptenare van Afrika 15 seminare bygewoon wat deur die Akademie vir Internasionale Sake (Academy for International Business Officials, of AIBO) gereël is. Dié akademie word geadministreer deur die Chinese Ministerie van Hande en Nywerheid en is die land se vlagskipakademie vir die opleiding van buitelandse amptenare.
Die AIBO se leerplanne fokus op die bevordering van China se bestuursmetodes en leierskapstyle. As voorbeeld word genoem dat die seminaar vir staatsamptenare in ontwikkelende lande (Seminar for Civil Servants in Developing Countries) ten doel het om China se ekonomiese en sosiale prestasies oor die afgelope 40 jaar bekend te stel. Die Engelse leuse vir die opleiding is “Stand up, become rich and become strong.”
2.1.4 Die modernisering en uitbreiding van die weermag
Die PLA-vloot se 47ste taakgroep (Escort Task Group, of ETG) sal na verwagting vroeg in 2025 in die Golf van Aden naby die kus van Somalië arriveer. Die taakgroep bestaan uit moderne vlootvaartuie, soos die Tipe 052D-geleide-missielvernietiger Baotou en die Tipe 054A-Jiankai-klas-fregat, albei op hulle eerste ontplooiing na Afrika. Daar word ook verwag dat twee vloothelikopters en 700 PLA-troepe, insluitend spesiale magte, aan China se militêre-opleidingsprogramme in Afrika sal deelneem.
Die PLA se opleidingskedule in 2025 gaan waarskynlik meer fokus op Wes-Afrika. China stel belang in die Weskus van Afrika vanweë die streek se ryk minerale rykdom en visvangwaters. In 2025 sal China ’n program begin om 6 000 senior weermagoffisiere, 500 junior offisiere en 1 000 wetstoepassers op te lei. Dit is ’n effense toename in vergelyking met die aantal beamptes wat voor Covid opgelei is. Die beoogde datum om al die offisiere op te lei is 2027. China se militêre opleiding het ten doel om persoonlike, professionele en politieke vennootskappe te sluit. Ongeveer een derde van China se 37 professionele militêre-opleidingsakademies aanvaar buitelandse studente. Die studente is hoofsaaklik afkomstig van Rusland, Asië, Afrika en Latyns-Amerika. Afrika verteenwoordig meer as die helfte van die studente.
China se militêre betrokkenheid ontlok egter kritiek van regerings en leiers in Afrika. Dit is veral voorstanders van demokrasie wat China se model van absolute partybeheer veroordeel, omrede dit ’n negatiewe voorbeeld vir Afrika se volgende generasie militêre leiers stel. Die grondwette van die meeste lande in Afrika vereis dat die weermag apolities staan. Die beskerming van die land se grense, die handhawing van demokratiese beheer en die eerbiediging van die land se grondwet is die hooftake van die weermag.
2.2 Afrika-doelwitte in 2025
2.2.1 Vrye en regverdige marktoegang, gebalanseerde handel en waardetoevoeging
Tydens Focac 2024 is ’n inisiatief afgekondig wat 33 Afrikalande toelaat om 140 produkte tariefvry na China uit te voer. Ondanks die toegewing is daar steeds merkbare nietariefhindernisse, insluitend ongelyke kwotas, komplekse doeaneprosedures en administratiewe uitdagings. Selfs al word hierdie struikelblokke uit die weg geruim, voer Afrikalande hoofsaaklik onverwerkte goedere en kommoditeite na China uit. Ten spyte van volumes in handel wat toeneem, is die handelsbalans steeds ongelyk.
Ten einde op te beweeg in die waardeketting is dit nodig dat Afrikalande strukturele en beleidsveranderinge in handelsbeleid aanbring. China se samewerking is egter noodsaaklik, gegewe sy rol as Afrika se grootste handelsvennoot. Sommige Afrika-leiers dring by China aan om die invoer van onverwerkte goedere uit Afrika te verminder, terwyl ander leiers groter beleggings in die vervaardigingsbedryf aanvra. “Ons moet ophou om grond uit te voer,” het Zambië se minister van mynbou tydens ’n 2023-konferensie vir litiumvervaardigers gesê.
Die bou van infrastruktuur bly ’n belangrike fokus vir Afrika in 2025. Tydens Focac 2024 is ’n verbintenis gemaak om 30 streeksinfrastruktuurprojekte teen 2027 te voltooi. Die prioritisering, seleksie en medefinansiering van hierdie projekte bly egter onduidelik. Afrika-regerings het die Afrika-Unie (AU) se ontwikkelingsagentskap, New Partnership for Africa’s Development (Nepad) se hulp aangevra om dié projekte te koördineer.
2.2.2 Die opkoms van onafhanklike belangegroepe
Die opkoms van onafhanklike belangegroepe in Afrika is ’n verdere verskynsel wat China-Afrika-verhoudinge in 2025 kenmerk. Dié belangegroepe bestaan uit sakelui en ander professionele persone wat leiers in Afrika adviseer om groter balans, bewussyn en aanspreeklikheid in China-Afrika-verhoudinge te bevorder.
Belangrike doelwitte vir dié onafhanklike China-waarnemers sluit in:
- die opvolg van Focac-verpligtinge
- die bevordering van finansiële deursigtigheid in ontginningsbedrywe
- die belyning van gemeenskaplike strategieë tussen China en Afrika
- die ontwikkeling van nuwe modelle vir die handhawing en invordering van skuld.
Onafhanklike belangegroepe wil verder toesien dat Nepad ’n komitee aanstel wat Focac se aktiwiteite naspoor en monitor en daaroor rapporteer.
Dié belangegroepe het ook voorgestel dat Chinese finansiering vir infrastruktuurprojekte deur multilaterale finansiële instellings (African Multilateral Financial Institutions, of Amfi’s) gekanaliseer word. Die Afrika-Ontwikkelingsbank (AOB) is een so ’n instelling. Amfi’s moet aan streng internasionale gelduitleenstandaarde voldoen. Dit bevorder deursigtigheid en verseker dat burgers van Afrika nie deur Chinese finansierders ingeloop word nie. ’n Ander voordeel is dat die risiko van uitleners verminder word.
Die belyning van Focac-programme met Afrika-inisiatiewe soos die AU se Agenda 2063 en die Program vir Infrastruktuurontwikkeling (Programme for Infrastructure Development in Africa, of Pida) is ’n prioriteit vir belangegroepe. Ten spyte daarvan dat China meer professionele persone van Afrika as van ander lande oplei, is daar kommer oor die rol van Afrikalande in die ontwerp van hierdie programme. Sommige Afrika-leiers stel voor dat die AU meer betrokke moet raak in die ontwerp en implementering van die programme.
Die Afrika-China-verslagdoeningprojek aan die Universiteit van die Witwatersrand lei jong joernaliste van Afrika op om verslaggewing oor China se aktiwiteite in Afrika te verbeter. Daar is tans verskeie belangegroepnetwerke, soos die Chinese in Africa / Africans in China (CA/AC) Research Network, wat navorsing oor onderwerpe doen en artikels publiseer. Die CA/AC-netwerk het tans 1 200 lede en groei teen ’n vinnige tempo. Die netwerk het ’n omvattende strategie ontwikkel wat in boekvorm deur Palgrave Macmillan gepubliseer is. Die titel van die boek is Africa-China cooperation. Towards an African policy on China?.
3. Gevolgtrekking
China se Afrika-beleid is deel van sy globale strategie om belange te deel vir die vooruitgang van die mensdom. Díe wedersydse belange dra by tot die bereiking van China se internasionale doelwitte. Afrikalande het egter nie ’n omvattende strategie wat China se betrokkenheid in Afrika kan uitdaag en teenstaan nie. Afrika en China se belange is steeds duidelik onderskeibaar, selfs na dekades waartydens China aktief op die vasteland teenwoordig is en verskeie Focacs wat al gehou is. Van die struikelblokke wat in die pad van versoening staan, is verskillende waardesisteme, kultuurverskille en kommunikasiegapings. Daar moet egter ’n datum vasgestel word wanneer die belange nader aan mekaar beweeg, en die jaar is 2025. Afrika-eienaarskap van Chinees-gebaseerde programme vir die bou van kapasiteit en ’n stelsel wat Focac se aktiwiteite kan monitor, is hoofprioriteite. Die suksesvolle afhandeling van die prioriteite sal ’n wen-wen-situasie vir beide partye skep en ’n nuwe era van samewerking inlui.
Bibliografie
Dasgupta, S. 2024. Analysts skeptical about African impact of China’s zero-tariff offer. 14 November. https://www.voanews.com/a/analysts-skeptical-about-african-impact-of-china-s-zero-tariff-offer-/7863517.html (17 Januarie 2025 geraadpleeg).
De Carvalho, G. 2024. Enhancing African agency amid global geopolitical competition. 15 Augustus. https://saiia.org.za/research/enhancing-african-agency-amid-global-geopolitical-competition (14 Januarie 2025 geraadpleeg).
Hackenesch, C en J Bader. 2024. Pragmatic, strategic and wide-reaching: the CCP’s party diplomacy in Africa. https://www.megatrends-afrika.de/assets/afrika/publications/policybrief/MTA_PB29_Hackenesch_Bader_CCP_Diplomacy_Africa_2.pdf (16 Januarie 2025 geraadpleeg).
Mining.com. 2024. Zambia mines lobby calls on government to halt reforms. 17 September. https://www.mining.com/web/zambia-mines-lobby-calls-on-government-to-halt-reforms (12 Januarie 2025 geraadpleeg).
Mthembu, P en F Mabera (reds). 2021. Africa-China cooperation. Towards an African policy on China?. Londen: Palgrave Macmillan.
Nouwens, M. 2024. The CCP’s third plenum: economic reforms, strategic continuity. 23 Julie. https://www.iiss.org/online-analysis/online-analysis/2024/07/the-ccps-third-plenum-economic-reforms-strategic-continuity (13 Januarie 2025 geraadpleeg).
Rolland, N. 2022. (In)Roads and outposts Critical infrastructure in China’s Africa strategy. https://www.nbr.org/wp-content/uploads/pdfs/publications/sr98_inroadsandoutposts_may2022.pdf (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
The post China in Afrika: Wat om in 2025 te verwag first appeared on LitNet.
The post China in Afrika: Wat om in 2025 te verwag appeared first on LitNet.