Vir die Milnerton Players is dit hulle eerste opvoering in Afrikaans. Volgens voorsitter Wayne Hendricks was daar maar net één regisseur. Iemand met dekades der dekades se toneelondervinding. Sy en haar produksies is al herhaaldelik bekroon. Op die vooraand van haar 80ste verjaardag doen sy uitstekende werk met wyle Chris Barnard se eerste verhoogstuk. Sy heet Mari Mocke.
Dié stuk uit 1964 word beskou as die begin van die vernuwing in die Afrikaanse toneel. Daarna sou die verhoogdramas van André P Brink, Adam Small, Bartho Smit, PG du Plessis en ander volg. Kenners wys op die aansluiting by Samuel Beckett en Harold Pinter, en die Teater van die Absurde in die algemeen.
Org Verwey (Hanno Fourie) moet sy ma (Ilse van Niekerk), ’n invalide met tekens van demensie, versorg in “’n vervalle huis in ’n industriële gebied van Kaapstad”. André Brink beskryf die karakters (in Aspekte van die nuwe drama, Academica, 1974) as “petietserige mensies, losgedryf uit die lewenstroom. Dis ’n uitsiglose lewe.” Hulle lewensruimte word uiters realisties voorgestel; die verhoogbestuur en tegnici verdien lof daarvoor. Al daardie flardes papier op die lessenaar en op die vloer. Die venster waarmee ’n mens sukkel. Al die gebruiksvoorwerpe elders in die huis. Die voordeurgleuf vir ’n telegram.
Org wil studeer sodat hy bevordering kan kry sodat hy ’n beter huis kan kry, sodat hy kan trou. Maar hy sukkel daarmee – met al die geraas uit die omgewing. (Interessante versameling geluide – party laat die gehoor giggel.) Hy en sy ma praat in sirkels. Hulle het onder meer skuldgevoelens omdat hulle een keer nie ’n rekening vereffen het nie.
Daar volg ’n groot omwenteling. ’n “Vreemdeling” (Anton Schäfer) daag op. Ook ’n Org Verwey. Nou word nog skaduagtighede uit Org 1 se verlede opgediep, veral uit sy liefdeslewe.
Daar is sterk fisieke uitdagings vir die twee manne. Dink aan al die vuisgevegte, die “kruisigings” aan toue. Die geweld storm fassinerend voort.
Die drie spelers se spraak is sterk en maklik hoorbaar. Van Niekerk se broosheid en ontsteltenisse kontrasteer met die manne se uitdagendheid, en so kry ons spelwisseling. (Roy Ashford van Dermatech het haar wonderlik met grimering “verouder”.)
Die drie laat die verhooghandeling besonder kragtig voortstu, maar daar is ook genoeg geleentheid om ontroerd na te dink, byvoorbeeld die “gesprek” tussen Org 1 en die bandopname waardeur hy homself bemoedig. Ek is ook in die besonder geraak deur die ontknoping toe die dramatitel geaktiveer is.
Die gedagte dat die stuk aansluit by die tradisie van die Teater van die Absurde kan sommiges liewers tuis laat bly omdat ‘n mens verward kan raak, nie oortuig word as dit te surrealisties raak nie. Met hierdie opvoering verloop die intrige juis herkenbaar realisties, bly jy gló.
André Brink som op: “... ’n spel waarin die mens se ontsettende gevangenskap, sy isolasie, sy vergeefse verlangens, sy onsekerhede oor die wêreld, sy angs oor futiliteit uitgespeel word” (Aspekte, bl 151).
Chris Barnard
Pa maak vir my ’n vlieër, Pa
Met Hanno Fourie, Ilse van Niekerk en Anton Schäfer
Regie: Mari Mocke
Milnerton Players in die Milnerton Playhouse, Pienaarweg, Milnerton. Tot 8 Oktober.
The post Teaterresensie: Pa maak vir my 'n vlieër, Pa in die Milnerton Playhouse appeared first on LitNet.