Die elektroniese groep Mymymy, bestaande uit Conrad van Breda en Jana Oosthuizen, se debuut-EP is eersdaags beskikbaar. Conrad beantwoord ’n paar vrae oor die groep se wel en wee, elektronika in Afrikaans, en die lewe.
Goeiedag, Conrad. Hoe's dinge?
Heerlik smeerlik. Goed. Lekker en al daai.
Baie geluk met Mymymy se debuut-EP, Ons s’n is beter, wat pas uitgereik is. Dis ’n geweldig interessante versameling snitte – ’n mens kry amper ’n gevoel van retro-elektro (in terme van die synth-gebruik) wat vermeng is met meer moderne strukture en vocal werk. Waar kom jou en Jana se passie vir hierdie weg-van-die-middel aanslag vandaan? Is die oorwegings van kommersiële toeganklikheid van synth pop (aangesien dit nie juis in die hoofstroom val nie) iets waarmee julle geworstel het, of dink jy daar is juis ruimte vir musiek wat so opsetlik anders klink? Of tot hoe ’n mate het julle bloot net gedoen wat julle wil doen, sonder enige verdere bekommernisse?
Dankie vir die lekker vraag. Ek het ’n onredelike aversie teen kitaargedrewe musiek begin ontwikkel na die aanskoue van Ladytron in ’n Londense club circa 2004. Twee meisies agter boksies. Geen emosie. Geen beweging. Net hierdie wonderlike klanke wat pols en saag. En van toe af het ek geweet dis die tipe musiek wat ek sou maak as ek kan. So die kwessie vir ons was hoe om die elektroniese klanke lekker te laat sit met Jana se rock ’n roll stem – iets wat ons oor tyd en baie probeerslae reggekry het. Ons wou ook liedjies skryf wat eenvoudig en “catchy” is, sonder die tipiese stroperigheid, so daar is definitief kommersiële neigings, maar ons klank probeer ’n sekere analoë estetika bevredig (sonder die regte toerusting). So dit is bietjie “fake” en meer digitaal. “Digital pop” is dalk ’n beter beskrywing.
Wat die liriekwerk betref voel dit of daar ’n sterk tong-in-die-kies benadering is, met heelwat sosiale kommentaar - vernaam op die Afrikaanse snitte "Naweek" en "Net musiek". Is dit iets wat julle daadwerklik nastreef in die skryf van lirieke? Hoe verloop die skeppingsproses van ’n song waarin julle so "inzoom" op ’n storie? Het jy/julle in die algemeen ’n filosofie oor lirieke en hoe die musiek dit moet komplementeer, of hoe beskou jy dit?
Ons is baie lui met lirieke skryf (ons los dit vir laaste), maar daar is definitief ’n tong-in-die-kies benadering, omdat ons die meeste lirieke daar buite vervelig vind. Ek probeer konsepte vir songs kies waarby ek en Jana persoonlik betrokke is. “Write what you know,” sê die slim mense, en dit is waar in ons geval.
Gepraat van die Afrikaanse snitte – daar blyk ’n redelik gelykop opdeling te wees tussen Afrikaanse en Engelse snitte op die EP. Was dit ’n opsetlike besluit, in terme van die soort gehore wat julle wil bereik? Is daar sekere idees wat julle voel beter werk in Engels of in Afrikaans? Hoe moeilik is dit om ’n genre soos synth pop, wat tradisioneel nie baie in Afrikaans uitgevoer is nie, saam met Afrikaanse lirieke te laat werk?
Ons wou in beide tale werk omdat ons nie onsself wil beperk tot ’n sekere mark nie. Oorspronklik wou ons nie in Afrikaans werk nie, want dit het nie reg gevoel nie, maar toe vertaal ek twee songs vir die Afrivisie-kompetisie laasjaar, en was gevolglik mal oor die nuwe rigting wat die Afrikaanse lirieke die songs in gestuur het. Dit dwing amper ’n ander ritme af wat die song ’n heel ander gevoel as die Engelse weergawe gee. En dit was lekker. Dit was wel moeilik om die Afrikaans nie aansitterig te laat oorkom nie. Ek weet nie of ons altyd daarin slaag nie, maar die resultaat is ten minste vermaaklik.
Jy en Jana wissel mekaar heerlik af met die vocal werk – soms self met ’n "spoken word"-agtige aanslag aan jou kant. Hoe werk daardie proses waarin julle besluit wie watter deel sal hanteer? Trouens, hoe werk die skryfproses by julle, vandat die eerste woord en akkoord neergelê is tot die lied opgeneem of uitgevoer word? Dit is sekerlik taaier as bloot met ’n kitaar en ’n bladsy sit, en ook nog taaier met slegs twee mense in die band, waar gedagtes soms meer intens kan bots.
Ek sal gewoonlik ’n instrumentele track neerlê met dromme en synths en bas tot ek voel dis lekker. Dit vat ’n tydjie, want ek werk stadig en maak moeilik besluite, maar die resultaat is ’n meestal voltooide “backtrack” wat nog net ’n stem kort. Dan sal ek lirieke neerpen, waarna Jana sal inkom vir ’n sessie waar sy die lirieke en wysie uitprobeer saam met die instrumentele track. Dan skaaf ons aan die woorde en wysie totdat ons voel dit werk. Jana sal die wysie hier en daar verander soos dit haar pas en soms woorde verander wat nie werk nie. Sy tel blitsvinnig die vibe op en ons record dan sommer die demo vocals.
Die werkswyse is redelik algemeen by ander synth pop groepe. Erasure. La Roux (haar eerste album) en pas ons soos ’n handskoen.
Jana haat dit om “spoken word”-tipe dinge te doen en ek was te lui om ’n wysie te skryf, toe praat ek dit sommer – iets wat toe heel toevallig uitstekend werk.
Te oordeel aan die video wat julle saamgestel het om die EP-bekendstelling te vier, is daar ook ’n sterk liefde vir visuele kuns onder die lede van Mymymy. Verskeie elektrogroepe verkies natuurlik om tydens musiekoptredes visuele kuns (of ander oudiovisuele elemente) in te span as deel van die vertoning. Is dit iets wat vir julle belangrik is, daardie multidimensionele aspek van band-wees en van optredes? Het julle ’n spesifieke gedagtegang rondom wat ’n optrede uitsonderlik en onthoubaar moet maak, of in watter rigtings mik julle om in hierdie opsig te beweeg?
Dit is ’n definitiewe aantrekkingskrag van die genre, spesifiek omdat dit die musikant toelaat om ’n bietjie meer te kan terugstaan en peuter met ander dinge. Ons het juis laas week ’n video geskiet vir “Net musiek” en is so mal oor die resultate dat ons gaan kyk of ons nie van die materiaal kan gebruik tydens die vertoning nie. Hopelik gaan dit normaal word vir ons om by al ons vertonings projeksies te hê. Dit is besonder lekker om ander kunstenaars te betrek by ’n projek en te sien hoe hulle jou voorlegging interpreteer.
Dis natuurlik nooit maklik om vinnig ’n sterk stempel af te druk in enige musiekbedryf nie, maar die heersende gevoel is dat die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse musieklandskappe op ’n interessante dog moeilike plek is wat oop hekke vir jong bands betref, en veral jong bands met ’n "ongewone" aanslag (soos Mymymy). Hoe beskou jy die stand van hierdie musiektonele op die oomblik? Wat werk, en wat is aaklig? Hoe sou jy Mymymy se plek op die landskap beskou, en waar sal jy dit eendag wil hê?
Die musiektoneel op die oomblik is inspirerend én frustrerend. So baie kunstenaars is besig om baie hard te werk aan hulle onderskeie projekte (vandaar seker die naam van ons EP). Dit is verbysterend om dop te hou (en om na te luister). Ek weet nie waar almal die geld en tyd kry nie, maar aan ambisie en talent (plek-plek) is daar definitief geen tekort nie. Natuurlik is daar ’n klompie wat my irriteer, maar ek’s seker as hulle weet van ons bestaan sou die gevoel wedersyds wees.
Dit voel snaaks om te sê, maar ons sou graag wou voel ons dra iets nuuts by tot die plaaslike musieklandskap. Of ons dit sal regkry, is ’n ander vraag. Dan kan ek ten minste eendag op my grafsteen skryf: “Nog ’n slagoffer van middelklas ambisie en kapitalistiese wensdenkery”.
Dit is wel Mymymy se debuut-EP, maar volgens ’n mediavrystelling maak jy en Jana al ses jaar lank musiek saam. Watter hoogtepunte staan tot dusver uit as jy terugkyk oor dié tydperk? Enige bisarre agter-die-skerms oomblikke? Enige gebeure wat jy eerder nie sal wil herleef nie?
Ons het seker eers so ’n jaar en ’n half terug weer begin werk aan Mymymy, ná ’n jaar of twee van persoonlike dramas, luiheid en uitstel na ons ontmoeting ses jaar terug. Snaaks genoeg kom ons toe op ou songs af wat ons geskryf en weggegooi het, en kom agter dat die lirieke ons situasie tans soveel beter beskryf. Asof die lirieke ons toekoms voorspel het.
Ons is beide te gestres voor en tydens shows om veel te kan onthou. Ek dink ons blok alles baie vinnig uit ter wille van ons eie waardigheid, so ek kan nie iets besonders meld nie.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Conrad van Breda en vir Mymymy, in so verre jy dit kan beheer?
Ons maak video’s vir ons songs en is aan’t beplan vir ons volgende paar optredes – dinge wat ons tot volgende jaar sal besig hou. Dan, as ons nog lus is en geld het, sal ons teen einde 2017 ’n album wil vrystel met ’n obskure titel, donker lirieke en happy tunes.
Wat is die sin van die lewe?
Techno tot sonopkoms.
The post Mymymy: "Daar is definitief ’n tong-in-die-kies benadering" appeared first on LitNet.