Nie net is die ryk boeke-oes van 2015 pas op Erfenisdag gevier nie, maar ook die gesprek óór die geskrewe woord. Want daar is nie stilte ná die boek nie. Gemeet aan die aantal gehalte-inskrywings vir vanjaar se eerste Resensent van die Jaar-kompetisie, begin die gesprek juis dán. Bladsye en bladsye van besinning het die keurders bereik – ’n stapel resensies selfs stewiger as die laaste Afrikaanse roman.
En wat ’n uiteenlopende allegaartjie was die bykans 120 resensies wat oorweeg is nie! Die beoordelaars moes enersyds vertroud raak met resensente wat oor ’n verskeidenheid genres gesaghebbend kan skryf, en andersyds die konteks waarbinne resensies verskyn het, in ag neem. Besprekings op LitNet het nie ruimtebeperkings nie; resensies vir koerante het limiete rakende die aantal woorde wat gebruik mag word.
Kán ’n mens ’n akademiese relaas met ’n paar honderd woorde in die hoofstroom vergelyk? En durf ’n mens ’n jolige, snelle vaart deur ’n spanningsroman vergelyk met ’n indringende oorweging van Grootse Letterkunde?
Wat ’n heerlike onderwerp om te bespreek by die volgende Aardklop of Woordfees … Of in die bed met Bibi, as julle op Woensdagaande inskakel op haar nuwe boekeprogram op VIA.
Hoewel die resensies wat ingeskryf is vir vanjaar se Resensent van die Jaar-kompetisie die ganse landskap van gepubliseerde Afrikaanse boeke verken en deur die kontoere van hogere berge en lagere dale strek, was daar tog ’n gemene deler onder die resensies wat uitgestaan het.
Hierdie resensies het getuig van uitstekende en verfrissende skryfwerk, oorspronklike en stimulerende insigte, ’n begrip van konteks en agtergrond en ’n aanvoeling vir die resensie se teikenmark.
Dit was ook die resensies wat soveel meer was as net ’n bespreking van die boek; die resensies wat jou iets leer van die letterkunde én die lewe. Dit is resensies wat rigtingaanwysers bied vir die leser om die boek te verken en ook jou weg te vind in die wêreld. Dis die resensies wat jou lus maak om te lees, om na te dink, om vanaand om die etenstafel in gesprek te tree oor die gedagtes wat by jou gestimuleer is.
Die slotsom waartoe ons gekom het, is dat hierdie resensies onteenseglik bewys dat dit ’n groot kuns is om ’n goeie resensie te skryf.
Gemeet aan dié resensies, is die gesprek oor Afrikaanse letterkunde nog springlewendig, gesond en eenvoudig wêreldklas.
Die wenner vir die beste Afrikaanse fiksieresensie van 2015 is Jean Meiring met “Huppel met chutzpah oor konvensies heen” (oor Johan Fourie se Struisvoël in Beeld, 2 November 2015)
’n Paragraaf teen die einde van Meiring se resensie is ewe veel van toepassing op sy resensie as op die oorspronklike werk. Effe aangepas, sou dit lui: “(Die resensie oor Struisvoël) is voorwaar ’n rariteit in die Afrikaanse (resensiekunde). Dis ’n slim en spitsvondige (resensie) wat ’n sentrale tema in die Afrikaanse leefwêreld – die plaas en sy mitologiese nasleep – speels onder die loep neem.” En wat ’n heerlike leeservaring bied dit nie! Sy insigte is gevat verwoord en hy toon uitstekende kennis van die konteks waarin die roman gelees kan word, die “morsige gejaag deur die boord van die Afrikaanse plaasroman”. En tog raak Meiring se vernuftige verwysings na die roman se verhouding met die plaasroman en ander intertekste allermins akademies of vervelig, dit dien eerder as verleidelike flikkers wat jou nader lok. Die roman se karakters word binne ’n paar paragrawe méns, temas word insiggewend ontgin en aanhalings word treffend aangewend. Elke paragraaf is blink gepoets en perfek op sy plek. Maggies, maar die man skryf goed, dink jy so met die leesslag. Bowenal wil ’n mens jou ná die lees van dié resensie na die naaste Exclusive Books haas en jou kredietkaart summier vir die kassiere gee. Want as Meiring só lekker skryf, gaan jy voorwaar net so lekker lees.
Die wenner in die niefiksie-afdeling is Willie Burger met “Om kreatief te lewe is aanhou beweeg” (oor Breyten Breytenbach se Parool / Parole: Versamelde Toesprake in Beeld, 26 Oktober, 2015)
Willie Burger se resensie van Breyten Breytenbach se versamelde toesprake is ’n merkwaardige voorbeeld van hoe ’n uitstekende resensie veel meer kan wees as bloot ’n bespreking van ’n gegewe boek. Dit is eerstens ’n toeganklike, verteerbare ontsluiting van ’n komplekse teks en dit bied duidelike rigtingwysers waarmee die lesers van die dagblad Beeld die werk en gedagtegang van Breytenbach kan verken. Dit is nóg meerderwaardig nóg neerhalend teenoor sogenaamd “gewone lesers” wat nie noodwendig reeds ’n Breytenbach op die bedkassie of boekrak het nie en dit spog nie met obskure verwysings wat net tot ’n nismark sal spreek nie. En tog is dit soveel meer as “Breytenbach 101” vir die hoofstroom. Ook vir diegene wat deeglik vertroud is met Breytenbach se werk, is Burger se resensie sinvolle, boeiende leesstof. Die resensie word ’n stimulerende en byna aangrypende bespreking van die vraag na wat dit is om te bestaan – om Burger aan te haal: “Na wat dit beteken om ’n bewussyn te hê en hoe ’n mens in jou stukkie bewuswees kan dink oor jou bestaan in jou spesifieke omstandighede, om sin te maak van jou bestaan, deurgaans in die lig van jou saam-bestaan met ander.” Burger ondersoek Breytenbach se reaksies op dié sentrale vraag op ’n insiggewende, goed gestruktureerde wyse en ontgin sodoende die denke van dié digter en skrywer, maar hy besin ook oor wat dit vir die res van ons beteken en oor waarom dit juis nou belangrik is om weer daaroor na te dink. Dit is ’n stukkie filosofie wat jou lank bybly – ’n werklik betekenisvolle leeservaring. Soos een van die keurders dit gestel het: “Die resensie laat jou voel jy móét die boek lees, vir jou eie siel se onthalwe”.
Yvonne Beyers
Voorsitter van die keurpaneel
The post Commendatio’s: kykNET|Rapport Boekresensent van die jaar 2016 appeared first on LitNet.