Where are the bundles of fresh sweet hay?
Where is the straw where I once lay?
Where is the farm where I lived and grew?
Where are the people I loved and knew?
Brenda Williams: “War Horse”
Die onontbeerlike en gerespekteerde rol wat perde en muile tydens oorlogvoering in die algemeen, en spesifiek in die Anglo-Boereoorlog gespeel het, word deeglik in die literatuur beskryf (oa in Swart 2010 en Van der Merwe 2000).
‘n Onderwerp wat betreklik minder aandag tot dusver ontvang het, is dat die dorp Stellenbosch ‘n Britse “Remount Depot” tydens die Anglo-Boereoorlog op twee historiese plase in die hedendaagse distrik Koelenhof gehuisves het.
Die omvang van die werk en logistieke nagmerries van die Remount Department blyk uit die volgende syfers: gedurende die periode 1 September 1899 tot 31 Desember 1901 is 206 063 perde en 91 769 muile na Suid-Afrika vanuit die VK, Indië, Australië, die VSA, Argentinië, Oostenryk en Kanada ingevoer. Die verliese aan die oorlogsperde tydens die seereise was onderskeidelik 7 203 (3,49%) vir perde en 2 346 (2,55%) vir muile (Britse Imperiale Blouboeke, Cd 963-1902).
Terminologie
Volgens die elektroniese woordeboek Wiktionary kan die term remount hierdie verskillende betekenisse hê: om terug te klim op ‘n perd of fiets; om iets te herstel tot sy vorige posisie; om nog ‘n keer op te staan; om iemand terug op ‘n perd se rug te help.
In die Afrikaanse vertaling van Pakenham (2013) word verwys (bl 402) na die “Direkteur van Remonte”, ‘n term wat nogal vreemd op die oor val. Navraag hieroor (persoonlike kommunikasie, FJL Lombard, 12 Oktober 2015) dui daarop dat die woord remonte in Frans voorkom, en moontlik net so in Afrikaans oorgeneem is. Die ander waarskynlike verklaring is dat die Engelse verwysing na ‘n “remount”, dws ‘n vars perd, volksetimologies vervorm is tot remonte, amper soos wat bicycle ‘n “baiesukkel” geword het en martial law bekend geword het as “Martjie Louw”.
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal se opnames hieroor lyk so:
remonte s.nw., remontes. (wsk. volksetim. <Eng. remount, "vars perd") Remonteperd: Die remontes ... vir die Duitse Schütztruppe in die Rehoboth-gebied geteel (K. Frey: Volkere S.W.A., s.j., 19).
Remonteperd (remonte: wsk. volksetim. <Eng. remount, "vars perd") Perd wat 'n beseerde, uitgeputte of verlore perd vervang; sin. remonte: In 1769 is groot troppe remonteperde na die Britse leërs in Indië gestuur (Ruiteryterme, s.j., 2) ... het voortbeweeg langs 'n sorgvuldig voorbereide baan met proviand-stasies en remonte-perde (G.S. Preller: Hist. Opstelle, 1925, 97).
Die doel met hierdie artikel is om deur middel van ‘n literatuurstudie en persoonlike onderhoude met die onderskeie plaaseienaars te bepaal of daar enigsins nuwe of bykomstige inligting bestaan wat sinvol bygevoeg kan word by die reeds bestaande inligting oor die Stellenbosch Remount Depot.
Die plase
Die historiese plase Nooitgedacht (foto 1) en Koelenhof (foto 2), wat onderskeidelik op 4 Maart 1692 en 21 November 1694 amptelik aan hul eerste eienaars oorgedra is (Van der Byl 1963), is deur die Britse regering vir die doel van die Stellenbosch Remount Camp gehuur (Bennett 1999).
Beide Nooitgedacht en Koelenhof is in 1899 deur Cecil John Rhodes bekom, wat natuurlik die formele huurproses vir die Britse weermag van hierdie plase baie vergemaklik het. Gevolglik het die twee plase volgens Pakenham (2013:188) tussen 1899 en 1902 ontwikkel as die Kaapse hoofbasiskamp vir die Britse oorlogsperdvoorsieningspoging.
Volgens ‘n primêre bron (Briggs 1901) is perdeontvangskampe of ruskampe (receiving camps) gevestig by Durban, Port Elizabeth, Kaapstad en Stellenbosch, waarheen die perde na ontskeping geneem is vir twee tot drie weke om te rus en herstel na die uitmergelende seereise. Afhangende van die toestand van die diere kon hierdie proses korter of langer geduur het. Die aanvraag vir remonteperde was dus baie groot, omdat ‘n enkele berede eenheid (lansiers) tot 400 perde oor ‘n periode van ‘n paar weke kon “verbruik”. Die remount depots (wat op ‘n latere stadium in die Anglo-Boereoorlog ontwikkel is in Pretoria, Standerton, Bloemfontein, Kroonstad en Kimberley) was as advanced depots bekend. Stellenbosch was dus (soos McKenzie se plaas in Maitland) ‘n basiskamp (base depot), en nie ‘n advanced depot nie.
Volgens Paget (1993) was daar drie klasse remount depots in 1899, naamlik landing, issuing en resuscitating. Die laaste twee klasse kan vir alle praktiese doeleindes as dieselfde beskou word, omdat baie perde wat daar geplaas is, normaalweg in uiters swak kondisie was. Die resuscitating depots is benut om verswakte en onbevoegde perde wat van die gevegsfront teruggestuur is, te rehabiliteer. Stellenbosch was dus tegnies gesproke ‘n basisdepot (landing depot) en nie ‘n resuscitating depot nie, maar nogtans is op ‘n stadium is 1 400 perde met ‘n wye spektrum van kondisies per dag na Stellenbosch gestuur.
In drie vorige plaaslike publikasies oor die Stellenbosch-perdevoorsieningsplase wat ek kon opspoor (Loock in Smuts 1979; Malan 1999 en Venter 2000), word die plaas Geluksoord as ‘n “derde aangrensende plaas aan Nooitgedacht en Koelenhof genoem. Dit blyk egter dat die huidige Geluksoord (wat destyds ‘n deel van die plaas Sonop was) op daardie tydstip (1899) deel van Nooitgedacht was en eers in 1931 van Nooitgedacht afgesny is. Sonop is daarna (in 1958) onderverdeel in twee plase, naamlik Sonop en Geluksoord (persoonlike kommunikasie, Johan du Bois).
Dit is gevolglik meer korrek om te sê dat teen ‘n heuwel op die grondgebied waaruit die plaas Geluksoord tans bestaan, destyds (1899–9102) ‘n skietbaan vir die Britse Stellenbosch Remount Base Depot aangelê is.
Heelwat artefakte uit die tydperk van die Stellenbosch Remount Base Depot is sedertdien op hierdie plase gevind, onder andere koeëlpunte, bierbottels en pom-poms (op die huidige Geluksoord), ‘n staaldak van ‘n voetsoldaat, perdekrippe, ‘n Indiese bord, hoefysters (op Koelenhof; kyk foto’s 4 en 5) en ‘n “caltrob/caltrap” (Afr perdedubbeltjie of kraaipoot) op Nooitgedacht (foto 6).
Die hedendaagse plaas De Hoop, wat as in die algemene handel Simonsig Landgoed (Edms) Bpk bekend is, was in 1899 deel van die Koelenhofplaas en is in omstreeks 1920–23 van die moederplaas afgesny (persoonlike kommunikasie, Francois Malan). Foto 7 toon ‘n perdekrip van die Stellenbosch-remontebasisdepot, wat vandag nog bestaan.
Die oorlogsperdestalle op Simonsig van destyds is volledig gerestoureer en word deesdae as die plaaskantoor benut (foto 8). Simonsig Landgoed (Edms) Bpk bemark tans internasionaal ‘n chenin blanc onder die handelsnaam War Horse, wat natuurlik direk verwant is met die historiese agtergrond van die plaas De Hoop wat destyds deel van Koelenhofplaas was (foto 9).
Kol George Hugh Gough
Volgens Pakenham (2009) het “kol Gough se verkenningspatrollering van die Boerestellings by die Oranjerivier skeefgeloop (einde November 1899) en is hy in skande na Stellenbosch se hoofbasiskamp teruggestuur. Gough kon die skande nie verduur nie, en het selfmoord gepleeg” (ble 188–9). Hy was manies-depressief (402). Uit die wyse waarop Pakenham die gebeure skets, kan moontlik afgelei word dat kol Gough homself op Stellenbosch as gevolg van sy demovering geskiet het. Die simptomatologie, die duur en die konteks van die Gough se psigopatologiese toestand word egter nie deur Pakenham (2009) in meer besonderhede bespreek nie.
Venter (2000), daarenteen, werp meer lig op die onderwerp, en verwys na ‘n voetnota in Pakenham waarin genoem word dat Gough reeds sedert 1885 tekens van geestesongesteldheid getoon het (6). Volgens Venter (2000) het “Gough hom op 24 Januarie 1899 in bevel van die Stellenbosch Basiskamp bevind. Twee maande later is Gough in poste onderskeidelik by Norvalspont en Bloemfontein aangestel. Dit is ook nie duidelik of hy later selfmoord gepleeg het omdat hy na Stellenbosch gestuur is, en of hy deur Lord Roberts op ‘n latere geleentheid gedemoveer is en na Stellenbosch gestuur is nie.”
Paget (1993:28) skryf: “[I]t took a long time before the number of depots began to match the need. To get hold of officers of reasonable quality was difficult. Those who were worth anything managed to secure berths at the front, and those who were of no use at the front were sent down for a loaf in the remount department.”
Volgens Paget (1993) het generaal Buller geoordeel dat kol Gough nie geskik was as ‘n offisier aan die gevegsfront nie, weens sy neiging tot senuweeagtigheid, emosionaliteit en geagiteerdheid, en het hom na Stellenbosch gedemoveer. Volgens Lord Roberts se skrywe aan Lord Landsdown (1 April 1900) het Gough homself op 29 Maart 1900 op die oewer van die Oranjerivier geskiet. Gough het meer as eenkeer aan Roberts die versoek gerig om nader aan die front geplaas te word. Gevolglik het Robberts hom as bevelvoerder van die Bloemfonteinse remontedepot aangestel. Op pad na Bloemfontein is Gough beveel om ‘n paar dae op Norvalspont te vertoef. Daar was ‘n groot konsentrasie van troepe, omdat die brug oor die Oranjerivier opgeblaas was. Hierdie bevel was onverwags en het Gough klaarblyklik totaal laat disintegreer en hy het homself die volgende oggend geskiet.
Op grond van hierdie inligting lyk dit asof Gough eerder ‘n persoonlikheidsteuring as ‘n psigotiese toestand (manies-depressief) onder lede gehad het. Dit is ook duidelik dat hy op Norvalspont en nie op Stellenbosch nie gesterf het.
Enkele ander waarnemings
Addisionele inligting is bekom en bevestig deur persoonlike kommunikasie met die volgende persone: Francois Malan, besturende direkteur Simonsig (Edms) Bpk; Frits Wirth, eienaar van Nooitgedacht; Hentas Joubert, eienaar van Koelenhofplaas, en MC Joubert, moeder van Hentas Joubert; Johan du Bois (snr), eienaar van Geluksoord/Sonop.
- Die woord Stellenbosched is algemeen bekend en word in die meeste beskikbare bronne genoem en verduidelik (Venter 2000). Die term het destyds ‘n uiters negatiewe assosiasie in die Engelse volksmond gehad, omdat onbevoegde offisiere wat nie die mas aan die front kon opkom nie, vir diens na die Stellenbosch-remontedepot gestuur is waar hulle minder skade kon aanrig. Wat egter minder bekend is, is dat Nooitgedachted ook as ekwivalente term deur die Britse soldate vir Stellenbosched gebruik is.
- Die Britse regering het Indiese “auxiliary workers” ingevoer om op die Stellenboschbasis dienste te lewer, soos bv smidswinkeldienste, roskam, inbreek ens. Daar was destyds ook ‘n graf van ‘n Indiese prins op Nooitgedacht wat jaarliks deur die naasbestaandes van die oorledene uit Indië besoek is. Sommige van hierdie Indiese hulpwerkers is in die Calcutta-bos begrawe, waar die grafte vandag nog opgespoor kan word. Op die kaart Divisie Stellenbosch (1902) word die ligging van die Uitspanning asook die plaas en plaasnommer van Calcutta (S.Q.1.49) aangedui soos dit bestaan het in die tydperk van die Stellenbosch-remontebasis.
- Volgens oorlewering het ‘n Britse soldaat wat op die Stellenbosch-remontedepot diens gedoen het, na die vredesluiting in 1902 teruggekeer na die plaas Geluksoord met ‘n kaart van die plaas waarop ‘n klein boompie aangedui was. Die soldaat het toestemming gevra om opgrawings te doen in die omgewing van hierdie denneboom, omdat ‘n voorwerp daar begrawe was. Die opgrawings het ‘n paar dae geduur, maar dit is nie bekend na wat presies die soldaat gesoek het en of iets wel gevind is nie.
- Die Koelenhofplaasopstal word volgens mev MC Joubert blykbaar steeds soms snags besoek deur ‘n rustelose remonte-offisier wat van tyd tot tyd deur die voorkamer marsjeer. Die voetstappe en gekraak van die stewels kan duidelik gehoor word. Hierdie ervaring is egter net vir sekere individue beskore.
Samevatting
By terugskouing is dit moeilik om die rol van die oorlogsperd tydens die Anglo-Boereoorlog ten volle te begryp of reg daaraan te laat geskied. Die vestiging van die Stellenbosch-remontedepot tydens hierdie tydperk trek die sluier so effens oop. Die geskiedenis toon duidelik aan dat die Britse oorlogspoging in Suid-Afrika traumatiese gevolge vir oorlogsperde (van al twee kante) ingehou het, en ook vir die Britse offisiere wat demoveer is en “ge-Stellenbosch” asook “ge-Nooitgedacht” is.
Bronne
Bennett, W. 1999. Yeomanry and volunteers in the Boer War: Absent-minded beggars. Barnsley, Yorkshire: Pen and Sword Books.
Briggs, J.H. 1901. The staff work of the Anglo-Boer War 1899–1901. Londen: Grant Richards.
Britse Imperiale Blouboeke. Cd 963-1902. Army Remounts: Reports, statistical tables and telegrams received from South Africa, Junie 1899–22 Januarie 1902.
Lombard, FJL. Eindredakteur, Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Persoonlike kommunikasie, 12/10/2015.
Loock, JC. 1979. Militêre geskiedenis. Hoofstuk 16 in Smuts, F (red), Stellenbosch drie eeue. Stellenbosch: Munisipaliteit.
Malan, H. 1999. Britse voorsieningsplaas vir oorlogsperde op Stellenbosch. Woonburger, 5 Junie.
Paget, CHV. 1993. History of the British Cavalry, Volume 4, 1899–1913. Barnsley, Yorkshire: Pen and Sword Boeke.
Pakenham, T. 2013. Die boere-oorlog. Johannesburg: Jonathan Ball.
Swart, S. 2010. Riding high. Horses, humans and history in South Africa. Johannesburg: Wits Universiteitsdrukkery.
Van der Byl, J. 1963. Eienaars van erwe in die dorp Stellenbosch (1693–1860), en eienaars van plase in die distrik Stellenbosch (1680–1860). Ongepubliseerde manuskrip, Stellenbosch: Munisipale Biblioteek.
Van der Merwe, F.J. 2000. Perde van die Anglo-Boereoorlog. Stellenbosch: Universiteitsdrukkery.
Venter, C. 2000. Die invloed van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) op die Stellenbosse gemeenskap. Annale van die Universiteit van Stellenbosch, 2000, 1:1–47.
The post Stellenbosch se oorlogsperdeplase (1899–1902) appeared first on LitNet.