Jou woorde draai agterstevoor
in die nasleep van hul betekenis
en die sinvolheid van alles wat is
word soos die hart van ‘n stormwind,
wat koud en genadeloos
dít ontwortel wat eens geanker was
in ‘n wete,
in ‘n begrip,
in ‘n sekerheid …
En soos ‘n dief in die donker
kom steel die vormlose skaduwees
stukkie-vir-stukkie by jou
‘n herinnering,
‘n oomblik
‘n gedagte …
en uiteindelik die vermoë
om te kan herken –
die gesigte van gister
en die rangskikking van eens bekende
woorde en stemme
word eensydig,
onverstaanbaar leeg
en vreemd
en bly jy agter
in ‘n eensame wêreld
van alleen onthou …