Op Saterdagoggend 17 September ry ek met die Agter-Paarlpad na die Breytenbach Sentrum waar die jaarlikse Tuin van Digters die vorige dag begin het. Parkeerplek was ‘n bietjie van ‘n uitdaging in die woelige Wellington, maar die feestelike atmosfeer by die sentrum was soos ‘n tonikum ná nóg ‘n week van dodelike werksroetine.
Van poësie weet ek nie veel meer as die gemiddelde straatkat nie, maar dis nie regtig oor die digkuns wat ek daar is nie; ek het gekom om te hoor oor Izak de Villiers, iemand wat diep spore op vele velde getrap het – as akademikus, as dominee, as poëet, as redakteur, as skrywer en bowenal as mens. En op die verhoog in die Woordtent langs die Bôrdienghuis tref ek sy seun aan, die bekende joernalis Louis de Villiers, Lizette Rabe, onder andere oudredakteur van Sarie, Joan Hambidge, skrywer en digter, en laaste maar nie die minste nie, Gilbert Gibson, wat ook digter is en soos die twee genoemde akademici ‘n vriend van dominee De Villiers.
Die uitgelese gesprekgenote word deur die fasiliteerder Karen-Christine “Kabous” Meiring aan die gehoor voorgestel, waarna Rabe ‘n kort agtergrondskets gee van die geliefde man aan wie hulle hulde sal bring. Sy sê hy was ’n briljante student en ‘n enkelkind wat sy ma verafgod het - ironiese woordkeuse vir ’n Godsman, want dié was hy altyd, selfs nadat hy die toga vir Sarie verruil het, sê Rabe glimlaggend. Sy vertel van hoe hy “soomloos” in die redakteurstoel ingeskuif het, sonder dat hy enige opleiding as joernalis of ervaring as redakteur gehad het. Ná twintig jaar as predikant word hy in 1983 Sarie se hoofredakteur en in 1991 hoofredakteur van Rapport.
In 1997 het hy en uitgetree as redakteur en in 2009 is hy op 73-jarige ouderdom oorlede. Maar tussendeur die eise van hierdie besige en stresvolle openbare lewe het hy boeke geskryf en gedig. Sy laaste boek was Strooidak en toring: van mense en my tyd, wat outobiografies van aard was (‘n genotlike boek – veral oor die humor en patos wat kenmerkend van hom was).
Louis was eerste aan die woord. Ek het Louis as mede-eerstejaar op Stellenbosch geken, way back in 1980, en die ou het duidelik ‘n paar myle op dink ek toe hy begin praat met ‘n stem wat nie net vir Satchmo sou laat bloos nie, maar dalk ook vir Sasquatch. Louis het joernalistiek op die harde manier gelééf, maar alle grappies op ‘n stokkie; hy het wel in sy pa se spore gevolg deur as rugbyskrywer sy merk te maak en het reeds ook ‘n boek agter sy naam.
Oor poësie sê hy lakoniek: “Dis ‘n intieme affêre”, en toe met die tipiese De Villiers humor: “Net oor rugby het ek en my pa saamgestem.” Hulle gesprekke was darem “25% argument en 75% skaterlag”, voeg hy by.
Joan Hambidge het Izak de Villiers met sy laaste digbundel gehelp en hom dus aan die einde van sy lewe leer ken. Volgens haar was hy ‘n “meester van die sonet en distigon” en was ‘n uitstaande kenmerk van sy digkuns die feit dat hy “geloof geproblematiseer het.” Sy voel ook dat ‘n mens nooit ‘n digter se lewe aan sy werk moet gelykstel nie, en daarmee bedoel sy dat Izak de Villiers, soos met Totius, nie aan sy predikantskap gemeet moet word nie.
Sy poësie was dus nie afhanklik van sy loopbaan nie, maar iets onafhanklik daarvan. Om haar punt te bewys, het sy twee van sy gedigte voorgelees en die gehoor was sigbaar geraak deur die krag van die woorde. Hambidge voel ook sterk daar is nog nie genoegsaam na Izak de Villiers as digter gekyk nie. Selfs studente is gaande oor sy werk, “want ná jy dit wat so eenvoudig skyn te wees gelees het, is daar iets wat jou tref.”
Izak de Villiers het vyf digbundels gepubliseer, waarvan die eerste, Leitourgos, in 1972 verskyn het. Hy het in 2006 ‘n poësieprys vir sy bundel Jerusalem tot Johannesburg ontvang.
Gilbert Gibson het dit met Izak de Villiers gemeen dat hy ook ‘n professionele loopbaan en dalk ‘n etiket het, naamlik dié van dokter-digter. Hy is ‘n internis van beroep. Hy vertel hoe hy en sy vriend elke aand maklik ‘n uur oor die telefoon gesels het, oor allerhande dinge, maar veral oor boeke en hoe hy beïndruk was met De Villiers se wydbelesenheid, vele belangstellingsvelde en suiwer intellek. Gevolglik kon hulle twee “intieme vriende rondom die letterkunde” wees.
Hy noem ook dat hy een besitting van De Villiers het om hom te herinner aan hoe sy vriend die wêreld gesien het – ‘n verkyker waarmee hy soms rugby gekyk het. Hambidge en Rabe knik en stem saam dat dit ‘n gepaste en simboliese aandenking is: Izak de Villiers het immers gehelp om mense verder te laat kyk, hy wat so gefokus kon wees binne die “breë register” waarin hy beweeg het.
Louis het hierop uitgebrei oor hoe sy pa self “karre reggemaak het”, maar ook ‘n roostuin onderhou het. “Geen bullshit aan my pa nie,” sê hy ná ‘n kort stilte, en frons.
Volgens Hambidge was De Villiers ‘n knorpot (wat ‘n gegiggel uit die gehoor laat opklink het en die geagte professor ook laat smaail het) wat deur Gibson beaam is: “Hy was hardvogtig en sagmoedig - en alles tussenin.” “Maar,” sê Hambidge, “hy het sy depressie wonderbaarlik bestuur.” Op hierdie punt benadruk prof Rabe ook die belangrikheid van De Villiers se boek, ‘n eerste in Afrikaans, oor depressie, die siekte wat hy ‘n naam gegee het: Depressie, die siekte van ons tyd (1986).
Gilbert Gibson voel die sterk liriese toon in De Villiers se gedigte ten spyte. Daar is ‘n sekere afgebakendheid – die woorde is so sekuur gekies dat die “woorde wat langs mekaar staan mekaar nie vertroebel nie”. Soos reeds genoem is my insig in poësie beperk tot die vlak van gestremdheid, maar ek begryp tog wat hy bedoel – dat woorde aan mekaar gekoppel kan word soos ‘n mens in skilderkuns kry dat twee aanliggende kleure mekaar kan beïnvloed asof elkeen ‘n glans op die ander gooi. Om dit te verhoed is moeilik en ek kan verstaan dat dit vir die digter wat juis so bondig en afgebakend werk, ‘n uitdaging moet wees.
Inderdaad, sê Gibson, het Izak de Villiers ‘n besondere sin vir woorde gehad. Dit was asof hy met ‘n prisma geskryf/geskuif het om te weet dat elke woord nét dáár hoort.
Anders as ander bekende predikante wat in die mediabedryf naam gemaak het, soos dr DF Malan, het Izak de Villiers nie die gesegde “Godsman, koerantman, staatsman” verpersoonlik nie, want die politieke verhoog het hy nie betree nie. Wat my betref, tot sy krediet, hoewel hy waarskynlik van daardie slagveld van menslikheid en inbors ‘n beter plek kon gemaak het.
Rabe se beskrywing van Izak de Villiers is immers: "Hy was die vriend van boemelaars en konings." Die aanklank wat hy met mense gehad het, was buitengewoon, van die kansel af, op straat, langs die rugbyveld en deur die geskrewe woord. ‘n “Begenadige mens” noem sy hom; iemand wat in vele terreine uitgeblink het, reeds sedert sy jeug, maar sy nalatenskap was veral die woorde wat hy agtergelaat het.
Hulle sê mos as ’n mens ‘n boek klaargelees het en jy wens jy het die skrywer persoonlik geken, weet jy dit was ‘n goeie boek. Dis hoe ek gevoel het nadat ek Strooidak en Toring gelees het, en dis hoe ek weer eens voel toe ek by die Woordtent uitstap.
The post Hulde aan ‘n skitterende, veelkantige mens in die Tuin van Digters appeared first on LitNet.