Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Gays en die kerk

$
0
0

Die seisoen van kerklike sinodes skop binnekort af, in sowel die Anglikaanse Kerk as die NG Kerk. Seksualiteit, of meer spesifiek homoseksualiteit, sal in alle waarskynlikheid weer eens die gesprekke oorheers.

In elke kerklike tradisie waarvan ek bewus is, was seksualiteit nog altyd beskou as iets skandelik. Om seks te geniet, en dit openlik te erken, kan die kerkvaders tot stilstand skok, ongeag watter kat hulle self in die donker knyp. Dalk verklaar dit die histerie waarmee alternatiewe seksuele keuses begroet word. Dalk.

Ek vermoed die probleem lê daarin dat die kerklikes hopeloos te veel tyd bestee daaraan om hulle te verbeel wat agter ander se geslote slaapkamerdeure aangaan en nie naastenby genoeg tyd om medemenslikheid te beoefen nie.

Die eerste argument wat vinnig uit die sak gepluk word wanneer daar oor die aanvaarding van gay lidmate gepraat word, is die “die kerk sal skeur”-argument. Lidmate se verwerping van gay lede kom tog nie in isolasie nie. Wie het in die eerste plek die vooroordeel gepredik? Indien die politieke wil daar is, sal die kerkvaders dit vinnig genoeg in hulle harte vind om gays te aanvaar. So onlangs soos 30 jaar terug was dit “sonde” om oor die kleurgrens heen verhoudings aan te knoop. Die NG Kerk het hierdie standpunt as bybels verdedig. Nou ja, ons almal weet dat die kerkvaders by meer as een geleentheid verskoning gevra het, en erken het dat hulle verkeerd was. Die Bybel het tog nie verander nie. Teoloë se verstaan van wat die skrifte beteken het egter wel verander, grootliks as gevolg van die veranderde politieke atmosfeer in die land.

Dis nie net die NG Kerk wat sukkel om te verstaan waaroor seksualiteit gaan nie, alhoewel die kwessie nou voorop gestel word in hierdie kerk. Die Anglikaanse Kerk wêreldwyd probeer daarvan sin maak. Verskillende lede van die Anglikaanse gemeenskap is op verskillende plekke in hul verstaan van wat seksualiteit breedweg, en homoseksualiteit spesifiek, behels. In Noord-Amerika byvoorbeeld word gay priesters wat seksueel aktief is, toegelaat om as priesters en biskoppe geordineer te word. In Uganda, aan die ander kant, het ’n biskop onlangs met goedkeuring wetgewing wat homoseksualiteit met die doodstraf bestraf, as goddelik aangehaal.

Ook binne die Anglikaanse kommunie word daar kommer uitgespreek oor moontlike skeuring. Afrika is tradisioneel veel meer konserwatief, met Europa en Noord-Amerika wat aansienlik meer liberaal optree. En almal gebruik dieselfde bybelse tekste om tot heel uiteenlopende gevolgtrekkings te kom.

Ten minste ’n gedeelte van die kerk se probleem is ’n onwilligheid, of selfs onvermoë, om te aanvaar dat dit moontlik is om gay en ’n Christen te wees. Alte dikwels word daar gepredik dat gays in die hel sal brand. Dieselfde persone het baie keer geen probleem daarmee dat gays dus alreeds uit hierdie lewe gehelp moet word nie – ’n houding, meen ek, wat vir hulle ook ’n plekkie in daai selfde hel verseker.

Ons het hierdie afgelope week die situasie in Suid-Afrika gehad waar ’n visum geweier is aan ’n Amerikaanse prediker wat hierheen sou kom onder andere om haat teen gays op te sweep. Suid-Afrikaners van oor die hele spektrum van seksualiteite (en kerklike denominasies) het dit duidelik gemaak dat hulle nie belangstel in hierdie tipe hatigheid nie. Dis maklik om die haat te verwerp wanneer dit so opsigtelik is. Wanneer dit egter verskuil is agter mooi beredeneerde teologiese argumente, is dit moeiliker om te herken. Dis egter nie minder hatig, of minder skadelik, omdat dit mooi beredeneerd is nie.

Enige tyd wanneer een persoon ’n ander persoon dieselfde regte ontsê wat jy self geniet, is daar op ’n baie basiese vlak haat ter sprake. Gays word veroordeel as promisku as hulle nie trou nie, maar hulle word die reg om hul verhouding in ’n kerk te bevestig, ontsê. Hoe word Jan en San se huwelik minder gemaak deurdat Piet en Koos ook nou kan trou?

Daar is natuurlik ook ander vanselfsprekende regte wat gay paartjies ontneem word. Hulle kinders word nie gedoop nie. As die kinders in die Sondagskool toegelaat word, word hulle baie keer anders behandel as hulle maatjies wat uit ’n heteroseksuele verbintenis kom. Gay paartjies se huweliksherdenkings word nie in die kerk aangekondig en gevier nie. Indien een te sterwe kom, word die verhouding en die oorlewende eggenoot nie tydens die begrafnisdiens erken nie. Die hartseer en verlies van die oorlewende word op onmenslike maniere nog verder vererger.

In my tuisgemeente is daar ’n tradisie dat paartjies wat hulle huweliksherdenking vier, vorentoe moet kom, en nadat daar oor hulle gebid is, kondig die priester aan: “You may now kiss your bride”, en onder groot gelag moet hulle mekaar dan soen. Ek wens soms dat ’n gay paartjie sal vorentoe kom, net om te sien wat die priester sal doen. Ek wil graag glo dat hulle dit as normaal sal hanteer, maar die realiteit is waarskynlik heelwat anders.

Die kerkvaders skuil agter die argument dat gemeentes nog nie gereed is vir gay lidmate en gay predikante nie. Tog is daar hope fantastiese predikers wat die geleentheid ontsê word om gemeentes te lei omdat hulle anders liefhet – predikers wat geliefd en aanvaar was in hulle gemeentes voordat hulle seksualiteit bekend geword het. Selfs dan is die gemeente baie keer glad nie gepla oor hulle predikant se seksualiteit nie, maar die kerkvaders hou die kerkreëls voor as rede waarom die prediker verwyder moet word.

Daar is hoeveel predikante wat hoereer, en steel, en kinders molesteer en gemeentes uitmekaar skeur. Hulle word deur die kerkvaders beskerm.

Is dit nie die groter onreg nie?

The post Gays en die kerk appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>