Beste Angus
Ek was hewig geamuseerd met jou bewering dat ‘die pennie uiteindelik geval het’. Ek sou nou uiteindelik verstaan, ‘die spyker op die kop slaan’, met my stelling dat die grammatikus bloot grammatika, wat lankal reeds bestaan, opteken.
Nou hoe nou; dis dan juis wat ek heeltyd, van die begin van ons gesprek oor hierdie onderwerp, vir jou sê: Ek sê jy kan nie ’n taal praat as jy nie sy grammatika ken nie, selfs sover gegaan as om te sê ‘taal’ kan beskou word as die versamelnaam van ‘woordeskat’ en ‘grammatika’.
Op 19 Januarie skryf jy “Om ’n taal te praat, is die kennis van grammatika glad nie nodig nie.” ’n Entjie verder in die brief beweer jy “Dis eers in 1875 dat die eerste Afrikaanse grammatika sy verskyning gemaak het.” Op 21 Januarie sê jy “Ek herhaal: om ‘n taal te praat, is kennis van grammatika nie nodig nie.” Ek het nou nie die tyd om deur al jou briewe te gaan nie maar hierdie is verteenwoordigend van jou siening van grammatika.
My reaksie hierop was dat dit onsin is want, om ’n taal te kan praat, moet jy die grammatika onder die knie hê. As jy die grammatika (en woordeskat natuurlik) goed onder die knie het praat jy die taal goed en as jy die grammatika nie goed bemeester het nie praat jy die taal swak.
Jou bewerings dat die grammatika ‘eers later kom’ en ‘nie nodig is om die taal te praat nie’ was vir my so absurd dat ek jou gevra het of jy nie dalk die opteken van grammatika (’n grammatikaboek) verwar met die grammatika van die taal nie.
Ek kan nie jou presiese reaksie op hierdie vraag onthou nie, miskien het dit aanleiding gegee tot hierdie vraag van jou aan my op 20 Februarie: “Waar, dink jy, is ’n taal se grammatika?”
My antwoord aan jou was: “ 'n Taal se grammatika sit waar 'n taal se woordeskat sit, in jou verstand. Sodra jy ’n gedagte of ’n begrip wil oordra, dan roep jy die betrokke woorde op en span hulle in om sin te maak soos deur die grammatika voorgeskryf. Ek vermoed jy dink die grammatikareëls wat in ’n boek opgeteken is, is hoe grammatika lyk. Newton se formules betreffende gravitasie is bloot die formules; dis nie hoe gravitasie lyk nie.” Sover ek kan onthou het ek geen reaksie op hierdie antwoord gekry nie.
In jou nuutste kommentaar sê jy wéér: “ʼn Taal hoef nie noodwendig ʼn grammatika te hê nie, trouens daar is nog baie tale in die wêreld wat nie ʼn grammatika het nie, want linguiste het nog nie by hulle uitgekom om hulle te bestudeer en een te skryf nie.” Angus, ek se weer, GEEN taal is sonder grammatika nie anders is dit nie ’n taal nie. Linguiste, grammatici, belangstellendes of wie ook al kan kom en die grammatika – WAT REEDS BESTAAN – opteken (en ten boek stel) maar hy SKRYF nie ’n grammatika vir daardie taal nie. Al ouens wat ’n grammatika skryf is dié wat kunsmatige tale ontwerp/saamstel soos byvoorbeeld Dr Zamenhof ten opsigte van Esperanto.
Groetnis
Jan Rap
The post Antwoord vir Angus op sy kommentaar onderaan my brief van 22 Oktober 2015 appeared first on LitNet.