- Réney Warrington was op die paneel van beoordelaars by die kykNET Silwerskermfees 2016.
Die algemene standaard van die 2016 Silwerskermfees kortfilms was besonder hoog. Dit was inderdaad moeilik om te besluit vir watter film/akteur/regisseur om te stem, maar op die ou einde is ek baie gelukkig met die wenners wat ons aangewys het.
Een probleem wat in omtrent elke kortfilm voorkom, is die gate in die draaiboek. The gaping plot holes. Deure en hekke wat oopgelos word. Geen veiligheidsgordels nie. ʼn Bejaarde oom wat ʼn jong, sterk man in ʼn publieke ruimte kan oorrompel. ʼn Ou tannie wat ʼn wildvreemde jong man as haar versorger aanstel. Die lys gaan aan. As jy jou karakter op ʼn punt wil uitbring, moet die rede, die reis tot daar, sin maak.
Wat hier volg, is ʼn paar vinnige notas oor meeste van die films.
Onthou
Onthou hanteer moeilike onderwerpe – oudword, doodgaan, alleen wees – sonder om weg te skram, en met ʼn tikkie humor en net genoeg deernis.
Daar is heerlike besonderhede, soos die ou tannie se warmwatersak, die voordeur wat deurgaans amper swart en wit voorkom, maar eintlik rooi is, en die gebruik van bloeisels.
Ongelukkig is die premis van die film verregaande – geen ou tannie in ʼn ouetehuis gaan ʼn wildvreemde jong man toelaat om by haar in te trek en haar liggaamlik te versorg nie. Verder is die ontwikkeling van hul verhouding te vinnig. Hulle gaan van baklei tot saamdans in ʼn oogwink.
Merk.Sny.Stoor
Wat vir my uitstaan, is die redigering van beelde en klank: die vinnige, stotterende terugflitse gee vir jou onmiddellike insig in Chris se geestestoestand, maar die stadige skote bou weer die spanning op. Dit maak Chris ekstra grillerig.
Ek het gehou van die min dialoog. Dit plaas al die verantwoordelikheid op die speler, en Jacques Bessenger stel nie teleur nie.
Die toe-oë verftoneel was lieflik, so ook die Marmite-roosterbrood-tema.
Weer eens is daar ongeloofwaardige elemente. Karlien los haar voorhek en voordeur oop. In Johannesburg? Chris kan dit net oopstoot? Sy drink wyn, dans en trek uit voor oop gordyne? In Johannesburg? Hoekom bel sy nie die polisie wanneer sy die kans kry nie? Hoekom skree sy nie?
Lilani Prinsen was ook nie oortuigend as die slagoffer nie. Ek het zero empatie met haar gehad.
Koue voete
Die film was nie geslaagd op enige vlak nie. Die inbreker breek te maklik in. Niemand hoor hom nie. Dronk partytjiegangers loop nie op straat in Joburg-buurte rond nie.
Die bloed op die selfoon, en die slagoffer wat na die foon uitreik is melodramaties. Die verskillende koue voete is ʼn cliché.
Die dialoog was uiters swak: "Nee, jy doen nie." "Ge-dump." "Ek kan nie hiermee deal nie …" Die klaviermusiek was boonop op plekke harder as die stemme.
Die muse
Milan Murray steel die kollig. Verder is die film snaaks, sexy, maar voorspelbaar. Jy sien die affair op ʼn myl, asook die rugstekery.
Weer eens is die premis van die film verregaande. Niemand teken deesdae ʼn dokument wat halfpad onder ʼn hoop papiere weggesteek is nie.
Kolskoot
Die openingstoneel by die begrafnis is omtrent perfek – die dol karakters, die paar tekkies, die sigeuner-/wêreldmusiek en die rent-a-mourner-plakker agter op die Mini.
Die regisseur se oog vir besonderhede beïndruk – die ou Mini, die dooie goudvissies, die Crocs, die hout-enkelbedjie, baked beans uit ʼn blikkie eet en die tuindwergies wat omgery word.
Dan is daar ongelooflik snaakse tonele, soos die toaster in die bad, die kat en die glasbottel en die biker wat met gekruiste arms in die kroeg staan.
Al wat ek teen die film het, is die stomp einde, maar dan hoop ek iemand neem dit as inspirasie om ʼn vollengte Kolskoot te verfilm. Ag toe.
Arts
Die werklik mooi openingstoneel met die toerusting, potlode en hout is net die begin van ʼn film wat met groot sorg vertolk en verfilm is.
Estelle se obsessiewe gewoontes word realisties vasgevang. Sy word dank vader nie as dom uitgebeeld nie, maar dit waartoe sy in staat is, word ook nie verromantiseer nie. Ek het nie die wending sien kom soos in baie van die ander kortfilms nie. Welgedaan.
Ander hoogtepunte was die stres van die ouers wat uitgebeeld word, en dat dit gewoonlik die pa’s is wat wegloop.
Spoorloos
Spoorloos het goed afgeskop met die pa-en-dogters-toneel. Sy absolute liefde vir hulle was duidelik. Dan loop dinge skeef. Sy belangstelling in die vrou wat hy maar drie keer in sy taxi rondry, ontwikkel te vinnig. Sy verlies is nie geloofwaardig nie. Sy kop op die stuurwiel, neerval op die sypaadjie is dus oortollig.
En weer is daar gate in die draaiboek. Hoe het hy by haar woonstelblok ingekom? Hoe het hy geweet in watter nommer sy bly? Die hangertjie wat oor die truspieëltjie hang, is soms daar, soms nie.
Mens kry insig in sy lewe, maar weet absoluut niks van haar nie.
Vlees van my vlees
Die energie tussen Erica Wessels en James Alexander was gemaklik, amper bekend. Die dialoog het natuurlik bygedra tot hul ongelooflike vertolkings. Dit is moeilik om ʼn bakleiery vas te vang sonder dat dit gedraaiboek klink. Matthys Boshoff het dit perfek reggekry in die uittrektoneel.
Daar was lieflike besonderhede wat baie aan ʼn mens se verbeelding oorgelaat het. Die hartmasjien wat ophou klop. Die vaderfiguur wat in die gang afloop. Die gebroke hart aan die einde …
Ek het dit reeds op FlitsTV gesê, maar ek sê dit weer. Dit is moeilik om die wêreld van ʼn erg gestremde persoon en sy of haar direkte familie vas te vang. Vlees van my vlees kry dit reg om in min of meer 20 minute die tragedie, die weerloosheid en totale hulpeloosheid uit te beeld.
Die bok
Die bok is, soos die meeste van die ander kortfilms, werklik mooi geskiet. Die dialoog is ouwêrelds, maar nie hakerig of vreemd nie. Christia Visser staan weer uit. Die bok is een van die min kortfilms waarvan die klaviermusiek nie stroperig was nie!
Hum
Perfekte rolverdeling. Ongelooflike stilering. (Sielkundige se spreekkamer.) Kinematografie wat bydra tot die bui van die film. Nie stroperige musiek nie! (Dit is raar.) ʼn Onderwerp nog nie in Afrikaans aangeraak nie.
In sy geheel is Hum ʼn perfek-geïntegreerde geheel van al sy onderdele.
Plankekoors
Die meeste van die kortfilms het ʼn soortgelyke gebleikte kleurskema gehad. Niks fout daarmee nie. Plankekoors se Wes Anderson-tipe helder, “OTT”-kleure het wel uitgestaan in die groep films. Dit was pret en het totaal en al sin gemaak vir die tipe film wat dit is.
Die dialoog was skerp, en nuut, en het gevloei tussen die gesoute Antoinette Kellerman en Greta Pieterse.
Weer was daar ʼn oog vir besonderhede: die stilering van die aantrekkamers, die trui met die katte op en die twee aktrises se grimering wat verander wanneer die perspektief verander.
Een van my gunstelinge.
Die biker
Die biker is ʼn lekker grillerige film met ʼn donker sin vir humor.
Van die besonderhede wat uitgestaan het, was die rytjie grafte, die naam Remhoogte, die aansteek van die sigaret met die kers.
Die beste deel van die film was die dialoog. Wanneer laas het jy “pens en pootjies”, “snert”, “gomtor”, “lae lak” of “asgat” gehoor?
ʼn Bietjie ekstra diepte/menslikheid sou nie seergemaak het nie.
Oom
Een van beste tonele uit al die films kom uit Oom. Pierre van Pletzen takel eers ʼn miershoop met die aktetas, dan spring hy op die tas tot dit flenters is. Die spoed van die toneel, Pierre se onhandigheid wat later meer aggressief word, laat jou eers lag, en dan frons.
Die blues, die ‘70s B-grade openingskrediete, die gebruik van ʼn ou VW Citi Golf, dialoog soos “Is jy ʼn lekker oom?” en “Chris werk net vir Chris”, is als lekker.
Die afdankingstoneel se kamerawerk het wel afgesteek teen die res van die film se kinematografie. Dit is ʼn gemiste geleentheid, want Anrich Herbst se slymerige vertolking was perfek.
My grootste probleem is die pakkie in die kattebak. (Ek wil nie te veel verklap nie.) Behalwe dat ek dié wending sien kom het, dink ek was dit uit karakter vir die oom.
http://kyknet.dstv.com/2016/06/14/silwerskermfees-2016-top-15-kortfilms
The post 'n Oorsig van die kortfilms van kykNET Silwerskermfees 2016 appeared first on LitNet.