Dit was herfs toe die seisoen gedraai het.
Ook ek het kombers oor kop
na binne gekeer,
opgekrul agter die najaar se sternum
op ’n hoop verrotte ideale.
Los my nou, laat my lê.
Moenie aan my skouer skud nie.
Ek is snoesig hier in die ribbekas
van die slapende seisoen.
Ek bedink nog die koue geraamtes
van treurige drome en verstote gedagtes
– vir oulaas –
voordat groen botsels en bont bloeisels
die roerlose stilte kom verjaag
met vrolike tierelier en beloftes
van hoop en warmte.
Los my tog, ek lê nog.
Ek is nou geheg aan die benerige vingers
wat my heel winter lank
monde vol melancholie voer.
Dit was herfs toe die seisoen gedraai het.
Sal my hart nog onthou hoe om te lente?
The post Dit was herfs toe die seisoen gedraai het appeared first on LitNet.