Beste Angus
Jy sê jy het aan my ‘bewys’ dat ‘sondebok’ nie verkeerdelik gebruik word nie (reaksie op my bewering dat, as mense aanhoudend verkeerd praat, dit naderhand in die woordeboek so opgeneem word en dan voortaan as korrek beskou word). Jy’t niks bewys nie; die teendeel is waar. Jy het mos nou gesien in die HAT word ‘sondebok’ aangegee as wat in Engels as ‘culprit’ vertaal sou word in plaas van ‘scapegoat’ wat die eintlike (ou) korrekte betekenis is. ‘Belhamel’ is dus wat die Engelse as ‘culprit’ sou vertaal maar deur langdurige verkeerde gebruik het ‘sondebok’ toe geword wat in Duits as ‘Anstifter’ of in Engels as ‘culprit’ vertaal kon word.
Ek is jammer ek het jou deurmekaar gemaak met ‘rondgegooi’. ‘n Ander manier om dit te sê sodat jy dit beter kan verstaan is miskien ‘wat ter sprake gekom het’. Woorde wat ter sprake gekom het was die verkeerde gebruik van ‘braaf’ as ‘dapper’ en ‘huidiglik’ in plaas van ‘huidig’, ‘tans’ of ‘teenswoordig’ of selfs ‘nou’. En soos jy sê, ‘huidiglik’ word so baie verkeerd gebruik dat dit ook in die woordeboek as korrek aangegee gaan word – presies wat ek sê; deur langdurige verkeerde gebruik word dit naderhand in die woordeboek opgeneem en as korrek aanvaar.
Wat ‘establishment’ betref is jy reg; ek was verkeerdelik onder die indruk dat dit ’n leenwoord is want, soos jy aan my uitgewys het, hy kom slegs in Engelse woordeboeke voor en kan dus godsonmoontlik ’n Afrikaanse woord wees. Dieselfde geld dan ook vir woorde soos ‘goals, ‘set’ (a goal), ‘achieve’, ‘usually’, ‘establish’, ‘relationship’, ‘vendor’ ens; komende uit die sinne wat ek aan jou gewys het as voorbeelde van baie swak Afrikaans. Volledigheidshalwe gee ek hulle maar weer: “Usually, as ek vir my goals geset het achieve ek hulle” en “Jy moet ‘n relationship establish met die vendor”.
Ek weet nie presies wat jou probleem ten opsigte van losskryf en vasskryf is nie, want jy praat heel kundig van samestellings en tog het jy op ’n stadium gekla oor die ‘lompheid’ van vasskryf (ek het nog vir jou ’n foto geplaas van ’n lang Duitse woord om te wys hulle is nie gepla daarmee nie). So wat sê jy nou eintlik? Moet jy samestellings vas skryf maar, indien dit vir jou lomp lyk, kan jy dit maar los skryf? Jy karring ook gedurig met ‘geel wortel’ en ‘geelwortel’. Dis maklik, ‘geel wortel’ is ‘n wortel wat geel is maar ‘geelwortel’ is ’n soort wortel (jy kan selfs ’n rooi geelwortel kry maar nooit ’n rooi geel wortel nie). Weer eens ’n bewys van die verwarring wat ontstaan as mens sommer besluit jy skryf goed los.
Ook pla die begrip een-begrip-een-woord jou. Jy sê ‘die man eet kaas’ is ook een begrip en jy hou aan met hierdie idee ten spyte van die feit dat ek jou gewys het die Afrikaansonnie kon tog nie dink ‘diemaneetkaas’ is geldig nie. As jy die spelreëls lees behoort hierdie begrip vir jou duidelik te word.
Ek sien jy het nog nie die begrip ‘leenwoord’ onder die knie nie. ’n Leenwoord is ’n woord wat een taal uit ’n ander oorneem om ’n begrip te beskryf waarvoor die betrokke taal nie ’n gepaste woord het nie. ‘Voetstoots’ is byvoorbeeld ’n leenwoord in Engels vanuit Afrikaans. Die gebruik van Engelse woorde in Afrikaans is dus nie leenwoorde nie, dit is bloot hoe iemand praat wat Afrikaans nie goed magtig is nie.
Ek sien ook jy’t steeds ’n probleem met wat die onderwerp nou eintlik is. Laat ek dit weer stel: Dit is ’n teenstrydigheid dat woordeboeke, wat geraadpleeg word vir korrekte taalgebruik, woorde opneem wat verkeerd gebruik word sodat hierdie woorde dan voortaan as korrek gesien word.
Groetnis
Jan Rap
The post Reaksie op Angus se kommentaar onderaan my briewe van 12 en 23 Augustus 2016 appeared first on LitNet.