Nie alles is verlore vir swart studente aan Suid-Afrikaanse universiteite nie
Die afgryslike diskriminasie waaronder swart meisies aan vooraanstaande voormalige model C-hoërskole in drie provinsies van die land gebuk gaan, het opnuut bewys dat onderwys in die algemeen en hoër onderwys in die besonder in Suid-Afrika ’n voortslepende brandpunt sal bly. Brandpunte vereis uiteraard noodwendig indringende en pynlike hervormings. Hierdie artikel neem Marinus Wiechers se onlangse bydrae getiteld “Quo vadis, Suid-Afrikaanse universiteite?” as ’n vertrekpunt in ’n poging om sekere van sy uitlatings en standpunte en die reaksie van enkele lesers krities onder die soeklig te plaas. In hoeverre Wiechers ook in gebreke bly om vernuwend, simpatiek en inklusief oor die verlede, hede en toekoms van universiteite te dink, word ook belig.
Wiechers se argumente bied nie slegs ’n venster op die legio uitdagings wat Suid-Afrikaanse universiteite se vreedsame voortbestaan bedreig nie, maar ontbloot die oudrektor se filosofies-onderwysbeskouings. In 2007 het Dan Roodt, die omstrede skrywer en meningspreker, Wiechers verkwalik dat hy dit durf waag het om Hendrik Verwoerd se groot intellek in twyfel te trek deur na sy (Verwoerd se) binnelandse beleid “as ’n uitwas van Britse imperialisme en kolonialisme in ’n nuwe vorm weergegee” te verwys. Dat Wiechers een van die land se intellektuele reuse is, betwyfel ek nie in die minste nie.
Profiel van die huidige universiteitstudente
Die profiel van die huidige studentekorps aan Suid-Afrikaanse universiteite het oor die afgelope twee dekade onherroeplik verander. Wiechers se waarneming in hierdie verband is heeltemal in die kol: die oorgrote meerderheid studente (Unisa inkluis) is swart (bruin, Indiër ea hierby ingesluit), arm. Hulle kom uit agtergeblewe gesinne, geweldgeteisterde gemeenskappe, arm swart skole waar finansiële beperkings belemmerend inwerk op die dinamika van die nuwe kurrikulum en buitemuurse aktiwiteite. Arm studente verdien aanmoediging en geleenthede. In 2015 het ’n tweeling uit die krotbuurt Khayelitsha op die Kaapse Vlakte hul mediese opleiding voltooi. Hul moeder werk as ’n bediende. Dit was gewis nie maklik vir hulle nie; inteendeel, ek het rede om te argumenteer dat die meerderheid swart studente onseker van hul kanse op akademiese sukses is. Dit verskil lynreg van die ooglopende selfvertroue wat hul wit medestudente op die kampus uitstraal. Dit is immers die universiteit waar hulle grootouers, ouers, broer en susters studeer het. In baie gevalle is vriendskapsbande oor jare met dosente gesmee wat ’n direkte impak op sodanige studente se sukses het. Dosente, personeel en studente deel in baie gevalle dieselfde geloofsoortuigings, kerk en sportkodes. Wiechers sal met my saamstem dat daar geldige redes is om aan te voer dat die speelvelde vir die verskillende studente op universiteite geensins gelyk is nie. ’n Oudrektor het sy lewe gewy om die universiteit se deure vir die talentvolle studente uit ’n behoeftige agtergrond oop te maak. Sy bekende Pedagogie van hoop het onder andere die visie onderstreep dat ’n universiteit toeganklik moet wees vir beide die seun van die plaasboer en die dogter van die plaasarbeider.
Verering van monumente
Wiechers se verwysings na studenteversetveldtogte as “betogings en rumoerigheid” mis die dieper erns van hierdie kwessie. Niemand kan onverskillig staan teenoor studente wat ’n eerlike en diepe wroeging met vreemde, koloniale en Afrikanersimbole het. Studente is ongemaklik om deel te wees van en respek te toon vir simbole wat onderdrukking en verontregting verteenwoordig. Hier dink ek aan die kwaadwillige beskadiging van wyle Steve Biko se standbeeld. Wit universiteite se openbare en private ruimtes is steeds gevul met erflatinge, monumente, kunswerke en skilderye wat die koloniale tydperk en Europese (Afrikaner-) kultuur verheerlik. Dit dien as bewys dat tradisioneel wit universiteite na 20 jaar van demokrasie nog glad nie swart studente se verwysingsvelde en aspirasies verstaan en na waarde skat nie. Op hierdie terreine lê nog baie harde werk voor.
Wiechers se uitspraak dat duisende studente geen leerkultuur het nie; die minste kennis van die universiteitswese of geen respek vir geleerdheid nie verteenwoordig ’n blatante vooroordeel jeens sodanige studente en verklap ’n verskuilde beheptheid met die handhawing en verlaging van akademiese standaarde. Om sout in die wonde te vryf eindig Wiechers sy pleidooi dat sodanige studente eerder vir tegniese opleiding voorberei word.
Ek wil lesers tot groter waaksaamheid oor ongeldige en onsimpatieke uitsprake oor arm studente roep. Om welke redes? Hier moet ons die advies van Eusebius McKaiser, politieke ontleder, media-omroeper, dosent en skrywer werklik ernstig ter harte neem. McKaiser oordeel dat die debat rondom swart meisies se hare in wese oor dieperliggende kwessies soos kultuur en identiteit strek. In die lig hiervan maan hy ’n bekende radio-omroeper: eerstens, erken dat jy nie alles omtrent swart mense en swart mense se hare weet nie; tweedens, toon nederigheid wanneer iemand vanuit sy of haar lewenservaring praat; en derdens, moet nooit dink jy het al die antwoorde uitgewerk omtrent mense wat fundamenteel anders as jy is nie.
Die dringende behoefte aan ’n pedagogie van menswaardigheid en hoop
Kommentaar op sosiale media toon ’n oordrewe beheptheid met onder andere die belangrikheid van moedertaalonderrig, hoë toelatingsvereistes, assessering en akademiese standaarde aan universiteite. Dit sal lesers veel baat om kennis te neem van Aletta Norval, ’n Afrikaanse bloubloed en visekanselier aan ’n voorste Britse universiteit, se standpunte oor taal en universiteitstoelatingsvereistes. “’n Mens kan nie net oor Afrikaans praat sonder om ook oor Xhosa en Zoeloe en al die ander inheemse tale te praat nie. Jy moet gelykwaardig dink oor hoe (akademiese opvoeding) sal werk vir studente van alle inheemse tale” – aldus Norval. Sy maak dit duidelik dat universitêre opvoeding nie net beperk is tot die kampus nie. Norval vind aansluiting by studente se eise dat ’n universiteit ’n plig het om sy groter samelewing te dien.
Norval onderstreep verder dat universiteite wat hul onderrig bly toespits op studente met A-vlak-toelating, hulle onderrigmetodes moet hersien. Ook haar universiteit moes daardie paradigmaskuif doen en dit bly selfs vir Norval ’n leerproses. By ’n onderwys-en-onderrig-werkswinkel wat ek onlangs bygewoon het, is die noodsaaklikheid van ’n verandering van die leeromgewing opnuut beklemtoon. Deelnemers was dit eens dat sodanige verandering van die leeromgewing geensins tot die verlaging van standaarde aanleiding gee nie. Norval bepleit dat dosente vooraf studente se kennisvlak en leerstyl moet bepaal ten einde hul onderrigmetodes te hersien.
Waar is ons ingenieurs van hoop en kennis?
DF Malan se toespraak by die Volkskongres oor die armblankevraagtsuk wat van 2 tot 5 Oktober 1934 in Kimberley gehou is, is in vele opsigte rigtinggewend vir die oplossing van sekere tergende onderwysuitdagings. Malan het in sy hoedanigheid as LV oor die siel van die armblanke gepraat en enkele voorstelle oor sy rehabilitasie gemaak. In weerwil van die ontdekking van groot mineraalbronne en die versnelde ekonomiese vooruitgang van die land het die armblanke agtergebly: ongeskoold, en met ’n ernstige minderwaardigheidskompleks. Die armblankevraagstuk was ongetwyfeld ’n ekonomiese probleem en maatreëls van suiwer ekonomiese aard was gebiedend noodsaaklik. Die ekonomiese rehabilitasie van die armblanke kan nie geskied sonder sy sielkundige rehabilitasie nie, aldus Malan. Ons wil hê dat die armblanke in homself en in sy eie krag en moontlikhede moet glo. Dit sal nie gebeur as iemand anders nie eers self toon dat hulle in hulle glo nie, het Malan gesê. Geloof in jouself word gewek deur die geloof wat ander in jou het.
Gegewe die haglike omstandigheide aan huis, in die buurt en skool is dit prysenswaardig dat swart leerders, soos in die geval van die mediese tweeling, bo hul omstandighede kan uitstyg. Die faktore en regeringsbeleide wat swart ekonomiese en opvoedkundige bemagtiging oor die dekades heen vertraag en uiteindelik verongeluk het, is welbekend en val ongelukkig buite hierdie artikel. Die destydse Britse premier Harold Macmillan se toespraak in die parlement in 1960 oor die winde van verandering wat oor Afrika waai, is nouliks te harte geneem. Die jare 1960 tot 1990 was ons afgryslikste jare, maar tog hunker konserwatiewe mense steeds daarna. Ons kan beswaarlik die verlede heeltemal uit die oog verloor. Robert Vosloo, vooraanstaande teoloog en skrywer, herinner ons dat “nie alleenlik het ons ’n begrip van die verlede nie, maar die verlede het ook ’n greep op ons”. Die verlede is daarom nie bloot verlede tyd nie, maar is aktief teenwoordig in ons geheue en verbeelding; dit leef op ’n positiewe en negatiewe manier in ons liggame, denke en drome. Die verlede is inderdaad op ’n kragtige en komplekse wyse teenwoordig. Dit is tragies dat sommige opvoedkundiges selektief die verlede inspan. Wat Malan in 1934 bepleit het en wat daarna tot 1994 vermag is om die armblanke op vele terreine te rehabiliteer, moet ook dus aan die arm swart bevolking in die algemeen en die swart student in die besonder gegun word.
Die hoop onder Suid-Afrikaners beskaam nie
Maar die hoop en verwagtinge onder Suid-Afrikaners is nie heeltemal uitgewis nie. Ek is innerlik oortuig dat elke menslike uitdaging die vrug van sy eie menslike oplossing dra. Die groeiende belangstelling in die redelik onlangse studieterrein van kompleksiteitstudies wys dat Suid-Afrikaners nie voor uitdagings swig nie. In hierdie skrywe word uitdagings gerig aan al die rolspelers in hoër onderwys om met vernuwende denkpatrone en rasionele ideale die boot in die troebel waters te navigeer. ’n Mengsel van filosofie, teologie en kompleksiteitstudies maak deel uit van die kontoere waarbinne oor die huidige uitdagings gedink en na praktiese oplossings gesoek moet word.
Hoëronderwys-amptenare in die algemeen en dosente in die besonder vervul ’n omvattende spektrum sleutelrolle. In vele opsigte is hulle “ingenieurs” van voortdurende en volhoubare vernuwing, diepe kennis en borrellende hoop. Die suksesvolle bestuur van hoëronderwysinstellings is tot ’n groot mate afhanklik van denkleiers wat in oorleg met alle rolspelers (staat, burgerlike samelewing, ens) optree.
Dosente wat altoos dink hulle werksomskrywing behels net roetine-doseerwerk, -assessering en -studentbevordering of terughou, bevind hulle duidelik in die verkeerde beroep. Dosente doseer nie net nie. In die nouste is hulle die bestuurders van studente se lewe. Hulle dui rigting aan en stippel beroepsmoontlikhede aan studente uit. Hulle bring opstandige en verdwaalde studente tot emosionele, intellektuele en selfs geestelike rypheid en volwassenheid. Hulle verskaf die sleutels tot sukses wat studente later in hul lewens kan smaak. Hulle wakker hoop aan in studente wat geen toekomsdrome het nie. Meer nog, hulle verskaf die nodige lewensvaardighede vir die uitdagings van die 21ste eeu. Hulle daag konvensionele en uitgediende onderwysteorieë uit. Hulle weet hoe om vyandige student hulle vriende te maak. Hoe om studente se gebrekkige taalvermoë te verbeter. Hoe om studente te loof eerder as om in die klas te verneder. Hulle bewys dat dosente mag lief wees vir hul studente. Hulle onderriglokale adem die gees van menswaardigheid, warmte en beskerming, ’n atmosfeer waarin studente hulle “dom” vrae kan vra sonder om veroordeel te word. Hulle kantore is allermins ivoortorings waarbinne dosente teen lastige studente skuil. Inteendeel, hulle kantore is ruimtes waarbinne studente hulle diepste geheime kan kom deel en die advies van dosente kan vra. Geen geld sal ooit genoeg wees om dosente vir hulle onbaatsugtige diens te betaal nie.
Transformasie van universiteitspersoneel
Ek is diep besorg dat Wiechers nalaat om sy landgenote en veral hulle in die akademie tot ’n nuwe patriotisme te roep. Inteendeel, hy loof eerder die suksesse van ’n nuwe Afrikaanse instelling. Een afleiding is dat binne sodanige instelling “vreemdelinge” wat nie die Afrikaanse taal op sy hoogste vlak kan bemeester nie, geen of moeilik toelating sal kry. Volkshelde van die verlede mag weer hul regmatige plekke in die ruimtes van hierdie instellings inneem. Dat sodanige instellings moontlik geen swart dosent of swart student sal toelaat of aanstel nie, word buite rekening gelaat. Suid-Afrika kan dit beswaarlik bekostig. Dit is nie die pad van nasiebou en ’n inklusiewe en menswaardige samelewing nie. Gegewe die donker prentjie aan Suid-Afrikaanse universiteite, is ons by die kruispad. Ons het nou dringend denkleiers nodig; persone wat die joernalis Willem Pretorius “rebelle van gees” noem; individue wat vir universele menseregte en bindende waardes pleit. Diegene is mense van integriteit; mense met die vasberadenheid en vermoë om mislukkings in suksesse om te draai, om drome te verwesenlik, ongeag die uitdagings van omstandighede. Denkleiers wat gemiddelde studente tot groter akademiese hoogtes en prestasies sal inspireer.
Slot
Ek is dit eens met Wiechers dat hoër onderwys in Suid-Afrika inderdaad voor groot uitdagings staan, waarvan studente se eis van geen verhoging van studentegelde een van die kwellendste blyk te wees. Hierop het ek nie ’n antwoord nie. ’n Huis wat verdeeld is, kom vinnig tot ’n val. Suid-Afrika kan dit beswaarlik bekostig dat sy universiteite heeltemal oor die afgrond tuimel. Die gevolge is eenvoudig te senutergend om aan te dink. Ter wille van die toekoms van ons jeug en nageslag bepleit ek dat as vertrekpunt dit vir Suid-Afrikaanse universiteite noodsaaklik is om ons land se nasionale leuse van “eenheid in verskeidenheid” na te streef. Vir die swart student en swart dosent moet universiteite ruimtes bied waarbinne hulle erfenis, menswaardigheid en ideale op prys gestel word.
Een Bybelse les wat ons ter harte kan neem dateer uit die geskiedenis van die leier Gideon in die Ou Testament wat sy leër van 3 000 vegters tot 300 ingekort en steeds oorwinning behaal het. Die les van die storie is dat met min veel uitgerig kan word. Ons moet daarteen stry om alle hervormings aan universiteite totaal aan finansies te koppel.
- Die skrywer is verbonde aan die Fakulteit Krygskunde, Universiteit Stellenbosch. Hy skryf hier in sy persoonlike hoedanigheid.
Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
The post Suid-Afrikaanse universiteite: Nie alles is verlore nie appeared first on LitNet.