Anna-Mart van der Merwe gesels met Yolanda Wessels oor Clara, lekker kos en sensualiteit.
Met Dis koue kos, skat op almal se lippe het Yolanda Wessels meer gaan uitvind by die geliefde aktrise Anna-Mart van der Merwe oor haar allegaartjierolle van Clara Brandt tot haar nuutste produksie.
Marita van der Vyver vertel dat sy aan niemand beter kon dink om Clara te vertolk nie – dis seker ‘n groot eer en voorreg om aan dié karakter te kon lewe gee?
‘n Eer, voorreg én groot geskenk van Marita af. Ek het groot respek vir skrywers en besef dat hul vir maande (jare?!) saam met ‘n karakter leef. Daarom is ek ewig dankbaar vir die geleentheid om Marita se Clara Brandt te mog leer ken en ervaar.
Ek verstaan dat jy siek was tydens die verfilming, maar ten spyte daarvan moes jy aangaan – dit was seker ‘n uitdaging?
In my bedryf bestaan daar nie iets soos siek word nie. Slegs ‘n doodsertifikaat kan verhoed dat die gordyne daai aand sal oopgaan. In alle erns, egter: dit was winter en ons het maar almal siek geword. Die samehorigheid op stel was ongelooflik en het mens regop gehou.
Marita het verduidelik dat om ‘n karakter in haar kop te hê, die oorgang na ‘n rolprent en ‘n gepaste persoon om die rol te vertolk, geensins ‘n probleem was nie en jy was ongetwyfeld die gekose persoon. Was dit ‘n intimiderende ervaring om Marita op stel te hê?
Nie op ‘n persoonlike vlak nie. Marita is so ‘n warm, vrygewige mens en energie om naby jou te hê, dus het haar teenwoordigheid my veilig laat voel en krag gegee. Op ‘n professionele vlak was daar dalk soms wel ‘n gevoel van jy hoop die werk voldoen aan haar verwagtinge!
Dit was die tweede rolprent waarvan Marita die skrywer is waarin jy te siene is. Geniet jy die tipe karakterrolle wat onder haar pen ontwikkel?
Ja, want Marita het soms ‘n rebelse en aweregse manier van na die lewe kyk en hoe sy haar karakters benader. Sy skep protagoniste met menslikheid, feilbaarheid en soms voete van klei.
Dit lyk of jy ‘n baie gemaklike en selfversekerde persoon is en of jy werklik met almal oor die weg kom. Hoe was die ondervinding om saam met jou mede-akteurs en Etienne Fourie te werk aan dié fliek?
Wonderlik! In my tipe werk is daar nie tyd om vir maande lank eers mekaar te leer ken, gemaklik te raak en dan aan die einde van die jaar by die Kerspartytjie vir die eerste keer sommer lekker saam te kuier nie. Ons moet van dag een af inspring en baie naby, intens en intiem saamwerk. Hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat ons almal maar eintlik by tye onseker is en dat oë toemaak, hande vat en saam inspring maar die enigste manier is. Die seëning van Koue kos was dat daar van dag een af geen grense tussen die tegniese span en spelers was nie. Ons was een.
Die deurlopende tema is wraak en Clara ervaar die verskillende fases wat gepaardgaan met herstel, woede, aanvaarding, om haar kinders gebalanseerd groot te maak, die soeke na genesing en selfs weer romanse. Hoe berei jy jouself voor vir die karakter om die rol oortuigend te vertolk in ‘n situasie waarin jy jou dalk nooit bevind het nie?
Verbeelding is ‘n magtige ding en die skrywer gee jou al die bakens, tekens en simbole via sy/haar teks. Ek moet na gelang van my eie menslikheid gaan soek na die karakter en haar eie, unieke innerlike lewe.
Natuurlik is daar heelwat kos ter sprake in die film. Kos én gewig is sekerlik die meeste vrouens se swakheid én kopseer en daarom ‘n voortdurende stryd. Is jy gemaklik in jou eie lyf of hoe het dié rol jou beïnvloed of moes jy byvoorbeeld bietjie meer oefen ná voltooiing van die rolprent?
Op my ouderdom raak ek al hoe meer gemaklik in my lyf en is net dankbaar vir gesondwees. Ek het van nature ‘n “boeremeisie”-lyf en dit probeer ek handhaaf. Na gelang van ‘n rol sal ek bietjie verloor of optel. As akteur is jou lyf jou instrument en moet jy dit aanwend soos benodig. Wat Koue kos betref: ek was die gewillige ontvanger (eter J) van heerlike kos in ‘n menigte tonele en dit was so reg vir die karakter!
Clara is ‘n kosskrywer. Hoe tuis is jý in die kombuis?
Ek leef nie noodwendig in die kombuis nie, maar is wel baie tuis daar. Ek en my man hou van mense om ons tafel en kook baie gereeld saam.
Lekkernye is dikwels “gemakskos” – is dit iets waarmee jy kan assosieer?
O ja, ons almal ervaar maar soms ‘n “leemte” wat in die oomblik slegs deur orale vertroosting gevul kan word …
Hoe gemaklik was jy om jou sensualiteit én seksualiteit te gebruik vir karakterontwikkeling in die film?
Baie gemaklik, want Etienne Fourie en my medespelers het my veilig laat voel en weer eens, soos met die kos, lê die karakter Clara se sensualiteit in ‘n sensoriese, tasbare ervaring van die lewe.
Hoe benader jy romantiese tonele (soen, naaktonele ens), en is dit makliker of moeiliker saam met ‘n mede-akteur wat jy goed ken (in dié geval Frank Opperman)?
Dié tipe ding kan dalk ongemaklik wees, maar die regisseur skep ‘n omgewing waarin almal kan ontspan en dan is daar iets soos vertroue en professionaliteit en doodeenvoudig die ding doen. Daar’s ‘n storie wat ons moet vertel, so get on with it.
Dit moes sekerlik ‘n interessante ondervinding wees om die skerm te deel met die Doug, die oulike mopshond? Watter uitdagings het dit gehad?
Die uitdaging was om in ‘n karakter te bly en te konsentreer, want Doug was eenvoudig die oulikste ding op vier bene!!
Vind jy om saam met akteurs te werk wat jy goed ken of selfs mee bevriend is, lei soms tot impromptu vertolkings ipv om streng by die teks te hou?
Nee, ons het streng by die teks gebly. As jy medespelers het wat jy goed ken, is die kanse beter om dalk met meer gemak die teks te kan interpreteer en kreatiewe maniere te ontdek hoe om bietjie met die toneel rond te speel.
Die meeste filmresensies prys die watertandlekker disse, pragtige dekor en uitstaande rolvertolkings. Wat sou jy uitsonder wat jy graag sal onthou van betrokkenheid by die film?
Marita se Clara, Etienne Fourie, om met ‘n jonger generasie van filmmakers te kon werk en die samehorigheid wat ons op stel gehad het.
Clara word op ‘n reis geneem met die slotsom van selfaanvaarding. Etienne Fourie noem dat die element van vergifnis vir hom uitstaan. Wat is jou mening oor wat fliekgangers kan leer en saam met hul neem wanneer hul uit die teater stap?
Jy is nie die somtotaal van die traumas in jou lewe nie. Soms moet ons daai rugsakke afruk, uitskud en aanstap.
Die film het heelwat Silwerskermfees-benoemings gehad. Wat was jou ondervinding by die onlangse Silwerskermfees?
Ek kon dit ongelukkig nie bywoon nie, want ons was aan’t speel in die Fugard-teater met The painted rocks by Revolver Creek, Athol Fugard se jongste stuk.
Met soveel jare ondervinding as aktrise, van vollengte-rolprente, televisiereekse en teater wat teruggaan tot 1989, wat is jou gunstelingmedium of hoogtepunte wat jy graag wil uitsonder?
Die verhoog bly my gunstelingmedium en ‘n tuiste vir my.
Jy het ook al in heelparty reekse gespeel. Ervaar jy dit meer uitdagend van aard met die besige, aaneenlopende roetine as met films?
Dit hang alles af van die grootte van jou rol. Hetsy met ‘n film of ‘n reeks, skiet jy uit kontinuïteit en kan dit gebeur dat jou roepe (werksdae) versprei oor die skietperiode is of dat jy vinnig al jou tonele klaarskiet. Met ‘n fliek soos Koue kos was dit als baie vinnig as gevolg van ‘n kort skietperiode en baie tonele en dan is dit uitdagend, want tyd vir werklik voorberei is min.
Jy speel in ‘n wye verskeidenheid uiteenlopende rolle en dit kom voor of jy ewe gemaklik is met drama as met humor. Ervaar jy egter die een moeiliker as die ander?
Die top komediante sal jou mooi kan vertel van die uiters fyn en spesiale tegniek aan komedie/humor en ja, dis nie altyd maklik nie. Albei tipe rolle is egter ‘n uitdaging en laat mens elke keer weer aan jou gereedskap slyp.
Soss jy genoem het, is jy tans te sien in Athol Fugard se The painted rocks. Vertel ons bietjie meer daarvan asseblief?
As ek sê dat teater soos ‘n tuiste vir my is, is The painted rocks een van die mees besonderse ervarings in my lewe. Om saam met Athol Fugard en Paula Fourie sy nuwe teks te mog ondersoek, bespreek en ervaar, was doodeenvoudig magies. Wat ‘n geskenk en voorreg! My maag staan blinkpens gevreet.
- Foto's deur Johan Prinsloo
- Dis koue kos, skat vertoon op die oomblik landwyd in filmteaters.
- The Painted Rocks at Revolver Creek word tot die 24ste September by die Fugardteater opgevoer.
The post Onderhoud: Anna-Mart van der Merwe sélf tuis voor die kospotte appeared first on LitNet.