Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Student, waardeer jou studie

$
0
0

 

Fotobron: www.thekharkivtimes.com

Ek durf my nie as ‘n kenner van tersiêre instellings en opvoeding uitgee nie. As student kan ek egter wel ‘n gedagte of twee opper.

Toe ek op laerskool in Vereeniging was, was ek bewus van opsies vir eendag se leer. By my pa en ma se werk, die landdroskantoor, het daar gereeld regstudente van Johannesburgse universiteite as deel van hulle kursusse in die kantore of howe kom hand bysit. Hulle was vrolike, skerpsinnige mense wat aan die permanente personeellede (en hulle kinders) baie plesier verskaf het. Verder weg was daar Pretoria, Potchefstroom en Bloemfontein, en dan Natal en die Kaapse plekke soos Stellenbosch. Al hierdie instansies met hulle leerplanne, jaarlikse jool, slim vroue en onnutsige mans het my aandag getrek. Ek het gedroom ek sou eendag ook kan gaan leer, in ‘n netjiese baadjie saam met ‘n vrou langs ‘n spruit wandel, filosofiese gesprekke met wyse mense voer, studentepret beleef en uiteindelik as ‘n belese en gerekende en vervulde mens die grootmenswêreld betree.

Maar eintlik, in my hart van harte, was daar net een universiteit. As dit kom by werk – as dit kom by regtig gaan sit en swoeg soos jy swot – was daar een plek wat kop en skouers en bolyf bo die ander uitgetoring het. Dit was Unisa. Want Unisa was waar my pa geswot het. Ek het hom saans by die eetkamertafel sien sit, bril op, sigarette by hom, sy kop ‘n skaduwee oor die boeke onder die lamp. Hier, in sy teenwoordigheid met daardie vaal studiegidse voor hom waarin hy ‘n paar woorde uit elke paragraaf onderstreep of oorgeskryf het op ‘n skryfblok langs hom, het ‘n begrip in my kop vasgesteek waarvoor ek vandag nog groot agting het – dit waarin akademici, filosowe en skrywers hulle verdiep, iets wat ‘n mens seker die monniketaak sou kon noem.

Na skool en die army kon ek nie gaan leer nie. My skooluitslae was te swak vir my om vir beurse in aanmerking te kom. Ek het in ‘n rekenaarwinkel gaan werk. Dit was aanvanklik nie sleg nie, maar bitter gou het ek besef: sonder opleiding en kwalifikasies gaan ek vassteek waar ek is. So het ek ‘n sertifikaat in vryskutjoernalistiek verwerf, danksy my destydse baas wat vir die driemaandekursus by die Kaapse Technikon betaal het. Later by Sanlam het ek sertifikate in rekenaarkursusse gekry. Natuurlik leer ‘n mens in elk geval heelwat in die werkplek. Jy bly tog lewenslank vaardighede opdoen of slyp. Buitendien is die wêreld vol leersame boeke as ‘n mens net die moeite doen om ‘n paar van hulle oop te slaan. Maar dis die jare wat ek aan Unisa-kursusse bestee het wat ek as my eintlike amptelike opvoeding beskou.

Hoe presies dit gesteld is met so ‘n opvoeding nadat ‘n mens tog op skool leer lees en skryf, is ek nie seker nie. Baie mense beskou dit as iets waarop elke mens geregtig is. Dit is dus vir hulle vanselfsprekend, tersiêre onderrig. Maar dit is juis nie. Dit val soveel mense nooit te beurt nie. Dit is nie ‘n reg nie, dis ‘n voorreg. Dit is spesiaal. Dit is iets besonders om ‘n kwalifikasie te verwerf, iets om oor begeesterd te wees en hoog oor op te gee. Om oor dankbaar te wees.

Dis ook nie maklik nie en dit moenie wees nie. Daardie twee dae lange gesukkel met een ongewone tienpuntvraag in ‘n werkopdrag is van meer waarde as die essay wat ‘n mens in ‘n rustige twee uur oor ‘n oorbekende literêre werk kan skryf. ‘n Mens doen ‘n kursus met die oog op kennisverwerwing, het ek gemeen. Kennis is die bestaansreg vir die monniketaak. Dit het ek bly dink.

Wat my egter af en toe tydens my voorgraadse jare frustreer het, was sommige studente se ontevredenheid. Miskien moet ek my eie gemoedskalmte aan die ouderdom of ‘n persoonlike voorkeur vir gelatenheid toeskryf, ek weet nie. Maar sommige ander het dinge beslis nie soos ek ervaar nie en met alles fout gevind: Unisa se administrasie; die voorsiening van studiemateriaal; die toeganklikheid van die dosente; die moeilikheidsgraad van die modules. Hierdie klagtes is op besprekingsforums geopper en van tyd tot tyd het dosente reageer. Gewoonlik kon hulle maar gelos het, want hierdie studente wou niks hoor nie behalwe dat hulle te na gekom is. Daar was (vir my, in elk geval) so ‘n verset wat baie van die mense gemeen gehad het, sommer ‘n algemene verwensende houdinge teenoor gesag en die einste mense wat hulle in werklikheid wou help. My eie ervaring van die administrasie, beskikbaarheid van materiaal, toeganklikheid van dosente en die graad van ingewikkeldheid was goed. Soms, onvermydelik, was daar probleme en ek het mense gekontak wat my gehelp het. Gewoonlik is die probleme uitgestryk, een of twee keer nie. Maar ‘n mens moet jou lot aanvaar en jou seëninge tel. Vandag is ek trots om te kan sê: ek was 47 toe ek ‘n BA-graad met Afrikaans en Engels as hoofvakke verwerf. Ek het daardie ding gekry waaroor hulle sê: “Niemand kan dit van jou wegvat nie.” Dankie, Unisa, regtig baie dankie.

Natuurlik sou dit ‘n heel ander storie gewees het om op 20 voltyds te swot. Miskien kan ek my nie eens voorstel hoe dit moet wees nie. Ek wil tog sê: gebrei deur jou dosente, gelei deur jou rektor en geskaaf deur jou medestudente behoort jy te leer nie net om jou verstand te slyp nie, maar ook hoe om ‘n volwaardige bevoorregte lid van die samelewing te word.

Ek dink nie ons moet daardie woordjie “bevoorregte” uitlaat nie. Dit moet voor in ons gedagtes bly wanneer ons universiteite bespreek. Baie mense vra of daardie bevoorregting nodig is in ons samelewing. Soms beantwoord instellings die vraag deur meer studente goedsmoeds te akkommodeer ten spyte van hulle vermoëns.

As daar ‘n nadeel aan hoër opvoeding is, is dit juis met een van die voordele daarvan verstrengel: ‘n sekere eksklusiewe ingesteldheid. Sommige studente ag dit deel van die beloning, dis hoekom hulle by die ivoortoring intrek; dis om mense agter te laat en die geselskap van hul eweknieë te geniet wanneer dié hulle bewys het as waardig. Ander besef genadiglik dat dinge so maklik ook vir hulle anders kon gewees het en het meer deernis met die oningelyfdes. Nog ander besef dat die punt van opvoeding nie sosiale bevordering is nie, maar doeltreffender denke, die verbetering van die wêreld. Dit sal sekerlik doeltreffende denke verg om die kwessies van hierdie seminaar op te los, die wêreld te verbeter.

Die deelnemers aan die seminaar en die kommentators in die pers wys op sake soos taalbeleid en die relevansie van instellings. Wat die taalkwessie betref, moet ons miskien eens en vir altyd vasstel of dit werklik die moeite en geld werd is om hulpbronne in ander tale as Engels te belê. Is die antwoord vasgestel op grond van meer as sentiment en blinde lojaliteit en is die antwoord ja, soos ek hoop dit is, lyk dit vir my asof iets gedoen kan word indien Afrikaanse taalgebruikers hande vat met gebruikers van Afrikatale en laasgenoemde help om hulle tale akademies te versterk om dan as kleiner, maar nie mindere nie, teenvoeters vir Engels te dien, op die patroon van Afrikaans na. As so ‘n inisiatief egter op groot skaal moet posvat, want dit sal natuurlik meer betrek as die woelinge op akademiese gebied, sal dit hulpbronne verg en veranderende gesindhede onder die bevolking wat meer sal moet wees as lippediens aan die onvermydelikheid. Ons sal moet wil help. Die potensiaal is egter daar. Ons het reeds ‘n sterk vertaaltradisie in Suid-Afrika, nie net in die akademie, skole en veral tussen Engels en Afrikaans nie, maar ook in die staatsdepartemente en in die privaatsektor. Daar is etlike ervare mense van uiteenlopende linguistiese herkoms in die howe, parlement, diverse departemente, besighede en winkels werksaam wie se kundigheid wat, juis omdat dit op voetsoolvlak opgedoen is, met praktiese vrug na die noodwendig meer kunsmatige opleidingsomgewing oorgedra kan word. Ons kan ook uit die informele sektor wat (lyk dit vir my, in elk geval) aan minder sosiale inperkinge onderhewig is, heelwat leer oor makliker wisselwerking tussen mense uit verskillende omgewings en stande. Daar sal egter waarskynlik vergeet moet word van die ingesteldheid dat swart wen en wit verbeur sodra ons assosieer. Die ou siening, “Ek is nie rasbewus nie, ek is klasbewus”, gaan ook nie op nie, want dis bloot ‘n selfsussende verskoning. ‘n Nuwe gesindheid sal moontlik net met groot moeite kom. ‘n Verandering in gesindhede nou sal dalk eers ‘n latere generasie die vrugte daarvan laat pluk. Miskien beskryf ek ‘n proses wat reeds minstens sedert 1990 aan die gang is. Indien wel, val dit ‘n mens op dat dit ‘n tydsame proses is gekenmerk deur terugval en konflik. Geduld is aan die orde van die dag.

Dan is dit baie waar dat kolleges ‘n oplossing bied vir vaardigheidstekorte, maar terselfdertyd is die universiteite met hulle status so aanloklik. Sosio-ekonomiese gesindhede moet moontlik eers stabiliseer voor ‘n balans verkry word. Dit ontgaan my nie dat ook ek ten minste deels deur die status van universiteite gelok is en dat ek as skoolverlater met gemiddelde matriekuitslae miskien self eerder ‘n kandidaat vir ‘n kollege was, maar dit is ook so dat die dertigtal letterkundeverwante modules wat ek uiteindelik vir die graad voltooi het, al meermale nuttig te pas in skryfwerk gekom het en hiermee weer van waarde is. Ek beskou my eie studiepoging dus as tersaaklike opleiding. In terme van finansies, en miskien lewenstandaard, sou ek wel beter kon gevaar het as ek ‘n kursus in die herstel van apparate geloop het, dit sien ek in die voorbeeld van die man wat tans aan ons yskas werk. Nie net kon hy ‘n kind universiteit toe stuur nie, hy het ook meer werk as waarby hy kan uitkom. Hy besit ook sosiale kasjet as leweraar van ‘n diens waarvan ‘n mens makliker die nut insien as van boeke skryf.

Ek voel wel ek moet sê: Student, waardeer wat jy daar kry, waar jy ook al leer, jy wat kan swot en by die slimste, gedissiplineerdste eksponente van jou vak iets kan leer wat jou nie net van werk mag voorsien nie, maar van jou ‘n ryper mens maak, iemand met tyd vir ander sieninge, met deernis vir jou medemens. Onthou ook: jou medemens is baie keer nie die ou wat jou telkens in die down-downs of Wiskunde II troef nie, dis eerder daardie persone in jou omgewing wat nie jou lot deel nie en met minder as jy tevrede moet wees. Dalk werk hulle in jou huis, of vir jou pa, of hulle gooi petrol in jou kar. Praat met hulle. Ontdek dat ook hulle ambisie en drome het. Wanneer hulle daardie dinge op hul manier bereik of hul kinders in staat stel om dit te doen, moet jy dit kan erken, net soseer as wat jy van ander verwag om jou prestasies te erken. En al leer jy nie dadelik iets wat nuttig te pas sal kom in ‘n Sielkunde III-werkopdrag nie, het jy dalk ‘n klein bruggie help bou.

 


Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

The post Student, waardeer jou studie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20654

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!