LitNet Akademies kondig hiermee die drie wenners van die Einstein-kompetisie aan.
Die algehele wenner van die kompetisie is Anneke Schoeman, ’n entomologie-honneursstudent aan die Universiteit van Pretoria. Haar inskrywing het skoonskip gemaak met stemme deur al sewe beoordelaars. Die tweede prys is toegeken aan Wynand Goosen, ’n TB-navorser aan die Universiteit Stellenbosch, en die derde prys aan Theunis Smit, ’n doktorsgraadstudent in plantproduksie aan die Universiteit van Pretoria.
Anneke Schoeman
Eerste Prys: R10 000
Ek is 'n entoesiastiese entomoloog wat daarin belangstel om die velde van natuurwetenskap en die lettere met mekaar te versoen.
Tans is ek by die Miskruiernavorsingsgroep van die Universiteit van Pretoria besig met my honneursprojek oor die spesiasie van miskruiers op grond van hulle chemiese ekologie terwyl ek deeltyds ook by Tukkies tale studeer. Dit is my droom om eendag my wetenskaplike en taalkennis saam te smelt en aan te wend om 'n belangstelling in en liefde vir die wondere van die natuur by Jan Alleman te kweek.
Vir meer inligting rakende my navorsing en dié van my mededierkundiges, besoek gerus ons departementele webwerf.
Wynand Goosen
Tweede Prys: R5 000
Wynand is 27 jaar oud en in die finale jaar van sy doktorsgraad. Gedurende sy studies het hy beduidende bydraes tot TB-navorsing in grootwild gelewer. Hy het sy meestersgraad opgegradeer na 'n doktorsgraad en is die hoofskrywer van etlike publikasies:
• cvi.asm.org/content/22/8/974.full
• www.sciencedirect.com/science/
article/pii/S0165242716300381
• www.sciencedirect.com/science/
article/pii/S0165242714000816
• www.sciencedirect.com/science/
article/pii/S0165242714002463
• onlinelibrary.wiley.com/doi/
10.1111/tbed.12436/full
Theunis Smit
Derde Prys: R2 000
Ek is 'n doktorsgraadstudent aan die Universiteit van Pretoria en my studies aan die universiteit behoort my vir ongeveer drie jaar besig te hou, maar my passie vir navorsing sal altyd uitgeleef word.
Ek is ook 'n tegniese adviseur vir makadamiaboere in die Laeveld en in KwaZulu-Natal, wat my die geleentheid bied om navorsing te doen wat werklik bydra tot landbou en wat nie net daarop gemik is om in 'n mooi gedrukte proefskrif op my ma se koffietafel te wees nie.
Ek is ook die alleeneienaar van 'n agterplaas-spekboomplantasie wat tot dusver nog geen spek opgelewer het nie. In my vrye tyd probeer ek uitvind hoekom nie ...
LitNet Akademies
Die LitNet Akademies-beoordelaarspaneel het die kortlys van 30 inskrywings op grond van helderheid, gehalte, formulering asook kreatiewe aanbieding beoordeel. Etienne van Heerden, hoofredakteur van LitNet Akademies, het gesê dat dit lekker was om te sien hoe jong navorsers hul belangstellingsvelde verken en boonop in staat is om hul navorsingswerk vindingryk op te som:
Die wye spektrum (van regskwessies tot biologiese verskynsels tot geskiedenis) wat jongmense bekyk, beeld mooi uit hoedat elke generasie die grense van kennis versit. Vir my as beoordelaar was Anneke Schoeman se studie van miskruiers se geflikflooi ook die gunsteling. Baie geluk aan die wenners en dankie aan al die deelnemers. Ons hou duim vas vir ons jong navorsers.
Ontmoet die beoordelaars van die Einstein-kompetisie:
Etienne van Heerden, hoofredakteur
Naomi Bruwer, redaksionele bestuurder
Francis Galloway, Geesteswetenskappe-redakteur
Pieter GR de Villiers, Godsdienswetenskappe-redakteur
Estelle Kruger, Opvoedkunde-redakteur
Dirk Laurie, Natuurwetenskappe-redakteur
Johann Neethling, Regte-redakteur
Ontmoet die Einstein-kompetisie-span:
Imke van Heerden, konsep, projekbestuur en produksie
Nicky Grieshaber, taaladviseur
- LitNet Akademies plaas geakkrediteerde akademiese materiaal op ’n ooptoegang-platform en bestaan uit vyf bene, naamlik Geesteswetenskappe, Godsdienswetenskappe, Opvoedkunde, Natuurwetenskappe en Regte. R9 000 word betaal vir elke nuwe artikel wat gepubliseer word. Lees nog oor – en sluit aan by – hierdie dinamiese akademiese gemeenskap.
The post Einstein-kompetisie: Wenners appeared first on LitNet.