Ons taal is in gevaar om te verander, maar nie om te vergaan nie. Altans, dit sal nie sommer gou verdwyn nie.
Let op die syfers uit die 2011 Algemene Sensusopname. Daarvolgens is daar in die Wes-Kaap 2,8 miljoen mense wat Afrikaans as huistaal gebruik uit 'n totale bevolking van 5,8 miljoen, dws byna die helfte is Afrikaanssprekend. Engelssprekendes is maar 1,4 miljoen en die res is natuurlik isiXhosa en ander tale.
Seker maar min mense in die Wes-Kaap praat die suiwer Afrikaans wat die taalpuriste graag wil hoor. En daar is natuurlik 'n groot komponent wat die weergawe van die taal praat wat ons as platvloers beskou: ("Jou ma se...") Nogtans is daar 'n sterk verteenwoordiging van Afrikaans gekonsentreer in daardie landstreek.
In die Noord-Kaap, met 'n totale bevolking van net 1,15 miljoen, is daar 600 duisend Afrikaanssprekendes, dws meer as die helfte. Engels as huistaal word daar deur net 37 duisend mense gepraat.
Gauteng, met sy totale bevolking van 12,7 miljoen, spog met 1,5 miljoen Afrikaanses, met Engels 'n bietjie meer op 1,6 miljoen. Maar ek sal raai dat die konsentrasie Afrikaanssprekendes in Pretoria waarskynlik Engels oortref.
In die Vrystaat (totaal 2,75 miljoen) is Afrikaanses 340 duisend, teenoor Engels wat deur net 78 duisend mense as huistaal gepraat word.
Kwa-Zulu Natal het net 160 duisend Afrikaanses uit 'n totale bevolking van 12,3 miljoen. Engelssprekendes daar is 1,34 miljoen.
Dit lyk dus vir my of Afrikaans in veral sommige streke sterk verteenwoordig is en nie sommer sal wegkwyn nie.
Groete,
Tiens
The post Afrikaans is in gevaar appeared first on LitNet.