Captain Fantastic
Draaiboek en regie: Matt Ross
Spelers: Viggo Mortensen, Frank Langella, Trin Miller, George MacKay, Samantha Isler
Ek weet nie of dit valse advertering se skuld is nie, maar dié fliek is iets heel anders as wat ek verwag het. Dis nie Little Miss Sunshine nie, ook nie ’n komedie nie. Die titel ten spyt is hierdie ’n ernstige drama – ver weg van tipies Amerikaanse soetlikheid en sentimentaliteit, al lyk die plakkaat soos The Brady Bunch.
Ben (Viggo Mortensen) en Leslie Cash (Trin Miller) se lewensbeskouing is ekstreem. Hulle is gekant teen “die stelsel” en alles in die samelewing wat klakkeloos as “die norm” aanvaar word. Hulle het jare gelede ’n stuk berggrond gekoop, hulle daar teruggetrek saam met hul ses kinders en geleer om van die land af te leef. Hul ideaal was die skep van ’n paradys soos beskryf deur Plato, die invloedryke filosoof van antieke Griekeland; hul kinders is volgens die Platoniese model opgevoed om filosoof-konings te wees.
Die slang in die paradys was egter Leslie se siekte, bipolêre depressie. Om haar te probeer help, het Ben haar na haar skatryk ouers in Nieu-Mexiko geneem, waar sy ná drie maande haar polse gesny het. Ben se skoonpa verwyt hom dat hy Leslie na haar dood gedryf het, en sou Ben die begrafnis bywoon, sal hy hom laat arresteer. Maar Leslie se testament stipuleer kremasie in die natuur en Ben wil dit uitvoer, buig of bars.
Hierdie fliek is die kyk werd, maar wees voorbereid op nogal skokkende inhoud – dit laat jou behoorlik nadink oor vandag se siek samelewing. Gelukkig lei alles na ’n bevredigende slot.
Sterre: 4
The post Filmresensie: Captain Fantastic appeared first on LitNet.