
V&A Waterfront (fotobron: wheretostay.co.za)
binne God se blou lawalamp
goël die kleure en vorms psigedelies
tot die droom ’n donker wending neem
in die dooie oë en tentakels
van afsydige diepseedinge.
’n Bende pylsterte en ’n sonvis hou jou
om en om dop
soos veiligheidskameras van ’n ou seeheks
in die I&J Predators Tank.
Jy moet vis lees en water grondiger begryp
om vrede te hê hier tussen die wier en spoke
van beweging – enorme spinnekopkrappe
en ander nagmerries van tyd stap stadig
oor die bodem van bodems
terwyl rooi anemone sing
in dié primordiale poel:
Daar is vryheid in dié koue verstaan waar jy vandaan
kom rus in hierdie arms hoekom
uitstel of weifel?
Maar ek kies koers na die lig van die kaartjieskantoor en die curio shop.
Buite dobber die strate van Kaapstad
fotogenies op die ongemerkte grafte van slawe hier
haal ek makliker asem.
Onder water is g’n plek vir ’n sentimentele roofdier nie.
The post In die akwarium onder ons appeared first on LitNet.