Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21146

Boekresensie: Moordlys deur Henk Breytenbach

$
0
0

Moordlys
Henk Breytenbach
LAPA
ISBN: 9780799380248

Misdaadfiksie as genre vier tans hoogty in die Afrikaanse letterkunde. Deon Meyer het die bal aan die rol gesit en sedertdien kan lesers nie genoeg van hierdie tipe romans opslurp nie. Terselfdertyd het talle debuutskrywers die skrywersmark betree en het sommige reeds hul merk gelaat. Skrywers soos Deborah Steinmair, Bettina Wyngaard en meer onlangs Irna van Zyl met haar roman Moordvis (interessante woordspeling tussen die titels) sluit hul by Meyer aan en laat lesers behoorlik tou staan om die jongste misdaadroman te verslind.

Henk Breytenbach is reeds aan lesers bekend vir sy debuutroman Kodenaam Icarus. Soos met Meyer se Bennie Griesel-karakter, maak die hoofkarakter van Kodenaam Icarus, Vic Nel, weer sy verskyning in Moordlys. Vic Nel is die toonbeeld van die deursnee Afrikanerman in sy middeljare. Soos in die geval van die meeste Afrikanermans wat tydens die apartheidsbewind in die veiligheidsmagte gedien het, worstel Vic met spreekwoordelike spoke uit die verlede wat eenvoudig nie wil verdwyn nie. Sy geheime verlede het hom sy gesin en sy loopbaan gekos. ’n Video op YouTube dreig om al die ou wonde weer oop te krap.

Die roman skop af met ’n moordtoneel wat die leser onmiddellik nuuskierig laat. Een van die kenmerke van ’n suksesvolle misdaadroman is immers dat ’n lyk in die eerste paar bladsye opduik. Breytenbach het hierdie wenresep doelgerig gevolg. Die leser maak kennis met die moordenaar genaamd Felix. Felix se motief agter die verskeie moorde wat in die roman gepleeg word, bly egter onduidelik tot en met die slot wanneer die sluier gelig word. Maar is dit Felix wat die moorde pleeg? Of skuil daar meer agter hierdie geheimsinnige individu?

Vic Nel bevind homself midde in ’n drama by die werk. Hy word oornag ’n internetsensasie wat dreig om sy geheime verlede aan die klok te hang. Sy foto verskyn boonop op verskeie moordtonele en daadwerklike optrede is nodig om sy identiteit te beskerm. Die vraag is egter hoe hy dit gaan vermag.

Moordlys opper talle vrae wat verband hou met die werk van agente wat in die voormalige Nasionale Intelligensie-agentskap gedien het. Die val van die Berlynse muur in November 1989 het gelei tot drastiese politieke omwentelinge reg oor die wêreld. Met die beëindiging van kommunisme in die voormalige Sowjetunie het talle politieke veranderinge ook in Suid-Afrika plaasgevind wat tot die eerste nierassige demokratiese verkiesing in 1994 gelei het. Breytenbach fokus in die roman hoofsaaklik op diegene wat agter die skerms geheime opdragte vir die apartheidsregering uitgevoer het. Die Waarheids- en Versoeningskommissie en die rol van amnestie vir politieke misdade kom ook aan die bod. Die vraag rondom kollektiewe skuld word sodoende geopper. Wie moet vir die voormalige regering se misdade blameer word? Die regeringslui of die individu wat bloot instruksies gevolg het?

Tesame met die joernalis Linda word die leser op ’n speurtog van Pretoria tot in Kaapstad geneem. Met die lyke wat begin opstapel en Vic se geheime verlede wat enige oomblik openbaar kan word, word daar ’n verbete stryd gevoer om die moordenaar op te spoor. Vic en Linda se omswerwinge lei tot allerlei interessante kinkels in die kabel. En alhoewel Patricia die liefde van Vic se lewe is, probeer die wulpse Linda haar allerbeste om Vic te verlei. (Of sy daarin slaag, sal die leser maar self moet uitvind …) Wat is ’n misdaadroman as daar nie ’n paar stomende liefdestonele is nie?

Moordlys as spanningsroman is ’n welkome byvoeging tot die genre. Breytenbach bou hiermee voort op die sukses van sy debuutroman. Hierdie roman is sonder twyfel een van daardie wat jou deurnag aan die lees gaan hou.  

The post Boekresensie: Moordlys deur Henk Breytenbach appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21146

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>