Die kortlyste vir vanjaar se kykNET-Rapportpryse, die grootste boekpryse in Afrikaans, is pas bekend gemaak. Vanjaar sluit die pryse, afgesien van die kategorieë vir fiksie, niefiksie en film, ook twee resensiepryse in. Daarbenewens word die Jan Rabie-Rapportprys vir die beste debuutroman in Afrikaans ook by die prysfunksie op Erfenisdag, 24 September 2016 in Kaapstad toegeken.
Die boekprys-kortlyste bevat die name van gevestigde sowel as nuwe skrywers, met Lien Botha wat haar met die distopiese Wonderboom op die kortlys bevind vir sowel die gesogte hoofprys vir fiksie as die prys vir beste debuutroman. By die pryse vir boekresensent van die jaar is Jean Meiring in sowel die fiksie- as niefiksiekategorie benoem. Vir al die pryse het werk wat in 2015 gepubliseer is, in aanmerking gekom.
Hettie Scholtz, sameroeper vir die drie hoofboekpryse, sê die boeke-oes van 2015 getuig van ’n indrukwekkende aanbod in ’n “klein” taal met ’n klein maar getroue mark. “Ons skrywers verdien lof vir hul besondere bydrae tot die literêre en geskiedkundige relevansie van die Afrikaanse taal juis in ’n tyd wat Afrikaans se rol as wetenskapstaal bedreig word.
“Enkele fiksietitels toon die allure van vernuwende prosa (Debbie Loots, Tinus Horn, Lien Botha) en die satiriese aanslag by onder andere Deborah Steinmair, Schalk Schoombie en Johan Fourie vind byval, maar behalwe in die kategorie vir film, kyk heelparty skrywers in albei genres steeds meer terug as wat hulle vorentoe beur. By die fiksie is die grootste sirkel van die Venn-diagram, soos te verwagte, iets wat mens rofweg urban angst kan noem, aldus keurder Frederik de Jager.”
Sy sê die klem by niefiksie val steeds op historiese werk, insluitend die meer onlangse geskiedenis van die laat 1970’s en veral die 1980’s. Verder terug is daar ook interessante boeke oor steeds belangrike geskiedkundige figure en gebeurtenisse wat getuig van ’n fyn balans tussen diepgaande navorsing en toeganklikheid vir ’n breë leserspubliek.
“Die wêreld van die Afrikaanse boek bly op ’n paar uitsonderings na besonder wit, wat skrywers maar ook tematiek betref. Anemarie Jansen en Chris Schoeman se werk is in laasgenoemde opsig belangrike ankers, hoewel hulle nie die enigste skrywers is wat die kompleksiteit van ons sosiale milieu ontgin nie. Ander skrywers (Dana Snyman, Koos Kombuis, Dirk Mudge, Niël Barnard) toon ’n goeie oog en aanvoeling vir hierdie dimensie, selfs al is dit slegs op die marge van hulle tematiek.”
Die genre speur- en spanningsfiksie kry steeds meer momentum. Daar is ook goeie bydraes deur veral vroueskrywers wat moeilike temas ontgin in die tradisie van ondersoekende joernalistiek (Carla van der Spuy, Juliana Coetzer).
Scholtz sê die keurders was aangenaam verras met die hoë gehalte van veral die boeke op die kortlyste (Francis Galloway en Karel Schoeman se boeke verdien ook vermelding), skrywers wie se werk internasionaal kan meeding. “Sien ons ’n nuwe golf van die dik boek? word gevra. Dit word verwelkom in ons tyd van blitsvermaak en krimpende aandagspan, maar dan moet dit uiteraard énduit boeiend wees.”
Die kykNET-Rapport-kortlyste vir 2016 (alfabeties) is soos volg:
FIKSIE
- Lien Botha: Wonderboom (Queillerie)
- Alexander Strachan: Brandwaterkom (Tafelberg)
- Ingrid Winterbach: Vlakwater (Human & Rousseau)
![]() |
LitNet Akademies-resensie-essay: Wonderboom deur Lien Botha
Henning Snyman "Die roman handel oor verval, oor die soeke na wortels, en oor ontnugtering." |
![]() |
LitNet Akademies-resensie-essay: Brandwaterkom deur Alexander Strachan
Louise Viljoen Brandwaterkom is "’n roman wat die leser se aandag uit die staanspoor vasvang en deurgaans behou". |
![]() |
LitNet Akademies-resensie-essay: Vlakwater deur Ingrid Winterbach
Andries Visagie "Met haar roman skryf sy dus voort binne die tradisie van die betrokke literatuur in Afrikaans, maar soos geen ander Afrikaanse skrywer tot dusver nie, slaag sy daarin om die dilemma van die metamodernisme vas te vat." |
NIEFIKSIE
- Ena Jansen: Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste (Protea)
- Nicol Stassen: Die Dorslandtrek 1874-1881 (Protea)
- Carel van der Merwe: Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog (Human & Rousseau)
![]() |
Ena Jansen gesels oor Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste
Ena Jansen, Naomi Meyer "Soos familie ... Dit veronderstel ’n intieme verbintenis, maar dit kan ook ’n slagveld van emosies wees, van afstandelikheid en wantroue. Wat huiswerkers betref: die angel lê in die woordjie soos. Uiteindelik kan hulle uit jou lewe verdwyn op ’n manier wat regte familie nie maklik sou nie." |
![]() |
Boekresensie: Die Dorslandtrek deur Nicol Stassen
Christo van Rensburg "Beslis ’n bydrae tot die geskiedenis van die Afrikaanse mense in Suid-Afrika." |
![]() |
Donker stroom: Eugène Marais veelsydig, dubbelsinnig
Frederik de Jager 'n LitNet Akademies-resensie-essay oor Carel van der Merwe se Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog |
FILM
- Jaco Jacobs: ’n Goeie dag vir boomklim (Lapa)
- Chris Karsten: Die verdwyning van Billy Katz (Human & Rousseau)
- Deon Meyer: Ikarus (Human & Rousseau)
![]() |
’n Goeie dag vir boomklim
Izak de Vries "Soek jy 'n Kersgeskenk vir 'n boekwurm van so tussen elf en veertien?" |
![]() |
Boekresensie: Die Verdwyning van Billy Katz deur Chris Karsten
Org Potgieter "'Karakters dryf my stories, nie gebeure nie. Ek hou veral van karakters wat bietjie afwyk van die geykte vorm en wat gedryf en gemotiveer word deur ou spoke wat soms vir hulle bekend lyk, soms onbekend.' En dit werk!" |
|
LitNet Akademies-resensie-essay: Ikarus deur Deon Meyer
Jonathan Amid "Dit is deesdae byna onmoontlik om na 'n speurfiguur te verwys sonder dat kaptein Bennie Griessel as verwysingspunt dien ..." |
Wenners in beide die fiksie- en niefiksiekategorie ontvang elk R200 000, en die wenner van die filmprys R100 000.
Die keurders vir vanjaar se fiksietoekenning was die ouduitgewer Frederik de Jager, die joernalis en nuwe koördineerder van die US Woordfees se boekeprogram Elmari Rautenbach, prof. Steward van Wyk (UWK) en die rolprentvervaardiger Gerrit Schoonhoven. By niefiksie het dr. Irma du Plessis (UP), Darryl David (UKZN), prof. Herman Wasserman (UK) en die rolprentvervaardiger Hermann Binge sake uitgespook.
JAN RABIE-RAPPORTPRYS
Die wenner van die Jan Rabie-Rapportprys vir Afrikaanse debuutromans, wat reeds sedert 2004 toegeken word, ontvang R35 000. Drie uiteenlopende werke is vanjaar op die kortlys, al drie afkomstig van NB-Uitgewers. Die kortlys is:
- Lien Botha: Wonderboom (Queillerie)
- Debbie Loots: Split (Queillerie)
- Schalk Schoombie: Boomkastele (Human & Rousseau)
![]() |
LitNet Akademies-resensie-essay: Wonderboom deur Lien Botha
Henning Snyman "Die roman handel oor verval, oor die soeke na wortels, en oor ontnugtering." |
![]() |
Boekresensie: Split deur Debbie Loots
Elsibe Loubser "... dit is ’n boek vir belese mense, mense wat hou van intellektuele prikkels, wat oor die samelewing nadink, wat oor verhoudings en kwessies van seksualiteit nadink, wat hoop om intelligente afleidings te maak." |
![]() |
Resensie: Boomkastele: ’n sprokie van ’n stadsmens deur Schalk Schoombie
Johan Anker "Boomkastele, die debuutroman van Schalk Schoombie, is tegelykertyd ’n moderne sprokie, ’n roman oor die lewe in die stad en ’n versameling van ’n verskeidenheid hedendaagse tekste wat op verrassende wyse in die lewe van uiteenlopende karakters geïntegreer word ..." |
Die keurders was die digter en skrywer Danie Marais; die boekjoernalis Elna van der Merwe en die ouduitgewer en skrywer Kerneels Breytenbach.
BOEKRESENSENT VAN DIE JAAR
Twee pryse van R25 000 elk word vanjaar vir die eerste keer toegeken vir die beste Afrikaanse resensie wat in 2015 oor Afrikaansie fiksie en niefiksie onderskeidelik verskyn het. Bykans 120 inskrywings is ontvang vir dié pryse wat daarop gemik is om boeke en leesgenot onder die breë leserspubliek te bevorder en ’n hoë standaard van boekjoernalistiek aan te moedig. Die kortlyste is:
FIKSIE
- Jean Meiring: “Huppel met chutzpah oor konvensies heen” (oor Johan Fourie se Struisvoël in Beeld, 2 November 2015)
- Riette Rust: “Warm en wild, maar nie vir almal” (oor Jan van Staden se Boer kry ’n vrou in By, Die Burger, 6 Junie 2015)
- Louise Viljoen: “Menswees se fasette vernuftig verken” (oor Daniel Hugo se Takelwerk in Beeld, 16 Maart 2015)
NIEFIKSIE
- Willie Burger: “Om kreatief te lewe is aanhou beweeg” (oor Breyten Breytenbach se Parool / Parole: Versamelde Toesprake in Beeld, 26 Oktober, 2015)
- Frederik de Jager: “Donker stroom: Eugène Marais veelsydig, dubbelsinnig” (oor Carel van der Merwe se Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog op LitNet, 3 Desember 2015)
- Jean Meiring: “’n Monument vir SA huiswerkers” (oor Ena Jansen se Soos familie: Stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste in Beeld, 20 Julie 2015)
Die keurders vir hierdie pryse was Yvonne Beyers (voorsitter), assistentredakteur by Huisgenoot; Jomarié Botha, senior joernalis en skrywer; Piet Matipa, joernalis en rubriekskrywer; en Bibi Slippers, digter, skrywer en joernalis.
Vir meer inligting oor die kykNET Rapport Boekpryse, besoek die webwerf by www.kyknetrapportpryse.co.za
The post kykNET-Rapport Boekpryse: Kortlyste is hier! appeared first on LitNet.