
Skermgreep: Alice, Darling (lokprent beskikbaar op YouTube)
Alice, Darling
Uitgereik: 2022
Regisseur: Mary Nighy
Met: Anna Kendrick, Charlie Carrick, Kaniehtiio Horn en Wunmi Mosaku
Genre: Drama / sielkundige riller
Op: Google Play, Apple TV en Amazon Prime Video
Alice, Darling, met Anna Kendrick van Pitch perfect-faam in die hoofrol, bied ’n blik op ’n toksiese romantiese verhouding en emosionele mishandeling. Dit dwing jou om jou verhoudings in oënskou te neem en na te dink oor enige rooi vlaggies wat jy dalk tot nou toe misgekyk het. Moet jy die hele tyd met iemand in kontak wees, al beteken dit dat jy in ander se geselskap konstant op jou selfoon beskikbaar moet wees sodat hulle kan boekhou van waar jy is en wat jy doen? Laat die persoon jou voel asof jy dankbaar moet wees dat iemand jou kan liefhê ten spyte van jou tekortkominge? Twyfel jy al meer in jouself en word jou eie interne stem gereeld verdring deur hulle s’n?
Soms moet jy weggaan om na jouself terug te keer.
Wanneer Alice (vertolk deur Kendrick) in die heel eerste toneel haar ooglopende angs onderdruk en ’n glimlag op haar gesig plak voordat sy haar vriendinne by ’n restaurant ontmoet, kry jy reeds ’n indruk van ’n hooftema van die film: stille waters, diepe grond. Maar hoe gemaak as die duiwel in jou eie huis ronddraai?
........
Kort na hulle aankoms by die vakansiehuis langs ’n meer ontstaan daar konflik wat aanvanklik lyk asof dit die vriendinne van mekaar sal vervreem, maar dan eerder vir Alice se vriendinne ’n leidraad gee dat iets nie pluis is nie.
........
Alice word genooi om vir ’n week lank saam met haar twee vriendinne, Tess en Sophie, weg te gaan om een van hulle se 40ste verjaarsdag te vier, maar jok vir haar obsessiewe lewensmaat, Simon (Carrick) en sê sy moet weggaan vir werk. Kort na hulle aankoms by die vakansiehuis langs ’n meer ontstaan daar konflik wat aanvanklik lyk asof dit die vriendinne van mekaar sal vervreem, maar dan eerder vir Alice se vriendinne ’n leidraad gee dat iets nie pluis is nie. Kan hulle haar help om te onthou wie sy vóór Simon was? Sal sy dit kan regkry om ten spyte van sy konstante manipulasie in te sien hoe hy tegelykertyd liefdevol en galant kan voorkom én haar kan verkleineer tot sy voel asof sy niks sonder hom sal wees nie? Selfs al daag hy in lewende lywe daar op?

Skermgreep: Alice, Darling (lokprent beskikbaar op YouTube)
Die kamerawerk word goed gebruik om Alice se wroeging en interne konflik uit te beeld en die pragtige omgewing rondom die vakansiehuis tot sy reg te laat kom. Die teks is baie goed geskryf en dit word beklemtoon deurdat die regte akteurs gekies is om dit te vertolk. Die terugflitse help jou om ’n beter idee kry van hoe Simon te werk gegaan het om geleidelik van Alice ’n marionet te maak. Die film werp lig op die tipe komplekse emosionele mishandeling wat mense dikwels verskoon of ontken omdat die persoon hulle nog nooit fisiek aangerand het nie.
........
Die film werp lig op die tipe komplekse emosionele mishandeling wat mense dikwels verskoon of ontken omdat die persoon hulle nog nooit fisiek aangerand het nie.
........
Ek is versigtig om rillers te kyk, want dit maak my gewoonlik onrustig. In hierdie geval is die enigste rilleraspek die verdwyning van ’n jong vrou in die area waar Alice-hulle bly tydens die wegbreek, maar ek het dit eerder ervaar as ’n metafoor vir die omstandighede waarin Alice haar bevind. Dis dus nie die tipe riller wat jou kriewelrig of paranoïes sal laat voel wanneer jy klaar gekyk het nie.
Die boodskap uit die film wat my sal bybly, is dat dit belangrik is om jou goeie vriende naby te hou, al is julle in verskillende lewensfases of al is daar romantiese verhoudings wat skielik belangriker word. Die regte vriende wil hê jy moet gelukkig wees en sal intree as iemand daardie geluk bedreig.
Kyk die lokprent hier:
Lees ook:
The post Alice, Darling: ’n filmresensie first appeared on LitNet.
The post <em>Alice, Darling</em>: ’n filmresensie appeared first on LitNet.