Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21927

Ontaard deur Pieter Odendaal: ’n resensie

$
0
0

Boekomslag: NB-Uitgewers; foto van Pieter Odendaal: Retha Ferguson

Ontaard
Pieter Odendaal

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624093930

Pieter Odendaal se Ontaard is digkuns vir die valkoog-fynleser

In sy debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg, 2018), het Pieter Odendaal homself gevestig as ’n digter wat krities met identiteitspolitiek omgaan en wie se wêreldbeskouings diep in ’n ekosensitiewe leefwyse gewortel is.

In Ontaard (Tafelberg, 2023) hervat hy die gesprekke wat hy destyds in Asof geen berge ooit hier gewoon het nie geopper het, maar dié keer is daar ’n volwassenheid wat die gedigte anker: Dit is meer beheerst, meer kohesief, meer selfbewus, meer krities. Die digterspreker grawe en grou – in die grond, sy eie hierwees, die verlede, die sondes van sy voorouers. Ontaard is ’n spinnerak. Die drade van ekologie, herkoms en familiegeskiedenis, verlies, en queerheid vervleg toenemend soos jy stroomaf deur die bundel dryf.

Uitstaangedigte wat te make het met die natuurlike omgewing en die klimaatskrisis sluit in “anderkant”, “the greatest hunt in history”, “iep”, “die oorvol heuwels om Makhanda”, “stook”, “vlokkies” en “bergvergadering”. Oor familiebande en voorouergeskiedenis: “riviermond”, “grondkoop”, “reiniging” en “die sorgvryste droom in jare oor pa”. Oor verlies: “bainsvlei, mangaung”, “tweeling”, “stroom” en “hasepad”. Oor queerheid: “scenes from a gay childhood”, “freelance muse”, “escape, ethekwini”, “LDR”, “die wêreld is wyd en vol verlange”, “LION” en “welwillendheidsdag”.

Nie een van hierdie gedigte handel egter oor slegs één van bogenoemde onderwerpe nie; in elkeen is daar ’n samevloei van temas – en die gevoel van “homesickness” weerklink deur elkeen. Daar is ’n spanning te bespeur in die spreker se (on)tuishoort in bepaalde ruimtes: as wit Afrikaner met ’n herkoms wat Suid-Afrika se koloniale en slawegeskiedenis bymekaarbring; as queer persoon wat liefhet in ’n wrede, homofobiese samelewing; as ’n mens wat deel vorm van ’n spesie wat die aarde vertrap en bemors. Daar is ook ’n melankolie wat aan die gedigte kleef. In “al hoe meer see” bied die digter ’n gepaste beskrywing vir wat ek hier probeer verwoord: “dis fucked up dat sadness oorleef in oomblikke soos dié [...] nes die verlede wat nooit end kry nie” (bl 47).

........
Daar is ’n spanning te bespeur in die spreker se (on)tuishoort in bepaalde ruimtes: as wit Afrikaner met ’n herkoms wat Suid-Afrika se koloniale en slawegeskiedenis bymekaarbring; as queer persoon wat liefhet in ’n wrede, homofobiese samelewing; as ’n mens wat deel vorm van ’n spesie wat die aarde vertrap en bemors.
........

Reeds in die motto’s voor in die bundel is begrippe ter sprake wat verdere betekenis tot hierdie heimwee verleen: “Solastalgie is die meelewing van planetêre verlies, van ontwrigting, van homesick in jou eie huis wees” (’n vry vertaling van Glenn Albrecht se woorde); “I said I miss you, I really miss you” (uit Ami Faku, DJ Maphorisa en Kabza De Small se “Abalele”); “The land does not belong to us, we belong to the land” (uit Anne Michaels se The winter vault).

In “riviermond”, die eerste gedig in die bundel, lewer die spreker ’n inleiding tot sy familieherkoms wat ’n bepalende rol speel in hoe hy deur die res van die gedigte van sy identiteit probeer sin maak. Sy voorouers het op twee verskillende skepe in die Kaap aangeland: Willem Adriaan Odendaal – die VOC-soldaat uit die noorde – en Diana vanuit Madagaskar wat “saam met ander ongeseëndes gepos is”. Diana “baar haar baas se kind”, Susanna, wat later jare met Willem Adriaan trou – en so brei die Odendaal-stamboom uit in Suid-Afrika. Die spreker toon ’n renons in Willem Adriaan wie se selle in hom “muteer”. Met die intrapslag stel Odendaal die toonaard vir die bundel: Persoonlike geskiedenis, gekontekstualiseer binne ’n breër geskiedenis van kolonisasie en onderdrukking, word uitgedruk in ’n digterlik ryke ekologiese woordeskat. In hierdie gedig seëvier waterbeelde: Die spreker is ’n “ontmoeting van waters”, “’n samevloei van sout en vars”, Odendaals “spoel oor die land” (9–10).

Dit is gevaarlik om so romanties oor die natuur te dink

Voorbeelde van die verpersoonliking van die niemenslike kom regdeur die bundel voor. Riviere soek die see, golwe soek die grond, die geboue in die stadskom wil niks van die water weet nie, die see onthou die skepe vol slawe en base (9, kursivering myne). Daar word verwys na die aarde se maag met ’n toegewerkte wond (11).

In “anderkant” is beskrywings van hierdie aard volop: “die mynhoop staan op / kyk terug in die gat waar hy vandaan kom”; “hy weet hoekom hulle sy liggaam uithol / om dongas van sy hart te maak”; die mynhoop “slaap tot die masjiene kom” en verlang “na ’n onderaardse tuiste / anderkant ontginning” (21).

In “iep” grawe die spreker die oorblyfsels van ’n boom uit die grond wat in die tuin omgeval het: Hy grou die boom se “vrot hart” oop; hy kam klonte uit die boom se “hare”; hy verwys na die “boomlyf” se “ledemate” (31). In “die oorvol heuwels om Makhanda” “buk” die verkoolde boomstompe vooroor, “draai hul rûe”, “sku terug” as die spreker naderkom, “verplaas hul gewig / kyk anderpad”; die bome is ’n “skare in die veld” (35–9).

In “bergvergadering” word daar geskryf oor die mitiese oorsprongverhaal van berge in Peru: “eendag het die berge hul rotswortels / losgewikkel en begin loop”; “die Vilkanota[rivier] het nader geseil”; “die bergtrop” se “lywe het die skemer volgesit”. Die berge drom saam, hulle dreunsing, hulle gaan slaap en skud hulle roet af wanneer hulle in die donkerdag opstaan (58–9).

Daar is ’n gevaar daaraan om so romanties oor die natuur te dink. Hoewel daar nie sprake is van die elitistiese denkskool wat die mens as totaal en al apart van die natuur beskou nie, is daar nog nie noodwendig verder beweeg van die antroposentriese beskouing waarvolgens die niemenslike dikwels in menslike terme evalueer en beskryf word nie.

Odendaal val egter nie in die strik van ekodigters wat hulleself van die werklikheid afsonder nie; hy skryf allermins in ’n lugleegte. Die ekogedigte is, by wyse van spreke, geensins alleenstaande nie. Plekgehegtheid en omgewingsbeskrywings word deurentyd geposisioneer binne ’n breër raamwerk van sosiale, politieke en historiese bewustheid. In ’n menigte van die gedigte waaruit ek hier bo aanhaal, plaas die digterspreker die verlede onder kruisverhoor. Vir hom is Makhanda se heuwels vol geskiedenis, ’n “slagveld van biome en mense” (36). Hy is krities teenoor sy voorouers sowel as koloniale magte wat inneem en oorneem:

trekboere het dit geweet: jy bly
nie te lank op dieselfde plek nie
anders fok jy dit net op
maar hul oë het hul mae verslaan
en kraaie van hul monde gemaak
om eeue ver met die dood in hul snawels
oor die bitter land te vlieg (37)

Wanneer daar in Ontaard oor omgewingskwessies besin word, word die onderling gekoppelde magsdinamikafaktore wat verband hou met rassisme, homofobie, moderniteit en verbruikerskultuur deurlopend onder die loep geneem. Die digter vra hoe om te leef in tye van ekologiese verwoesting – terwyl álles hééltyd aanhou gebeur, en die verlede nie sy houvas op die hede kan laat gaan nie.

“miskien / sou jy anyway nie die wêreld like nie”

In “tweeling” word ’n besonder mooi verbintenis gemaak tussen die spreker se reaksie op verlies en sy toegeneentheid tot die natuurlike omgewing. Sy tweelingsibbe wat in die baarmoeder dood is, word aangespreek: “jy slaap / tussen die klowe dryf rivieraf huis toe / al die wolke en die heilige klippe weet van jou”. Intussen rus die spreker “in die skadu van bloekoms / en [sy] man se grondbevlekte hande” (13)

’n Soortgelyke ingesteldheid word opgemerk in “stroom”, waar die spreker besin oor ’n oupagrootjie (die aanspreekvorm “jou oupagrootjie” impliseer dat hy nie van sy eie voorouer praat nie, maar eerder dié van iemand anders) se dood in die Vilkanotarivier in Peru: “dalk was dit ’n middag soos dié” waarop hy dood is – ná bergreën met die veld wat “verlammend groen” sing en die palmiete wat toekyk; “dalk het hy die mooiste middag gekies / om die son met sy hande / in die blinde stroom te vang” (24).

Ook in “ons wat agterbly”, geskryf vir ’n universiteitsvriend wat oorlede is, word die spreker se ervaring van verlies deur treffende natuurbeelde omarm: “die krieke in jou oë spring rond / die bome agter die koshuis / se blare begin vrek / hulle frommel en val / nes jou mond grond toe” (27).

Die bundel se waarde lê in die eenvoud van verbyglipreëls soos “miskien / sou jy anyway nie die wêreld like nie” (13) en “jy’t die apokalips voor die res van ons gesien / en koekgesny deur die stil gras huis toe” (33).

Ander reëls wat my laat stilstaan het (om dit só vanaf verskillende bladsye in versvorm te spoeg en plak dat dit byna soos nuwe gedigte lees):

weerskante staan veldgras / soos uitroeptekens van vergeet (11)
ons staan op / as die water koud en ons verrimpeld is (17)
son spoel soos fool’s gold oor die vlakte (22)
ons dra pa saam uit die brights / die erf in (25)
jou skadu vlieg hom disnis teen die ruit (28)

En:

hul spiere shine soos aalwynblomme ná die reën (35)
vanaand vreet magog tot die maan / ’n koel, ronde gedig / oor die slagveld skyn (43)
ons sou die grond se boegoe en aalwyn kon wees (46)
staan nader want môre / verdwyn ons soos water / as die son ons insluk (50)

dis die día de los muertos by jou / jy speel viool langs jou ouma se graf (52)
ek gaan jou altyd groet / ons kan nie mekaar se berge wees nie (53)
jou afwesigheid groei my toe / soos die katteklou teen die agterheining (55)
die skuiwende duine sluk die parkeerterrein se asblikke in (60)

“alles gebeur gelyk / en kruie vir ewig aan”

’n Kindverteller is in enkele gedigte in Ontaard aan die woord. In “20 mei 1995” demonstreer die spreker reeds as kind ’n begrip van die kontras tussen stil, alledaagse en huishoudelike oomblikke wat uitspeel op dieselfde tydstip as wat tragiese, gewelddadige gebeure elders plaasvind. Die spreker speel met sy ma se hare op dieselfde oomblik as wat 104 myners in ’n ongeluk in Orkney sterf: Hy “hyg ondergrond” saam met die slagoffers – ’n tentoonstelling van die onskuld en empatie van ’n kind (14).

“alles gebeur gelyk / en kruie vir ewig aan,” word daar geskryf in “grondkoop”, wat ook deur die onthoulens van die spreker as kind vertel word. Hier herleef hy sy kinderjare op ’n plot “vol hadidas en hase / tamaties, aarbeie en uie”. Sy pa se liefde vir die veld word beklemtoon, en dit is daarom besonder gepas dat sy herinneringe van sy familie so verstrengel is met sy ekologiese ingesteldheid. Nadat sy pa ’n motorongeluk oorleef, bid die kindspreker: “dankie / dat die grond nie vir pa / soos die bakkie opgeneuk het nie / dat iemand my sal help / om môre die aarbeie te pluk / hulle’s besig om te vrot / amen” (25–6).

Hierdie gedigte beliggaam wat ek beskou as die “poetics of memory”, en herinner aan die idees waaroor Simon Schama in Landscape and memory (1995) skryf: “Before it can ever be a repose for the senses, landscape is the work of the mind. Its scenery is built up as much from strata of memory as from layers of rock.”

“op soek na ’n bewoonbare planeet”

In hierdie bundel “ontaard” die digterspreker tesame met figure uit sy verlede en hede. Die aarde self is ook aan’t ont-aard. Daar is ’n soeke na tuiste, na vereenselwiging met die self en kinship, verwantskap, met die ganse natuurlike ekosisteem. Dit word veral treffend verwoord in “escape, ethekwini”, waar die spreker ná ’n aand by ’n kroeg wonder: “hoeveel kweers is gisteraand alleen hier weg / om eers hul accessories af te knip / voor hulle kon terugsluip in die huis / om douvoordag nog sterre teen die dak te tel / op soek na ’n bewoonbare planeet” (49).

Tog is daar oomblikke van tuiskoms. Die spreker – wat van ver af kom, sy “huis op [sy] rug”, word in sy geliefde se huis en lewe ingelaat (51), en hy spreek hom aan: “ek keer terug / ek keer altyd terug” (53). In “bergvergadering” pak selfs die berge die “stiller tog huis toe” aan (59). In “die sorgvryste droom in jare oor pa” word die spreker en sy pa “soos ’n kweer kwilt” omring deur ’n skare hadidas, flaminke, pelikane en papegaaie; hulle word deur die vlerke omvou “soos tuiskoms” (64).

Waar die spreker in “iep” dink aan die gestorwe boom wat hy uit die grond gegrou het, ’n “gat waarin [hy] perfek kan pas” (31), besin hy in die laaste gedig in die bundel oor hoe hy in die dood weer van die aarde gaan deel word: “ek gaan tuin word vir die fungi waaruit ek spruit [...] die klowe gaap om my in te sluk.” In die dood sal hy “uiteindelik volkome [...] aard” (67).

In Ontaard is betekenisvlakke op mekaar gestapel soos rotslae; dit kring uit soos die jaarringe van ’n boom.

Leesstof vir die valkoog-fynleser.

Lees ook:

Asof geen berge ooit hier gewoon het nie deur Pieter Odendaal: ’n resensie

Pieter Odendaal se Droomwerk bring postkoloniale denke na die hospitaal

The post Ontaard deur Pieter Odendaal: ’n resensie first appeared on LitNet.

The post <i>Ontaard</i> deur Pieter Odendaal: ’n resensie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21927


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>