Amsterdam tot Zeeland: Slawestand tot Middestand?
Hans Heese
SUN Press
ISBN: 9781928357094
Skrywers oor hul nuwe boeke. Hans Heese gesels oor Amsterdam tot Zeeland: Slawestand tot Middestand?.
Hallo Hans, Amsterdam tot Zeeland: Slawestand tot Middestand? handel oor die slawegeskiedenis van Stellenbosch. Waarom dan nie eerder Amsterdam tot Stellenbosch nie?
Die boek handel oor Stellenbosch, maar in 1834 het die distrik ook Paarl, Wellington, Franschhoek en Hottentotsholland ingesluit. “Amsterdam” en “Zeeland” het betrekking op die name van slawe en die slawefamilies wat hierdie vanne dra. So 'n week of wat gelede is daar 'n mnr Amsterdam in die Boland dood. Zeeland is ook 'n algemene bruin familienaam wat uit die tyd van slawerny stam.
Die fokus van die boek is die slawegeskiedenis van Stellenbosch. Waarom Stellenbosch as dorp uitsonder?
Die dorp Stellenbosch word nie regtig uitgesonder nie. Die Stellenbosch-distrik was hoofsaaklik wyngebied en ten noorde ook graanboudistrik. Die arbeidsbehoeftes was hier anders as in die binneland, waar veeboerdery voorgekom het en min slawe in diens was. Die bruin nakomelinge in die wynbougebied vandag is hoofsaaklik van slawe-afkoms (Afrika en Asië) en die Khoikhoi het hier 'n mindere rol gespeel.
Die nalatenskap van die slawegeskiedenis is wêreldwyd sigbaar, en ook in Suid-Afrika (as mens byvoorbeeld Ena Jansen se onlangse Soos familie by die gesprek betrek). Eindig jou studie by 1834? Verklaar dit iets van die land se situasie tot vandag toe?
Ek bely dat ek nie Jansen se boek gelees het nie. Die Victoriaans/Brits koloniale mentaliteit het die lae status van die gewese slawe onnodig lank laat voortduur. Die Amerikaners wat vanaf 1800 nie meer die koloniale erfenis gehad het nie, het nou nog nie van hulle vooroordele ontslae geraak nie! Die letsels is nog sigbaar, maar die meeste wonde is al genees.
“Slaaf of vry” – verstaan ons as moderne mense hierdie konsepte – wérklik? Verduidelik en brei asseblief hierop uit vir almal van ons wat met vandag se bril en met gebrekkige geskiedkundige kennis hierdie woorde hoor.
Slawerny kom as 'n gewettigde stelsel van dwingelandy nie meer voor nie. Tog het persone wat in totale armoede grootword, of in onkunde, nie regtig vrye keuses om uit te oefen nie. Feitlik die helfte van die soldate en matrose wat ná 1652 na die Kaap gekom het, was Duitsers. In 1648, na afloop van die Dertigjarige Oorlog, was meer as 'n derde van die bevolking in Duitsland uitgewis en het wanorde en hongersnood die Duitsers by die VOC laat aansluit om 'n toekoms buite Duitsland/Europa te soek om te kan oorleef. Die Nederlandse sakelui het hierdie migrante skandalig uitgebuit en die term "sielverkopers" het ontstaan. Die verskille tussen die groepe binne Islam, en die migrasie met al sy ellende na die Weste, kom nogal ooreen met die verskille tussen die Protestante en Katolieke wat in 1618 die oorlog ontketen het.
Armoede en onkunde in die Oosbloklande is grootliks verantwoordelik vir die vroue wat in die Weste as prostitute 'n heenkome vind en deur hulle koppelaars letterlik in slawerny gehou word. 'n Onlangse program oor die verskynsel in Amsterdam op internasionale TV staaf hierdie verskynsel.
In die Kaapse Argief is daar verskeie dokumente wat toon dat Indiese ouers van hulle kinders aan matrose as slawe verkoop het sodat hulle en die ander kinders in die huishouding kos kon koop. Die legendariese Stellenbosse professor Con de Villiers het by geleentheid gesê dat niks hom ontstel nie – behalwe armoede.
In die voorwoord staan daar dat die hoop bestaan dat diegene met ‘n slaweherkoms ‘n soort kennis van hul voorgeslagte in die boek sal vind (vry geparafraseer). Wie is jou ideale lesers van die boek en wie sal dit persoonlik interessant vind, meen jy?
In die eerste plek is daar gedink aan bruin families van Stellenbosch en omgewing, wat ook die Boland insluit, wat aansluiting by hulle slawevoorsate probeer soek. Maar dit sluit natuurlik ook wit mense in; dink maar aan Maggie Loubser, wat in die boek genoem word. Die rol van die Britse weeskinders by die identiteitsvorming by die bruin gemeenskap is ook van belang. Plaaseienaars (landgoedeienaars) van vandag mag miskien nie belangstel in die slawe wat voorheen daar gewerk het nie, maar mag belangstel in die vergoeding wat hulle vir die vrygestelde slawe van die Britse regering ontvang het. Hier is die Solms-Delta-landgoed, met hulle erkenning van die rol van hulle werkers, die gelukkige uitsondering.
Die massa ekonomiese gegewens wat op die CD vasgelê is, is veral van belang vir persone met 'n belangstelling in ekonomiese geskiedenis; daar kan getoor word met hierdie ekonomiese inligting!
The post Onderhoud: Hans Heese oor Amsterdam tot Zeeland: Slawestand tot Middestand? appeared first on LitNet.