Op die verhoog is daar spelers wat ontspanne op die stel rondstaan. Die gehoor word stil en die spelers neem hulle plekke agter xilofone in. Die musiek groei stelselmatig tot ‘n opgewekte crescendo en die toneel kry voor die gehoor se oë lewe. A Man of Good Hope, gebaseer op Jonny Steinberg se roman met dieselfde titel, vertel die verhaal van die Somaliese vlugteling Asad wat sy lewe lank suidwaarts in Afrika reis met die hoop op ‘n beter lewe. Die gehoor maak die eerste maal met Asad kennis as ‘n volwasse man in Suid-Afrika waar die verhaal op 11 April 2011 in Blikkiesdorp-plakkerskamp begin en eindig. Deur die loop van die produksie word die ruimte tussen hierdie begin en einde gevul met die lewensverhaal van Asad, en hoe hy hier in Blikkiesdorp beland het. Die gehoor leer ‘n charismatiese karakter ken wat ten spyte van lewenslange blootstelling aan geweld na beter lewensomstandighede streef.
Die produksie is deur die Isango Ensemble geskep, in samewerking met die Young Vic-teater. Die Isango Ensemble spog met ‘n reeks wêreldtoere en internasionale toekennings, en die groter meerderheid van die geselskap is al vir meer as drie jaar deel van die ensemble. Hierdie lang werksverhouding dra ongetwyfeld by tot die geselskap se harmonieuse medewerking, waarbinne die spelers gemaklik vloei van karakter tot karakter; akteur tot musikant; toneel tot toneel. Dit is selfs moeilik om spelers vir hulle spel uit te sonder, aangesien die stuk so swaar leun op ensemblewerk, en die geselskap so suksesvol daarmee is. Verder handhaaf hulle ‘n vernuftige balans in die skep van spanning en kontrasterende komiese tydsberekening om die gehoor mee te neem op hierdie karakter se uitdagende lewensreis.
Die stuk voel egter by tye effe uitgerek en die karakters se motivering en dryfkrag is nie altyd ewe oortuigend nie. Karakters wat gereeld uittree uit die aksie op die verhoog om as storievertellers op te tree doen dikwels afbreuk aan die vloei van tonele. Verder dra musieknommers – uitgebreide sangmomente waarin karakters hul storie uitbou – ook by tot die stuk, wat in sy geheel uiteindelik net té lank voel.
Alhoewel ‘n mens altyd die integriteit kan bevraagteken van die vertel van ‘n verhaal wat nie soseer aan die verteller behoort nie (om die verhaal van ‘n Somaliese vlugteling vanuit ‘n Suid-Afrikaanse perspektief te vertel), raak A Man of Good Hope egter baie belangrike, universele temas aan. Dit ondersoek veral wat ‘n mens moet agterlaat om in hierdie wêreld, en meer spesifiek, Afrika, te oorleef. Met toenemende globale druk rondom vlugtelinge en emigrante, is hierdie verhaal meer relevant as ooit tevore en dra dit ‘n noodsaaklike boodskap van medemenslikheid oor. Dit draai uiteindelik ook die lig op Suid-Afrika se tekortkominge in hierdie konteks en maak dit gevolglik ook plaaslik relevant.
Uiteindelik sou ‘n mens kon sê dat A Man of Good Hope poog om dit wat verlore gaan in tye van onsekerheid en geweld, in stories vas te vang en te bewaar.
Die produksie is tot 20 Augustus 2016 by die Baxter-teater te sien en kaartjies is by Computicket beskikbaar.
Oorspronklike teks: Jonny Steinberg
Aangepas deur Isango Ensemble
Musiekkomposisie: Mandisi Dyantyis
Musiekdirekteure: Pauline Malefane en Mandisi Dyantyis
Choreografie: Lungelo Ngamlana
The post Teaterresensie: A Man of Good Hope by die Baxter-teater appeared first on LitNet.