Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Profane ideale en denke in die 4de en 5de eeu na Christus

$
0
0

Fotobron: http://whenintime.com

Met die Edik van Milaan in 313 het keiser Konstantyn (“die Grote”) effektief die Christelike godsdiens tot staatsgodsdiens verklaar. Maar dit was eerder ‘n politieke maneuver as wat dit die gevolg was van ‘n innerlike persoonlike bekering.

Hieroor is daar al veel geskryf en bespiegel. Die historikus en kenner van die klassieke kunste, Jacob Burckhardt van Oostenryk, het hierdie probleem en vraagstuk vir die eerste keer ingesien en blootgelê in sy Die Zeit Konstantins des Grossen van 1853. NH Baynes in sy Raleigh Lecture van 1929 (gepubliseer in The Proceedings of the British Academy van daardie jaar (xv, bl 341-442), onder die titel “Constantine the Great and the Christian Church”), het hierdie debat seker uiteindelik meesterlik hanteer en (voorlopig) afgesluit. Ek het hierdie gegewe reeds vermeld in ‘n vroeëre artikel op LitNet oor die Christenvervolgings.

Die doop van keiser Konstantyn

'n Afbeelding van Eusebius van Caesarea se Historia Ecclesiastica (fotobron: www.medievalhistories.com)

Uit die kerkhistorikus Eusebius van Caesarea se Historia Ecclesiastica moet ons aflei dat keiser Konstantyn eers op sy sterfbed gedoop is: vergelyk FL Cross (ed), The Oxford Dictionary of the Christian Church (OUP, 1958), p 334, en sien Zosimus (sterf in 418 nadat hy slegs ‘n enkele jaar biskop van Rome was – en daarby ‘n Pelagiaan), II xxix 2.

As dit die geval was, bewys dit finaal dat Konstantyn, alhoewel die Oosterse (Konstantinopelse) Kerk hom as hul  “Dertiende Apostel” gedoop het, in werklikheid intussen nog aan sy pagane verlede vasgeklou het in sy denke en ideale. Immers, dit het uit die verre verlede gekom. Dit was deel van sy genetiese kultuur. Die Christene het hom gemaak wat hy nie was nie, alleenlik omdat hy hulle godsdiens, na soveel onderdruking, vryelik toegelaat het - en dan wel om suiwer politieke redes, en nie uit (volkome) innerlike oortuiging nie.

Die Liber Pontificalis (ed. Louis Duchesne), Vol i, p 174, gee ‘n uitvoerige beskrywing van die elaboraat-versierde doopvond waaruit pous Sylvester Konstantyn sou gedoop het. Hierdie doopvond sou, onder meer, die volgende inskripsie gedra het: “Ecce agnus dei, ecce qui tollis peccata mundi” (vergelyk hier die hedendaagse melodiese variasies van die gewyde “Pie Jesu”).

Louis Duchesne self bevraagteken die egtheid van hierdie relaas van Konstantyn se doop soos die Liber Pontificalis (“Die boek van die Pouse”) dit breedvoerig rapporteer. Hierdie versameling van pouslike biografieë word buitendien heel apokrief van ‘n Voorwoord voorsien deur ‘n “brief” van pous Damasus aan Hieronymus (Latynse vertaler van die Vulgaat). Dit is ‘n spesiaal geskepte legende wat ons hier sien om sy vrome werk te doen.

Duchesne self is al hewig deur Rooms-Katolieke gelowiges (en selfs geleerdes) geskritiseer vir die bitter kritiek wat hy oor die Liber Pontificalis uitgespreek het en vir sy algehele negatiewe benadering van die opstel daarvan (elke keer gegiet in stereotipe formulae met presiese kronologiese data op ‘n vaste patroon):       vergelyk hier Burckhardt se Étude sur le “Liber Pontificalis” in Bibliothèque des Ecoles Francaises d’Athènes et de Roma, 1e Sér i,1877, en veral die manuskriptradisie daarvan.

Daar bestaan egter die eeue-oue tradisie dat pous Sylvester, biskop van Rome van 314 tot 335, Konstantyn vroeg reeds in die Lateraanse doopkapel gedoop het nadat hy hom van (fisiese) melaatsheid sou genees het. Die Lateraanse basilika was ‘n trougeskenk wat keiser Konstantyn aan sy vrou Fausta gegee het vir gebruik van die Katolieke Kerk. Dit was bedoel as die residensie (patriarchium) vir die pouse van Rome van die 4de eeu af, en het ook as sodanig gedien tot met die “Babiloniese ballingskap” (‘n term metafories geskep deur Petrarca) van die pouse in Avignon vir die jare 1309 tot 1377.

Avignon, wat oorspronklik ‘n leenstaat van die Romeinse pouse was, het om politieke redes indertyd die pouslike setel van die Katolieke Kerk geword. Al sewe die pouse van Avignon was Franse, en 111 van die 134 kardinale wat ook in hierdie periode geskep was, was ook Franse. Sien hier T Okay,The Story of Avignon in The Medieval Town Series van 1911.

Eintlik het Konstantyn (en Licinius) met die “Edik van Milaan” in die eerste plek slegs algehele godsdiensvryheid gewettig na ‘n geslagte lange vervolging van die opkomende Christendom. Hiermee wou hulle uiteindelik weer net vrede, stabiliteit en eenheid in die Romeinse Ryk bewerkstellig. En hulle het dit reggekry, iets waarvoor die latere Christene veral Konstantyn heel waarskynlik religieus onverdiend geloof het.

Constantius II, die derde seun van Konstantyn, het sy vader as keiser in die Ooste opgevolg. Hy het wel ‘n diepe belangstelling in die Christelike teologie getoon en was ‘n hewige opponent van die uiters konserwatiewe biskop Athanasius van Noord-Afrika. Hy kon egter geen kwellende dogmatiese kwessies van sy tyd naastenby oplos nie. Dit is intressant om op te merk dat Constantius II openlik die “ketterse” leer van Arius aanvaar het, naamlik dat Jesus nie werklik ‘n God was soos die Konsilie van Nicea (Nikaia in Bithinië), à la Hosius van Cordova, in die somer van 325 besluit het nie (naamlik dat Jesus van dieselfde substansie [homoúsios] as God self was), maar dat Jesus eerder ‘n órganon, oftewel instrument, in die hande van God was om sy “verlossigsplan” na die mensdom te bring.

In soverre as wat hy belang in die Christelike godsdiens gehad het, was keiser Konstantyn self ook oortuig hiervan, asook sy suster Constantia (‘n siening wat die kerkhistorikus Eusebius ook “dubbeltongig” gedeel het). Arius was geboortig uit Libië in Noord-Afrika. Vir sy leer was Arius aanvanklik geëkskominikeer, maar sy verbanning is later met die Konsilie van Antiochië in Sirië in 341 weer teruggegtrek in ‘n ietwat afgewaterde vorm.

Arius sterf egter heel onverwags in 336 op straat in Konstantinopel. Die groot gees van die Konsilie van Nicea, Athanasius van Alexandrië, moes hierna buite Alexandrië gaan wegkruip tot ná die dood van keiser Julianus (vir keiser Julianus, sien hierna). Met die Konsilie van Konstantinopel in 381 is die Belydenis van Nicea egter weer onder keiser Theodosius I heringestel. Arianisme het egter bly voortbestaan in die Teutoonse (Duitse) stamme van die Romeinse Ryk deur Ulphilas (“Wolfi”) se Gotiese Bybel van die 4de eeu.

Naas Arius het Marcion van Sinope in Pontus, in Klein-Asië, die vroegste en grootste bedreiging vir die Belydenis van die Christelike Kerk ingehou. Marcion, wat teen 160 gesterf het, het naamlik sy eie Nuwe-Testamentise teks opgestel waarin die Joodse torah, oftewel wet (in Grieks nómos) van die Ou Testament geen rol moes speel nie.

Hy kon Jesus se Evangelie van Liefde nie met die  rigiede Mosaïese wet in die Ou Testament versoen nie. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, sê Marcion, het die Offer-God van die Ou Testament óók gesterf en is Jesus, die God van die Nuwe Testement, as  die God van Liefde (agápê) en Vergifnis (áphesis) gebore. Net Paulus, het hy gesê, het die verskil tussen die Ou-Testamentiese wettiese Skepper-God (die sogenaamde Demiourgós) en die suiwer geestelike God van die Nuwe Testament, Jesus, verstaan.

Marcion het toe die Evangelie van Lukas vir dié doel “gesuiwer” en dit as die Boek van die Nuwe Bedeling saam met net tien van Paulus se Briewe daar gestel. Aldolf Harnack het eers onlangs Marcion se Evangelie weer probeer rekonstrueer in sy Das Evangelium vom fremden Gott (Göttingen, 1921).

Die “Edik van Milaan”

Die sogenaamde “Edik van Milaan” was eintlik geen “edik” nie, en was ook nie in Milaan uitgereik nie. Die bewoording daarvan word in uiteenlopende geformuleerde vorme teruggevind by Lactantius (De Mortibus Persecutorum, xlviii) en by die kerkhistorikus Eusebius (Historia Ecclesiastica, xv). Om hier volle perskeptief te verkry, moet ek egter eers die historiese opset van die dag kortliks skets. Caecilius Lactantius (wat teen 250 in  Noord-Afrika gebore is) het later leermeester in die retoriek geword in Nicomedië in Bithinië, Klein-Asië. Eers op sy oudag is hy tot die Christendom bekeer, waarna keiser Konstantyn hom as die tutor van sy seun Crispus aangewys het.

Hy het toe ‘n groot behae daarin geskep om in goeie Ciceroniaanse prosa oor die die Romeinse keisers te skryf wat die Christene so vervolg het (hy was ook die “Cicero van die Christelike Kerk” genoem). Die standaard Latynse teks hier is dié van Brandt, Vienna Corpus, Vol 19 van 1890, in Engelse vertaling beskikbaar in The Ante-Nicene Christian Library, Vol 7. Daar bestaan ook goeie Franse (Sources chrétiennes, Vol 39, Paris, 1954) en Duitse (F Winkelmann, Klio, 40, 1962) vertalings van hierdie werk.

Valerius Licinianus (Licinius) se rol in die “Edik van Milaan” is net so ambivalent interessant as Konstantyn s’n self. Hy was die strydgenoot van Galerius (keiser van Rome van Mei 305 tot Mei 311). Met die Kongres van Carnuntum in 308 is hy aangewys as die “Augustus’” van die Westelike Romeinse Ryk om Flavius Severus II te vervang wat weer deur die toedoen van Marcus Maxentius om die lewe gebring is.

Hierdie Maxentius was op onreëlmatige wyse tot keiser van Rome verklaar deur sy troepe in Brittanje. Die Praetoriaanse Wag en die volk van Rome het Maxentius se troonsbestyging aanvaar. Severus II, die reeds aangewyse “Augustus” van die Westelike Romeinse Ryk, het met sy leër na Rome opgeruk, maar is deur Maxentius by Ravenna gestuit en verslaan. Galerius het intussen, terwyl Maxentius nog in Gallië was, sy keiserskap probeer behou, maar is eweneens spoedig deur Maxentius oorwin.

Met die Kongres van Carnuntum in 308 is Galerius dan ook as vyand nommer een in die Westelike Romeinse Ryk verklaar. Maxentius het egter eers enkele jare in Italië aangebly. Hy is ook in 308 deur Spanje as keiser erken, hoewel die provinsie van Afrika, onder die vicarius Domitius Alexander, bly rebelleer en so die koringtoevoer na Rome afgesny het (308-11). In 312 het die Oosterse Konstantyn uit Konstantinopel toe met ‘n klein, maar hoogs opgeleide, eie leër teen Maxentius opgeruk en hom by die beroemde Mulviaanse Brug verpletterend verslaan.[Die Pons Mulvius aan die Via Flaminia het sy naam gekry van die oorspronklike  bouer daarvan].

Hierdie Maxentius was in die laaste instansie egter alles behalwe ‘n kundige en vernuftige soldaat. Wat ons egter hier in gedagte moet hou, is dat hy vroeër reeds verdraagsaamheid en restitusie aan die Christene toegeken het en eerder die Romeinse Senaat sélf geteister om rede van dié se fiskale beleid. Maxentius was egter in murg en been ‘n voorstander van die tradisies van die ou pagane Rome van weleer.

Die rol van Licinius as medekeiser

Licinius was afkomstig van Dacia in die draai van die Benede Donau. As “Augustus” by Carnuntum in 308 aangewys, het hy geen poging aangewend om Konstantyn teen te gaan synde self “Augustus” van Gallië nie, maar het slegs beheer behou oor die twee provinsies van Illyricum (superius en inferius, onderskeidelik Dalmasië en Pannonië aan die Adriatiese See).

Met die Oostelike provinsies van Maxentius aan die Hellespontos het Licinius vrede gesluit op die beginsel van uti possidetis. In 312 het Licinius in die huwelik getree met Constantia, die suster van keiser Konstantyn. Sulke politieke huwelike was gebruiklik in daardie tyd. In 312 of 316 het hy egter in botsing gekom met Konstantyn en ‘n deel van sy mag verloo in ‘n kort maar onbesliste militêre botsing. Hy moes toe ‘n deel van Illyrium afstaan aan Konstantyn. Van ongeveer 320 het Licinius weer sy welwillendheid en toegewing ten gunste van vrede met en verdraagsaamheid teenoor die Christene opgesê en inderdaad weer ‘n Christenvervolging ingestel in die gebied onder sy beheer. In 324 het Konstantyn Licinius egter finaal op land en ter see verslaan. Hierna het Konstantyn Licinius in Thessalonika in Noord-Griekeland “laat aftree”, waar hy egter later van sameswering teen Konstantyn aangekla en daarooor laat doodmaak is. Dit is ‘n nadraai in die verhaal van Konstantyn se optrede teen Licinius wat soms verswyg word, maar weer eens het Konstantyn suiwer uit eie politieke oorwegings opgetree, eerder as om, in beginsel, die Christene te beskerm.

Oor keiser Konstantyn is daar natuurlik al veel geskryf. Die Christene het hom die held gemaak wat hy nie bedoel het om te wees nie. Vergelyk hier verder E Schwartz, Der Kaiser Konstantin und die Christliche Kirche (2de uitgawe van 1936); K Hönn, Konstantin der Grosse van 1945; J Vogt, Constantinus der Grosse in Sein Jahrhunderd van 1949; A Alföldi, The Conversion of Constantine and Pagan Rome (Oxford, 1948); en John Holland Smith, Constantine the Great (Hamish Hamilton, Londen, 1971) wat versigtig trap in ‘n mynveld politiek en legendes en op dramatiese wyse suiwer barbarisme naas deugsame heroïsme stel, asook keiserlike intoleransie naas berekende toleransie.

Keiser Konstantyn is nietemin deur die Oostelike (Konstantinopelse) Griekse Kerk as hul “Dertiende Apostel” geloof met die godsdienstige bevryding van die Christene. Maar die ou pagane ideale in hom het swaar gesterf.

Ek wil nou hier die optrede van (net) twee beroemde pagane Romeine bespreek: Dié van die uiters populêre keiser Flavius Claudius Julianus van die 4de eeu, en dié van die deurwinterde en briljante filosoof Anicius Manlius Severinus Boëthius van die 5de eeu.

Boëthius en die Christendom

Anicius Manlius Torquatus Severinus Boëthius, een van die laaste rasegte en stoere Romeine van die vroeg-Christelike tydvak het, hoewel hy grootgeword het in ʼn Christelike huis, in sy grootste uur van beproewing nie die Bybel van sy haard vir inspirasie geraadpleeg en aangehaal nie, maar sy vertroosting gaan soek in die pagane filosofie van weleer waarin ook ʼn gelouterde etiek van soveel eeue reeds sy neerslag gevind het. Die klassieke mens van die verre Oudheid het nie die voorreg van Bybelse teksverse met Christelike perspektiewe gehad om hul staande te hou in tye van die grootse krisisse nie. Hulle moes maar hulle eie heil uitwerk met die gereedskap tot hulle beskikking. Dit is dan die paradoks waarbinne ons Boëthius se veelgeroemde De Consolatione Philosophiae (“Oor die vertroosting wat die filosofie bied”) moet lees.

Boëthius staan in baie opsigte wel op die keerpunt tussen die klassiek-profane tradisie en die nuwe Christelike leer en dogma, maar verteenwoordig tegelykertyd ook ʼn laaste hoogtepunt in daardie klassieke tradisie.

Boëthius is in Rome gebore uit ʼn vooraanstaande familie, die Anicii, oftewel gens Anicae, teen 480 AD, wat tot die Christendom bekeer was sedert die tyd van die Westelike Romeinse keiser Olybrius (wat die amp bekleë van slegs April tot November 472). Sy vader was consul van Rome en hyself het net die heel beste opvoeding gekry binne die sewe Artes Liberales, die Vrye Kunste, van sy tyd wat ʼn onderrig ingesluit het in die letterkunde (“grammatika”), retorika, logika, wiskunde, geometrie, astronomie en musiek.

Boëthius was ʼn wonderkind. In 1877 is die langverlore biografie van Flavius Cassiodorus oor Boëthius in ʼn manuskrip uit die 10de eeu teruggevind. Cassiodorus, self ʼn Romeinse senator, het Boëthius geprys vir sy groot elekwensie en erudisie, sy uitsonderlike Latynse skryfstyl en sy volkome beheersing van oud-Grieks. Boëthius was die laaste Romeinse skrywer van belang wat nog deeglik onderleg was in klassieke Grieks. Hy het ook kleinere dele van Aristoteles en Plato in Latyn vertaal.

Hieronymus het toe reeds die vertaling van die hele Bybel in Latyn, naamlik die Vulgaat, in 404 AD voltooi gehad in opdrag van pous Damasus. Daarna het die kennis van Grieks in Rome drasties en vinnig afgeneem. In die Middeleeue was die gangbare uitspraak: Graecus est, non potest legi – “Dit is Grieks, dit kan nie gelees word nie”. Maar dit was eers in 1546, met die Vierde Sitting van die Konsilie van Trente op 8 April van daardie jaar dat die Latynse Vulgaat amptelik as authentica, dit wil sê as die enigste gesaghebbende vaslegging, van die Heilige Skriftuur verklaar is (ondanks die feit dat pous Clemens VIII se hersiene teks daarvan in 1592 nie minder nie as 3 000 tekstuele foute daarin uitgewys het).

In 1510, op die jonge leeftyd van 30 jaar, het Boëthius, soos sy vader destyds, ook consul van Rome geword, en op 1 September 522 ook magister officiorum, hoof van die staatsdiens en die koninklike huishouding. Dit is onbekend hoe dit gekom het dat Boëthius die guns gewen het van die heersende Gotiese koning, Theodorik van Ravenna, want in die diepste van sy hart het hy nog vasgehou aan die ou Romeinse ideaal van libertas, vryheid onder beheer van die Romeinse staat en Senaat. In sy gees het hy steeds bly leef in “die goeie ou tyd”. Miskien verklaar dit iets van sy paradoksale karakter waarin hy tegelyk beskou word as ʼn klassieke profanis én ʼn Christen-bekeerde.

In sy vroeg veertigerjare het daar groot verdriet op Boëthius gewag. Hy is van hoogverraad aangekla deur koning Theodorik, toe self reeds ʼn ou man. Waarom, sal ons seker nooit weet nie. Dit kan wees dat sy politieke vyande, in afguns, ʼn valse aanklag teen hom bekook het. Miskien was daar ʼn tragiese misverstand met sy verdeging van die Romeinse senator Albinus teen dieselfde aanklag. Boëthius het ook ʼn briefwisseling gevoer met die Oosterse keiser Justinianus, eerste kodifiseerder van die Romeinse Reg.

Boëthius is gevange geneem en in die gevangenis van Pavia opgesluit, waar hy bitter lank moes wag op die uitslag van die saak teen hom. Theodorik het lank gewik en geweeg wat om met Boëthius, sy eertydse protégé, te doen. Maar uiteindelik is die teerling gevel en is die laksmanne aangesê om hul taak te verrig. Boëthius is, volgens oorlewering, wreedaardig gemartel met sy teregstelling. Hy is óf met knuppels doodgeslaan óf hy is met kaal hande gewurg tot hy dood was.

In sy uur van benoudheid moes Boëthius vir homself vertroosting en inspirasie uitwerk. En hy het dit gevind in die antieke profane filosofie waar hierdie denkpatrone reeds as ankers uitgekristalliseer het. Die filosofie was vir hom die propaideuse, die voor-opvoeding, tot die bekoming van alle wysheid. Slegs daarin kon hy die hoogste vertroosting vind (summum vitae solamen). Terwyl hy in die gevangenis op sy lot gewag het, het hy toe sy merkwaardige De Consolatione Philosophiae, in vier boekdeeltjies, geskryf. Onderliggend lê die oordeel van Plato se Staat: óf die konings moet filosowe word, óf die filosowe moet konings word.

Boëthius moes vir hom berusting uitwerk in die wrede spel wat die lewe soms kan speel en die skryf van hierdie werkie moet vir hom hoogs terapeuties gewees het. Hy het vir hom sielevreugde met die rede uitgewerk, maar dan in die sin soos die veel latere Franse wysgeer Blaise Pascal dit ook gesien het toe hy gesê het dat die hart ook sy eie redes het waarvan die rede self nie weet nie. Boëthius het sy heil met sy rede uitgewerk, maar die resultaat daarvan in sy hart ervaar.

Hierdie werkie is in alle opsigte Boëthius se persoonlike geestelike testament wat hy vir sy medemens in benouenis nagelaat het. En hy het dit gedoen op die klassieke profane model. In die gevangenis het hy sekerlik geen naslaanbiblioteek gehad nie, maar met sy ontsettende belesenheid en fenomenale geheue het hy klassieke tekste, Latyn en Grieks, ordelik en oorredend ingeryg. Hy haal, onder meer, in die proses klassieke skrywers aan soos Homerus, Sophokles, Euripides, Menandros, Catullus, Juvenalis, Ovidius, Vergilius, Statius, Lucanus, Claudianus en Seneca (veral uit laasgenoemde se  treurspele). Die basis van sy vertroosting het hy nie gevind in enige geloof nie, maar louter in sy rede.

Soos ʼn Augustinus van ouds het hy nie sy berusting gevind in die eindelose barmhartigheid en genade van God nie. Ook nie in ʼn slaafse onderworpenheid aan die soewereine wil van God nie, of in die Evangelie van Jesus wat hy moet geken het nie, maar alleen in die profaan-wysgerige denke van die klassieke Oudheid. Dáár het die wysheid van baie eeue reeds gereduseer gelê om gebruik te word.

Hy verwys nêrens na die Christen se Nuwe of Ou Testament nie. Juis dít maak hierdie werkie ʼn unieke en merkwaardige tydsgeskrif, gegewe sy situasie en omstandighede binne die Christelike konteks waarin hy grootgeword het.

Die Cambridge-letterkundige en amateur teoloog CS Lewis (The Discarded Image, p 78) het hierdie crux probeer oorkom deur te sê Boëthius wou doelbewus eerder wysgerig as godsdienstig-teologies skryf. Elders noem Lewis Boëthius ʼn “divine popularizer”.

Boëthius het sy Consolatio geskryf in die vorm van die Mennipiaanse Satura, in ʼn mengsel van prosa en poësie waarin 39 kort gedigte in 13 verskillende versmate voorkom. Die rol van die poësie was om elke keer die hoogspanning van sy wysgerige redenasie te breek – omtrent wat die rol van die Koor in die oud-Griekse tragiese drama gespeel het.

Boëthius het deurgaans geworstel met die vraag waarom ʼn weldadige God hoegenaamd boosheid in die wêreld toelaat en daarby skynbaar ongestraf laat bly. In die derde boek van sy Consolatio sien ons die Bose het eintlik geen werklike bestaansreg nie. Die Duiwel is eintlik ‘n “Niks”, omdat die soewereine God inherent slegs die Goeie is en geen kwade kan pleeg nie.

So het Karl Barth onlangs nog weer in sy bekende Kirchliche Dogmatik die Duiwel die ‘Nietige’ genoem. En hoe kan die Nietige ooit oorwin? Die antinomie tussen die wil van die mens en die wil van God los hy op deur daarop te wys dat die menslike denke en rede (noûs in Grieks, ratio in Latyn) slegs diskursief is in teenstelling met die intuïtiewe goddelike denke wat as die kosmologiese intelligentia beskou moet word. Só is die mens se reikwydte in die aanskoue van sy persoonlike probleme maar uiters beperk. Die mens kan nie in homself meermale ʼn antwoord vind vir wat met hom gebeur nie.

Boëthius onderskei ook tussen wat vir die mens slegs “goed lyk” van die ware goed self wat alleen in God te vind is. En juis dít het vir hom persoonlik berusting gebring in sy eie lot. Hy is wel deeglik deïsties in sy uitgangspunt, maar in sy hart en wese voer Boëthius ʼn Stoïsynse rasionele denkbenadering. Dit was die Evangelie van die Rede teenoor die Evangelie van die Liefde – helaas tog met sy talle ooreenkomste.

Boëthius begin sy Consolatio met ʼn verheerliking van die profane filosofie. Hy personifieer die filosofie as ʼn sjarmante dame wat afgedaal het om hom, die swakke sterfling, in sy beproewing te kom bystaan. Dit is met haar wat hy sy gesprek voer, en nie deur bemiddeling van die Muses nie. Hiermee gee hy die consolatio, wat toe al ʼn gevestigde genre was, ʼn gans nuwe inhoud en trefkrag. Tog, in die laaste boekdeel van sy Consolatio, is daar ʼn himne ter aanmoediging op die voorbeelde van Homerus se Odusseus en die oud-Griekse held Herakles.

Dante, in sy La Divina Commedia (Il Paradiso, 10.125), het Boëthius geplaas onder een van die twaalf ligbakens in die sonnehemel. Edward Gibbon, in sy The Decline and Fall of the Roman Empire (Vol IV, p 201), het weer sy Consolatio  “a golden volume  not unworthy of the leisure of Plato and Tully (Marcus Tullius Cicero)” genoem. Onlangs het Hellen Waddell (The Wandering Scholars, p 26) Boëthius se Consolatio “the book of most serene and kindly wisdom of the Middle Ages” genoem. Inderdaad was dit naas die Latynse Vulgaat die boek wat die meeste gelees was gedurende die Middeleeue vir sy sinopsis van deurleefde oudwêreldse wyshede. Dit was die finale belydenis daarvan.

Boëthius het tien eeue later sy neweganger verkry in sir Thomas More ( “Lord Chancellor of England” en van Utopia-faam) se Dialoge of Comfort agaynst Trybulacion. Die Engelse koning Henry VIII het gesorg dat sý kop ook waai vir “hoogverraad” toe hy die koning nie wou toelaat dat hy in 1534 van Catherine van Aragon in 1534 mag skei nie. Daardie hoof is daarna weggelê in die Roper-grafkelder by Sint Dunstan in Canterbury.

Boëthius is tog uiteindelik Christelik “gekraal” soos ons eie Jan Rabie dit sou gesê het (met verwysing na Nikos Kazantzakis). Op 15 Desember 1883 is hy deur die Heilige Kongressie van Rites in Rome, in oorleg met die biskop van Pavia, tot Sint Severinus verklaar binne die kultus van daardie stad nadat hy in die Middeleeue reeds ʼn ”martelaar” genoem was. Sy stoflike oorskot het ook ʼn laaste rusplek gevind in die kerk van San Pietro in Cielo d’Oro in Pavia. ‘n Tweede Sokrates van Athene, eerste martelaar vir die Westerse wysbegeerte.

Keiser Julianus, die sogenaamde “Apostaat”

Keiser Konstantyn het tog Lactantius, ‘n gebore Afrikaan en bekeerling tot die Chistendom, op sy oudag aangestel as die tutor van sy seun Crispus. Inderwaarheid was Lactantius eintlik bewonder sy perfekte oratoriese periodieke Ciceroniaanse Latynse prosa (hy was dan ook die Cicero van die Christelike kerk genoem). Konstantyn se uitspraak hierbo kan net so goed die werking van die mite wees. Self was hy miskien nooit ‘n oortuigde Christen nie, maar het die Christelike godsdiens as ‘n slim truuk gebruik om uiteindelik vrede in die Romeinse Ryk te verkry en sy lang heerskappy van 30 jaar, 9 maande en 27 dae te behou.

Constantius II, die derde seun van Konstantyn die Grote, het sy vader as keiser in die Ooste opgevolg. Hy het ‘n diepe belangstelling in die Christelike teologie getoon en was ‘n hewige opponent van die uiters konserwatiewe biskop Athanasius van Noord-Afrika. Hy kon egter geen kwellende dogmatiese kwessies van die tyd naastenby oplos nie.

Ná hom sou ‘n keiser kom wat weer, met groot tolleransie daarby, na die ou profane religie wou terugkeer. Dit was Flavius Claudius Julianus, deur die latere Christene die bynaam gegee van die “Apostaat” (die “Afvallige” van die Christelike leer en dogma). Hy was die halfbroer van Konstantyn die Grote. In die verre Kappadocië het hy en sy broers ‘n deeglike Christelike onderrig ontvang van die eunug Mardonius, maar hy het antipaties daarteenoor gestaan. Hy was eerder geïnteresseerd in die profane Griekse letterkunde.

Nadat hy in 351 sy studies daarin by Efese afgerond het, onder leiding van die befaamde pagane wysgeer Maximus (wat ‘n passie vir die profane oud-Griekse letterkunde en die ou godeleer gehad het), het hy vir verdere studie na Athene gegaan. Hy het teen sy sin Athene verlaat toe hy vir hoër staatsdiens opgeroep is. So populêr was hy egter onder sy troepe dat hulle hom in Februarie 360 as hulle keiser Augustus verklaar het.

Julianus het toe besuit om terug te keer na die eeue-oue tradisisies van die Hellenistiese leefwyse en godsdiens. Die status quo moes weer herstel word in die Romeinse Ryk. Die ou tempels moes weer herbou word en hy het Christelike professore verbied om die Klassieke te doseer. Die Christelike kerk het sy imperiale subsidie verloor en hy het weer pagane priesters in die Ryk aangestel. Tewens, alle staatsamptenare moes pagaan wees.

Vyf maande nadat hy keiser geword het, het hy die konserwatiewe Antiochië in Sirië besoek waar hy egter met vyandigheid ontvang is. Die tempel (van die heidense) Daphne is selfs tot op die grond afgebrand met sy besoek. Hierop het hy sy bewaargelewe satiriese Misôpôgon (‘Baardhater’, skerlik gemik een die bebaarde Christelike Siriese priesters) geskryf.

Slegs in die derde jaar van sy heerskappy het hy op 5 Maart 363 gesneuwel in ‘n geveg  teen die Perse. Die Christene het toe die storie versprei sy laaste woorde was “Vicisti Galilaee ( “U het oorwin, Galileër”). Weer eens sekerlik ‘n vroomgeskape mite op ‘n ou-ou model.

Julianus het die neo-Platoniese monoteïsme bely, soos kortliks uiteengesit deur sy vriend Saloustios in sy De deis et mundo, wat ook daarop gemik was om die pagane reaksie teen die Christendom te steun. Julianus was bygelowig (hy het voortekens soos die vlug van voëls aanvaar), het weer in orakeluitsprake geglo en die vergange profane godsdienstige rituele getrou nagekom. In temperament en beginsel was hy eintlik ‘n askeet.

Hy was egter ‘n uiters konsensieuse en hardwerkende keiser. ‘n Volle tagtig briewe van hom het vir ons bewaar gebly, insluitend die een aan Athene waarin hy van sy eie lewe vertel tot by die dood van Constantius II. Julianus het ook ‘n groot pagane biblioteek in Konstantinopel gestig wat egter in 491 afgebrand is. ‘n Mens wonder wat sou gebeur het as hy nie so vroeg gesterf het nie. Hy was tog ‘n weldadige regeerder en by die grootste deel van die volk in volkome guns.

Die voortsetting van pagane geskiedskrywing in die 4de eeu

Eusebius van Caesarea (prent: https://en.wikipedia.org/wiki/Eusebius)

Eusebius van Caesarea was die eerste Christelike geskiedskrywer. Hy moes ‘n nuwe styl en kronolgie ontwerp waarbinne die Christelike geskiedskrywing geakkomodeer kon word. Ook in sy stofgegewe het dit meer gegaan om filosofies-teologiese kontroversies, met hierdie keer die uitsluiting van politieke geskiedskywing per se asook die anekdotiese, so eg van die gemiddelde pagane historiografie. Dit het totaal gaan verskil van die pagane geskiedskrywing van die 4de eeu.

Eusebius se Historia Ecclesiastica het uiteindelik tot 10 boekdele gegroei en verskillende uitgawes belewe, die laaste, met boek 10 ingesluit, in 323. Hy het dit oorspronklik in ‘n Grieks geskryf wat eintlik taalkundig van min literêre waarde was, maar dit het ook in Latyn bewaar gebly (die Rooms-Katolieke taal van die Weste) asook in Siries en Armeens.

Hierdie kerkgeskiedenis van hom was maar een van sy vele historiese geskrifte. Dit het die Kerk se geskiedenis gedek van die Apostoliese era tot op sy eie dag (waarby hy ‘n ooggetuie was). Dit omvat ‘n  enorme corpus feitemateriaal van die Christeilke Kerk in die Ooste met eintlik bitter min oor die Weste. Die middelpunt van sy verhaal was die geskiedenis van die Oosterse (Konstantinopelse) Ortodokse Christelike Kerk.

Teenoor Eusebius in die 4de eeu staan daar talle Griekse (en Latynse) historiografiese werke wat nog volkome geskoei is op die tradisionele antieke model van die oud-Griekse en Romeinse geskiedskrywing wat, komtemporêr met Eusebius, steeds veslag doen van die pagane wêreld, sy leefwyse en sy denke. Ons dink hier aan manne soos Ammianus Marcellinus, Eunapius, Eutropius, Macrobius, Symmachus, Servius en Donatus, asook aan die Historia Augusta, Longus se werkie “Oor die Sublieme”, en ander heidense breviaria.

Ammianus (ongeveer 330-95), geboortig uit Antiochië, was die laaste groot Romeinse historikus. Hy het in 363 saam met keiser Julianus op die rampspoedige veldtog teen die Perse uitgetrek. Daarna het hy hom in Rome gaan vestig en ‘n geskiedenis van die Romeinse Ryk in 31 boekdele geskryf, bedoel as ‘n voortsetting van Tacitus se Geskiedenis. Hy het dit nie nodig gevind waarom hy, as ‘n gebore Griek, sy groot werk in Latyn te skryf nie. Die magiese het hom veel meer geïnteresseer as die teologiese dispute van die dag.

Ammianus het ‘n ontsaglike groot bewondering gehad vir Julianus. Hy was ‘n “heiden” soos Julianus, maar skryf tog met groot toleransie teenoor die Christene. ‘n Ander lang verslag van Julianus se veltog is dié van Zosimus, wat dit oorgeneem het, van Eunapius, wat op sy beurt weer die geneesheer Oribasius gevolg het wat óók aan hierdie kampanje deelgeneem het. Edward Gibbon, in sy History of the Decline and Fall  of the Roman Empire meen Ammianus het ‘n heel onbevooroordeelde verslag gelewer waarin hy selfs by geleentheid ook Julianus gekritiseer het. Ammianus het ook ruimskoots gebruik gemaak van Eunapius se verslag van die veldtog.

Eunapius, teen 345 geboortig uit Sardes in Lidië was ‘n Griekse sofis en ook ‘n deelgenoot van die neo-Platonisme. Ook hy was ‘n groot bewonderaar van Julianus en ‘n uitgesproke opponent van die Christendom. Hy gee ‘n geïdialiseerde beeld van Julianus insgelyks wat die Christelike biograwe gedoen het met hulle “Heiliges”. Volgens Photius, die patriarg van Konstantinopel in die 9de eeu, moes hierdie werk van Eunapius geredigeer gewees het om nie soveel aanstoot aan die Christene te gee nie.

Eutropius, wat ook deel geneem het aan Julianus se veldtog teen die Perse in 363, was keiser Valens se magister memoriae. Sy Romeinse Geskiedenis in tien boekdele (Breviarium ab urbe condita) begin by Romulus, bespreek die Romeinse Burgeroorlog onder Sulla, en bou verder voort op die Geskiedenisse van Livius en Suetonius. Sy Latynse Geskiedenis is teen 380 in Grieks vertaal deur Paenius – iets was destyds selde gebeur het met Latynse werke. Hieronymus en Orosius het, onder andere, van sy Geskiedenis gebruik gemaak.

Abrosius Theodosius Macrobius, wat in sy manuskripte beskryf word as ’n “vir clarissimus et illustrius”, was prokonsul van Afrika. Hy was uitheems aan Italië en gee toe dat sy styl gebrek gaan aan nativa Romani oris elegentia. Sy velerlei werke soos sy Saturnalia en Commentarii in Somnium Scipionis (oor die droom van Somnius) lewer egter hoegenaamd geen getuienis van die Christendom nie. Sy Saturnalia in sewe boekdele, op model van Athenaeus van Naukratis se Deipnosophistai, het hy tot opvoeding van sy seun geskryf. Die gesprekgenote het Avienus, Symmachus en die jong Servius ingesluit. Hy het probeer om Vergilius die onfeilbare geleerde digter te maak, maar hy bespreek ook alledaagse dinge soos die vang van visse, slegte spysvertering, dansssorte en dronkenskap.

Quintus Aurelius Symmachus (ong. 340-402) was opgelei as ‘n Galliese rhetor. Hy het ook gou die grootste redenaar van sy dag geword, met slegs ‘n bietjie  kennis van Grieks. Hy was egter ‘n stoere pagaan in sy godsdienssiening en was dan ook een van die hewigste opponente van die Christendom van die dag. Ook hy het onder die invloed van Julianus gestaan. Toe die Altaar van Oorwinning in die senaatshuis in Rome in 382 deur ‘n edik van keiser Gratianus verwyder is, was Symmachus voor in die tou om daarteen beswaar te maak.

Symmachus was daarop praefectus urbi in Rome (384, 385). Maar Ambrosius van Milaan het die stryd vir die Christene gewen om hiedie “pagane altaar” uit die hart van die metropolis te verwyder. Tog het Symmachus daarna nogtans ‘n konsul van Rome geword. Daarnaas het hy gehelp met die voortsetting van die eertydse profane geleedheid deur mee te doen aan die redigering  van Titus Livius se Geskiedenis. Hy het ‘n corpus van tien boeke nagelaat waarin sy briewe aan belangrike persone van die tyd opgeneem is, natuurlik almal heidens in uitgangspunt.

Marius (of Maurius) Servius (soos hy genoem word in sy manuskripte sedert die 9de eeu), ook ‘n heidense geleeerde van die 4de eeu (hy was nog ‘n jong man in 384 vogens Macrobius), het ook net die pagane wetenskap gedien. Ook hy was ‘n groot student van die Vergulius-teks waarby hy vryelik aanhaal uit Terentius, Cicero, Sallustius, Lucanus, Statius en Juvenalis en ‘n groot verdediger geword het van hierdie pagane eposskrywer. ‘n Langer en korter versie van sy kommemtaar op Homerus is nagelaat. Aanvanklik was net die korter een gedruk. Eers in 1600 het Pierre Daniel die langer weergawe (wat hy sekerlik tereg as die oorsponklike beskou het) gepubliseer.

Aelius Donatus, wat Hieronymus (vertaler van die Vulgaat) as een van sy studente gehad het, was in die 4de eeu die opsteller van ‘n eerste Latynse grammatika (Ars Grammatica) in vraag-en-antwoord vorm. Dit was waarskynlik die eerste gedrukte boek in Europa, ses jaar voor Johann Gutenberg se Vulgaat-edisie te Mainz. Hy het ook kommentare op Vergilius en Terentius geskryf en was bevriend met Servius. Reg deur die Middeleeue heen was Donatus se “Donat” dié grammatika op skool vir die korrekte aanleer van Latyn. Hy het tussen agt rededele (“parts of speech”) in Latyn onderskei. Dit was die eerse vaslegging, in reëls, van profane Latyn.

Die “Historia Augusta”

Daar bestaan ook vandag ‘n belangrike antieke werkstuk as sou dit (by name) deur ses verskillende outeurs opgestel gewees het wat groot simpatie met Julianus gehad het en hoofsaaklik teen die Christendom geskryf in die tyd van die Romeinse keisers Diocletianus en Konstantyn die Grote, naamlik die Historia Augusta (só genoem deur Isaac Causobon in 1603). Dit is ‘n versameling van biografieë van die vroegste Romeinse keisers (met enkele lakunes) geskryf op die model van Suetonius se “Lewe van die XII Caesars”.

Die Scriptores Historiae Augustae maak daarop aanspraak dat hulle meestal van literêre bronne gebruik gemaak het waarvan slegs ‘n paar vandag vir kontrole behoue gebly het, soos dié van Herodianus. Verder haal hulle 130 dokumente aan, soos die briewe van keisers, senatus consulta, inskripsies, ensovoorts. Met die koms van die Wes-Europese Renaissance is hierdie dokument feitlik onaangeraak gelaat. In 1889 het die Duitse filoloog en historikus Hermann Dessau in ‘n artikel in Hermes 337 weer die bestudering van die Historia Augusta opnuut heropen en die mening uitgespreek dat net een outeur onder verskillende name (vir meer gesag) hierdie dokument opgestel het waarin daar soveel simpatie met Julianus betoon word.

Een van sy indrukwekkendste argumente was dat die “Lewe” van keiser Septimus Severus (hoofstukke 17-19) maar net ‘n kopie is van Aurelius Victor se De Caesaribus 16 – 18.2, geskryf in die jaar 360, en dat keiser Marcus Aurelius se “Lewe” weer gebaseer is op Eutropius 8.11-14. Theodor Mommsen meen dat die Historia Augusta wel in die tyd van keiser Diocletianus se groot Christenvervolging (20 November 284 – 1 Mei 305) geskryf was, en wel tydens die Primaatskap van Konstantyn daarna, maar dat dit onder die Oostelike (Konstantinopelse) keiser Theodosius I grondiglik hersien is (om die Juliaanse simpatieë te probeer uit haal).

Daar is ook dié geleerdes wat meen dat die Historia Augusta deur ‘n onbekende outeur opgestel is om vir blote vermaak te sorg met die opsigtelike klem wat dit lê op die sensasionele. A Alföldi (sien hierbo) en J Straub (Heidnische Geschichtsapologetik in der Christlichen Spätantike van 1963 sien die Historia Augusta slegs as ‘n aanval op die Christendom, asook om die paganisme as veel meer godsdienstig-tolerant te skets. Daarom sou die werklike name van die opstellers daarvan fiktief aangegee gewees het.

Hierdie siening het uiteindelik aansienlike akademiese steun gevind – ten gunste van Julianus dus. Ons lees in die Historia Augusta, byvoorbeeld, dat dié wat in Egipte die god Serapis aanbid, inderwaarheid Christene is, en dat hulle wat hulself biskoppe van Christus noem, inderwaarheid volgelinge van Serapis is. Serapis was ‘n laat-Egiptiese god wat in hom verenig gehad het die hoofeinskappe van Osiris (die gunstelinggod by verre van ou Egipte wat vir ‘n oomblik die dood sou oorwin het en die vader van Horus by Isis geword het) en die songod Helios.

Ptolemaios I (305-285 vC) sou sy beeld vanaf Sinope aan die Swart See gaan haal en na Alexandrië gebring het, waar hy as die heilsgod, die heer van die kosmos, aanbid is. Die datum en werklike doel van die Historia Augusta bly egter ‘n onopgeloste probleem.

Die Christene self het ook, nadat hulle godsdiens erken is (na 28 Oktober 312, toe Konstantyn Maxentius verslaan het), hard teruggeslaan soos in die anonieme pamflet De ira dei (“Oor die toorn van God”), wat ons herinner aan Nahum (hoofstuk 2) se lied met die val van Ninevé, hoofstad van die Assiriese Ryk in 612 vC, waar die poorte van die stad oopgemaak is, die paleis weggesmelt het en die stad se slavinne “klae soos die stem van duiwe, en op hulle borste slaan”.

Wraak vir die Christene was ook soet. Die Jode het gesterf deur ou Jerusalem te verdedig; die Christene weer deur die nuwe Jerusalem te bou. Die Christene het nou aangeval; en die paganiste het weer verdedig. Aanvanklik het die Christike apologete uit die laer volksklasse gekom, maar nou sou die meer intellektueles ook meedoen, soos Clemens van Alexandrië byvoorbeeld (sien hierna). Die Christene had nie ‘n Herodotus en Thoukudides of ‘n Livius en Taciitus as voorbeelde van geskiedskrywing gehad nie. Hulle moes hule eie hagiografie ontwikkel. Wel was daar Philostratrus se Apollonius van Tyana, ‘n tipe Puthagoreïese theîos anêr (“heilige man”).

Sulpicius Severus en die “nuwe” kronologie

Sulpicius Severus, wat kennis gemaak het met die profane kultuur in Gallië, was die eerste wat die nodigheid ingesien het om die kronologie van die Christelke skrywers en die Bybel te probeer sinkroniseer met dié van die historici mundiales. Dit was Timaiaos van Tauromenium in Sicilië (ongeveer 346-250 vC) wat eerste vir die profane wêreld eerste die plaasvind van gebeurtenisse in die verlede gedateer het vanaf ‘n vaste punt in die geskiedenis van ou-Griekeland. Dit was toe geneem van 776 vC, toe die eerste lys van Olimpiese oorwinnaars opgestel is.

Só, volgens Marcus Terentius Varro (ongeveer 116-27 vC, “die mees geleerde onder die Romeine”), en ander, is Rome dan gestig in die 4de jaar van die 6de Olimpiade, en wel in die jaar 753/4 vC. Alle daterings het toe vanaf hierdie jaar as vaste punt in die Romeinse geskiedenis (soos ook by die ou Grieke) gevolg.

Die Romeinse geskiedskrywers was lief vir Annales, waarin gebeure per jaar, vernoem na die betrokke konsuls, opgestel is. Alle gebeurtenisse is daarna geplaas en gedateer ná die stigting van die Stad (ab Urbe condita) of, anders gestel, anno Urbis conditae (“in die jaar van die stigting van die Stad” af).

Dit was eers die Skithiëse monnik Dionusius Exiguus (wat in Rome gelewe het van 500-550) wat deur pous Johannes I in 525 gevra is om vir die opeenvolging van Paasfeeste die datums vas te lê, toe die datum aUc geneem is as die jaar vóór die “vleeswording van die Christus”.

Eintlik was dit die gevolg van ‘n lang dispuut onder die kerke presies wanneer die Paasfees gevier moes word. Tot op daardie tydstip het Rome die 95 jaar-siklus van Theophilus van Alexandrië gevolg. Dionusius Exiguus het egter foute in sy berekening begaan. Jesus is in die jaar nul en nie die jaar een gebore nie. Verder weet ons vandag vir ‘n feit dat Herodes die Grote, koning van Judea, wat volgens Dionusios van Halikarnassos alle kinders in Palestina onder die ouderdom van twee jaar laat doodmaak het as voorsorgmareël vir sy eie posisie, reeds twee jaar voor Jesus se geboorte gesterf het volgens die ou jaartelling.

Hierdie afskuwelike kindermoord het Herodes gelas toe die “wyse manne uit die Oooste” (Matteús 2:1, hoi mágoi, eintlik “sterrewiggelaars”) hom van Jesus, die toekomstige Koning, se geboorte vertel het (en Josef en Maria toe met Jesus na Egipte moes vlug).

Die oud-Engelse geleerde Sint Bede het reeds in die 8ste eeu op hierdie misrekenings gewys. Die Duitse monnik Regino van Prüm het Dionusius se datering egter geheel verwerp. Feit is egter dat hierdie jaartelling van vóór en ná Christus steeds, na meer as 2 000 jaar, elke dag nog die parousía (eerste koms) van Jesus verkondig. In Engeland het die Sinode van Whitby in 664 die jaartelling van anno Domini (“in die jaar van die Heer”) aanvaar. Cassiodorus vertel ons dat Dionusius homself die bynaam van “Exiguus” (“die Geringe”) uit groot beskeidenheid gegee het, alhoewel hy ‘n gerekende sterrekundige en groot Bybelgeleerde was.

Die sosiale agtergrond tussen die paganisme en die Christendom. Celsus se vroeë kritiek teen die Christendom.

Die sosiale agtergrond tussen die stoere pagaan en die Christen-bekeerde het ‘n belangrike rol gespeel in die weerstand teen die opkoms van die Christendom. Die vroegste dokumentasie hier kry ons reeds by Celsus in die 2de eeu soos uitgespel in sy Alêthês Lógos [“Ware Verslag”) van ongeveer 178. Dit is die oudste literêre aanval op die Christendom wat ons vandag besit. Die geskrif self het verlore gegaan, maar dit was so belangrik dat die kerkvader Origenes dit noodsaaklik geag het om dit in detail te probeer weerlê in sy Contra Celsum in agt boekdele wat dateer uit die middel van die 3de eeu.

Nege-tiendes van hierdie werk van Origenes het vir ons behoue gebly (of, eintlik, kan uit Origenes se antwoord gerekonstrueer word). Celsus se aanval was eintlik dié van ‘n neutrale (maar wel pagane) waarnemer wat die Christelike dogma bestudeer het. Eintlik had hy blykbaar self  geen sterk gevoelens oor godsdiens per se gehad nie. Celcus prys inderdaad die hoë morele waardes wat die Christelike leer verkondig, asook spesifiek die Lógos-leer soos ons dit aantref in die Proloog van Johannes se Evangelie.

Philo Judaeus van Alexandrië (ongeveer 20 vC-50 nC) het reeds die waarde van die Lógos-leer ingesien. Dit was juis deel van die spekulatiewe Hellenistiese filosofie, waar die Lógos (die “skeppende Woord”) sou ooreenstem met die Platoniese Ideë (eîdê, oftewel “denkbeelde”). Dit is die “skepende gedagtes” van God wat die fisiese wêreld tot aansyn geroep het (net soos dit die geval was met die Egiptiese Ptah van Memfis – hulle Skepper-God, inderdaad die oudste God in die geskiedenis van die mensheid, antropomorfies voorgestel as basies ‘n ongelede mummie wat besig is om uit sy windsels voort te kom).

In die Christelike Drie-eenheidsleer sou die “Woord” (die Christus) een van die drie Persone van die Godheid uitmaak. Die Christelike trinitas-leer is egter mensgemaak. Dié woord triás kom nêrens in die Griekse Nuwe Testament voor nie. Die Stoïsyne het ook (slegs suiwer Platonies) die Lógos-teorie aanvaar. Die Christen-apologeet Theophilus van Antiochië in Sirië (laat-2de eeu) het ‘n kardinale onderskeid gemaak tussen die Lógos endiáthetos (synde die suiwer potensiële immanente intelligente mag van God die Vader vóór die Skepping) en die Lógos prophorikós (die Woord wat die Skepping ekstern na vore laat gebeur het -  uiteindelik gepersonifieer in Jesus Christus).

Celsus het egter die Christene gekritiseer oor hul absolute inklusiwiteit, hul politieke onverdraagsaamheid van die dag jeens die “godgegewe” mag van die Romeinse staat en sy Senaat, asook hul geloof in absurde wonders en wonderwerking (thaumaturgía).

Celcus het ‘n weersin gehad in veral die Christen se aanspraak op die feit dat die (Absolute) Godheid ooit  vlees kom word en toe, ná sy  kruisiging,  weer ten hemele kon vaar. Uiteindelik maak Celsus ‘n vurige en hartstogtelike oproep op die opkomemde Christendom om weer tot hulle (natuurlike logiese) sinne te kom. Die editio princeps van Origenes se Contra Celsum is in 1605 reeds in Augsburg uitgegee deur D Höschul. Vergelyk hier Theodor Keim se Celsus’ Wahres Wort (Zürich, 1873).

Die sosiale agtergrond tussen die paganisme en die Christendom in die 4de eeu nC is weer in 1963 opnuut bespreek deur AHM Jones (in Paganism and Christianity in the Fourth Century, ed. Arnaldo Momigliano, OU.P, 1963).  Jones wys weer daarop dat daar toe nog ‘n inherente stryd tussen hierdie twee godsdienstige uitgangspunte was.

Die Christendom het aanvanklik eerder by die Grieke as die Latyners inslag gevind, veral in (die Oostelike) Klein-Asië. Dit was eers in Karthago, in Noord-Afrika, dat die Latynsprekendes sterk deur die Christendom beïnvloed was. Die algemene dénouement van die Christendom het die laaste in die Europese Weste tereggekom. Die rede was dat die stoere Romeinse aristokrasie in Rome, soos veral vasgelê by die senatore in die Senaat, baie lank onder die neerslag van hul tradisionele godsdiens en hul religieuse ritres gestaan het. Staatsverpligtinge het in die eerste plek geval op lede uit die ou belangrike families van hoë geboorte: noblesse oblige. Hulle was die onbetwiste élite van die dag.

Daarby het die Christendom aanvanklik eerste aanklank gevind onder die bewoners van die platteland (die eenvoudiges van gees, die ongeletterde vroue en kinders van die laer volksklasse, soos Celcus dit sou gestel het). Buitendien, op die platteland was nie-Latynse dialekte soos ou Kopties, Siries, Thrasies, Kelties en Hamitiese Berbies nog die omgangstaal (en nie Latyn nie).

In sy vroegste fase was die Christendom nog die skepping, produk en eiendom van die vulgus, die plebejers op straat en nie die meer gerespekteerde patrisiërs nie. Dit was in die groter stede van die Romeinse Ryk dat die Evangelie aanvanklik die vinnigste versprei en wortel geskied het, en hier sou die ongeletterde bevolkingsgroep ook nie die oorspronklike Griekse teks van die Nuwe Testament maklik en vlot kon lees nie.

Die Evangelie van Jesus was buitendien aanvanklik mondelings oorgelewer en gevorm, leer die Formgeschichte (van Martin Dibelius , en ander) ons buitendien. Dit was eers veel later, toe die nuwe Testamentiese geskrifte op skrif vasgelê is, dat die meer geleerde Christene op die toneel verskyn het soos die ou Griekse kerkvaders Justinianus die Martelaar, Irenaeus van Lyons, Clemens van Alexandrië, Origenes van Alexandrië (en later Caesarea), Eusebius van Caesarea, Athanasius van Alexandrië, Basiliius die Grote (eerste van die drie Kappadosiese vaders), Gregorianus van Nazianzus, Gregorianus van Nyssa, Synesius van Cirene, Johannes Chrysostomus van Konstantinopel en Cyril van Alexandrië: vergelyk hier Hans von Campenhausen, The Fathers of the Greek Church (Adam & Charles Black, Londen, 1963).

Aanvanklik was die professore van sentra van geleerheid, soos veral in Athene, manne van enkel profane oortuiging – soos Maximus van Tirus (sofis en fiolosoof in sy Diálexeis, oftewel “Lesings”), Themistius van Kontantimoplel (redenaar en filosoof, bewonderaar van die idealistiese wysbegeerte Plato en die pragmatiese filosofie Aristoteles) en Libanius van Antiochië (‘n Griekse redenaaar en literator, groot verdediger van die antieke paganisme en bewonderaar van keiser Julianus, die sogenaamde “Apostaat”).

Aanvanklik was Edessa in Mesopotamië reeds vroeg in die 3de eeu ‘n sterk Christelike vesting, terwyl Carrhae (die Ou-Testamentiese Harran) daarnaas steeds grootliks heidens gebly het, selfs tot lank nadat die Arabiere dit ingeneem het (sien hier die Encyclopaedia Britannica, sub voce “Sabians”).

Die Romeinse leër was verder grootliks saamgestel uit die seuns van oud-Romeinse veterane, Romeinse jongelinge  wat vir militêre diens opgeroep was uit die platteland, en pagane barbare soos die Alamanni/Alemanni (Duitsers), Franke (Franse) en Thraciërs wat as huursoldate onder die Romeinse keisers geveg het. En hulle had ‘n groot sê gehad: Menige Romeinse keisers is indertyd tot “Augustus” verklaar deur hul leërs in verskeie provinsies van die ontsaglike groot Romeinse Ryk in die Weste en die Ooste.

Daar is selfs vroeg ‘n orakel versprei (orakels wat hul setels in verskeie plekke van die ou Hellenistiese Ryk gehad het) wat voorspel het dat hierdie nuwe Christelike godsdiens spoedig tot ‘n einde sal kom en die ou tradisionele gode weer hulle regmatige plek sal herwin. Dit was binne hierdie opset dat Diocletianus, daardie eminente laaste verbete  Christenvervolger, opgetree het. En dit was, ironies genoeg, ook grootliks binne hierdie opset dat Konstantyn die Grote op 28 Oktober 312 teen Maxentius by die Pons Mulvius oorwin het met ‘n grootliks pagane leër wat hy van skilde voorsien het waarop die Christelike monogram Chi-Rho aangebring was (vergelyk sy visioen teen die son daarvóór: in hoc singno vinces).

Eusebius het Konstantyn nogal kwalik geneem omdat hy toe ewe skielik net in die guns van die Christene gespeel het (vergelyk sy Vita Constantini, iv 54). Ewe skielik was die Romeinse maatskappy in ‘n toestand van veranderde en onsekere fluxus. Uit die laer volksklasse het bestuurslui nou bevordering gekry weer net omdat hulle Christene was.

Die is inressant om daarop te let dat toe die Christendom eers gevestig was, Christen-geleerdeers hulle nie van die pagane letterkunde kon weerhou nie. Ons kry hier, onder meer, die getuienis van Hieronymus (vertaler van die Latynse Vulgaat). Hy sou ‘n droom of visioen gehad het waarin hy deur ‘n Hemelse Regter beskuldig was dat hy ‘n Ciceroniaan eerder as ‘n Christen was (Ciceronianus es, non Christianus) omdat hy te veel van Cicero se Latynse retoriek gelees het (pleks van slegs die Christelike Bybel wat hysélf in Latyn vertaal het). Daarby het hy ook die komedies van Plautus geniet pleks van eerder die droë profete van die Hebreeuse Ou Tetament te lees (Epistolae, xxii, par 30).

Die Christelike Nuwe Testament was ϋberhaupt indertyd ook nie as die geskikste draer van literêre opvoeding beskou nie. Christene van die later tyd, soos die Bisantynse aartsbiskop Photius van die 9de eeu, het weer opnuut die profane klassieke begin bestudeer én bewonder – en weer voluit gaan lees as hy moeg was vir Christelike dogmatiese dispute van die dag. Só het die wiel dan mettertyd onomkeerbaar gedraai.

Vir die konflik tussen die Christelike Kerk en die Romeinse staat selfs in die 4de eeu nog, kan A Momigliano (ed), The Conflict between Paganism and Christianity in the Fourth Century van 1963, ook geraadpleeg word. Sien verder G Bossier, Fin du paganisme (Paris, 1891); J Geffken, Ausgang des griechisch-römischen Heitentums (2te Aufl, Heidelberg, 1929); Adolf Harnack, Mission und Ausbreitung des Christentums in den ersten drei Jahrhunderten (4te Aufl, Leipzig, 1924); en HI Marrou, Saint Augustin et la fin de la culture antique (2de ed, Paris, 1949).

In haar The Myth of Persecution: How  Christians Invent a [the] Story of Martyrdom het Candida Moss onlangs egter gans te ver gegaan. Die pendulum behoort by haar radikaal na die middel terug te swaai. Tog is dit interessant om te sien hoe vrome Christelike legendes later dikwels “onweerlegbare” feite geword het.

 

The post Profane ideale en denke in die 4de en 5de eeu na Christus appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>