Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Munisipale verkiesings 2016, die ANC en die Jona in hulle midde

$
0
0

Toe die skip waarin Jona Tarsis toe wou vlug, in die moeilikheid beland, het die matrose geweet die enigste manier om hulle eie lewens te red, was om van die probleem ontslae te raak.

Eers het hulle van hulle vrag oorboord gegooi. Dit het nie gehelp nie.

Die oomblik toe hulle egter vir Jona as die probleem identifiseer het, en hom oorboord gooi, het die waters stil geraak en die skip kon in veiligheid voortvaar.

Dis ’n les wat die ANC dalk ter harte moet neem, veral in die lig van die verkiesingsuitslae verlede week.

Die DA het sy meerderheid in Kaapstad vergroot. Hulle het Nelson Mandela Metropool en Tshwane oorgeneem. Die ANC het naelskraap in Johannesburg oorwin.

In sommige gebiede was daar soveel as 70% kiesersdeelname, wat ’n rekordgetal is. In 2011 het rondom 50% van geregistreerde kiesers opgedaag om ’n stem uit te bring. Hierdie keer was daar aansienlik hoër persentasies. Dan was daar ook gebiede soos Vuwani, waar niemand opgedaag het om te stem nie.

Die opposisie moet egter nie te vroeg feesvier nie, want die uitslae het alte veel die gevoel van ’n stem wat téén die ANC uitgebring was, eerder as ’n stem vír die DA of EFF of IFP. Kiesers het hulle ontevredenheid met die huidige stand van sake in die land uitgespreek met hulle stem.

Beaufort-Wes, waar Truman Prince lank koning gekraai het, en skynbaar sonder enige ernstige gevolge kon maak en breek soos hy wil, is nou in DA-hande. Port Elizabeth, met Danny Jordaan se FBI-ondersoek hangend, is in seer sekerlik die grootste slag aan die ANC, nou ’n DA-beheerde metropool. Oudtshoorn, waar daar ’n jaar gelede ’n suksesvolle mosie van wantroue teen die ANC-burgemeester gebring was, is weer in DA-hande. Nkandla, die simboliese setel van alles wat verkeerd is omtrent hierdie presidenskap, is in die hande van die IFP. Johannesburg en Pretoria, waar die nasionale ANC ongewilde kandidate op plaaslike ANC-takke afgedwing het, betaal nou die prys vir daai besluit. In die Wes-Kaap, waar Zuma verkies het om met die omstrede Marius Fransman te campaign in duidelike weerwil met partypolitieke beleid, het die DA ’n selfs groter meerderheid bereik as met vorige verkiesings.

Waar die ANC in vorige verkiesings nog altyd op minstens 60%-meerderhede kon staatmaak, kon hulle met hierdie verkiesing beswaarlik 50% haal. Die kiesers het hard en duidelik hulle ontevredenheid uitgespreek met die huidige president en sy bestuurstyl.

Daar word nou allerhande verklarings gesoek. Die DA en ander politieke partye het natuurlik daarin geslaag om meer van hulle ondersteuners te oorreed om te gaan stem. Dit is seker so dat meer stedelike kiesers verkies het om DA of EFF te stem as voorheen.

Dis egter net ’n gedeelte van die prentjie. Hoe gebeur dit byvoorbeeld dat ’n onafhanklike kandidaat ’n setel onder die ANC se neuse weggryp? Hoe gebeur dit dat die President se tuisdorp oorweldigend vir ’n ander party stem? Hoe gebeur dit dat van die lojaalste ANC-vestings nou DA stem? Dit kan nie gebeur sonder dat die ANC, of dan persone binne die ANC, kiesers ’n hupstoot weg van die party gee nie.

Daar lê interessante tye voor in die komende weke. In sekere munisipale rade het van die kleiner partye nou gesogte alliansievennote, en selfs sg kingmakers, geword. In Johannesburg en Tshwane is dit die EFF wat die werklike mag het, want wie ook al ’n alliansie met hulle bewerkstellig, beheer die metro. Hier gaan Zuma se arrogansie, en die wyse waarop hy jaar na jaar die EFF in die parlement verneder het, hom en die ANC duur te staan kom. Die EFF het hulle standpunt duidelik gestel toe hulle Saterdag uit die OVK se lokaal gestap het toe Zuma die podium betree nadat die uitslae amptelik bekend gemaak is.

Die nag van die lang messe kom al nader. Op hierdie oomblik het die ANC nog genoeg steun dat hulle hulself kan oortuig dat dinge nog kan verander. Al die bluf en openbare beeldpoetsery ten spyt moet daar egter diegene binne die ANC wees wat met kommer na 2019 kyk en wonder of die ANC na daardie verkiesing nog in beheer gaan wees.

Ek reken dat die ANC hulle skip kan red indien hulle Jona oorboord gooi. Of die politieke wil om dit te doen daar is, is ’n ander vraag. Zuma het gesorg dat hy lojaliste wat hom teen elke prys sal beskerm, in sleutelposisies aanstel. Almal kyk na die kongres se 2017-byeenkoms met die hoop dat hy daar die trekpas gegee sal word. Dis egter onwaarskynlik, want sy lojaliste is steeds daar. Die DA-oorwinnings in Gauteng gee hulle waarskynlik nou die gulde geleentheid om van sy opponente binne die party ontslae te raak. Om skuld te verskuif is immers sy spesialiteit. Hierdie groep sal snoet aan die trog bly staan tot hulle uitgeskop word. As dit dan nou in 2019 of die daaropvolgende verkiesing gebeur deurdat die ANC uit mag gestem word, dan het hulle steeds genoeg tyd gehad om hulle ten koste van die land te verryk.

Ek het simpatie met die gewone ANC-lede op voetsoolvlak wat glo in die ideale wat die party tot onlangs nog uitgelewe het. Onder Zuma is daai ideale vertrap. Baie lede wat lojaal aan die party is, en nie bereid is om vir ’n ander party te stem nie, het verkies om nie te stem nie en eerder sokker te gaan speel, of die dag as ’n vakansiedag te benut. Ek vermoed in die aanloop na 2017, en met die oog op 2019, gaan meer lede hulle lojaliteite na ander partye skuif.

Ek sou hoop dat die party diepe selfondersoek sal doen. Ek verwag dit nie van Zuma nie. Ek vermoed hy is alreeds besig om sy volgende strategie uit te dink om sy eie bas te red, al is dit ten koste van die party. Die ongeërgde manier waarop hy opgetree het toe die #RememberKwhezi-aktiviste hardhandig deur sy lyfwagte verwyder is, bevestig dit. Daai protes bring ook net weer tuis dat die vele skandale wat Zuma omring, hom volg, ongeag of daar op tegniese gronde in sy guns bevind was deur ’n hof. En wanneer die party niks doen om hom te dissiplineer nie, word kiesersfrustrasie by die stembus op die party uitgehaal.

Die enigste manier om van Jona ontslae te raak, vermoed ek, is om vir hom ’n algehele kwytskelding van skuld te gee op Nkandla, asook die versekering dat hy nie krimineel vervolg sal word nie, op voorwaarde dat hy weggaan en wegbly. Dit gaan egter ’n groter wordende groep kiesers wat Zuma gestraf wil sien, ontstel. Bly hy aan, kos dit die ANC dalk die volgende verkiesing. Ek vermoed die ANC-topbestuur is bevrees om te vinnig te beweeg en dalk hul eie posisie binne die party te verloor. Tensy hulle egter wel optree, kan hulle beheer oor die land verloor.

Intussen, terwyl hulle wik en weeg, en met elke dag wat Zuma langer aanbly as president, verloor ons almal. Elke dag. Suid-Afrika kan dit nie meer bekostig nie.

Zuma moet gaan.

The post Munisipale verkiesings 2016, die ANC en die Jona in hulle midde appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>