Hierdie komiese musiekblyspel het die tweedelangste Off-Broadway musiekblyspel-speelvak en beslis met rede. Dis vinnig, snaaks en uitstekend en verseker ’n heerlike aandjie uit. Dit het al in 280 lande gespeel en vir meer as 6000 vertonings op Off-Broadway selfs die geliefde Annie, Mame, The Producers en West Side Story uitgestof.
Die stuk kyk na die waarhede en mites en vreugdes en vrese van verhoudings, huwelike, ouerskap en begrafnisse.
Die vier akteurs word deur ’n lewendige orkes begelei en speel altesaam 52 verskillende karakters en verander 52 keer hul klere en selfs pruike! Hul oortuigende Amerikaanse aksente kan jou vir ’n wyle laat vergeet jy sit hier neffens die see aan die suidpunt van Afrika en jou verbeel jy sit in die Groot Appel.
Die akteurs, en die regisseursaanslag, is só knap dat mens nie kan help om te skater nie - soms ten koste van jouself as jy jouself in die karakters se kwinkslae herken.
Die “eerste-afspraak” skets is so absurd dat dit eintlik sin maak: die een paartjie ontmoet mekaar maar besluit dat eerste afsprake só traumaties is, hulle skuif aan na die tweede; maar dan, tweede afsprake het hul eie dilemmas van wie betaal die rekening en so meer; hulle skuif aan na die derde. Dit word op sy beurt problematies en kort voor lank is hulle by die verbrokkeling van die verhouding en loop hulle mekaar ’n jaar later raak. Hulle voel heel nostalgies oor “die goeie tye saam” en alles wat hulle nog wou doen, dat hul eerste afspraak eintlik heel groot pret is!
Dan skuif ons by trou verby en eindig ’n paartjie op ’n rusbank met ’n baba in die kamer daarnaas. ’n Ongetroude vriend kom kuier en wil graag oor die alledaagse gesels, maar die nuwe ouers se breine is oormoeg en hulle praat net oor die geboorte, borsvoeding en hul pragtige seuntjie. Die vriend kies gou die hasepad nadat hy aan sy vriend vra: “Onthou jy die dae toe jy interessant was?”
Die enigste keer wat die gehoor effe stiller was, is by die begrafnistonele, waar ’n weduwee en wewenaar hulde bring aan ’n dooie. Daar is ’n effense nostalgie aan die gesprek; albei mis hul lewensmaats wat afgesterf het en alleen-bly en alleen-kosmaak is net nie pret nie.
Maar gelukkig hou ’n koffie-afspraak belowing in, veral as hulle ooreenkom dat hul liefde vir lewensmaats nie gaan taan nie, maar die toekoms belofte kan inhou, want hulle is nog albei hier ...
Die regisseur lei die span met ’n fyn hand en die gehoor se voete tik ritmies saam met elke liedjie.
Dis gewis vermaak vir ’n wye spektrum teatergangers.
I Love you, you’re perfect, now change
Met: Taryn-Lee Hudson, Neels Clasen, Claire Taylor en Brandon Lindsay
Deur: Boek en lirieke deur Joe DiPietro
Regie: Elizma Badenhorst
Musiek: Jimmy Roberts
Theatre on the Bay, Kampsbaai
Nog tot Saterdag 6 Augustus 2016
Kaartjies deur Computicket of die teater se kaartjieskantoor by (021) 438-3301.
The post Teaterresensie: I love you, you're perfect, now change by Theatre on the Bay, Kampsbaai appeared first on LitNet.