Augustusmaand is slypskoolmaand vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging! Op Saterdag, 20 Augustus 2016 om 9:00-15:00 (registrasie begin 8:15) vind die BSV-Slypskool 2016 met Joan Hambidge in die Noorderbloem-aftreeoordsaal, Metzstraat, Bayswater, Bloemfontein plaas. Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die BSV, bied vanjaar se BSV-Slypskool vir elke gesoute of potensiële digter of skrywer die gulde geleentheid om by een van die bekendste Afrikaanse digters, Joan Hambidge, die fynere kunsies van veral die digkuns te bestudeer. Afriforum borg vanjaar se slypskoolaanbieder.
Hambidge is nie net 'n bekroonde digter en wenner van die Eugène Marais- en ATKV-pryse vir poësie met meer as 10 digbundels op haar kerfstok nie, maar ook romanskrywer van 'n hele aantal romans, skrywer van 'n opera en vele akademiese geskrifte. Verder is sy ook 'n bekende en gerekende resensent en akademikus (onder andere in kreatiewe skryfkuns) by die Universiteit van Kaapstad. 'n Slypskool by so 'n kundige aanbieder beloof dus om 'n uiters leersame ervaring met persoonlike aandag te wees, veral aangesien Hambidge van elke slypskoolganger vooraf twee gedigte vra.
Die koste van die slypskool is 'n minimale R160 vir BSV-lede (ook as u nou as lid aansluit by hierdie dinamiese skrywersvriendekring), of R300 vir nie-lede. Almal welkom! Middagete en snoephappies, asook 'n handleiding met gedigte, is by die prys ingesluit. Tydens die geleentheid vind die prysuitdeling van die wenners van die pasafgelope nasionale BSV-Skryfwedstryd 2016 (geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van die UV) ook plaas en die publikasie, Inkvars 2016 (geborg deur die Stichting tot Bevordering van Culturele Betrekkingen Nederland, Zuid Afrika), wat die weninskrywings en beoordelaarsverslae bevat, word ook bekendgestel. Pryswenners, asook 'n beurshouer) woon die slypskool as deel van hul pryse gratis by.
Protea Boekwinkel verkoop ook heeldag boeke oor kreatiewe skryfkuns tydens die geleentheid en die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) stal tydens die geleentheid uit. Aangesien daar 'n beperkte aantal slypskoolgangers geakkommodeer kan word, moet diegene, wat graag die slypskool wil bywoon, spoedig met die BSV kontak maak by bloemsv@gmail.com of met Lelani by 0733883377 (na-ure). Die slypskoolpamflet is ook beskikbaar op die BSV-Facebookbladsy of webwerf by http://bloemsv.wordpress.com.
Laai die BSV-slypskoolpamflet 2016 hier af.
The post Joan Hambidge bied die BSV-slypskool 2016 aan appeared first on LitNet.