Ek was nooit poëties verlief op my land nie. Gebore in dorre, dowwe, fronsende Pretoria, het ek van kleins af min estetiese respek vir Suid-Afrika gehad. Ek het gereis, ja - my pa was, is steeds, ‘n vlieënier - maar enige glimpsies van (meestal) die kus het my asem weggeslaan slegs omdat dit my aan Europa herinner het. Aan boeke herinner het. Wat ek sê is, vir die grootste deel van my lewe in Suid-Afrika was enigiets moois net mooi omdat dit gelyk het soos iets uit ‘n fliek of herinner het aan ‘n gedig of ‘n liedjie. Nie ‘n Afrikaanse een nie.
Suid-Afrika het, vir ‘n naïewe my in die verlede, nie ‘n identiteit gehad wat die moeite werd was om te probeer artikuleer nie. In die geskiedenis was daar net haat en bloed en geweld. Gedurende my kinderjare tot in my grootmensword was daar net vet omies wat hou van bier drink en poep en kla oor die “swartes”, Bok van Blerk se stem strelend op die agtergrond.
Suid-Afrikaanse sokkies, Suid-Afrikaanse winkels, Suid-Afrikaanse stede - die hele lot het my stadig maar seker met ‘n gal smaak in my mond gelaat, saam met ‘n verwoede determinasie om uit te kom sodra ek kon. Die plek se kop was toe, daar was nie plek vir my tussen die regse ideologieë en slegte musiek en onleesbare fiksie nie.
Toe ek op negentien na Stellenbosch trek om Engels te swot, besef ek dat die meeste van Suid-Afrika se onsmaaklikheid in die Wes-Kaap verdwyn. Iets in die lug, seker, wat daai mense lieflik maak; warm en verwelkomend, met witgekalkte huise en biblioteke en boheemse kafees.
In die Kaap, het ek gevind, kon ek uiteindelik die mens wees wat ek altyd geraai het ek moes wees: Die meisie by die klein houttafeltjie in die straatlangse koffiewinkel, haar neus diep in ‘n boek en haar vingers gekrul om ‘n koppie stomende tee.
Die ding wat my mond laat krul as ek nou terugdink aan daardie dae, is dat my vreeslike liefde vir die Kaap nooit ontwikkel het in ‘n liefde vir die land nie. Asof ek, sonder om regtig daaroor te dink, gedink het dat die Kaap ‘n massiewe uitsondering vir al die lelik is.
Toe trek ek na ‘n ander land.
Toe trek ek na ‘n ander Suid; Korea dié keer. Om skool te gee, Engels natuurlik.
As ek nou vir my sestienjarige self ‘n nota terug in tyd kon stuur - ek het onlangs ‘n Japanese film gekyk waarin presies dit moontlik is - weet ek presies wat ek sou sê.
Ek sou sê: Al jou ideologieë - al jou grand idees oor wat mooi en interessant en die moeite werd is - smelt in die gesig van ‘n verlammende verlange vir jou land. Jy eet nie vleis nie, maar jy gaan eendag tranerig raak vir die idee van Spur saam met jou pa. Jy verafsku bestuur, maar jy gaan oor ‘n paar jaar wens om Kaapstad in te ry terwyl die son oor die berg sak.
Jy gaan omies se bierpense mis.
Jy gaan Laurika Rauch oor die internet stream om vir ‘n rukkie op te hou voel dat ‘n deel van jou hart nie saam met jou in hierdie nuwe land is nie.
Ek woon nou op ‘n eiland, ‘n Koreaanse eiland. Ek was ‘n jaar lank in ‘n stad, totdat die flitsende ligte en anonimiteit my byna sieldood gemaak het. Ek het verhuis na hierdie eiland, waar my groot venster uitkyk op ‘n diep-groen berg. Sy is my konsolasie vir ‘n huisie sonder ‘n stoep, ‘n badkamer sonder ‘n bad, ‘n land sonder my ma.
Hier, op die eiland, maar ook orals in hierdie vreemde land, is ek ietwat van ‘n vreemdheid. Vir hierdie mense, vir wie vrugte ‘n duur luuksheid is, vir wie kaal voete amper taboe is, vir wie bome vir afsny en nie vir klim is nie, is ek iets nuuts. Ek maak my kollegas ongemaklik wanneer ek spinnekoppe red in plaas van moor, maar my studente kry ‘n snaakse vonkel in hulle oë elke keer as ek die venster oopmaak vir ‘n mot om uit te vlieg; hulle is nog jonk genoeg vir nuwe kennis om hulle wêreldsiening drasties te verbreed.
Partykeer dink ek dis my grootste werk hier: Om die vensters van ander moontlikhede in my swarthaar kindertjies se breine af te stof. Ek klink soos die ou Afrika-koloniseerders, behalwe dié keer probeer ek die geleerdes leer van die soete wildernis.
Ek het ‘n rukkie gelede een Saterdagaand besluit om my tweemantentjie - onlangs aangeskaf - op my woonstelblok se dak op te slaan. Dit was warm en ek was sweterig van verlange, en ‘n deel van my siel - noem dit Afrika - het gekort om wakker te word van die son wat my wakker bak. Om aan die slaap gesus te word van die paddas se gebrul.
Ek het ‘n aandete van soetpatats by kerslig geëet soos die maan opgekom het, en ek sweer ek het nie geweet hoe nodig ek dit gehad het tot dan nie. Partykeer red ons onderbewussyn ons. Toe ek my Koreaanse vriend en buurman die Sondagaand oor somer-biere vertel van my aand, het die skok amper sy gegeurde bier uit sy hand gegooi. Hoe meer ek probeer verduidelik het hoe absoluut noodsaaklik die buitelug vir my gevoel het, hoe meer kon ek verstaan dat hierdie hele storie so ver buite sy verwysingsveld is soos wat sy kultuur se vloerslapery vir my is. Dis net nie deel van die goed wat mense in sy wêreld nog ooit nodig gehad het nie.
Ek was nooit poëties verlief op my land tot ek veertienduisend kilometer weg van Spar en goedkoop piesangs en Bloubergstrand af getrek het nie. Nou het ek tot die baie belangrike konklusie gekom dat daar Afrika in my senings is en dat Afrika, of die Suidertippie van haar, nie ‘n ongeluk van my verlede is, soos wat ek so seker was as ‘n tiener nie.
‘n Baba bestaan nie sonder ‘n baarmoeder nie, ‘n baba is gevorm daarin. Ek is gevorm, soos ‘n kleipoppie, deur my land en haar geskiedenis; haar mooi en haar sleg, haar gedigte en haar berge, haar liedjies en haar golwe, en die ék wat ywerig reis en op soek is na nuwe lande om voor lief te wees, kan probeer so hard as sy kan, maar tuisteloos sal sy nooit wees nie, al probeer sy hóé hard.
The post Swerwer met 'n tuiste appeared first on LitNet.