Die gevlekte hiëna is ’n indrukwekkende roofdier, een van die suksesvolste in Afrika. Hiënas is suksesvol omdat hulle so opportunisties is, en terselfdertyd selfsugtig. Elke hiëna sorg net vir homself, of in die wyfies se geval, vir welpies wat nog nie hulself kan voed nie.
Hulle kan so ver as tien kilometer ver hoor wanneer ’n ander roofdier prooi aanval en eet, en kan skynbaar bloed so ver as vier kilometer ver ruik. Alhoewel die gevlekte hiëna heeltemal in staat is om self te jag, sal hy nie ’n geleentheid om die oorskiet van ’n ander roofdier te eet, laat verbygaan nie. Hy is dus ook ’n aasdier.
Soms voel hierdie munisipale verkiesing soos ’n episode van National Geographic, met munisipale raadsale en wyke as die natuurlike habitat van die politieke hiëna.
Vergelyk bietjie hierdie verkiesing met voriges. Daar is skynbaar aansienlik meer kleiner partytjies wat nou soos paddastoele opspring, en ’n groot gros onafhanklike kandidate wat hulself verkiesbaar stel.
Die algemene persepsie is dat die ANC gekwes en dus weerloos is, dat die talle Zuma-gedrewe skandale en omstredenhede hulle posisie by die stembus verswak. Daar word veel gewag gemaak van die bloedneus wat die SAUK hierdie week geslaan is. Daar word gehoop dat die politieke binnegevegte oor kandidate die ANC so sal verswak dat sekere sleutelmetropole, soos Nelson Mandela en Tshwane, in die hande van die opposisie sal val, met oorgenoeg geleentheid vir die hiënas om in te glip en stukke vleis vir hulself toe te eien terwyl die grotes in hul geveg met mekaar distracted is.
Dit is inderdaad so dat daar die afgelope jaar ’n hele paar goed gebeur het wat in ’n rasionele samelewing sou lei tot ’n neerlaag vir die ANC by die stembus. In ander omstandighede sou mens selfs kon verwag dat die oorsaak van die omstredenhede, die President, so ver sou moes gaan as om te bedank en homself aan die politieke lewe te onttrek.
Daar was die verskillende hofsake waar daar bevindings teen hom gemaak is, die voortslepende Nkandla-sage, die korrupsieklagtes, die wyse waarop hy musical chairs gespeel het met ministers van finansies, met uiters nadelige gevolge vir die ekonomie, Al-Bashir, diensleweringproteste, die ongelukkigheid oor kandidate in verskillende kiesafdelings, en veel, veel meer.
Daar was verskeie peilings wat bevind het dat die ANC aansienlik swakker gaan presteer in hierdie verkiesing as in enige vorige verkiesing. Dit begin al meer lyk asof die vraag nie is of die ANC ’n tweederde-meerderheid sal kry nie, maar meer en meer watter kiesafdelings hulle gaan verloor. Volstrek. Volgens die peilings het beide die DA en die EFF aansienlik steun gewen. En met elke berig beweeg die hiënas met hernude ywer nader.
Dit lyk nie asof enigeen veel aandag gee aan die groot groep wat aangedui het dat hulle nog nie besluit het vir wie hulle gaan stem, of selfs óf hulle gaan stem nie. Daar is al meer mense wat hulle teleurstelling met die demokratiese proses wil uitspreek deur glad nie op te daag nie, of deur op te daag en dan hulle stembriefies te bederf. Die wenners van hierdie verkiesing, vermoed ek, is die party wat hierdie groep kan oorreed om na die stembusse te kom.
Dis ’n fout om die ANC te vroeg al as ’n verlore saak af te maak. Baie mense sal steeds ANC stem, ten spyte van als wat verkeerd is binne die party, ten spyte van die skynbare onvermoë van die topbestuur om Zuma aan bande te lê.
Hulle stem dalk ANC omdat hulle tradisionele lojaliteit by die party lê en hulle eintlik maar net wag vir die Zuma-era om verby te gaan. Hulle glo die ANC, met sy trotse tradisie en geskiedenis, sal kan normaliseer in ’n post-Zuma tyd.
Daar is nog ander wat dalk ongelukkig in die ANC is, maar wat voel dat daar nie ’n ander party is wat hulle spesifieke behoeftes verstaan en tot hulle kan spreek nie. Dan is daar dié wat eenvoudig wantrouig is van enigiets wat deur enige van die opposisiepartye gebied word, om watter rede ook al. Daar is die groep wat glo dat Zuma en sy makkers, as die hedendaagse chiefs, geregtig is op die rykdom en die voordele waarop hulle aanspraak maak, want dit is hoe chiefs tradisioneel regeer.
Laastens is daar die groep wat glo dat die ANC uitstekende werk doen. Daar is immers skole en huise gebou, daar is gratis gesondheidsdienste, daar is 'n groter getal mense wat toelaes ontvang as voorheen, daar is water en sanitasie in plekke waar daar voorheen niks was nie.
Hier is wat Zuma weet, en ons ander vergeet: die middelklas mag ontevrede wees met sy leierskap. Die werkers, en die armes, is wel bevoordeel onder Zuma se bewind. Hulle het immers nie beleggingsportefeuljes wat negatief geraak kon word deur Nenegate nie. Hulle het nie voertuie wat nou duurder is om vol petrol te gooi nie. En as mieliemeel en die taxi nou duurder is as voorheen, dan is dit nog steeds iets waarmee hulle kan saamleef. En hulle is baie, baie meer as die ontevrede middelklas.
Baie wat voorheen in shacks in haglike omstandighede moes bly, is nou in HOP-huise. Baie wie se kinders voorheen ná skool maar beperkte werksmoontlikhede gehad het, kan nou met staatsbeheerde beurse gaan studeer.
Onthou hoe gewild is die gedeelte van Zuma se staatsrede waar hy gewone mense wat iets bereik het met staatshulp, uitlig as voorbeelde, waar hy hulle briewe en boodskappe uitlees? Mense voel dat hulle met hom kan praat, dat hulle saak maak vir hom. En wanneer Zuma dan gekritiseer word in terme wat soms op die randjie van rassisme ronddans, wie kan hulle blameer as hulle dan soveel sterker voel daaroor om hom te beskerm? As die president van die land dan aan rassisme onderwerp word, hoeveel te meer die arm plaaswerker wat geen politieke mag het nie? Hoekom stem vir die party wat deur daai verskuilde rassiste ondersteun word? En onthou, Zuma is die eerste een wat daai sentiment sal gebruik tot sy voordeel, wat sal terugval op die apartheidsverlede. Jammerte dat daar soveel is wat hom voortdurend van vars ammunisie voorsien.
Die verkiesing kan dalk verrassings lewer, maar ek dink nie die ANC is naastenby by die punt waar hulle sal verloor nie.
Die hiënas moet dalk maar nog ’n rukkie wag voordat hulle dit naby waag. Daar is immers niks meer gevaarlik of onvoorspelbaar as ’n roofdier wat gekwes is en in ’n hoekie gedryf voel nie.
The post Munisipale verkiesings 2016: business as usual in ongewone tye? appeared first on LitNet.