Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21995

Die Boezak-boom... en ’n klomp los blare

$
0
0
...
Kerk en staat was egter dik vrinne daai tyd en hulle raak toe moeg vir die morrende nee-broers en gryp wapens – naasteliefde se dinges. Dié wat anders glo, word as ketters gebrandmerk en duisende vlug beangs.
...

Die opwindendste ontdekkingsreis is die ontdekking van jouself.[1]

Dis 1688. Die Franse Hugenote stroom Suid-Afrika toe. In Europa het dit te rof geword – vanweë hulle geloof. Die Hollanders, wat die kitaar in die Kaap geslaan het, gee die vlugtelinge vrugbare grond. Daardie oeroue woongebied van die Boesmans en later die Khoi-Khoin word toe Franschhoek, Simondium, Paarl en Wagenmakersvallei (Wellington).

Terug Europa toe. Daar vloei die bloed in tronkselle, onophoudelike martelinge, brandstapels in die strate, die reuk van dooies, moord en haat – als in die naam van God. Twee jong priesters, Martin Luther van Duitsland en Johannes Calvyn, ’n regsgeleerde van Frankryk, het in die vroeë 1500’s teen die kerk se dinge begin protesteer. Kerk en staat was egter dik vrinne daai tyd en hulle raak toe moeg vir die morrende nee-broers en gryp wapens – naasteliefde se dinges. Dié wat anders glo, word as ketters gebrandmerk en duisende vlug beangs. Die bekende Nederlandse skrywer-joernalis, Bart de Graaff, laat my weet dat Calviniste ook na Nederland uitgewyk het, veral Suid-Holland. Maar hoe verdwyn jy so naby met ’n Franse van? Jy verbuig hom en steek hom dan weg!

Die Franse konneksie

In Europa het ’n tipe argitektuur – Beaux Art – die verbeelding van vele kenners, selfs tot in Amerika, aangegryp. “Beaux” in Frans beteken “mooi” en “Beaux Art” – uitspraak “bouzaa” – is letterlik “skone kuns”. Die Bouchard-familie daar – uitspraak “boeshaa” – het hulle met daardie kunsvorm vereenselwig. Hugenoot-Bouchards het ook na Holland gevlug maar wou, as Franse verkleurmannetjies, darem nie heeltemal van gedaante verander nie. Boezak word toe hul nuwe vlugteling-van, ’n wegkruip-van, maar terselfdertyd ’n protes-van wat geloofsrebelle soos ’n handskoen gepas het. Daardie wegsteek-van het die naelstring met die vaderland verseker. Vandag woon daar in Suid-Holland nog net ’n handjievol Boezaks, met veral ’n voorliefde vir die voornaam Catharina.

’n Voorbeeld van Beaux Art.

Onder bruin mense is dit Boezak, Boesak en Buzik en onder die amaXhosa Busakwe, maar die Afrikaners se Bouzaart is die naaste aan daardie kunsvorm. In die Boland, ver weg van die vrees en geweld, het sommige vlugtelinge egter hul Franse van, Bouchard, behou.

Die Khoi-konneksie

’n Anderster boom het hier wortel geskiet. Toe ek in 1998 by die Khoi-herlewingsbeweging aangesluit het, het ’n leier vir my verduidelik dat ons familie Goringhaikwa was – die Hoëkraalmense – met hul hoofkraal naby Hoeri-!kwaggo, “Berg in die see”. In 1503 het die Portugese dit Toboa da Cabo (Tafelberg) herdoop. Ná die eerste Khoi-versetoorloë en die verskriklike, vreemde pokke-epidemie van 1713 (wat honderde Khoi-Khoin en Boesmans se lewens geëis het), het die oorblywende Bo-kraalmense hulle by die Zakrivier in die Noord-Kaap gaan vestig as Korana. Die Kaapse Skiereiland se Khoi-gemeenskappe se oorspronklike leier was !Kora. In die 1800’s was Willem Bostaander (of Boeschstander) die Noord-Kaapse hoofman van die //Ho://ēikwa, oftewel die Sakmense. Daarom kry ons ook die vanne Bovenzak en Bouvezak: Hollands vir ’n bo-sak.

Hoe dan nou, gegewe die Franse konneksie? Kyk, ons is waarskynlik nie van hulle of Nederlanders afkomstig nie, maar miskien het ons daardie van onder koloniale omstandighede geërf. Dalk het ons onse oorspronklike naam verloor as onderdane op ons eie grond, of toe ons gedoop is?

Kan julle glo dat in ons huisgesin nooit ’n enkele woord gerep is oor al daardie intriges nie. Of ons ouers het self weinig daarvan geweet, of die vol lewe wat die kerk en skool ons gebied het, was genoeg. Onse pa het vroeg gesterf en Mamma het besluit dat die Kaap ’n beter toekoms sou verseker, eerder as ’n dorp waar die naaste hoërskool bitter ver was. Gedryf deur haar onwrikbare geloof in ’n Hoër Hand het sy in rustige Somerset-Wes ’n nuwe tuiste gevind, totdat ons deur koue apartheidskloue daar uitgesmyt is.

Soos miljoene ander het ons in ’n behoudende, Christelike buurt grootgeword. Selfs ons laerskool het aan die NG Sendingkerk behoort. Tuis was huisgodsdiens en ’n pakslae intieme maatjies. Onse oopkop-ma het dikwels omgekeerde sielkunde op ons toegepas en was haar tyd ver voor.

Eerste gesinsfoto ná die trek vanaf Kakamas na Somerset-Wes, 1954.

Ja, die kerk het ons hele lewe oorheers met Sondagskool, Kinderbond, die brigade en Kersfeeskore, maar dit was heerlik! Voeg daarby die lekker skoolkonserte en talle koorkompetisies. Julle moet weet, drama was ons ding en my talentvolle oorlede broer, Andy, het sy eie toneelvereniging jare lank op die planke gehou. Mamma het ons almal VCS-kampe toe gestuur (die Vereniging vir Christen Studente) sodat ons nie moes dink onse kerk is die enigste poort na die hemel nie. Ons het ook die streek se jaarlikse Klopse gate uit geniet en hulle moppies uit die kop geken, maar Republiekdag se vlaggies was net geskik as hoekpaaltjies vir die rugbyveldjie in onse jaart.

Die twee voorkeurberoepe vir ons familie was onderwys en die bediening. Dit was dus glad nie verbasend nie dat ons (Madeline, Enid, Reginald, Andrew, Edna, Sophia, Allan en ek) vyf onderwysers en drie predikante vir die Republiek gegee het. Daar het selfs ’n beriggie in die plaaslike koerant oor “Die Merkwaardige Gesin” verskyn met ’n halfgeletterde weduwee as liefdevolle matriarg.

By die teologiese skool het die kerkgeskiedenis-prof eendag iets gemeld van die inboorlinge wat “animisties” was. Dit het ’n onrustige deel van my onderbewussyn geword. In my eerste (én laaste) geliefde gemeente het ek soms gehoor hoe bejaardes van O’kiep met sulke vreemde tongklappe praat of skinder, maar dit het my ook nie aan die dink gesit nie. Selfs toe ek met Eveline Cloete op ’n eg-Namakwalandse manier in die huwelik getree het, was ek so toe soos ’n poskantoor ná vyf. En net toe ek dog ek was veilig genestel as swart teoloog, bring ’n ou my eendag hard terug Moeder Aarde toe: “Brother, you’re not bláck-black.” Eish. Die heel eerste keer dat ’n vae gewaarwording in my kerkbenewelde brein wakker geword het, was gedurende navorsing in die laat tagtigerjare oor die Khoi-Khoin as ’n onderafdeling van my PhD. Al het die Boezak-van onverwags in geskiedenisboeke opgeduik, het ek min emosionele aanklank ondervind. My lewe het egter radikaal verander nadat prof Henry Bredekamp se UWK-konferensie oor Khoi-San-identiteite in 1997 gelei het tot ’n uitgebreide herlewingsbeweging. Jong mense versprei vandag met trots hul inheemse kultuur en oorsprong deur sosiale media, verhale en selfs kletsrym.

Onse Boeta Reggie, ’n gerespekteerde gereformeerde dominee, se inhuldiging as Hessekwa-stamhoof in 2000 is toe skelm op TV vertoon, en was die kerkmense geskok! Hahahaa. Daardie kosbare identiteit het egter my oë vol trane gelaat en uiteindelik die komvandaan-leemte in my verskrompelde siel gevul. ’n Kort rukkie voor Mamma se heengaan op die rype ouderdom van 90, skryf sy in ’n brief: “Ek weet ek is ’n Khoi.” Vandag is my dogters, Alison en Enid, trotse Khoi-volwassenes. Ons eersgeborene het selfs ’n tradisionele Khoi-troue as ’n oorgangsrite met Jordon geniet. Hy is ’n aangename, Arsenal-behepte Londenaar en sy van is White. Agterna merk hy op: “Dad, this ceremony has more depth than a white wedding.” Nuh?

Die “Blare”

Op die lys van die wêreld se meeste vanne lê ons s’n 679,260ste. Gaan vra gerus vir oudpresident Zuma om dit vir jou te help klank. Die punt is: Met ’n van so raar is dit wel moontlik dat al die Boezak-clans in ons land slegs vertakkinge van een hengse groot familiestamboom is. In geskiedenisboeke is heelwat uitstaande Boezak-karakters. Kom ek stel hulle voor. In my boek, So Glo Ons, is ’n verhaal getitel: “Die Oos-Kaap brand!”

Boezak, die Khoi-kaptein

Dis 1799. Klaas Stuurman, wat van sy erfplaas in die Gamtoosriviervallei beroof is deur gewapende inkommers, was ná 20 jaar se gedwonge arbeid op ’n vreemdeling se plaas keelvol vir die mishandeling van vele Khoi-plaaswerkers. Stuurman, wat ook ’n skerp tolk was, en sy broers Dawid, Andries en Bootsman, asook Hans Trompetter, Bovenlander en Boezak – almal ontheemdes – begin toe ’n gewapende vryheidstryd ná vrugtelose gesprekke met die maghebbers. Die historikus, Candy Malherbe, vertel: “Die rebelle het strooptogte dwarsdeur die oostelike deel uitgevoer.” Toe ’n aanbod halfpad deur die oorlog kom dat hulle sonder vrees vir vervolging hulself weer onder die koloniste kon vestig, het kaptein Boezak botweg geweier. In die Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek, Deel IV word vertel dat hy die halsstarrigste van die Khoi-kommandante was.

Intussen het Van der Kemp, die ouerige sendeling wat met ’n jong slavin getrou het, ontpop as ’n knorrige vredemaker. In Mei 1803 kom die pasaangestelde goewerneur van die Kaapkolonie daar aan. Stuurman was gewillig om te onderhandel, maar Boezak wys die aanbod ferm van die hand. Klaas ontvang ’n stuk grond wat hy nie eens kon geniet nie, want hy sterf vanweë ’n skietongeluk. Net soos Dawid Stuurman enkele jare later, was Boezak nie tevrede met die voorwaarde nie, naamlik dat hulle as ampsdraers onder die gesag van die regering sou val as deel van die Kaapse Hottentotkorps. Hy gaan toe voort om met Xhosa-leiers oor die verdeling van gebuite vee te onderhandel, maar dit loop lelik skeef.

Gits, stamhoof Ndlambe het eers ná die bosoorlog betrokke geraak – anders as die Zuurveld-amaXhosa wat van die begin af selfopofferend deel daarvan was – maar hy kom staan wraggies voor in die ry. Toe Boezak weier om sy buit met daai kansvatter te deel, word hy verwoed met pangas aangeval terwyl hy pleit: “Ek was nog altyd lojaal aan die saak en bly dan hier tussen julle!” Hy is koelbloedig in April 1804 vermoor – net ’n jaar ná die bosoorlog. Sy bloedbevlekte droom, om weer op sy vervreemde plaas te gaan boer, was tevergeefs.

Hendrik, die Olifantjagter-evangelis

Die Khoi-San was jagter-versamelaars wat vir derduisende jare uit die veld geleef het, maar het later ook begin boer. Hendrik Boezak het olifante gejag en was dus nie iemand om mee te speel nie. Verder was hy knap met Khoi-musiekinstrumente soos die ҂ati-fluit en die ghora-mondboog. Grootgemaak met ons eie oergeloof in ’n Opperwese (Tsui//Goatse), was dit redelik maklik om by Van der Kemp aan te sluit. Daardie wit man was ook anders as dié aan wie ons gewoond was. Hy het toegelaat dat almal – bruin, swart en wit – saam in die kerk aanbid. Die NG (stief-) Moederkerk was ontsteld! Hulle lidmate dring toe daarop aan dat die stoele ná elke diens geskrop moes word. Naasteliefde se dinges.

Nie lank nie of honderde Khoi-mense loop kerk. Hendrik vertel: “Die wit mense se hoogmoed het ons siek gemaak. Hulle onderdruk ons op die plase en hier wil hulle dit in Godshuis ook doen? Nou ja, vóór ’n biduur in Junie 1801, het ek, Jan Goeyman, Gerrit Sampson en Cupido Kakkerlak besluit om een van die wraakpsalms te sing. Ons wou hulle sommer uit die kerk wegsing, maar hulle antwoord wraggies toe met ander soortgelyke verse! Die sendeling het nie geweet wat aangaan nie, maar dit was asof die bosoorlog daai heilige Sondagoggend bínne die kerk was.

“Toe trek hy liewers met ons na Botha se Plek wat Bethelsdorp wordHuis van God. Daar het hy egter siek geword en was lank bedlêend. Cupido en Sampson moes die dienste waarneem. Ek self het by plase omgegaan en vir vernielde slawe-arbeiders die evangelie verkondig. Almal het geweet hoe lief ek vir onse eie musiek was, maar Dok het gesê dis heidense goed. Ou vriende het my begin spot en dan dans hulle koggelend die riel voor my. Dit het my so omgekrap dat ek my geliefde mondboog gebreek het. Na ’n vreeslike stryd in my kop gaan sien ek die sendeling: ‘Dokter, ek het twee harte hier in my binneste’n Khoi een en ’n Christelike een. Soms wil die een nog die riel dans, maar die ander een wil net Jesus dien. My twee harte baklei die heeltyd met mekaar.’

“Een nag is ons sowaar deur ons eie mense aangeval! Andries Stuurman en sy manskappe kom in die nag daar aan, skiet sonder enige waarskuwing en steel onse beeste. Ons probeer nog praat, maar hulle skree: ‘Slapgatte! Julle sing hier lekker koortjies terwyl ons sterf in die bosse. Blaker hulle, manne!’ Ons het geen keuse gehad as om onsself te verdedig nie. Hulle los die beeste en maak spore. Dit was eers in die oggendlig dat ons gesien het Stuurman is dood.

Tien jaar later het hierdie kleurvolle karakter ’n voltydse prediker van die Londense Sendinggenootskap te Theopolis, hul sendingstasie naby Uitenhage, geword – die woelinge in sy binneste uiteindelik stil.

Die Theopolis-Boezaks

Ná nege bloedige oorloë van verset teen die Engelse, wat net so uitgevreet was vir grond en mag soos die Hollanders, het die koloniste ook die Oos-Kaap ingedring. Ons moet onthou dat daar gemengde Khoi-Xhosa-stamme was soos die Gonakwa en die Ghunukwebe – sáám in die Stryd. Nelson Mandela was ook ’n Khoi-Xhosa. In die vroeë 1800’s het talle Oos-Kaapse Boezaks na Theopolis getrek. Cobus was redelik welaf met twee waens, ’n ploeg, 30 osse en ander vee. Piet, Hendrik die evangelis en Platje het in 1814 by hom aangesluit, daarna die gesinne van Stoffel, Jan en Klaas, sowel as verskeie Boezak-vroue. Hulle het Theopolis (God se Stad) help beveilig teen aanvalle deur ’n hoë spitspaal-heining rondom die sendingstasie te bou.

Cobus het later president van die magistraatshof geword. Hy het verder die sendelinge met hul Eietydse Sake-afdeling gehelp omdat hy die inheemse tradisies verstaan het. Cobus het ook die hoeksteen van Theopolis se nuwe skool gelê, waarna almal “Rule Britannia!” uit volle bors gesing het. Die vermoorde kaptein Boezak het seker in sy graf omgedraai. In 1817 is ’n regiment uit die Kaap na die sendingstasie gestuur om te help teen moontlike Xhosa-aanvalle. Omdat baie Khoi-mense met Xhosas ondertrou het en saam baklei het teen koloniale onderdrukking, was dit tipiese verdeel-en-heers-taktiek.

Kort daarna, op 22 April 1819, jaag kaptein Jan Boezak (so gemáák met ’n blink koperkop Britse staf) en sy Theopolis-manskappe na Grahamstad en beskerm die dorp teen ’n verwoede amaXhosa-aanval. Agt jaar later, in 1827, ontvang ook Stoffel Boezak ’n staf – as kaptein van die Hottentotte te Katrivier, terwyl arme afgeskeepte Platje ’n petisie aan die owerheid gerig het dat hy, ná 23 jaar diens in die Hottentotkorps as sersant, nie eens ’n pensioen ontvang het nie. Sjym. Kaptein Jan was later selfs ’n lid van die Vereniging vir Armoedeverligting, maar word vandag deur vele as skuldig aan verraad bevind. Pallo Jordan het, toe ek hom vir die eerste keer ontmoet, snedig opgemerk: “O, julle is mos familie van daai verraaier, Jan Boezak, nè?” En tog, was dit verraad of persoonlike weerwraak? Sien, hy het ou Ndlambe, dieselfde man wat sy pa? broer? neef? vermoor het, uit Grahamstad gaan verdryf.

’n Katrivier-konneksie?

Die Engelse koloniale regering het die Xhosas, teen wie hul lank oorlog gemaak het, gevrees. Hulle wou dus ’n buffer met lojale Khoi-Khoin bou en die aangewese groep was bewoners van die sendingstasies, Bethelsdorp en Theopolis, sowel as ander eendersdenkende bruin mense. Die nedersetting is in die Oos-Kaapse kolonie gedurende 1829 begin. Aanvanklik was die inwoners baie gelukkig om plase te kan besit en die boerderye het gefloreer.

Die heel eerste aankommers was Andries Stoffel en die vermoënde Cobus Boezak. Later het ontevredenheid uitgebreek omdat die inwoners agtergekom het wat die ware motief van die Engelse was. Voor aan die spits van die rebellie was die Gonakwa wat die vierjaarlange oorlog onder leiding van Klaas Stuurman gevoer het. Die feit dat een van die Hottentotkapteins, deur die Engelse aangestel, Stoffel Boezak was, wys waar hul lojaliteit gelê het. Hier gooi ek sommer ’n Khoi-woord in: eina! Ná die toemaak van die nedersetting in 1859 is almal daar weg en ons kan nie die moontlikheid uitsluit dat van die Boezaks na nog ’n sendingstasie, Schietfontein (Carnarvon), vort is nie.

Andries, die Griekwa-rebel

Ek het lank aan Griekwaheld – die merkwaardige lewe van A.A.S. le Fleur I met die hulp van prof Bredekamp gewerk. Vir die Kranshoek-Griekwas is Le Fleur I die Kneg van God wat vele landbouprojekte van stapel gestuur het om sy mense geestelik en ekonomies op te bou. Sy vonnis in 1898 as ’n rebel teen die Britte was 14 jaar met harde handearbeid in die Breekwatertronk te Kaapstad. In Pietermaritzburg se stadsargief het ek die volgende interessante brokkie nuus raakgeloop. Voor die oorlogspoging was ’n manskap, Andries Boezak, gearresteer vir diefstal van assegaaie. Vir sy aandeel in die opstand moes hy sewe jaar in daai gevangenis uitdien – langer as die 60 ander rebelle. Sy bynaam was Jan Spier. Nou soe! Daarmee sluit ek die deel oor die klomp los “Blare” af. Nou beklim ons die boom.

Ryk Ruiter

My niggie, Sonja, het Ruiter nagevors en met dokumente in die hand as bewyse verduidelik sy onse komvandaan by ’n Boezak-byeenkoms. Hy is ons groot oupagrootjie. Sy plaas was so enorm dat dit in vyf dele opgemeet moes word. In haar en Sarita se pragtig-gerestoureerde slawehuis te Houtbaai luister die “z”- en “s”-bloedfamilie aandagtig terwyl die teelepeltjies klink. Die enigste punt op die agenda was daai taai tameletjie met die naam Grond.

“Liewe familie,” beduie Sonja, “ek’t uiteindelik die ruimte om die storie neer te sit... of ’n deel daarvan in breë trekke, in elk geval. Die plaas Boezaksvlei is soms Boezakskraal, Boezakspruit of gewoon Boezak genoem. Die ‘kraal’-deel het verwys na die bees- en skaapkrale en die ‘vlei’ na die deel naby die koppie waar naby Boezaksrivier begin. Die plaas lê buite Carnarvon. Ruiter, eienaar van Boezaksvlei, is in April 1857 oorlede. Sover ek kan uitpluis, is hy jonk dood, want sy ma het nog gelewe. ’n Stuk van die plaas is verkoop as deel van sy boedel, en die £15 vir die verkoop is na sy ma toe, en sy seun, Willem, het daarna besit van die plaas geneem.”

Willem I

Sonja hervat die verhaal: “Om en by 1900/1 tydens die Anglo-Boereoorlog raak Ruiter se erfgenaam, Willem, vermis. Sy seun, onse Oupa Andreas, gebore 1876, het daar gebly met sy ma, maar omdat sy pa as vermis verklaar is, was daar geen oordrag van eienaarskap van die plaas na die seun toe nie. Dit lyk of daar belangstelling was vir die aankoop van die plaas voor Willem verdwyn het tydens die oorlog, maar hy wou nie verkoop nie. In 1903, ná pogings om hom te vind en terwyl sy ma-hulle nog op Boezaksvlei gebly het, is die plaas onder hulle uitverkoop, glo op grond van ‘terra nullius’ – leë grond wat aan niemand behoort nie.” Daai was ’n ou truuk van Christelike, koloniale owerhede, want reeds in die 11de eeu het Pous Urban II verklaar: “Heidene is nie mense met ’n siel nie en daarom is hulle grond leeg. Vat dit af!”

Die oudste doopregister van die Rynse Sendingkerk te Schietfontein (Carnarvon) toon dat volwasse Boezaks hulle laat doop het en as lidmate aangeneem is, naamlik Johanna Boesak op 18 November 1882; Elizabeth Boezak op 31 Mei 1884; Andries Boezak op 14 November 1896 en Maria Boezak op 5 November 1900.

...
Nou staan yslike multimiljoen rand SKA Meerkat-radioteleskope ook op Boezaksvlei, terwyl ons, die ware, oorspronklike eienaars tydens die onderhandelinge totaal geïgnoreer is. Ons clan sê: Vergifnis en versoening is onmoontlik sonder geregtigheid, omdat Willem I se siel daarsonder rusteloos sal bly.
...

Op ons erfplaas was huise, opstalle en veekrale. ’n 1900-kaart wys die vlei wat soos ’n kameel sonder bene lyk, en regs kronkel die Boezaksrivier in blou. Nege jaar ná die oorlog is dit in 1911 aan ’n JG Pieters oorgedra. Sommer net so. In daardie tyd was vele inheemse grondeienaars gedwing om as arbeiders vir die nuwe, wit base te gaan werk. In 1939 annekseer die Regering van die Unie van Suid-Afrika Boezaksvlei, sonder enige vorm van vergoeding of kompensasie. Onse erfgrond is weer tussen 1946 en 1950 opgemeet. My geboorte val toe saam met die geboorte van apartheid en onse naam verdwyn daarna van die landkaart. Ja, ons plaas, vlei en rivier het verblank met nêrens ’n grafsteen in sig as bewys nie. En tog, net 58 km buite Carnarvon troon Boesak se Berg vandag steeds wakend soos ’n engel oor ons verlore erf. Nou staan yslike multimiljoen rand SKA Meerkat-radioteleskope ook op Boezaksvlei, terwyl ons, die ware, oorspronklike eienaars tydens die onderhandelinge totaal geïgnoreer is. Ons clan sê: Vergifnis en versoening is onmoontlik sonder geregtigheid, omdat Willem I se siel daarsonder rusteloos sal bly.

Andreas, ’n musikale genie

Andreas Boezak

Dit moet erg wees om nie te weet waar jou pa in ’n onbekende graf lê nie. Net so erg is dit om jou regmatige erfdeel te verloor as gevolg van gewetenlose gronddiewe. Ver van sy geboortegrond toon Andreas se geil groentetuin en vrugteboord in Carnarvon se bo-dorp dat die boerderybloed diep in sy are vloei. In ’n gedenkblad van die VGK Carnarvon, in 1999 saamgestel deur hul leraar, dr Izak Potgieter, word genoem dat die hele Karoo die oorspronklike jaggebied van die !Xam-Boesmans was, daarna bewoon deur die Korana, Basters/Griekwa, amaXhosa en trekboere. Oupa Andreas se jongste dogter, Aunt Lu, deel ons mee: “Pappa het self vertel dat sy pa in die Anglo-Boereoorlog verdwyn het, hoewel hy nooit meer as dit wou sê nie.” Ek dink dat Willem I onwillig by daardie bloedige gestryery oor diamante en goud betrek was, maar hy moes sy plaas teen wil en dank verdedig. Die Engelse het hul angswekkende verskroeide aarde-taktiek met die afbrand van als in sig meedoënloos deurgevoer. In rasgeskeide konsentrasie kampe het derduisende bruin en swart mense onder haglike omstandighede gesterf. Is hy daar as onbekende in ’n massagraf gegooi of het hy eensaam onder ’n bos omgekom?

Uit Willem I se seun, Andreas, se inspirerende lewensverhaal noem ek net sommige hoogtepunte:

  • As jong man was hy ’n ossewa-transportryer met aflewerings so ver as Zimbabwe.
  • Hy het ’n landdrosklerk geword wat geboortes moes registreer, maar het geweier om tussen Bantoe en Kleurling te onderskei en het almal as bruin opgeskryf. Toe die Groepsgebiedewet daar toegepas word, was amptenare verward: Wie is wie? In Rapport (23/01/2022) verskyn ’n nuuswaardige beriggie: “Dis die enigste dorp in die land waar swart en bruin inwoners van die De Bult-woonbuurt ondanks pogings deur die apartheidsregering in 1975, nooit gesegregeer is nie.” Gewis Andreas Boezak se uitsonderlik politieke nalatenskap!
  • As die patriarg het hy ’n wonderlike sin vir humor gehad en al sy spruite moes elke Kersfees Carnarvon toe.
  • Hy verwerk en skryf baie gesange vir die blaasorkes waarvan hy die leier vir 50 jaar was. Sy kleinseun, Charles, is vandag ’n lid van die Morawiese basuine-koor.
  • In 1953 verskyn ’n artikel in Drum oor hierdie musikale genie.
  • Ek het ’n vergeelde program onder oë gehad: “Die Jaarlikse Boezak Koorfees”. Oupa se sin vir ekonomiese regstelling is te sien in die feit dat wit mense ’n sjieling moes betaal, maar ander net die helfte. Die Boezak-koor bestaan lankal nie meer nie, maar as familielede by ’n troue of begrafnis is, opstaan en sing, klink dit soos ’n ateljee-opname.
  • In die ou NG Sendingkerk se Sionsgesange word hy nie in die voorwoord genoem nie – slegs sy dominee te Carnarvon, eerwaarde Hartwig. Dis egter ’n uitgemaakte saak dat Oupa met die verwerking van sekere liedere gehelp het.
  • Hy was ’n uitmuntende sportman met ’n voorliefde vir tennis en krieket. Die bekende oudredakteur, Ebbe Dommisse, wat op Carnarvon grootgeword het, vertel dat ons oupa tyd afgestaan het om die blanke hoërskool se krieketspan af te rig. Een van die krieketspelers was Alan Melville, ’n boorling van Carnarvon, wat naderhand die Springbok-kaptein van Suid-Afrika se krieketspan geword het.
  • Uncle Alwyn het hierdie staaltjie oor Oupa se liefde vir krieket vertel: “As Jesus vandag geleef het, sou hy krieket gespeel het, want dis té ’n gentleman’s game.”
  • Hy word eervol in The Black Who’s Who of Southern Africa

Oupa Andreas het ons stamboom welig laat groei met 14 kinders en takke: Esterhuizen, Malgas, Marshall, Carney en die magtige Horne-familie. Sy oorlewende kinders is Margaret (92) en Louise (90) wat albei al CD’s gemaak het. Hy sterf in Desember 1955 – presies twee jaar ná sy oudste seun, Willem II, se begrafnis. Aunt Lu vertel verder: “Toe dit bekend word dat die Nasionale Party hul Wet op Groepsgebiede ook in Carnarvon gaan toepas, was Pappa se woorde: ‘Hulle sal my hier moet doodskiet!’ Toe ons ons bo-dorpshuis in 1956 moes verlaat’n jaar ná sy afsterwewas ek tot ’n mate verlig dat hy nie by was om dít te beleef nie.

Wat ons aan vaderskant sover kon vasstel: Ruiter (sterf 1857), Willem I (1900/1), Andreas (1955), Willem II (1953). Tot by die kleinste babatjie tel ons vandag agt geslagte. Maar Oupa het nie sy kinders heeltemal in die duister gelaat nie: “Ons is Briekwa,” onthou Aunt Lu (LW nie Griekwa nie). GS Nienaber verduidelik in sy Khoekhoense Stamname dat dit ’n Namawoord is wat “bokmense” beteken (ook Berikwa) omdat hulle met melkgewende mak bokke geboer het. Die Boezak-sepie gooi nou erger draaie as 7de Laan. Vele Berikwa-hoofmanne trou toe met Korana-vroue en ’n nuwe stam kom tot stand: Gezikwa, oftewel die Tweelingvolk.

Hessekwa-stamhoof Reggie Boesak se DNS-sertifikaat toon dat ons gesin aan moederskant tot die L0d-haplo-Khoi-San-groep behoort, met gene ouer as 120,000 jaar. Onse oorsprong is in Botswana, waar Homo sapiens, die eerste moderne mense, ontstaan het. Gegewe die ontstaan van die Korana in die Noord-Kaap en die suidwaartse trek van die Berikwa vanuit Botswana, maak ons komvandaan uiteindelik sin. Ons is dus trotse Khoi-Afrikane aan oupaskant. Aan moederskant verskil ons breë familie waarskynlik almal van mekaar – kan Europees of selfs Asiaties wees.

Die waterslang – ’n voorbeeld van Korana rotskuns.

Willem II, die streng Skoolmeester

Oudste seun van Andreas en sy volle naam is Willem Andreas Boesak. Waarom hy onse van met ’n “s” geskryf het, weet nugter alleen – wat hy inderdaad wás as plaaslike president van die Independent Order of True Templars wat geheelonthouding uitleef.

Willem en sy vrou

Hy was donkervellig soos al die Boezaks naas én voor hom, maar sy jong vrou van Ebenaeser, Sarah Janetta Mannel, het gelyk soos ’n wit vrou. G’n wonder nie – met ’n Ier, Henry Fryer, as haar oupa. Dit het haar man eindelose pret verskaf wanneer hy haar vra om by ’n blanke winkel te koop terwyl hy glimlaggend buite in sy nuwe Buick wag.

Die Boezak-trein

Mense, van Kakamas af Carnarvon toe was ’n affêre. Mamma is in die “slegs vir blankes”-kompartement gedwing, Pappa reg voor naby die kolewa as swarte” en ons tussen-ins by die “kleurling”-deel. By ’n rangeerstasie soos De Aar sou hulle dan kom kyk of ons nog oukei is. Hy was ’n briljante musikant en koorafrigter, waardige prinsipaal, kranige tennisspeler en begaafde kunstenaar. Vroeg gesterf, pas nadat hy ’n diploma in kuns aan Zonnebloem Kollege te Distrik Ses gaan verwerf het – net 47 jaar oud. Pappa kon die trompet uitstekend bespeel en Mamma die harp. Daai twee het talente aan hul agt kinders uitgedeel soos ’n klomp lekkers. Die oudste, Deline, was ’n lid van die bekende Eoan Operagroep en het soos ’n nagtegaal gesing.

Ja-nee, Boezak is gewis ’n struggle-van (soos Allan bewys het) en perfek vir ’n clan met ’n ingewortelde liefde vir die wêreld van die kunste. As ek nou byvoorbeeld noem dat neef André ’n gerekende digter-komponis-storieverteller-predikant is, is die res bollewange vir my, maar dis eenvoudig onmoontlik om almal se gawes hier op ’n rytjie te sit.

Willem II was ’n deernisvolle pa, maar ek kan hom skaars onthou. Was te klein.

Willem III, beter bekend as Willa

Ek is Willem III, beter bekend as Willa, ’n lid van die Hessekwa Kultuurraad en Afrikaanse Taalraad.

  • Alle beeldmateriaal verskaf.
Eindnota:

[1] Opgedra aan Louise Elizabeth  Boezak op haar 90ste verjaardag, 29 April 2023, inisieerder van ons grondeis: Boesaksvlei.

Lees ook:

’n Lesersindruk: Converting missions – Carnarvon: A decolonial case study deur Izak C Potgieter

Aanvaardingstoespraak: Die Jaap Durand-Denise Ackermann-toekenning vir Eenheid, versoening en geregtigheid

The post Die Boezak-boom... en ’n klomp los blare appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21995


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>