Vanoggend vertel die sosiale blaaie dat ons gewone sterflinge die ander wat kronies kla en negatief is moet vermy; dan is die wêreld blykbaar ’n beter plek.
Ons almal kla. Selfs al sou jy wou redeneer dat jy die gelukkigste persoon in die wêreld is, kla jy ook tog soms, al is dit oor die res van ons!
Soms kla ons sonder dat ons dit besef, maar selde is dit ooit werklik nuttig. Soms kan ’n klompie mense 'n algemene klagte deel, selfs al het die einste mense hoegenaamd niks anders in gemeen nie. Hulle gekla bou as t’ ware die band van ’n verhouding!
Skrikwekkend nie?
Menige van ons het êrens 'n vriend of ’n kennis of ’n ding wat voortdurend mor; dis oor die familie, hul verhoudings, die skool en die kinders en die prys van vleis en melk en botter en en en ... die lys gaan aan. Elke keer wat ek ’n gesels met die gawe klaers klaarmaak, dan voel dit of die lewenslus uit elke hol deel van my liggaam gedreineer is.
Dit maak nie saak wat ek sê of doen nie, dit is bykans nooit genoeg om die pendulum van dankbaarheid deur die verroeste ratte van klagtes aan die swaai te kry nie.
Daar is dae wat dit lyk asof alles nie eintlik wil vlot nie en uiteraard is steun en kla die maklikste uitweg, maar wat gebeur as ek met ’n klap agter die kop wakker skrik en besef dat ek ook die een is wat my vasgordel in die web van negatiewe bedruktheid?
Dis tog makliker om te kla pleks daarvan om die kwaaijong van ’n probleem te soek; dis makliker om op te hou glo, vertrou en te werk aan ’n verhouding, dis soms makliker om die mense wat die bedruktheid aanvoer te vermy!
Of is dit?
Tot die heeltydse frustrasie van my lewensmaatjie, en soms ook my eie, vind ek tog van tyd-tot-tyd dat wanneer jy jou gedagtes in die rigting van 'n meer positiewe uitkyk dwing, jy uiteindelik sukkel om te kla, selfs al is die koffie koel en die stortwater koud!
Eckhart Tolle het nogal ’n sinvolle verduideliking gegee toe hy aangehaal is met:
“See if you can catch yourself complaining, in either speech or thought, about a situation you find yourself in, what other people do or say, your surroundings, your life situation, even the weather. To complain is always non-acceptance of what is. It invariably carries an unconscious negative charge. When you complain, you make yourself into a victim. When you speak out, you are in your power. So change the situation by taking action or by speaking out if necessary or possible; leave the situation or accept it. All else is madness.”
The post Klagtes en malligheid appeared first on LitNet.