Verkragting? “Dis te na aan die huis, Oom.”
Dit sê die jong man vir my, met trane in sy oë. Hy huil voor sy maats. Hulle weet al. Hulle gee nie om nie en ondersteun hom.
Dié tienerseun was pas op die verhoog in Hoërskool Port Natal se Vergeet om te vergeet, waarin hy en twee ander seuns ’n verkragting gesimuleer het.
Baie van die ander stukke bevat ook woedende uitbeeldings van jongmense se belewenisse. Sommige groepe hanteer dit tegnies beter as ander, maar daar was ’n aantal deurlopende temas by die ATKV-Tienertoneelfinaal vir 2015 by Aardklop van 6 tot 10 Oktober en ek wou uitvind wat aangaan.
Ek was besig om met die hele groep Port Natal-leerders te staan en gesels oor húlle stuk. Die onderwyser was by.
Vergeet om te vergeet sny moeilike temas aan, maar hulle het danse en beligting gebruik om sekere aspekte te verdoesel. Die gesprek was gemoedelik tot ek die jong manne gevra het hoe dit was om so ’n daad toe moes uitbeeld op die verhoog. Drie van die tienerseuns het aan hierdie toneel deelgeneem. Die jong man bied aan om te vertel, maar toe raak dit een te veel.
Hulle onderwyseres bevestig: dit wat in die stuk aangesny is, spruit voort uit goed wat die tieners self beleef het.
Ouers, moenie in die teater mors nie! Die jongmense wil dit dink!
Hoe meer ek met die jong mense gesels het, hoe meer besef ek: hierdie tieners het hulle harte uitgespeel. Dit is die eerste in reeks artikels, en hierdie een kyk met ’n visooglens na sommige van die harde werklikhede wat voor ouers se voete gelê is.
As jy sukkel om jou tiener te verstaan, kom loer in by ATKV-Tienertoneel.
Ons tieners se denke is baie aktueel.
Die gewelddadige seks in tronke? “Dis maar wat met die mense om ons gebeur, Oom.” So vertel ’n akteur wat speel in Die einde (Randfontein High School) vir my. Hulle woon in ’n omgewing waar hy heelwat mense ken wat al in die tronk was.
Die stuk was tegnies briljant en hulle het uiteindelik algeheel tweede geëindig.
Hierdie “oom” het die voorreg gehad om die tien beste toneelstukke, uit ’n beginpoel van 188, op Potchefstroom te gaan kyk en het toegang gehad tot die jongmense wat in die stukke gespeel het.
As jy wil weet wat in jou tiener se kop aangaan, doen volgende jaar moeite om Aardklop toe te kom. Kyk al die stukke in ATKV-Tienertoneel. Bring sommer jou tiener saam. Ek het geweldig baie geleer en het dikwels gewens my dogter kon van die stukke sien.
Jy gaan goed leer van tieners wat jy dalk nie wíl weet nie, maar wat jy móét weet. Die tieners gebruik die verhoog om met volwassenes te praat. Ons moet kennis neem.
Seks? Dis nie of nie, dis hoe gereeld en met wie? Dis nie óf nie. Die eintlike vraag is: Is die seks gewelddadig geneem, of is dit vrywillig gegee?
Ouers, moenie met die teater mors nie! Dit is jongmense wat dit dink!
“Die goed hoort nie in Tienerteater nie,” was die opmerking van ’n volwasse man ná ons albei Die einde gaan sien het oor die wreedheid waarmee jongmense in ons tronke te kampe het.
Die tieners met wie ek gesels het, verskil egter. Ek het nie een tiener gekry wat gekla het oor daardie stuk se inhoud, of die verwysings na, of selfs simulasies van, gewelddadige seks in enige van die ander stukke nie.
As die jongmense wel oor stukke gekla het, dan was dit oor tegniese aspekte. Hulle het krities na mekaar se werk gekyk. Oor die inhoud is nie gekla nie.
Ouers, moenie sê die teater is gemors nie! Die jongmense wil dit dink!
Daar is baie waarskuwings gegee aan diegene wat sensitief is.
Die program het dit duidelik gemaak dat daar stukke is wat mense sal ontstel. Daar is ook voor sommige vertonings baie duidelik en sonder omhaal vir die gehoor gewaarsku: dié stuk gaan rof wees. Moenie ná die tyd kla nie. Gaan liewer nou uit.
Tog: ook in “skoon” stukke, soos As die trein kom (Potchefstroom Gimnasium), was gewelddadige seks teen jong meisies en hulle vermoë om daaroor te praat, uiteindelik die kruks, die kern van die karakters se optrede.
In ’n ander “skoon” stuk, Jaarblad (Hoërskool Jan van Riebeeck), gaan ’n skoolmeisie aan die drink nadat die seun wat haar minnaar was, verongeluk het. Wanneer sy dronk genoeg is, beland sy in vreemde mans se beddens.
Ook in Kaplyn (Hoërskool Upington), wat oor rassespanning gaan, is seks iets wat heel natuurlik bespreek – en geniet – word.
Ouers, moenie met die water mors nie! Kom kyk wat die jongmense drink!
Seks? As jy tieners in die huis het, moet jy maar met hulle begin praat. Dis nie óf nie …
Wel, oukei. Party tieners soek gelukkig nog vir iemand om méé seks te hê.
Jip. Sommige meisies soek baie hard na meneer Perfek, en die gebrek aan seks word dan ’n kwessie wat bespreek word.
Groepsdruk, die verwagting om deur ’n man van jou voete afgeswiep te word teenoor die harde werklikheid, asook die hemelsbreë verskille tussen tieners se lewens en hulle ouers se verwagtinge kom ter sprake in vyf: ’n dokumentêr, wat handel oor die vyf jaar van skoolgaan in ’n bevoorregte meisieskool, die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch.
Vormgodsdiens, ouer-kind-verhoudings, leerder-onderwyser-verhoudings, en die angs wanneer jou eie belewenis nie pas by die verwagtinge nie, word in hierdie stuk op ’n baie besondere wyse vasgevang.
Hierdie stuk het uitgestaan juis omdat dit so ánders was, en so vars. Dit is boonop deur die leerders self geskryf. (Dit was uiteindelik ook die algehele wenner.)
Die meisies van Bloemhof het verbatim die woorde van vriende opgeneem en neergeskryf. Toe is dit in ’n teaterstuk saamgeknoop wat die vyf jaar van hoërskool, van meisiewees, en die interaksie met ouers en onderwysers uitbeeld.
Ek het dit fassinerend gevind om toegelaat te word in die binnekamers van die tienerdogters. Ek het ’n tienerdogter, en ons is na aan mekaar, maar hierdie stuk het vir my nuwe insigte gebring in die mense na aan my.
Ouers, moenie buite die teater mors nie! Kom in! Kom hoor wat die jongmense dink!
Of… as ’n tiener dink sy meisie het in die bed gespring met ’n ander ou, kan sy depressie hom tot selfmoord dryf, soos in DubbelDrie (Hoërskool Noordheuwel) gesien is.
DubbelDrie handel oor drie vriende en die intriges tussen hulle.
Depressie is ook ter sprake in die keiharde stuk Vriendin (Hoërskool Eldoraigne). “Ek is moeg vir hierdie wêreld. Dis ’n vuil, siek spul.” Só som ’n karakter die essensie van Vriendin op.
Vriendin is ’n baie donker stuk wat ook grootliks in die donker afspeel. Die gebeure herinner aan ’n Lord of the flies vir meisies, maar dan kom die kyker agter dat die grudaad waaroor die stuk gaan, ’n makabere liefdesdaad was. Dit is hard en hartseer om jongmense se hulpkrete in ’n donker teater te hoor. Vriendin was een van twee stukke wat ’n ouderdomsbeperking van 16 gehad het.
Veel ligter, ten minste op die oppervlak, was Hoërskool Zwartkop se Hospitaner, ’n puik kabaret oor Suid-Afrika en ons mense.
Ja, Hospitaner het die kyker soms laat rol van die lag, maar, soos met enige goeie kabaret, word jy dan in die maag gedôner met aktuele kwessies wanneer jy dit die minste verwag.
Hier is twee sinne uit die programnotas: “Vir die dromers is daar ’n ridder op ’n wit perd. Die wat ophou droom het, is welkom om ons (gratis) klas, Selfmoord 101, by te woon.”
Ouers, moenie met die teater mors nie, word bewus van wat die jongmense dink!
Selfs ’n stuk soos Mallewales (Hoërskool Wilgerivier Frankfort), wat heelwat humor in het, skram nie weg van die politiek en geweld nie. Die stuk speel af in ’n gestig, maar dié feit maak nie dat die twee inwoners nog nie van Malema gehoor het nie.
Die twee akteurs neem die kyker deur verskillende emosies wat ons gereeld beleef. Hulle verwoord ook goed wat ons almal voel, maar dikwels te skaam is om oor te gesels. In die psigiatriesaal mag dit maar uitkom!
Tienertoneel is inderdaad aktueel en op datum met die politieke gebeure. Dit verwoord die vrese van die tieners, dit vertel die verhaal van Suid-Afrika.
Hier is nog ’n paar sinne uit die programnotas vir Hospitaner: “Liberaal of baie eng? Is jy moeg en afgemat? Is jy beseer? As jy my land met my moet deel, kan ek jou wed jy was al hiérdeur.”
Hierdie jongmense weet wat aangaan in ons hospitale en klinieke. Hulle hoon die regering se onvermoë om verantwoordelikheid vir enigiets te aanvaar. Daar word selfs gespot met die Blue Label-whisky waarvoor die heersersklas so lief is.
Politici, moenie in die vuurpoel mors nie, die jongmense weet wat julle drink!
Jare terug, toe ek jonk was, het Rona Rupert jeugboeke geskryf oor daardie arme drommels wat geskeide ouers gehad het. Hulle moes dan vreemde goed doen, soos om by die sirkus aan te sluit, om weer in te pas.
Vandag leef gewone kinders saam met egskeiding. Dit is deesdae die norm en daaroor word openlik gepraat.
In die Hoër Meisieskool Bloemhof het 54% van die meisies se ouers reeds geskei; dit is sonder skroom aan ons vertel tydens die vertoning.
Verskeie ander stukke, soos Die einde en Vergeet om te vergeet, en oënskynlik meer toeganklike werk, soos As die trein kom, Hospitaner, Jaarblad, Kaplyn en Mallewales, sny mans se geweld teen vroue, en ouers se gebrek aan ondersteuning aan.
Die jongmense werk daarmee, verwerk dit, lewer kommentaar en stu voort. Ouers se gebreke word kaalkop aangespreek, of ons dit nou wil hoor of nie.
’n Mens sou terloops kon noem dat Anzil Kulsen, met haar tienerroman ’n Hart vol sand wat vroeër vanjaar by LAPA Uitgewers verskyn het, prostitusie onder skoolkinders kaalkop aanpak. (Lees ’n LitNet-onderhoud met haar hier.)
Die verskil tussen vanjaar se Tienertoneel en die jeugboeke van my jong dae is die totale openheid waarmee jongmense sélf oor hulle eie kwessies praat.
Ouers, moenie julle asem mors nie. Die jongmense is slimmer as wat julle dink.
Kaplyn was interessant, want dit speel af in 1986 toe apartheid nog gegeld het en rassespanning geheers het. Dit was vreemd om weer die woord miesies op die verhoog te hoor.
Ook die grensoorlog, en die dood van kinders aan die grens, is herleef.
Só oortuigend was die toneelspel dat ’n vrou ná die tyd huilend vir Janhé Goussard, wat die ma gespeel het, kom vertel het dat sy ook, soos die karakter, ’n seun in die oorlog verloor het.
Ouers, moenie julle koppe skud nie. Die jongmense weet meer as wat julle dink.
Goed, maar wat van die aanklag dat hierdie somber goed nie tuishoort in Tienertoneel nie?
Ek, ’n “oom”, het ’n hele aantal onderhoude gevoer: met die tieners self, die ouers, die onderwysers en die organiseerders.
Hier is vier aanhalings wat ek neergeskryf het tydens ’n onderhoud met die aktrises van vyf: ’n dokumentêr.
Ná ’n baie insiggewende gesprek oor hulle eie stuk het ek die meisies kaalkop vertel dat daar mense is wat kla omdat ’n stuk soos Die einde ingesluit is in Tienertoneel. Hulle het dit toe al gesien, en hier is wat vier van hulle gesê het:
- “Ons is almal akteurs en ons het die vermoë om rolle te vertolk.”
- “Is dit nie wat teater is nie? ’n Platform om kwessies aan te spreek.”
- “Tienertoneel is ’n klassifikasiesisteem, net om te sê wie mag deelneem en wie nie, dit het niks met intelligensie te doen nie.”
- “Ek is nou in matriek. Volgende jaar doen ek drama. Dan doen ek enige rol wat hulle my sal gee. Hoekom kan ek vanjaar nie so ‘n rol vertolk nie maar volgende jaar wel?”
Ek het ook vir twee baie senior lede van die ATKV hieroor gevra. Gerrie Lemmer, die hoofbestuurder: ATKV-Kultuurprojekte het gesê: “Ons sal nooit ’n stuk toelaat waar die geweld of die seks buite konteks is nie. Ons kan egter nie sensuur toepas nie, maar ons sal wel ouderdomsbeperkings opsit.”
Die besturende direkteur van die ATKV-groep, Japie Gouws, se antwoord was kort en kragtig: “Teater is ’n platform vir die jongmense om te sê wat hulle dink.”
Ouers, moenie julle ore toedruk nie. Die jongmense wil sê wat hulle dink.
Hennie van Greunen, een van die beoordelaars, sê in die programnotas: “My persoonlike leuse is: ‘Maak my omgee.’ Baie mense dink dis lag of huil, maar dit is nie; teater moet my boots and all insluk sodat ek die pad saam met die karakters kan stap. En ek gaan dit slegs doen as ek betrokke voel by die storie.”
Die jongmense hét my skoene en al ingeruk en deel gemaak van hulle lewens. (Ja, ek het skoene gedra.)
Hoe gereeld kla ouers nie dat hulle tieners die stilstuipe het nie?
By Aardklop tydens ATKV-Tienertoneel het die tieners gepraat. Hulle het my geraak en my gemaak omgee. Daar was by meer as een geleentheid ’n traan in my oog.
Wilhelm van der Walt, ook ’n beoordelaar, se woorde som dit mooi op: “Ek dink teater moet ruk en pluk aan jou psige. ’n Toneelstuk moet vir twee weke in jou kop boer. Die spelers gaan deur ’n ongelooflike verkenning van hulself én die karakter tydens die proses. Die gehoor moet ook.”
Ouers, moenie met die teater mors nie! Die jongmense wil julle iets leer!
Hierdie artikel kan nie reg laat geskied aan al die stukke nie, en met LitNet se samewerking sal ons oor die volgende klompie dae meer oor elke toneelstuk sê. Daar is egter een laaste aanhaling wat ek moet deel, want dit sluit aan by Wilhelm van der Walt se standpunt.
Ek het aan Cantona James, wat General X, die hoofrol in Die einde, vertolk het, gevra hoe hy, wat ’n sagte seun is, so ontsettend boos en gewelddadig kon voorkom op die verhoog. Sy antwoord was: “Ek moet dink aan goed wat my baie hartseer gemaak het. Dan móét ek kwaad word.”
Wag egter vir sy volgende sin: “Dan, as ons klaar is, moet ek seker maak dat ek weer uit daardie karakter uitklim.”
Ouers, moenie net die tieners ignoreer nie! Die jongmense is beter as wat ons dink!
Die gehalte van die produksies was oorweldigend. ATKV-Tienertoneel is nie skoolkonserte nie. Om uit 188 skole in die finaal te beland, moet jy bitter goed wees.
Hennie van Greunen het dit só verwoord: “Koerantopskrif vir hierdie jaar is kompetisie: Tienertoneel schmienertoneel – die spelers is op professionele standaard!”
Pedro Kruger se woorde was: “Gehoorlede kan regmaak om weggeblaas te word deur die talent en baie indrukwekkende produksies tydens vanjaar se ATKV-Tienertoneelfinaal. Dit grens aan professionele werk. Dis eintlik insane om te dink dis tieners.”
Wel. Ék ís weggeblaas. Ék is oorweldig. Die gehalte van die werk was een ding, maar die rou eerlikheid waarmee hierdie tieners my in hulle lewens ingelok het, was baie spesiaal.
Op die verhoog het hulle my bekoor. Van die verhoog af het hulle my verdra en, as hulle sien ek stel belang, selfs verwelkom. Hulle het my deurgaans “Oom” genoem. Hulle was nie buddy-buddy nie, maar vir kort oomblikke het hierdie ongelooflike tieners my toegelaat om iets van hulle lewens te ervaar.
Dit was ’n voorreg om in die dampkring van sulke uitstaande jongmense te beweeg.
Ouers, moenie oor die tieners treur nie! Die jongmense is beter as wat ons dink!
Belangeverklaring en skadeloosstelling: Ek is deur die ATKV genooi om die Tienertoneel by te woon en om my indrukke weer te gee. Hierdie stuk verteenwoordig dus my eie siening en nie noodwendig dié van die ATKV of die ATKV-direksie nie.
Kliek ook hier om die amptelike persvrystelling te sien oor die ATKV-Tienertoneelfinaal vir 2015.
Foto’s en teks: Izak de Vries
The post Ouers, moenie in die teater mors nie! appeared first on LitNet.