LitNet is sedert Januarie 1999 aanlyn. Om ons 600ste gratis nuusbrief te vier, het LitNet gevra: Wat is jou gunsteling Suid-Afrikaanse boek wat sedert 1999 verskyn het?
Die wenner per gelukkig trekking is Lelani Fourie van Brandwag.
Hier volg ’n lukrake keuse van inskrywings:
Ilna Stander
Agaat deur Marlene van Niekerk
Die dik boek forseer die leser om saam met Milla oor ons houdings te besin, in afhanklikheid te leer luister. Die boek het my geïnspireer om in ’n sms-gedig met sy beperkte 160 karakters uiting aan die hoofkarakter se vasgevangenheid te gee:
kaart
spieël my pupille
karteer my tog wyer
as die refleks van knip
of sluk
oorslag en kram
ek en agaat
my halfedelklip
verlengstuk en kerker
van my beskamenis
( )
![]() |
Uit die argief: Agaat deur Marlene van Niekerk
Chris van der Merwe Agaat vra wel van die leser inspanning, ’n langdurige konsentrasie, maar dit is ryklik die moeite werd. Dit is ’n monumentale werk, ’n tour de force. |
Jerrica Grace
Tussen stasies deur Irma Joubert
Die geweldige invloed van oorlog op soveel terreine. Die ou klein krulkoppie wat van lelike eendjie ontwikkel het tot ’n pragtige swaan!
Irma se pragtige skryfstyl maak my sommer trots Afrikaans. Haar navorsing was vreeslik interessant, soveel so dat ek in die atlas al daardie streke in Pole gaan opsoek het. (Ek was ook sommer verlief op daardie mooie Pool!)
Ilse Lombard
Die groot gedagte deur Gideon Joubert
Die boek het ’n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak en die heelal vir my op ’n maklike manier verduidelik.
Catharina Muller
Onder die radar – stories uit ons land deur Dana Snyman
Dana se stories gaan oor mense, en in sy beskrywings herken jy jouself, jou landsmense en jy voel tuis. Die stories gaan om die rou essensie van menswees, van teleurstelling en hartseer, van soeke na geluk en rus, en onverwagte lewensdraaie, dis stories wat oor grense van klas en ras en ouderdom strek. Dis stories wat by jou bly, dalk vinnig gelees oor ’n koffiebreuk, maar met ’n waarheid wat hy tuisbring en wat by jou spook vir dae daarna. Ek lees sy storie "Die dag van die ooms" en dink terug na aan my Alzheimer-oupa met sy nederige standerd 6 en jare se harde werk op die spoorweë op sy hande, en ek dink hoe ons, nou met universiteitsgrade, nooit hom en die ouer garde genoeg erkenning gegee vir hul opofferinge en vir als wat hul opgebou het en ons nagelaat het nie. En ek lees sy storie "Dirkie" en vind daarin die angstigheid wat saamgaan met die onsekerheid van vandag se veranderde wêreld, maar boweal, ook die belofte van die toekoms en hoop. Daarom, elke paar maande gaan haal ek die boek weer uit my boekrak en lees dan weer stories wat ek al ’n paar keer gelees en tog nog net so mooi en sprekend vind. Want soos hy selfs sê, "die mens is die storie, die storie is die mens." En dis ons stories wat bly.
Dankie Dana en LitNet vir die stories wat julle vertel en vir ons bring.
![]() |
Dana Snyman: "Ek skryf nie maklik nie ..." Henry Cloete, Dana Snyman "Skryf bly vir my maar skryf. Ek skryf nie maklik nie, wat ek ook al skryf. Dis ’n gesukkel – selfs met die eenvoudigste ou storietjie sukkel ek." |
Louise Lipshitz
Bestemmings deur Marita van der Vyver
Om my gunsteling-boek te kies was ’n amperse taak van onmoontlikheid, maar hier kom hy: Bestemmings deur Marita van der Vyver.
Waarom? Omdat Marita in hierdie kortverhaalbundel so uit haar derms uit skryf. Omdat elke vrou kan identifiseer met elkeen van hierdie kortverhale. Omdat die laaste verhaal in hierdie bundel "Kringvlug" my nog steeds – na ontelbare herlesings – tot trane beweeg ...
Marike Beyers
Portrait with Keys: Joburg & what what deur Ivan Vladislavic
Dis vir my wonderlik dat dit nie eers in ’n duidelike definisie val van WAT is dit nie: essays, herinneringe, gedagtes, versinsels, sameflansing. Dat dit ook so duidelik oor ’n lang tyd kom, maar nie die beelde oor Johannesburg tydsgewys of waardegewys aanbied nie. Die humor. Die manier wat elke stukkie so spesifiek in tyd geanker is, hier nou - absurd, lieflik, verskrikkend - dit laat die stad ook tydloos voel. Iewers real oor dit so duidelik bestaan in die gedagtewêreld.
Oor Portrait with Keys vir my ’n soort gedaante gee is aan die gedagtewêreld wat kopstamp met iets baie harder. Nie om te wen nie. Kopstamp is breinskade so ons kan iets anders sien - iemand in goggles op die sypaadjie, die halfway-uniformed security guard. So dis Joburg, maar die what-what is vir ons almal.
Sollie Vermaak
Daar doer in die fliek deur Leon van Nierop
Die boek gee jou ’n kykie op die Suid-Afrikaanse filmbedryf. Die ontstaan van die films en oor die groot geeste in die beroep. Dit behandel alle films tot nou. Dit is ’n Afrikaanse filmbybel. En ek dink dis ’n eerste in Afrikaans. ’n Lekker naslaanboek .
![]() |
Boekresensie: Daar doer in die fliek deur Leon van Nierop
Reinhardt Fourie "Daar doer in die fliek is ’n viering van die Afrikaanse filmbedryf se prestasies, en Van Nierop blyk positief te wees oor die toekoms." |
Lelani Fourie
Fortuin deur Chanette Paul
My gunsteling Afrikaanse boek is Fortuin van Chanette Paul. Die rede: Dit was die Afrikaanse boek wat my weer Afrikaans laat begin lees het. Ek het op daardie stadium net Engelse boeke gelees.
Vanessa Kilian
Anderkant die spieël deur Melissa Scharneck
Vertel die storie van drie vrouens en hulle lewe en wat hulle sien in hulle self en wat hulle vir ander wys. Hoe die lewe verander en hoe die onwaarskynlikste mense jou beste vriende kan word en leed saam dra. Boeiend van die begin af. Puik geskryf, was mal oor dit.
Deon Kotze
Die Afrikaners deur Hermann Giliomee
Die boek was ’n bevestiging van wie ek, wie ek wil wees, en was ook ’n keerpunt in my lewe.
![]() |
Uit die argief: Onderhoud deur Gerrit Brand met Hermann Giliomee, skrywer van The Afrikaners: Biography of a people
Gerrit Brand, Hermann Giliomee "Een van die hoofmotiewe in my boek is die verskuiwende definiëring van oorlewing en die vrese dat die groep nie sou kon voortbestaan in die aangesig van dramatiese omwentelinge in die politiek nie." |
Anne Marais
Die hart van ’n wenner – Ontwikkel jou emosionele intelligensie deur Pieter van Jaarsveld
Die boek gee praktiese raad oor hoe om jou emosionele intelligensie effektief te bestuur. Die boek is nuttig vir Jan en Alleman, veral ook vir diegene wat worstel met emosionele kwessies. Dis ’n wenboek met ’n wenboodskap!
Marion Erskine
Fees van die ongenooides deur PG du Plessis
Sonder om twee keer te dink, PG du Plessis se Fees van die ongenooides. Min skrywers kan geskiedenis, emosie en ’n ongelooflike plotlyn in een boek so goed balanseer.
![]() |
Die energie en die chaos van die lewe treffend vervat in PG du Plessis se Fees van die ongenooides
Heilna du Plooy Fees van die ongenooides handel in hoofsaak oor die wel en wee van ’n uitgebreide Vrystaatste familie, die Van Wyks, tydens die Anglo-Boereoorlog. |
I Walters
Beste spookstories deur CJ Langenhoven
CJ Langenhoven se Beste spookstories, ek is maar eenmaal een wat lief is vir ’n boek wat jou koue rillings gee en jou oor jou skouer laat loer!
Veral op ’n donker stormagtige aand.
Ilze du Plessis
Beste spookstories deur CJ Langenhoven
My gunsteling Suid-Afrikaanse boek is Die beste spookstories deur CJ Langenhoven (gedruk in 2000). Ek het dit op laerskool gelees en ek hoef seker nie te sê dat dit my met eindelose wakker nagte gelaat het nie. Hierdie is een van my gunstelingboeke, want dit is een van die min bundels wat ek tot vandag toe in detail kan onthou. Dit was ook my eerste Langenhoven-boek en hy het my dadelik laat verlief raak op Afrikaanse letterkunde (asook die 'horror' genre!), soveel so dat ek volgende jaar my honneursgraad in Afrikaanse letterkunde gaan begin.
Lynette Bresler
Dis ek, Anna: Die volle verhaal deur Anchien Troskie
Hierdie boek motiveer my om bewus te wees van molestering en wat sulke mense deur moet maak. Wanneer jy in ’n beskermde huis groot word waar jy glad nie so-iets ken nie, net liefde, gesonde en opregte liefde, nie wat van jou gesteel word nie dan gaan so-iets my verstand te bowe dat daar mense op hierdie aarde is wat hulle tot sulke dinge kan wend. Hierdie boek het my geweldig aangeraak.
![]() |
Uit die argief: Dis ek, Anna – ’n nagmerrie waaruit ’n mens nie kan wakker word
Deborah Steinmair "Die blote feit dat iemand daarin geslaag het om die gebeure in ’n helder stem en sonder selfbejammering te boekstaaf, is verstommend." |
Regine Fourie
Niggie deur Ingrid Winterbach
Ingrid Winterbach, Niggie. ’n Wonderlik intieme roman oor die laaste paar maande van die Anglo-Boereoorlog, wat die werklikheid van die oorlog op ’n nuwe manier en vanuit nuwe standpunte voorstel.
![]() |
Uit die argief: Niggie – ’n boek waarmee ’n mens moet saamleef soos ’n stuk vuur
Petra Müller "Dis ’n teks waardeur ’n mens die dimensies van jou verblyf op hierdie stuk aarde in ontroering en ontsag kan verken." |
Celeste Liebenberg
Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte saamgestel deur Fanie Olivier
My heel gunsteling boek (dis werklik so moeilik om net EEN te kies) is die bundel Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (verskeie digters) – dis soveel gedigte van verskillende digters in een saamgevat. As ’n Afrikaanse liefhebber en boekslaaf (en poësie-slaaf!) is dit moeilik (finansieel) om altyd die boeke te koop wat ek graag op my rak wil hê met ’n vol huishouding en drie kinders!
Lelanie Fourie het die volgende boeke gewen:
![]() |
Wat nou, Suid-Afrika?
Om braaivleisvure skiet gewone Suid-Afrikaners se kommervlakke deesdae amper net so hoog op soos die vonke. In Wat nou, Suid-Afrika? kyk die oudrektor Theuns Eloff na die kwessies op almal se lippe – werkloosheid en verlammende armoede, die impak van regstellende aksie, die bedreigings vir die oppergesag van die grondwet, die probleme in ons onderwys, misdaad … Eloff steun op die jongste navorsing en sy ervaring in die politieke- en sakewereld om nuwe perspektief te gee op al hierdie kwelpunte. |
![]() |
Kook saam Kaaps
Boontjiestowe, koolfrikkadelle, tamatiebredie, sagopoeding en broodpoeding – eerlik gemaak, sonder fieterjasies en moderne byvoegings – is die onopgesmukte huiskos waarna ons elkeen verlang. Die hartskos wat met ’n stewige dosis van ma se liefde voorberei is en ons instinktief laat weet dat ons by die huis is. Kook saam Kaaps, in samewerking met RSG, stel die kos van Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker, twee afgetrede tannies van Bonteheuwel in die Kaap, bekend. |
![]() |
Dink jouself gelukkig
Romeine 12: 2: "... maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe …" Met dink jouself gelukkig wys die wêreldbekende spreker Pieter van Jaarsveld jou hoe jy jou lewe kan omkeer. Die inspirerende boek: Ontbloot ondermynende mites oor geluk, verduidelik dat vreugde vir alle mense beskore is, wys hoe jy jou brein kan herbedraad, inspireer jou tot ’n positiewe ingesteldheid, bevat die nuutste navorsing en tegnieke jy kan floreer - hierdie praktiese gids plaas ’n lewe van geluk binne elkeen se bereik. |
![]() |
Gelukkige slawe
In Gelukkige slawe bevind twee Belgiese mans met presies dieselfde naam en van, Tony Hanssen, hulleself op ’n keerpunt. In Buenos Aires speel Tony Hanssen – eens ’n toerdirekteur op van die mees luuksueuse plesierbote ter wêreld – ’n gevaarlike speletjie as toyboy van mevrou Bo Xiang, die bejaarde eggenote van ’n skatryk Chinese bouondernemer met legendariese genadeloosheid. In Suid-Afrika korrel ’n ander Tony Hanssen – die vlugtende rekenaarprogrammeerder van ’n bankrot bank – met ’n geweer na ’n renoster in die Krugerwildtuin. Die een Tony wil sy vryheid terughê, en die ander een sy gesin. Eers as hulle mekaar vir die eerste keer ontmoet, op ’n ander kontinent, blyk dit hoeveel hulle op mekaar aangewese is. |
|
Die beste spookstories van CJ Langenhoven
Langenhoven se spookstories is reeds volksbesit. Hierdie bloemlesing – nou in sagtebandformaat – verteenwoordig die ‘bestes’ binne die genre waarin ou gunstelinge soos "Bestelling met ’n spook" weer nuwe lewe kry. Dis ’n bundel toeganklike verhale wat gewone mense in allerlei vreesaanjaende en grillerige situasies plaas, altyd met ’n kragtige slot: boeiende leesstof vir oud en jonk! |
![]() |
Jack Parow
In Die ou met die snor by die bar vertel die superster-rapper Jack Parow van sy lewe en al sy wilde, mal avonture. Die storie begin agter die Boereworsgordyn en maak draaie in plekke soos Onrusrivier, The Lollipop lounge in Randburg, Mitchells Plain, Belgie, Nederland, Londen, Los Angeles, Hollywood en Moskou. Daar is sappige staaltjies oor wilde partytjies, warm bokkies, dodgy plekke, trance-paarties en avonture in jacuzzi’s, en hy lig ook die sluier oor sy ervarings met onder andere rofstoeiers, skoonheidskoninginne, polisiemanne, hipsters in nagklubs, ’n sanger wat hom wou bliksem, ooms wat hom van verhoë gegooi wil he en ’n stewige tannie wat met ’n krieketkolf op hom afstorm. |
![]() |
Die huis van rye
Nataniël se beste kookboek ooit, met meer as 100 resepte – van handhappies en ontbyt tot heerlike gebak en nageregte. Met uiteenlopende en buitengewone geregte soos chorisobrood, biltong-en-aarbeislaai, Frans-Italiaans-Meksikaans-Pretoria-panbredie en sprinkaankoek is dit ’n pragboek vol verrassings. |
![]() |
Vir ewig en altyd saam
“Vergewe my Here as ek haar te lief het, te lief het om haar te laat gaan.” Danny Fourie en Adri-Louise van Renen, het mekaar laat in hul lewe ontmoet en lief geraak vir mekaar. Kort na hulle verlowing word Adri-Louise geopereer vir ’n gebarste blindederm, net om agter te kom sy is ernstig siek. Sy bied aan om die verlowing te verbreek, maar Danny hou vol: Ons sal saamwees, nou en vir altyd. ’n Ware verhaal van merkwaardige liefde in die skadu van die dood. |
![]() |
In die blou kamp
In sy nuutste boek het Dana van sy ware ontmoetings geboekstaaf – ontmoetings met mense, maar soms ook met dinge – die vleispastei, of tuisgemaakte braai-apparate. Die stories het hy aanvanklik op Facebook gepos. Die wat die grootste reaksie gekry het is hierin verwerk. ’n Ware interaktiewe Suid-Afrikaanse boek. |
![]() |
Speletjies uit vrouekeur
Die boek is ’n samestelling van 224 speletjies wat oor die laaste paar jaar in die gewilde gesinstydskrif, Vrouekeur, verskyn het. Die speletjies word verskaf deur XWord wat een van Suid-Afrika se mees bekende spelletjie- en blokraaiselopstellers is. |
The post Wenner aangekondig: Wat is jou gunsteling Suid-Afrikaanse boek sedert 1999? appeared first on LitNet.