Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21146

Onderhoud: Lyfstraf versus 'n voorbeeld wat respek afdwing

$
0
0

Fotobron: mcacesblogs.wordpress.com

Dissiplineprobleme in skole is aan die orde van die dag en lyfstraf is uit. Hoekom? En wat is 'n beter alternatief?

Estelle Kruger is in gesprek met Erna Liebenberg, Johnnie Hay en Roelf Reyneke oor hulle artikel Die ontwikkeling van ʼn herstellendegeregtigheidsprogram as vernuwende benadering tot die hantering van uitdagende leerdergedrag in Suid-Afrikaanse skole.

Julle kom uit verskillende dissiplines – hoe het dit gebeur dat julle begin saamwerk het aan hierdie navorsingsprogram?    

EL: Binne my werk as leerondersteuningsfasiliteerder word ek daagliks gekonfronteer met die kompleksiteit en verskillende fasette van dissipline en was dit ‘n vanselfsprekende stap om ‘n holistiese aanslag vanuit verskillende dissiplines te gebruik om die probleem meer geïntegreerd uit al die hoeke te kan toelig. Prof Hay het reeds in vorige boeke en publikasies binne die opvoedkunde die fokus geplaas op die belangrikheid van ‘n multiprofessionele aanslag, terwyl dr Reyneke reeds besig was om herstellende geregtigheid in skole te bestudeer waarin ‘n groot fokus juis geplaas word op gemeenskaplike oplossings vir probleme wat met dissipline ervaar word.

RR: Ek het Erna gehelp met opleiding in die herstellende benadering by ʼn skool waar sy betrokke is. Toe sy haar magisterstudie aanpak, is ek gevra om as medestudieleier op te tree aangesien ek die werkswyse goed ken en al ʼn geruime tyd daarmee werk.

JH: Erna se honneursstudie was in psigo-opvoedkunde, en daarom het ek as studieleier betrokke geraak. Roelf is vanuit maatskaplike werk nadergetrek as kundige op die gebied van herstellende geregtigheid.

Hoe het julle (individueel of gesamentlik) bewus geraak van die probleem ivm dissipline op skool?

EL: Uit besoeke aan en verwysings van die skole in die Xhariep-distrik van die Vrystaat waarin ek werk, is dit duidelik dat dissipline een van die grootste kwelpunte is waarmee skoolgemeenskappe worstel. Die intensiteit van en aantal insidente het ook gaandeweg geëskaleer. Die ongedissiplineerdheid lê dikwels onderrig in die klasse lam en veroorsaak dat onderwysers werklik gefrustreerd en negatief raak. Enkele voorbeelde is ernstige wangedrag, soos aanranding van onderwysers deur leerders wat nege jaar oud is, sowel as inbrake deur Grondslagfase-leerders.

RR: In my betrokkenheid by skole en vanuit die konteks van skool maatskaplike werk was dit vir my baie duidelik dat daar ʼn probleem is as dit kom by dissipline. Dit is ook vir my duidelik dat baie van die sogenaamde dissiplineprobleme direk gekoppel kan word aan psigososiale probleme wat kinders ondervind. Indien aandag geskenk kan word aan hierdie probleme kan dissiplineprobleme ook hanteer word. Die herstellende benadering kan aandag gee aan beide.

JH: Uitdagende gedrag en dissiplineprobleme is een van die hoofredes hoekom ons tans soveel onderwysers verloor. Ons sal oplossings moet vind hiervoor, anders sit ons later met feitlik net jong onderwysers wat vir enkele jare kans sien vir die onderwys.

Het een van julle wel (soos baie van ons wat onderwysers is of was) op skool lyfstraf toegepas? Indien wel, hoe en hoekom het jy/julle dit gestaak?

EL: Ja, ek het vir seker in enkele gevalle lyfstraf in die preprimêre skool waar ek as skoolhoof werksaam was, toegepas. Dit was altyd slegs met die oop hand gedoen en beslis gepas vir die emosionele ontwikkelingsvlak van die spesifieke kind.

RR: Ek was nooit ʼn onderwyser nie, maar moet ongelukkig erken dat ek wel lyfstraf gebruik het op my kinders. Na my blootstelling aan die herstellende benadering het ek my seuns anders begin benader en onmiddellik ʼn verandering gesien. Die konflik in my huis was binne dae aansienlik minder. My seuns het ook begin om die konflik tussen hulle beter te hanteer. Indien daar deesdae konflik by die huis is, hou ons net ʼn sirkel en binne minute is alles uitgepluis. Ek is jammer dat ek dit nie vroeër geweet het nie; ek sou hulle heeltemal anders benader het.

JH: Ek het nie voor ‘n klas gestaan nie, maar was vir jare in opvoedkundige ondersteuningsdienste besig met sielkundige hulp aan leerders. Daar is situasies en persoonlikhede wat na my oordeel lyfstraf benodig, maar dis in die minderheid. Die herstellende benadering bied soveel meer vir leerders op die lange duur in terme van konstruktiewe waardes en lewensvaardighede wat aangeleer word. En binne ‘n gewelddadige samelewing soos Suid-Afrika s’n het ons duidelik alternatiewe benaderings nodig om gedrag te reguleer.

Hoe het julle op Zehr[1] se filosofiese beginsels afgekom om as teoretiese raamwerk vir julle navorsing te dien?

EL: Dr Reyneke het reeds diepgaande navorsing in dié verband gedoen en het Zehr se boek saam met ander leesstof beskikbaar gestel. Hierdie teoretiese beginsels het die behoeftes van ons studie aangesny.

RR: Ek het in 2009 my eerste Restorative Practices International-konferensie in Vancouver, Kanada bygewoon. Hier het ek nie net kennis gemaak met Howard Zehr se filosofiese beginsels nie, maar hom ook persoonlik ontmoet. Tydens ander konferensies en werkswinkels wat ek bygewoon het in Australië en Nieu-Seeland het ek ook by meer as een geleentheid hiervan kennis geneem.

In watter mate kom Beets en Van Louw[2] se konsep van “ubuntu” ter sprake in julle benadering?

EL: Die herstellende benadering poog juis om die gemeenskaplike verantwoordelikheid in omgewings te verbeter deur na mekaar om te sien, beter te kommunikeer en na gesamentlike oplossings te soek sodat verhoudings herstel kan word wat deur wangedrag beskadig is. Dit, sowel as die beginsel van insluiting, wat ‘n kernbeginsel van die herstellende geregtigheid is, sluit aan by die ubuntu-konsep, waarin daar na mekaar omgesien word en elkeen die reg het om gehoor te word.

RR: Aangesien die werkswyse baie sterk koppel met waardes en die aanleer van positiewe waardes, koppel dit baie goed met die waardes van ubuntu.

Hoe sou julle die konsep van herstellende geregtigheid verduidelik aan ...

  • ’n ongeletterde maar belangstellende ouer?

EL: As gevolg van die feit dat die konsep baie abstrak is, sou ek van metafore of konkrete voorbeelde gebruik maak. Daarna sou ek verduidelik dat hierdie manier ons die kans gee om dit wat reg en verkeerd is vir die kinders te leer sodat hul dit orals kan gebruik. Hulle moet verstaan waarom dit verkeerd is om sekere dinge te doen en vir altyd self weet dat hul dit nie weer moet doen nie (nie omdat hul bang is hul gaan gestraf word nie). As hul dan slegte dinge doen moet hul dit gaan regmaak en leer wat daardie slegte dinge aan die ander mense gedoen het.

RR: Herstellende geregtigheid gaan oor die herstel van verhoudings wanneer een persoon ʼn ander skade aangedoen het en daar skade was op die fisieke, psigiese of emosionele vlakke.

  • ’n leerder wat die slagoffer van ’n boelie is?

EL: Dat hierdie konsep jou as die slagoffer die geleentheid gaan gee om in ‘n veilige en ondersteunende omgewing aan die boelie te verduidelik watter impak sy gedrag op jou het en hom te laat insig kry in die gevolge van sy optrede. Daarna kan ook gekyk word waarom hy/sy ‘n boelie is en hoe die probleem hanteer kan word.

RR: Herstellende geregtigheid gaan daaroor om vir jou ʼn stem te gee. Dit gee vir jou die geleentheid om saam met die boelie te gesels oor wat hy aan jou gedoen het, hoe dit jou en moontlik ander mense seergemaak het en wat hy moet doen om dit reg te maak. Ek sou dan seker maak dat wat ons saam besluit het, wel gebeur.

As jy die hoof van ’n skool was, hoe sou jy herstellende geregtigheid in jou skool begin toepas?

EL: My eerste fokus sou beslis wees om die etos van die skool te verander na ‘n waardegedrewe skool met ‘n ware omgee-identiteit. Dit kan gedoen word slegs as die kommunikasie en alle aktiwiteite van die skool daarby aansluit en dit op ‘n gestruktureerde wyse uitgevoer word.

RR: Ek sou begin deur al my personeel toe te rus met kennis aangaande die filosofie van die benadering. Hulle moet ook die basiese vaardighede kry wat nodig is om byvoorbeeld herstellende gesprekke te hou en ook verstaan dat ons nie meer van enige straf sal gebruik maak nie. Daar sal egter altyd gevolge wees vir sosiaal onaanvaarbare gedrag. Ek sou dan ook begin met die oriëntering van die ouers en kinders oor wat die benadering behels. Laastens sou ek begin met die implementering van ʼn waardeprojek as deel van die implementeringsproses.

Wat kan onderwysers doen aan die leerders se gebrek aan respek?

EL: Baie leerders ken nie die basiese beginsels van respek nie omdat die maatskaplike omgewing nie noodwendig geleenthede toelaat waarin kinders respek kan leer nie. Onderwysers kan dus begin deur eerstens respek te toon aan leerders en ouers deur self professioneel op te tree en duidelike praktiese riglyne en struktuur daar te stel wat respekvolle optrede betref. “In ons skool groet ons mekaar deur op te staan.” “Hier bêre ons die boekies nadat ons dit gelees het.” Indien waardes nie in ons skole aangeleer word nie, is die kanse skraal dat dit elders kan gebeur. Die kind moet in ‘n “verskuilde kurrikulum” geleenthede gegee word en doelbewus geleer word hoe om op te tree.

RR: As volwassenes dink ons dat kinders ons moet respekteer omdat ons volwassenes is. Ongelukkig werk dit nie so met die jeug van vandag nie. Hulle respekteer jou vir wat jy is en doen. Aangesien ons die volwassenes is, moet ons hulle wys wat respek is en hoe dit lyk. As ons hulle gaan begin respekteer en goeie rolmodelle vir hulle is, sal hulle ons begin respekteer. Jy kan ook harder daaraan werk om ʼn goeie verhouding met jou leerders te ontwikkel. As jy hulle beter ken en hulle vir jou, sal die meeste van hulle se houding verander en hulle meer respek vir jou betoon.

Dit lyk of julle meen dat vrees vir straf as negatiewe motivering nie eintlik effektief is nie. Maak asseblief enige kort opmerkings hieroor.

EL: Wanneer korrekte gedrag plaasvind uit vrees vir straf, kan dit moontlik wees dat wangedrag gaan intree sodra die vrees nie meer teenwoordig is nie. Geïnternaliseerde kennis en insig in die rede vir en die voordeel van die korrekte gedrag verseker te alle tye korrekte optrede, wat dan eintlik tog die doelwit van disipline is.

RR: Vanuit die basiese neurologie blyk dit dat kinders wat vrees ervaar, fisiologies nie daartoe in staat is om effektief te leer nie. Die hormone wat in die liggaam afgeskei word, lei daartoe dat daar nie genoeg suurstof na die brein vloei nie en hulle konstant in ʼn toestand van veg of vlug is. Leer word dus ingeperk en die mense in die kind se omgewing is in baie gevalle die teikens vir hulle frustrasie (veg). Kinders wat weer van die vlugreaksie gebruik maak, kan hulleself liggaamlik beseer of hulle tot sosiaal onaanvaarbare gedrag wend om uit hulle situasie te ontvlug. Verder leer straf nie noodwendig kinders om verantwoordelikheid vir hulle gedrag te aanvaar nie. Die benutting van ʼn eksterne lokus van kontrole lei daartoe dat die kind homself gedra slegs wanneer die volwassene in die nabyheid is. Wanneer die onderwyser egter nie daar is nie, of die kind nie met straf gedreig word nie, is dit chaos. Wanneer kinders wel geleer word om verantwoordelik op te tree en verantwoordelikheid te neem vir hulle gedrag, lei dit tot ʼn interne lokus van kontrole wat op lang termyn baie meer effektief is as om straf op kort termyn te benut.

Is daar ooreenkomste en/of verskille tussen julle program en dié wat in tronke gebruik word (vgl Meepa[3] en Mirsky[4])?

EL: Die basiese beginsels is dieselfde, want dit kom albei uit die herstellende filosofie.

RR: Ja, daar is ooreenkomste en verskille. Hierdie program is op dieselfde filosofiese beginsels gegrond en maak van dieselfde werkswyses gebruik. Die toepassing is egter nie presies dieselfde nie. Die grootste verskil is waarskynlik daarin geleë dat hierdie program baie klem lê op die voorkoming van gedragsprobleme (onderste vlak van die model), waar herstellende-geregtigheid-programme weer net fokus op herstel nadat die misdaad gepleeg is. Die boonste gedeelte van die model wat benut word wanneer iemand leed aangedoen is, benut, soos in herstellende geregtigheid, programme, konferensies en terapeutiese insette deur professionele personeel soos maatskaplike werkers en sielkundiges.

Indien jy ’n onderwyser was, waarop sou jy in ’n persoonlike gesprek met ’n tipiese boelie in jou klas konsentreer?

EL: Die bewusmaking van die invloed van sy gedrag nie net alleen op die leerders wat hy boelie nie, maar ook op die onderwyser. Die identifisering van die boelie se behoefte na aanleiding van die Sirkel van Hoop sou ook ‘n belangrike fokus wees. Die praktiese hantering van hierdie behoefte deur ‘n aksieplan.

RR: Ek sou net die basiese herstellende vrae benut om die situasie te hanteer. Wat het gebeur? Wie is deur jou gedrag benadeel en hoe? Wat kan jy doen om dit reg te maak? Hoe kan ons seker maak dat dit nie weer gebeur nie?

Nie alle onderwysers is bewus van die inhoud van die lewensoriënteringskurrikulum nie. Hoe sou hulle tog ook opgelei kon word om hierdie (tersaaklike) beginsels in hulle vakonderrig te integreer?

EL: Formele opleidingsgeleenthede soos studiegroepe, professionele leergemeenskapgeleenthede, nuusbriewe en werkswinkels. Informele geleenthede soos 10-minuut-“buzz”-besprekings in personeelkamers, of besoeke aan skole waar sommige van die beginsels reeds toegepas word.

RR: Kort kursusse in die herstellende benadering sou ʼn goeie begin wees.

JH: Lewensoriëntering lê vir my baie na aan die hart, en dit is krities belangrik dat goedopgeleide onderwysers in hierdie poste werk. Slegs dan is daar ‘n kans dat herstellendegeregtigheidsbeginsels via die LO-onderwysers kan deursuur na ander leerkragte. My ideaal is dat ‘n goedopgeleide LO-onderwyser by ‘n skool die leiding sal neem van die skoolgebaseerde ondersteuningspan; dan kan so ‘n span daadwerklik ‘n verskil maak om sekere kwessies deur te kry na alle onderwysers.

Wat het julle elkeen as persoon van julleself geleer in hierdie navorsingsprogram en die skryf van die artikel?

EL: Die gevoel dat die multiprofessionele holistiese hantering van probleme meer in die onderwysomgewing gebruik behoort te word sodat alle fasette aandag kan kry, is by my versterk. Die grootste gewaarwording vir myself was egter dat dit makliker is om die probleem te identifiseer en te assesseer as om die oplossing daarvoor te kan genereer en op ‘n praktiese en logiese wyse te kan verwoord sodat skoolgemeenskappe dit kan gebruik.

RR: Ek het maar net weer bewus geword van hoe maklik dit vir almal is om na die strafgerigte benadering terug te keer as ons nie ons sin kry nie. Ons het met straf grootgeword en dit is regtig nie maklik om hierdie kopskuif te maak nie. Hoe meer ek egter hiermee werk en terugvoer kry van mense wat die benadering begin gebruik, hoe sterker raak my oortuiging dat dit die antwoord is vir ons samelewing wat net meer en meer gewelddadig word.

JH: Ek is natuurlik baie jammer dat ek nie meer hiervan geweet het toe ek kinders grootgemaak het nie! Dit kon dalk net baie goed gewerk het met sibbevyandigheid.

[2] Beets, P en T van Louw. 2005. Education transformation, assessment and ubuntu in South Africa. Stellenbosch: Departement van Onderwysbeleidstudies, Universiteit Stellenbosch.

[3] Meepa, T (red). 2005. Beyond retribution: Prospects for restorative justice in South Africa. www.restorativejustice.org/articlesb/6030 (8 September 2010 geraadpleeg).

[4] Mirsky, L. 2011. Restorative practices: Whole-school change to build safer, saner school communities. Pennsilvanië: International Institute for Restorative Practices.

The post Onderhoud: Lyfstraf versus 'n voorbeeld wat respek afdwing appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21146

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!