Het die klein postuurmannetjie gekry by ons plaaslike Munisipale vullisgate. Of tiep, soos die regte sg Afrikaners dit noem. Want ek’s op soek na stene en is nie bereid om die baksteenmonopolie danksy slim politieke manipulasie se prys te betaal nie. Want hier rond is jy gelukkig as jy 'n rou steen onder R3.50 te koop kry. En dan is dit 'n slop, danksy slim monopolieë ...
Klein mannetjie kom ek later agter, se arm is nie af of lam omdat hy te veel geruk het nie. Nee. Klein Armpie was belustig en toe kry hy 'n lem in sy skouer. Van die vrou wat hy begeer het. Of meer as begeer het. Nou skarrel Klein Armpie en hy doen nie te onaardig nie want die laaste paar weke het ek hom persoonlik 'n hele paar duisend in sy hand gestop vir die stene wat hy een-arm skoonkap, aansleep in 'n uitgeholde 25liter drom en opstapel.
"Tjoef jy?"
"Ja, meneer, ek vat maar my strooitjie elke dag."
"Daai kak gaan nog jou dood veroorsaak. Moenie die geld nou gaan uittik nie, asseblief. Koop 'n bottel wyn dan kan jy heelnag besig wees."
"Ja meneer."
"Eks nie jou meneer nie. Ek sit nie my kondoom aan met 'n crowbar nie so moenie my kom meneer hier nie."
"Ek hoor jou, Larnie."
Klein Armpie het reeds twee hamers van my net verloor. Want hy het bloot geen idee wat van enigeen vannie twee geword het nie. Ek weet maar ek gee hom die voordeel vannie twyfel. Want elke dude het maar sy dwelm en hoe kan ek hom verwens terwyl ek sien hoe mense wat baie slimmer is in elk geval verslaaf is aan goed wat veel erger as tik is ... (Sewende laan, rugby, politiek ens ... )
Vrydag kry ek vir Klein Armpie en Klein Armpie is erg beswaard. Ek vra hom wat nou en hoeveel stene ons gaan laai en Klein Armpie beduie dat ek mos weet van vanoggend? Ek weet baie goed vannie oggend maar het geen idee van sy oggend nie.
"Dit was koud, meneer ..."
"O, ja-nee, dit was nogal koel, ja."
"Ek het my nuwe blou trui aangehad meneer, want dit was koud."
"Ja Klein Armpie, so wat daarvan?(die wind was nogals skraal kan ek getuig)."
"Die donnergs, meneerg. Toe ek my trui uittrek het daai manne daar by die vuur daar langs die draad aspris my trui gebruik om hul gatte mee af te vee toe hulle loop kak het, hulle dink mos hulle kan maar want ek kan nie met twee arms baklei nie. Ruik meneer nie dat ek ene stront ruikie?"
Sal jy vir hom beduie het dat hy na stront ruik al het jy stront geruik?
oester
The post Klein Armpie appeared first on LitNet.