...
’n Verlede lê in ons goeters opgesluit.
...
Sidney Gilroy skryf op Facebook na aanleiding van Kerneels Breytenbach se resensie:
Wat Kerneels so mooi hier sê, is wat my naweke in museums en in pawn shops laat uithang. Boeke is soos jou ou foto’s, jou beddegoed en die klere in jou kas. Wanneer jy sterf, hou hulle nie ook op met leef nie. Daar is steeds gebruik in hulle oor, en wysheid ook. ’n Verlede lê in ons goeters opgesluit. Maar té gereeld, is dit wat eerste op die lorrie weggery word om na wie-weet-waar te verdwyn. Afrikaans is dieselfde.
Ek is in die hemel as ek deur bokse, rakke en pakkamers vol stowwerige Afrikaanse boeke kan soek. Ons taal is ’n skatkis. Die mense wat haar op hul penpunt aangedra het, nog meer só. Dit is hartseer dat hul lewenswerk, en daarmee saam die kern van Afrikaans, nou soos grassade op die wind gaan verdwyn. Dít terwyl biblioteke, soos die res van die land, ineenstort.
Die grootste geskenk wat hierdie Afrikaanse generasie vir die nageslag kan nalaat, is om juis dit te doen wat in hierdie artikel gevra word: Gaan haal daai ou boeke. Stof hulle af. Digitaliseer hulle. Maak die hart van Afrikaans onsterflik.
Ek sal met graagte die eerste beskeie versameling beskikbaar stel vir die organisasie wat hierdie taak sal aanpak of alreeds begin het:
- Die dwaling van Frederik Oppel deur Jan Scannell,
- Die Hemeltuin deur Carel Schoeman,
- Kruispad en Kromburg deur CM vd Heever,
- Na vaste gange deur MER,
- In die somer van ’36 deur Klaas Steytler,
- Anselm en die Jut deur Dan Sleigh,
- Sout van die aarde deur Uys Krige,
- Agter my ’n albatros deur Anna M Louw,
- Stad en land deur Boerneef,
- Op die eensame veld deur W Fouche
Jóú werk moet wees om jou oë oop te hou vir vergete skatte van Afrikaans in jou ouma, oupa, tantes en ooms se huise en weggooigoed.
Lees ook:
The post Gaan haal daai ou boeke. Stof hulle af. appeared first on LitNet.